Die besnorde polisieman-gelukbringer was inderdaad – nou nie in sy betongedaante nie, dié weeg iets soos 250 kg – maar spoggerig in versiersuiker op ‘n ontwerperskoek uit die kombuis van bobaas-bakster Kristie Thompson uit Skukuza.

Met die simboliese sny van die koek (meer daaroor later) is Orpen 1 ingelui nadat die span die vorige vyf jaar in Balule, by Olifantskamp, saamgetrek het. ‘n Nuwe tradisie is saam met al die ou en geliefde tradisies gevestig van ‘n koshuis wat, heel gepas, in die jaar van die rebellie in 1914 begin het toe Kollege as derde gebou op die Tuks-kampus verrys het.

Die verhaal van die verbintenis met Sarge Bourke begin in 1942, ‘n driekwarteeu gelede. Kollegemanne het hom lank bespied waar hy in Gezina, Pretoria, halfpad tussen die hospitaal en die wonderboom, langs ‘n tuinhek op aandag gestaan het: die bewaker oor ‘n menigte beeldjies en figuurtjies van diertjies, dwergies en selfs ‘n helderkleurige Hollandse miniatuur-windpompie.

Een aand na ‘n mislukte “raid” op Damestehuis (die “Fant”) se gelukbringer is besluit om gekneusde Kollege-ego’s te salf deur ‘n eie gelukbringer te bekom. Die polisieman in Gezina het hom in verbeeldingryke gedagtes opgedring.

Met ‘n Chev-tweesitplekmotor met sy ruim kattebak is die konstabel in die nagtelik ure gaan haal. In doodse stilte is die tuin binnegesluip. Die ongeoorloofde verwydering het voorspoedig verloop hoewel ‘n paar manne effens in die hek vasgesit het. Die nagstilte is weens die onvoorsiene gebeure met allerlei krete en uitroepe versteur. Die eienaars was gelukkig vaste slapers.

Die ou was langer en swaarder as vermoed en die Chev se agterstel het omtrent op die grond gesleep. Ligdag het hy sy intrek in Kollege geneem. Hy het langs die omstrede “bank” voor die hoofgebou (met sy onbelemmerde uitsig op verbygaande asters) ‘n ere-staanplek gevind om van toe af ‘n wakende oog oor die tehuis se inwoners te hou.

Sy geskiedenis het allerlei kinkels. In 1946 is die polisieman – toe al bevorder tot die rang van sersant en weens onbekende redes die van Bourke toegeken – deur die Witsies kom steel. Hy is leedvermakerig op ‘n klein balkon op die eerste verdieping van College House op die Witskampus uitgestal.

In 1950 het vier Kollegemanne besluit: tot hiertoe en nie verder nie. ‘n Omvattende operasie is van stapel laat loop om Sarge Bouke te gaan ontset. Dit het o.m. ingesluit ‘n minder geslaagde fondsinsameling vir petrolgeld en die “leen” van ‘n vriend se pa se ruim Cadillac –  danksy die welwillende medewerking van die vriend se liefdevolle moeder. Die Caddie was mooi groot genoeg. Dit kon boonop laat waai as dit moet.

Drie betroubare ienks is opgekommandeer en die sewestuks is oor Wits toe: ses om Sarge Bourke te dra en een om die Witsies se voertuie onkapabel te stel deur die vonkpropdrade uit te trek of die wiele af te blaas.

Die ses is op hul sokkies College House binne. Die deur na die balkon was gelukkig nie gesluit nie en Sarge ook nie deur die Witsies ge-elektrifiseer, soos die legende was nie. Hy is versigtig op handdoeke omgekeer en skuifelend die gang afgedra. Brandasem van moegheid en vrees, is hulle met die gewigtige vrag die trappe af. Die laaste entjie voordeur toe is die ou selfs skouerhoog gedra.

Skielik ontstaan amper ‘n  moles. ‘n Baie vaak Witsie verskyn in sy kamerdeur, skynbaar op pad badkamer toe. Een van die Kollegemanne beveel met groot gesag: Go to bed, you Fresher – en hy gehoorsaam. Met hul laaste kragte, maar met pompende adrenalien, kon hulle die waardevolle buit in die Cadillac laai en Pretoria toe laat waai.

Vieruur die Saterdagoggend sit hulle die ou toe in die voorportaal van Kollege neer, maak kringetjie om hom en bulder die Tukkiekreet: A-ra-ra-ratio-Roera! Die kamerdeure vlieg oop. Kollege juig. Sarge Bourke is terug, Sarge Bourke is terug …!

Daar in Ou Kollege op die kampus het ons klomp hom 60 jaar gelede  aangetref en altyd aan hom die nodige eer betoon. Toe ons in 1960 Proefplaas toe trek, is hy saam. By die nuwe tuiste het hy  allerhande maatjies gekry. Die “sarges” staan in ‘n gedenkboek van 1985 vyf in ‘n ry!

Maar vir ons generasie is die snorreman soos Bart Nel. Hy is nog hy. Hy leef in ons elkeen se hart. Daarom die koek en die seremonie waarvan ek mettertyd meer hier sal meedeel. Hou maar die ruimte dop.