More uit Melkbos

IMG_3780

“Oom Barnie se kerk”

‘n Stukkie “Bloemfontein” aan die Suidkus wat ek alyd met eerbied betree, is die NG kerk Margate. Die kerk is deur die legendariese Oom Barnie Human opgerig ter ere van sy enigste seun, Callie, nadat hy in 1967 as 16-jarige skoolseun in ‘n motorfietsongeluk gesterf het.

Swanie Human – nie Tannie Swanie nie! – het die hoeksteen onthul. Jannie Witthuhn, ‘n buurman in Dan Pienaar, Bloemfontein, was die argitek. “Deur sy sterwe ontvang ander die boodskap van lewe in hierdie plek van aanbidding,” staan op die gedenksteen. Gewyde woorde.

Hoekom juis Margate? Die staanplek is natuurlik net ‘n klipgooi van waar die Humans se prag-vakansiehuis op Ramsgate was, teenaan die see en omring deur iets soos 3 000 anthiriums. Voorreg gewees om voorheen op Ramsgate by Oom Barnie-hulle te kuier – opnuut ‘n voorreg gewees om op Sondag 10 Oktober dr Dawie Oosthuysen se boodskap van hoop in “Oom Barnie se kerk” te ontvang. Net erg gewees om soveel gryskoppe in een gemeente in die vol kerkbanke waar te neem!

Die besoek aan die natuurskone Suidkus was heuglik.

Natalvakansie2-001

Skone Southbroom

Uitsigte

Oribi-ravyn.

Natalvakansie3-002

Uit Klaas se werkwinkel

Suidkus-uitsigte wat my veral sal bybly, is van die pragdorp Southbroom se hoofstrand, die Oribi-ravyn (volg net die eland na die Lake Eland-wildreservaat), die Mbezanerivier en die Southbroom-lagune van die kuierstoepie van die parkagtige Bellevue Lodge tussen Ramsgate en Soutbroom af, en – die verrassendste – op Amanzimtoti se strand uit my vriend Klaas Holtzhausen se werkwinkel.

Die foto is geneem deur die venster van die einste werkwinkel op die dak van die Amazibu-woonstelkompleks waar Klaas (agter sy werkbank) en Marina (tussen haar boeke) hulle gaan vestig het na sy lang loopbaan as een van Bloemfontein se voorste tandartse. Dit was ‘n vreugde om die ou bande te hernu.

IMG_3544

Kleinste kerkie

• Net ‘n week tevore ook by ‘n kerk gewees wat deur ‘n vader ter ere van ‘n gestorwe lieflingseun gebou is. Dit is die bekende “klein kerkie” in die Van Reenenspas – inderdaad die kleinste in die suidelike halfrond met net agt sitplekke (foto 1) . Die kerk is ‘n monument vir Llandaff Mathew (28) wat in ‘n rotsstorting in ‘n steenkoolmyn by Dundee gesterf het terwyl hy agt ander gered het. Dit is deur sy vader, Maynard Mathew, gebou.
(hvd)

Deel dit: