Lig daardie luiperd se stert en kielie hom saggies met ‘n takkie gwarriebos of huilboom. Jy sal vinnig agterkom dat hy nie uit ‘n soliede stuk rooiboswilg gekerf is deur die een of ander soeweniersmous op die pad tussen Hazyiew en die Krugerhek van die Wildtuin nie.

Nee, daardie kalant is die Ware Jakob. Vlees. bloed en naels. Hy is enkele dae gelede deur Gait-Jan Sterk van Sabiepark afgeneem voor Fickie Visagie van Bloemfontein se boshuis, nommer 97 in Maroelalaan. Helderoordag. Omstreeks 15:00.

Natuurlik is Fickie opgewonde soos ‘n kind. ‘n Luiperd op jou stoep! Dis ‘n Sabiepark-vreugde soos min, en jy kan maar weet daardie foto gaan prominent in die Visagies se voorkamer ‘n ereplek kry. Daarvoor sal Andre sorg. Sy is die ene in die Visagie-huis vir die rame, foto’s en ander muurversierings eie aan die bos.

Ek is ook opgewonde. Het gister vir Fickie laat weet: “Dis die hele Sabieparkstorie op een foto.” Daar woon ons mos sonder heinings. Die wild loop soos hulle wil tussen ons huise en kom soek gereeld iets vir die dors in die watergate by ons voordeure. Soms ook ‘n verdwaalde lid van die Vyf Grotes.

In ons huis, Tarlehoet, hang byvoorbeeld twee foto’s van ‘n olifant met ons swembadjie en watergat op die voorgrond. Dit was ‘n keer toe die skokdraad deur vloedwater meegesleur is.

Oor Sabiepark se luiperds hang iets mistieks. Hulle hou van die plek, want die volop wild is ideaal vir jag; vars water is maklik bekombaar en die veld is lekker ruig. Bedags is daar oorgenoeg skuilplek.

Jy weet hulle is daar. Jy sien hul spore in die los sand of rondom karkasse as een die lastige hienas voorspring. In Augustus het ‘n honger luiperd ‘n dragtige koedoekoei platgetrek in die Amazinispruit. Maar die meeste Sabieparkers het nog nooit een op hul werf gehad (gesien) nie. En luiperdfoto’s is skaars.

Ek kan vinnig dink aan ‘n stuk of ses ander Sabiepark-luiperdfoto’s. Een is presies om 17:45 op 19 Julie 2000 gekiek. Met my Canon EOS 500 wat toe nog my numero uno was (voor die digitale era). Ek en Tokkie was in die Honda CR-V op pad huis toe van die piekniekplek af. In die driffie in Wildevylaan stap ta toe ewe doodluiters voor die Honda se kopligte in. Boeta, jy’t net sien kameras flits, want langs my was Tokkie ewe bedrywig met haar mik-en-drukkie. Ons het pragfoto’s gekry.

Skoondogter Mariza het een aand na n “nagrit” ‘n luiperd afgeneem wat van ons lapa af wegblits toe hy die motor hoor aankom. Jy kan darem sien dis ‘n luiperd, maar sowel dier as fotograaf was klaarblyklik haastig!

‘n Keer het ‘n bouer ‘n ou gekry wat klaarblyklik op ons stoep geslaap het toe hy met sy span opdaag vir ‘n werkie. Maar met troffels kan jy nie foto’s neem nie!

Twee, drie ander kere dat Tarlehoet bevoorreg was om luiperd-besoek te ontvang, was die betrokke fotograaf – een keer die uwe , een keer Tokkie – te stadig. Die eerste keer was toe ons tien jaar gelede besig was om in te trek. Ek het my boeglam geskrik. ‘n Gevaarlike roofdier op my werf, verbeel jou! En daar sit ons sonder enige beskerming!

Lang storie – maar nou weet julle: so ‘n luiperdfoto soos die Visagies nou mee kan spog, is werklik besonders. Dit het trofeewaarde,boeta. Dit gee elkeen met ‘n kamera ook weer ‘n nuwe uitdaging. Julle sal sien hoe waaksaam en oorgehaal stap Van Deventer deur Sabiepark wanneer ons in Maart ons verbintenis van tien jaar gaan vier. Maar daaroor vertel ek later.

Dat die ou juis by die Visagiehuis afgeneem is, is vir my ‘n ekstra lekkerte. Vir daardie huis het ek ‘n warm gevoel in die hart, want dit is die huis waar ons op 1 Julie 1988 – amper 20 jaar gelede – die eerste keer in Sabiepark oornag het. Die lig in die voorhuis is direk aan die kombi se battery gekoppel – ‘n operasie waarmee Ouma (nou 94) haar onhandige skoonseun moes bystaan.

Die Visagies was so gasvry om hul boshuis aan te bied. Wat ‘n ervaring was dit nie om die eerste keer met so ‘n private natuurreservaat kennis te maak waar die wild so naby jou kom dat jy amper daaraan kan vat. By die tennisbaan was buffels. Ek onthou hoe’t hul koppe met die swaar horings links en regs geswaai soos hulle die vlug van die bal oor die net volg. Nes die skare by Wimbledon of Roland Garosse.

Ai, ek het daardie eerste keer al gedink Sabiepark is wonderlik. Maar ek het nooit besef dat ek tien jaar later self die trotse besitter van ‘n eiendom daar sou word nie. Nou is ek in die bevoorregte posisie om die wonderlikheid twee, drie keer per jaar te gaan geniet.

Die wonderlikheid hou net nie op nie – soos nou weer die luiperd op jou vriende se stoep. (HvD)

LEES OOK OP HIERDIE BLOG:

• Eskom en die drie beertjies
• HvD en Bles – onwaarskynlik tweemanskap
• Hessie se wit perd – met ys, asseblief!

Deel dit: