BO: ‘n Morsjors in Tarlehoet se drinkgat.
ONDER: Wat is vir aandete?

Hiënas moenie in die water mors nie, die ander diere wil dit drink. Aan hierdie vermaning het vier van hierdie onwelriekende skuinslyf-gediertes hulle min geskeel toe hulle Maandagnag om 02:00 gelyktydig in Tarlehoet se watergat plons. So luidrugtig was die middernagpartytjie hier neffens ons slaapkamer dat ek en Tokkie dadelik wawyd wakker was en soos op militêre bevel uit die bed gevlieg het.

Die vier het, soos vriend Manie Steyn van Krugersdorp, dit sou gestel het, “slordig gedrink”. Maar het hulle gedrink? Het hulle gebad? Of was die morsjorse dalk op ‘n herwinnings-missie? Aan hul energieke neus-onder-die-water gevroetel, het dit vir ons meer na laasgenoemde lyk. Hiënas bêre mos aas onder water om dit “vars” te hou, en met Sabiepark propvol vir die Paasnaweek was oorskietvleisies vir honger rondloper-hiënas seker nie ‘n skaars artikel nie. Party mense het eenvoudig nie ore nie!

Pogings om die vier se waterkaskenades op film vas te lê, is gekortwiek deur die donkerte en die feit dat H se Canon op daardie kritieke moment nie op sy plek was nie. Nadat genoemde instrument eers in die motor gesoek en later in die klerekas opgespoor is, het ‘n sekere ongerustheid die viertal gepak. Hulle is een-een die bosse in. In daardie opsig was die fotonemery amper ‘n herhaling van die luiperd-fiasko. Twee trefferfoto’s in ‘n week daarmee heen – swak Piketberg!

Presies ‘n halfuur later was dit die “Nag van die hiënas” hoofstuk twee toe drie terugkeer om hul werk af te handel. Die vierde het op ‘n afstand staan en hoonlag. Een van die drie was in ‘n stadium half teen die trappies by die slaapkamer op – ongemaklik naby aan die fotograaf op die swembad se kant.

Net ‘n dag vroeër het ek die mening geopper dat die hiëna-belhamels van vorige vakansies uitgevat is. ‘n Mens hoor en sien hulle minder, het ek gewaag. Ha-ha!

Rapporte van aanvalle op motors se syspieëltjies, buffers of nommerplate het ons wel nie in hierdie drie weke bereik nie, en self het ons ook nie weer verliese gely nie (onthou die tuinslang, sandaal en kussings van vorige kere!). Maar by Sabiepark se rommelhoop is verlede nag verwoesting gesaai. En by nadenke was hiëna-aktiwiteit en nagtelike kommunikasie in Sabiepark allermins buitengewoon seldsaam.

Een kalant het een oggend net voor 07: 00 by die voorstoep aangestap gekom – die vroegste nog. ‘n Ander was op ons eerste aand al hier om te kom rondsnuffel. Dan wonder ons oor ‘n konfrontasie in die donker by die voëlbad, terwyl Herman en Rina le Roux hier was. Daar was ‘n katte-gegrom van die eerste water. Later kon ons in die lig van T se sterk flits sien hoe ‘n hiëna met iets in sy bek wegdraf. Ek het weer na die CD met dieregeluide geluister. Daarna is ek redelik oortuig ‘n muskeljaatkatjie het in daardie insident gesneuwel.

Vier hiënas op Tarlehoet se werf is nie uniek nie. Ek herinner my ‘n brekfis op die agterstoep waar vier in ‘n uitgespreide sirkel die uwe se Weetbix-sessie kop op die pote lê en bespied het soos getroue waghonde.

Twee was voorheen al saam in die watergat. Ek meen dit was Mariza wat hulle afgeneem het. Een moes al deur Thys Slabber (van Melkbos ) van die stoep geweer word met ‘n graaf terwyl die Probus-mense aan hul wors en tjops en potte vol pap en sjeba gesmul het.
Dan is daar my eie “beroemde” hiënafoto (dit was in die tydskrif Weg) wat laatmiddag voor die huis geneem is waar ‘n nuuskierige ou aan die rooster kom ruik om te bepaal wat op die Van Deventers se spyskaart is. Dit was voor die tyd van die heininkie en nogal aardig om totaal onbeskut so ‘n besoek te ontvang.

Daar was ook – moet ek daaraan herinner? – die voorval van die hiëna wat doodluiters in die Sabie-Sand hier oorkant die pad ‘n huis binnegestap, verby twee, drie ander slaapkamers is en vir hom ‘n ouerige vroulike prooi uitgekies het om haar in haar bed aan die gesig te gaan byt.

Maar vier hiënas in die Van D’s se watergat? Dit is werklik hoogs uitsonderlik – ‘n eerste wat ander Sabieparkeienaars groen van jaloesie laat, en wat finaal hierdie kort vakansietjie ver bo die gemiddelde kom uitlig het.

Sabiepark se tien jaar is dubbel en dwars gevier. Maak gerus nog vir ons ‘n vonkelwyntjie oop! Maar die ander diere se drinkery is darem vir hierdie diereliefhebber ‘n bekommernis. Hoe sou drinkwater smaak waarin hiënas gemors het? (HvD)

Deel dit: