Kameelperd eet kameelperd!

Kameelperd eet kameelperd!

IMG_0032Op ‘n galop is die eerste maand van ons wintervakansie van 2019 verby. Ons begin al vliegtuigroosters kyk. Wil nou weer Nelspruit ons basis maak. Maar darem eers die Laeveldse winterweer vir nog ‘n maand of wat geniet.

Natuurlik was die eerste twee weke die lekkerste met Jacob, Thomas en Christopher se flukse bydraes met die hout kap, vuur maak, tafels dek en braai ‘n groot bederf. Sal ek vergeet hoe hulle die eerste dag sy aan sy met Patson gehark, ge-“slash”, gevee en gedoen het. Met so ‘n span kan jy oorlog toe gaan.

Die seuns se bydrae tot die algemene bonhomie van Sabiepark is geweldig. Geen wonder nie dat die komplimente so bly instroom het. Selfs appèlregter Gustav Hoexter (nou al 96 maar spingslewendig!) het met sy gewone spitsvondigheid ‘n heildronk op hulle ingestel.

Met die aankoms het die nare ontdekking op ons gewag dat die sonkragstelsel deur weerlig getref is. Kos uiteindelik ‘n ronde R35 000 –  gelukkig deur Santam se “geel sambreel” gedek! Danksy Martin Matthee en veral die weetgierige Jacob weet ek nou heelwat meer (maar nog amper niks) van “watts”, “amperes”, “volts” en daardie klas ding.

Aan die dierefront was dit veral die kameelperde se vreemde besoeke wat uitstaan. Die span het die beendere van ‘n voorvader (-moeder?) op 154 ontdek, en gereeld nader gestaan vir ‘n dosis kalsium. Hulle knak behoorlik hul knieë soos by ‘n watergat, tel die bene op en kou dan lustig. Daarna moet Tokkie loop en bene in die motorpad optel.

Onder die waterdrinkers was die njalabul en sy gevolg – ook blou-apies.  Die nagapies het ná ‘n geheimsinnige afwesigheid weer gereeld saans begin opdaag vir hul skyfies piesang. Die bobbejane is minder –  en minder lastig. Twee hiënas het gekom en gegaan.

Tokkie se aalwyn by die drinkgat het goudgeel geblom. Die voëllewe was op sy hoogtepunt soos in ‘n voëlpark.  Die getjirp was nooit stil nie. Waar was die ornitoloë? Iets nuut was die swerms glansspreeus (weet nie presies watter een van die spulletjie nie) wat soos pers komberse op die bome by die water toegesak het.

Die tradisionele slanginsident het nie uitgebly nie. ‘n Bruin huisslangetjie het by die skuifdeur van die hoofslaapkamer vir ons geloer, en toe in die skag verdwyn. Thomas (nie ons s’n nie maar die kantoor s’n) en sy span moes die raam – baie  “versigtig” –  verwyder om by ta te kom.

By die piekniekplek was olifante weer eens die sterre. ‘n Yslike trop het een middag uit die bosse wes van Sabiepark gepeul, reg voor die voëlskuiling water gedrink en toe in gelid onder die brug deur koers gevat.  Een het hom vir Tokkie se teenwoordigheid op die brug nogal opgeruk. Ore geflap, en trompetter en stof geskop, en toe met ‘n wye draai rivierlangs by haar verby.  Wat ‘n vertoning!

Dan loop ons so onder deur die brug.

Dan loop ons so onder deur die brug.

Dieselfde middag het twee luiperds in die gras oorkant die water vir opwinding gesorg. Fyn kyk geverg om hulle en hul kirpatse waar te neem. Net ‘n dag of wat later is ‘n jong luiperd in die driffie in Apiesdoringlaan gewaar. Ons was nie by die aksie nie.

Met die besoek van ‘n trop buffels het Sabieparkers van die Krugerbrug af gesien hoe twee krokodille ‘n buffelkalfie beetpak, een aan sy neus en een aan sy boude, vir ‘n vroeë aandete.

Ons was die naweek Ermelo toe vir die Vosfees: die 80ste verjaardag van studentemaat Vos Grey met 200 gaste en ‘n tydsduur wat die stedeling verstom. Teen 10:30 is die eerste tee geskink. Teen 17:00 was almal se middagete nog nie verby nie. Waarskynlik was die Vosfees die grootste fees wat in ons 20 jaar se verbintenis met Sabiepark van hier af bygewoon is (waarskynlik die grootste in my 78 jaar!).  Net om die omvang te sien, het al die reis van 750 km (heen en weer) die moeite werd gemaak. Die Greys se gasvryheid en mededeelsaamheid was eweseer ‘n belewenis. Maar mens, dit vat aan ‘n amper 80-jarige om so gees te vang.

In elk geval toe ons Sondagmiddag oor die brug kom, het ons die plaat swart buffels in die Sabie mooi gesien. Ek was te moeg om te bodder met foto’s.

NASKRIF: Die jaarvergadering sal ek om twee uiteenlopende redes onthou. Vereers was dit die eerste keer dat die voorsitter van voor tot agter net Engels praat. Tekens van die tye. Ten tweede was ‘n “noodrit” Nelspruit nodig na my soveelste verstikking – die keer aan pap en wors. By die hospitaal het ‘n wonder lebeur. Weet nie of dit van skrik, ontsteltenis of kwaadgeid was nie, maar die omgesukkelde pasiënt het sommer toej-tjaf vanself reggekom! Ander storie daai.

Deel dit: