Seremoniemesters as spesie is nie op hul mond geval nie. Party maak soms hul naam krater en sit hul voet in die mond.

Name, name, name … met name moet ‘n mens tog so allerversigtig wees. Dit het ek as koerantman as’t ware aan moedersknie geleer. As jy nie is nie, kan jy iets allervserskrikliks kleitrap, boeta.

Soos die seremoniemeester (‘n voorste vrou in die gemeenskap) by die huweliksonthaal vir hul gemeente van ‘n leraar wat ‘n nuwe liefde gevind het ná ‘n pynlike egskeding vroeër.

Noem die leraar ds. Faan. Hy was voorheen getroud met Elise. Sy nuwe liefde se naam is Susan.

Toe verwar die seremoniemeester die name met rampspoedige gevolge.

Ds. Faan en Elise – die eks – word ‘n gelukkige en geseënde huwelikslewe toegewens pleks van ds. Faan en Susan, die blosende bruid aan die herder se sy.

Dit gebeur  nie net een keer nie. Elke keer snak die gemeente na hul asem maar mevrou die seremoniemeester stoom, onbewus van haar flater,  welsprekend voort.

Toe sy later ingelig word van haar ligte mistykie was die gil deurborend, verneem die uwe.

Dan was daar die baie spesiale okkasie so 25 jaar gelede aan die voet van Tafelberg.  Deftige dinee in ‘n ornate balsaal met ‘n dik rooi mat waarop elke gas met aankoms moet aantree.

Die tromme roffel en die seremoniemeester (goeie vriend en kollega en so professioneel-korrek soos kan kom) kondig dan dramaties die name aan.

“Hennie en Tokkie van Deventer”,  “Jan en Sannie Groenewald” en so aan voort.

In die geval van ‘n Kaapse kollega (aan my as Bloemfonteiner nie so goed bekend nie) was ‘n langdurige kantoorromanse glo die swaks bewaarde geheim duskant die Hexrivierberge.

Die aand betree hy die rooi mat met, stigtelik soos dit hoort, sy eggenote en moeder van sy kinders aan sy sy. Tromme roffel. Seremomiemeester maak hom gereed om die name van die nuwe aankomelinge uit te roep. Toe wankel sy konsentrasie.

Pleks van mevrou se naam noem die stomme vent toe die naam van die skelmpie.

Deur daardie balsaal het meer as net ‘n snak van  die vergaderde asems getrek. Noem dit eerder ‘n dreuning van ongeloof en skok.

Of die veronregte vrou ooit agtergekom het waarom die seremoniemester haar naam verkeerd had, weet ek nie.  Dan sal dit drie mense maak wat daardie oomblik nooit sal vergeet nie.  Die ander twee is natuurlik die rondloper-eggenoot – die bokker – en die seremoniemeester self.  Laasgenoemde word steeds bloedrooi soos ‘n kalkoen as jy van daardie aand begin praat.

Nie net seremoniemeesters maak blapse met name nie. Was ‘n keer in Bloemfontein by die begrafnisdiens van ‘n gerekende vader van die volk. In die voorste ry voor die preekstoel was sy seun – ‘n edele regter. Noem hom Adriaan

Die leraar begin sommer vroeg in sy rede die afgestorwene en die seun se name omruil.  Getuig met bewoentheid hoe ‘n prysenswaardige man oorlede Adriaan dan was.

Laasgenoemde kyk wanhopig om hom rond maar hulp daag nie op nie.

Uiteindelik was die kluitklap as’t ware op die verkeerde kis … of ten minste op die verkeerde tak van die stamboom.

Verleenthede vir mense met ‘n mikrofoon kom in vele fasette en vorme.  Ook omroepers kan struikel en doen dit meermale. ‘n Vroulike nuusleser was in die dag se hoofbulletin aan’t rapportere van die Rooi Gety aan die Weskus.

‘n Rooi Gety, deel sy toe die luisteraars mee, is ‘n dodelike orgasme in die water!

Die verskil tussen ‘n orgasme en ‘n organisme het haar vir ‘n pynlike oomblik ontgaan.

Deel dit: