O sole mio!

O sole mio!

My eerste studenteryding was ‘n Peugeot 203 van 1953 – weduwee se motor, goed opgepas.  Een aand in 1960 vat ek ‘n aster met ‘n kort opwiprokkie na ‘n tafeltennisoefening toe. Iets – weet nie wat nie – trek my aandag van die pad af. Ek mis die stopstraat op die hoek van Farendenstraat en Kerkstraat, Pretoria met sware gevolge.  Peugeot raak gestamp. Peugeot rol.

Aster is in ‘n ambulans hospitaal toe met ‘n beseerde arm. Gelukkig nie te ernstig nie. Die uwe is uit sy bloedgroep geskrik maar ongedeerd.  Die onversekerede Peugeot bring egter ‘n eindelose lang tyd deur by ‘n agterjaart-paneelkklopper in Brooklyn iewers, al billike kwotasie beskikbaar.  My kar se kleur het daar van ligblou tot donkerblou verander. In vele ander opsigte was dit ook nooit weer dieselfde nie.

Halfpad deur 1961 besluit my besorgde ouers: Die Peugeot se betroubaarheid het helaas ‘n sterk element van twyfelagtigheid ontwikkel.  Ek is die naweek op Klerkdsorp en ons is die Saterdagoggend “motor town”.  Die “Santa Maria” word ingeruil vir die “Grassnyer” of die  “Skoolbus” – albei my studentemaat Pierre le Roux, ‘n bedrewe naamgewer,  se kreatiewe skeppings.

Pierre het, terloops,  ‘n lykwa ‘n “beentuintaxi” genoem en ‘n ambulans ‘n “aspirant-beentuintaxi”.  Maar dis natuurlik nie nou hier ter sake nie.

Die “Grassnyer”/”Skoolbus” was ’n splinternuwe Fiat 500-stasiewa, 62-model, uit die boks,  – ’n donkerbloue.  Die beroemde Cinquecento met sy 500 c.c.-enjin.  Daardier ougat Taljanertjie waaroor in Motors van 2 Junie 2016 met verskuldigde eerbied berig word.

Die Taljanertjie het in 1957 in stram ekonomiese tye sy buiging gemaak  en was vinnig ‘n treffer danksy sy kompakte afmetings en ougat voorkoms, herinner Motors ons – die rede vir verkope van 3,5 miljoen.

Vir my was die stasiewaentjie se voorkoms inderdaad ougat. Die pikante stasiewa-lyfie en seilsondakkie het getuig van Italiaanse pizzazz.  Die sondakkie was ideaal as jy iets langerigs soos ‘n besem wou inlaai. Of die windjie deur ‘n aster se hare wou laat speel.  Sy suinigheid met brandstof was boonop eksieperfeksie vir ‘n studentebegroting.

In die boek, “Tutte le Fiat” (Al die Fiats, as ek reg uit Italiaans vertaal) kry ek die Fiat 500-stasiewa op bladsy 308. Die Italianers noem hom ewe vernaam die Giardiniera, wat nogal aan die naam “Grassnyer” ‘n sekere geldigheid verleen.

Die grootste dryfveer vir my keuse was egter niks van bostaande nie.  Dit was, om 100 persent eerlik te wees, die enigste nuwe sakpas-motortjie op die vloer op Klerksdorp. Vir die goedkoopste model Mini (wat die alternatief was) sou ons Johannesburg toe moes piekel vir ons aankope. Daarvoor was die gier te onmiddellik.

My nuwe kar had piepklein wieletjies wat gelyk het of dit enige oomblik onder hom kon invou. Toe ek die eerste keer by Kollegetehuis met hom stilhou wou ‘n ander vriend, Cas Jacobs, doodernstig by my weet: “Het jy regtig met die karretjie van Klerksdorp af gery?”

Buiten vir die plesier om die Fiat spottend name te noem, het my vriende nimmereindigende plesier daaruit geput om my motor weg te dra. Dan moes ek plan maak om die kar uit die koshuis se eetsaal te kry, dan was dit ’n hele soektog om ’n geheime wegsteekplek agter digte struike te ontdek. Vir die Van Deventer-ego was dit telkens ’n knou, veral as dit op ’n eerste sleepaand gebeur, of soos die Sondag toe 1962 se  joolprinsesse by ons koshuis kom eet het.  Ek sou die mooiste enetjie (in my boekie) huis toe vat, maar moes toe eers vrywilligers opvorder om my kar uit die gesellie te karwei.

Die Fiat was betroubaar. In daardie opsig het hy aan sy doel beantwoord.  Van een ding kon jy hom nie beskuldig nie: krag.  Die toere het vinnig knorrend opgeskiet as jy die 500 c.c.-enjintjie wou aasjaag.  Opdraandes was ‘n “uitdaging”, soos die politici deesdae sware beproewings graag noem.  Om vragmotors op die grootpad verby te steek, moes jy tande kners en vasbyt.

Een dodelike rit met die Fiat Kaap toe vir my eerste skof as parlementêre verslaggewer in 1964 was my laaste.  Die eerste skof het my net gebring van Bloemfontein tot Beaufort-Wes, waar ek in die Wagon Weels oornag het.  Die eindelose trek deur die Karoo van Beaufort-Wes na Laingsburg was met die stadige Fiatjie eenvoudig te veel vir vlees en bloed.

Pas in die Kaap aangeland, het ek by my matriekmaat (wyle) Carel Weeber by Trust-bank in Kaapstad om ’n lening gaan aanklop en ’n gebruikte (blou!) 1964-Cortina gekoop – later my en Tokkie se vrykar. In die Cortina het ons gesellige ure deurgebring wanneer ek haar kuiertye by die Bloemfonteinse Onderwyserskollege gaan oppik.

Dis ‘n weer ‘n ander storie.

 

Deel dit: