1-IMG_5854

Diere in veelvoud het gister gesorg vir ‘n vrugbare eerste skof van ons kort vyf-dae-wildtuinuitstappie, die skof van Sabiepark tot in Olifants.

Twee leeumannetjies, vyf hiënas, vyf  njalabulle en  vier koedoebulle het om die beurt  so saam-saam langs die pad opgeduik. Ons is ook by substansiële troppe olifante, buffels, seekoeie, sebras (baie, baie sebras), wildebeeste, waterbokke en impalas verby. En by enkele volstruise en vlakvarke.

Hoe dan dat twee impalatjies nommer een op ons lys van die dag se besigtigings was?

Toe ons die bokkies sien, vlakby Satara se hek, sê-vra Tokkie: Is daardie enetjie nie dood nie?

1-IMG_5850Hy lê potsierlik, kop en pote onder hom ingevou asof hy een oomblik nog op sy bene was en die volgende oomblik in sy spore neergesyg het.

Dood moet minute tevore ingetree het. Sy maat staan verbysterd, in totale ongeloof. Kom dan versigtig nader, snuif aan die gevalle makker, lek liefderik teen sy nek en tree terug om te kyk of iets nie tog wil gebeur nie.

Hy herhaal die hartverskeurende proses  en stap toe ‘n entjie weg. Toe loop hy die lewelose ligggaampie storm, ‘n verwilderde trek in die bok-oë,  Hy spring op sy maat met sy voorbene uitgestrek.

Ook hierdie proses word wanhopig herhaal.

Toe ons ry, het die oorlewende net na die dooie bokkie op die grond staan en kyk, en kyk.  Dit was of die skokkende werklikheid eenvoudig nie wou insink nie.

By voëls het ons al daardie soort rou emosie gesien: een keer waar ‘n troupant doodgery is en ‘n ander keer ‘n Bosveld-fisantjie. In albei gevalle was die maats ontroosbaar. Die fisantjie se poging tot noodhulp was baie soos die bokkie s’n. Het met klein sprongetjies probeer reaksie uitlok. Toe alles misluk, het hy haar met sy snawel  voor die aankomnde verkeer probeer wegstoot.

Hierdie was egter ons heel eerste ervaring van ‘n bokkie se leed.

Daardie intieme toneeltjie was ook in die opsig anders dat dit tussen twee rammetjies agespeel het – ‘n Dawid en Jonathan van die diereryk dus.

Vandag, 24 uur later, nog sien ek dit oor en oor voor my geestesoog gebeur.  Deernis vir die bokkie wel opnuut in my op. Wens ek kon vir die enetjie wat die klaarblyklik sware verlies gely het, met ‘n handdruk en ‘n trooswoordjie probeer opbeur.

Maar so magteloos soos ‘n mens maar altyd by die sterfte van’n naaste se geliefde  voel,  des te magteloser voel jy as jy uit jou motor die toevallige  toeskouer van so ‘n stukkie hartseer is by diere waarmee jy nie kan kommunikeer nie.

Dan ry jy weg, kyk dadelik weer rond vir iets anders.    Die lewe gaan voort.

Deel dit: