18838912_1037851056349971_2369584584601967830_nDie bos het sy eie broederskap. Dit reik oor alle grense heen as bosmense in die atmosfeer van hul lieflingsplek saamsit om ‘n vuurtjie, en gesels oor die dinge wat hulle na aan die hart lê. Sabiepark het sy eie broederskap, nog hegter weens die gemeenskaplike liefde vir Sabiepark wat ons bind.

Hierdie Sabiepark-broederskap kom veral in krisistye sterk na vore. Van ware Sabieparkers ervaar jy in moeilike omstandighede ‘n grenslose hulpvaardigheid. Sou die Van Deventers byvoorbeeld aanvanklik dom-dom sukkel om ‘n nuwe swembadseil op te sit, kon hulle met vrymoedigheid op Dawie Strydom van Rustig se knoppie druk.  Hy sou kom, selfs kort ná ‘n knievervanging, met sy krukke en sy boor, en die probleem al hinkende-pinkende gou-gou oplos.

Gee jou gas-yskas die gees, is daar net een genade: dit moet Nelspruit toe, wat oor die 100 kilometer ver is. Maar dieselfde ruimhartige Dawie het dadelik sy bakkie aangebied. Die laatmiddag met die gesukkel by die aflaaislag kom Anne en Ria Weiland in hul Volvo-stasiewa juis die paadjie tussen die bome deur opgery.

Anne spring dadelik in en help dra. Uiteindelik is die swaar, lomp affêre oor die kombuisblad gelig en op sy plek in die kombuis staangemaak, die vlammetjie aangesteek en die spulletjie aan die gang gesit.

Tyd vir ‘n Chivas, kondig Anne aan in sy sterk Hollandse aksent wat hy, anders as Ria,  nooit afgeskud het nie. Gelukkig het ek nog ‘n geskenkbotteltjie van hierdie duur Skotse watertjies in my kabinet.  Dis al wat Anne oor sy lippe sou sit.

Anne kon dit bekostig. Hy het graag vertel hoe hy as Hollander met net sy koffertjie klere en sy koffertjie gereedskap in Suid-Afrika aangekom het.  Hy het ‘n baie-baie ryk man geword – o.m. die glas en staal verskaf vir die Johannesburgse Effektebeurs se nuwe gebou in Diagonalstraat en vir Bloemfontein se munisipale “Glaspaleis”.  Aan die Wes-Rand het hy ‘n grasdakhuis besit wat vir meer as een Suid-Afrikaanse rolprent gebruik is.

Ek het maar oë toegeknyp en bly skink, want Anne se ruimhartigheid het nie opgehou by fisieke hulp as dit op die help dra aan ‘n yskas aankom nie.  In Tarlehoet, ons boshuis, staan verskeie geskenke uit sy hand, diverse goed soos ‘n breë hardebesem en ‘n reeks Chivasblikke waarin ek my sokkies bêre.  Hy het dit geniet om te gee.

‘n Keer toe ons slaapplek min raak vir al ons gaste uit Melkbos, bied die Weilands dadelik hul aangename boshuis aan.  Vergoeding? “Moet ons nou nie beledig nie.”

Het jy by hom en Ria in Jakkalsbessielaan gaan kuier, was die gasvryheid so ruim soos die hulpvaardigheid. Op hul stoep tussen die boomtoppe het ons heerlik aan Anne se krokette, bitterballen en ander Nederlandse smulhappies weggelê.

Die laaste jare het die gesondheid begin kwel. Daar was ‘n hele paar operasies en siekbeddens. In die tyd het Anne lief geraak vir bootvaarte – nog ‘n gemeenskaplikheid.  Hy het sy afkoms verraai deur ‘n taamlik adamante voorkeur uit te oefen vir skepe van die Holland America-lyn,  o.m. die MS Rotterdam.

Ongelukkig was die sameloop van omstandighede so dat ons mekaar die laaste ruk al hoe minder in Sabiepark raakgelooop het. Wel mekaar oor en weer bly bel met verjaardae en so.  Gister het die onvermydelike SMS gekom: Anne is oorlede. Soos Dawie, die ander lid van die yskas-span,  en sovele ander Sabieparkveterane voor hom het die Byl sy pad gekruis.

Nog ‘n Sabieparkse hardekool het getuimel. Die opgeruimde Hollander met al sy stories, sy groot hart en sy liefde vir Sabiepark en die natuur – asook vir Chivas – se plek sal leeg wees. Die wisseling van generasies gaan egter onverpoosd voort. Soos die wisseling van seisoene.  Aan daardie werklikheid kan g’n mens ontsnap nie.

Deel dit: