image1

luiperdjie3

luiperdjie4

Die luiperd op ons stoep – perfek geraam deur die braaiplek se muurtjie en die hoekpaal; skuur-skuur teen ons lapa se paaltjieheining verby, en op ons motorpad terwyl sy wegstap.

Middag uit Melkbos

‘n LUIPERD op my stoep! Die nuus uit Sabiepark, plus skitterende aksiefoto’s, het op Donderdag 19 Maart 2015 my dag driedubbel en dwars gemaak.

“Ek is bewend van opgewondenheid, stomgeslaan, oorstelp – en dêm dankbaar dat jy op die regte oomblik op die regte plek was met ‘n stewige vinger op die sluiter.” So het ek vir Caroline Pols, ‘n Sabieparkse vriendin uit Heerhugowaarden, Nederland, laat weet.

Sy en Gert het gister die omgewing gaan verken nadat ‘n luiperd ‘n bokkie op ‘n aangrensende erf platgetrek het. Hulle gaan loer sommer of alles pluis is by Tarlehoet … en dis toe dat Caroline, soos sy dit pikant stel, amper die luiperd se peuselhappie word. Gelukkig het eggenoot Gert uit die motor die puntjie van die stert gewaar.

Volgens die bloed op die stoepteëls het ta waarskynlik die bokkie daar verorber.

Die volgende oomblik kom sy orent. Daar staan sy voor hulle in haar volle glorie. ‘n Ruk lank kon luiperd en mensekinders slegs vir mekaar staar. Toe stap die pragdier skuur-skuur teen die paaltjieheining van die Van Deventers se lapa weg en in die motorpad af vort.

Wyle dr. Manie Malan van die Vereniging vir Christelike Hoër Onderwys in Bloemfontein, ‘n groot rugby-entoesias, het jare gelede geskryf van “daardie halleluja-oomblik as Vrystaat ‘n drie druk”. Nou-ja, hier was sekerlik een van die “halleluja”-oomblikke in ons salige Sabieparkverbintenis van 17 jaar.

Nie dat dit die eerste keer was dat ‘n luiperd by Tarlehoet, as ‘t ware, ons spasie binnedring nie. Trouens, die Van Deventers en luiperds het ‘n nogal verweefde geskiedenis
Ons weet van minstens een ander stoepbesoek en ‘n paar amper-ampers.

‘n Bouspan het nogal groot geskrik toe hulle een oggend opdaag om ‘n klompie stene te messel. Voor hul verbaasde oë spring ‘n luiperd oor die muurtjie en kry koers die bos in.
‘n Ander keer het een ons kinders van George, Johan en Mariza, by die lapa verras. Hulle was gelukkig in die motor – soos Gert en Caroline Pols. Later was die nimlike luiperd en ‘n luislang in ‘n konfrontasie oor ‘n duikerlammertjie. Maar dis ‘n ander storie.

Ek en Tokkie het self verskeie intriges met met die spesie panthero pardus beleef. Reeds op 16 Maart 1998, die naweek toe ons by Tarlehoet intrek, het dit begin. Ek kap die middag ‘n spyker in die muur van die boonste slaapkamer om ‘n foto op te hang. Toe ek opkyk, kyk ek vas in twee glimmende oë. Langs die motorpad, 20 meter van ons af, lê toe ‘n bielie van ‘n luiperd met sy fiere kop waaksaam orent.

Ek gryp my kamera, maar ‘n dakbalk versper die uitsig. Ek draf by die trappe op en af. Voordat ek egter my logistiek in orde kan kry, staan die luiperd lui-lui op, strek hom behaaglik uit en stap die bos in. Asvaal, jaag ek dadelik hek toe, sommer in my klam swembroek, om die “krisis” te rapporteer.

Toe kom wag ek tuis dat ‘n “span” opdaag om hom te vang, desnoods met nette. Maar geen span kom nie. Selfs g’n enkele veldwagter nie. Eers later hoor ek hoe buitengewoon bevoorreg ons was. Party Sabieparkveterane het tot vandag toe nog nooit ‘n luiperd op eie bodem gesien nie. “Krisis? Watter krisis?” wou die parkhoof David Zeller geamuseerd weet.

Op 29 September 1999 is Tokkie alleen tuis toe ‘n volgende luiperd op ons werf kom son soek. My vrou gooi haar Pro-Vita dat dit doer trek, en soek vervaard ‘n kamera. Sy kan nie betyds een raakvat nie, en nog ‘n uitstekende geleentheid vir ‘n foto raak verlore.

Tien maande later, op 16 Julie 2000, trek ‘n luiperd ‘n rooibokkie naby die huis plat. Ons hoor die feesmaal in die veld krakend en grommend vorder. Die volgende oggend is ‘n hopie pensmis en klossies vel al wat oor is. Dié keer het ek foto’s, maar niks juis om oor huis toe te skryf nie. Onthou darem, die toneel van aksie was 30 meter ver, verskuil agter takke en lang gras.

Agt jaar gaan sonder luiperd-insident verby. Eers in Maart 2008 kom ene weer onaangekondig by Tarlehoet aan. Die kêrel skuur-skuur teenaan die swembad en die voorste lapa verby. Sy klaarblyklike intensie is om vir hom ‘n sappige sebra agter die huis plat te trek.

Tokkie is – kan jy dit glo! – weer ‘n “grasweduwee”, en boonop salig onbewus dat in die klein kameratjie aan ‘n haak teen die muur, anders as wat sy vermoed het, wel ‘n film is. Ek is by die TV-kamer (waar muurproppe en elektrisiteit is) met my drarekenaar doenig. Uitasem, bel sy toe op die selfoon om te rapporteer: “Luiperd by die swembad!”

Haar oproep lok verbouereerde reaksie by haar eggenoot uit. Die woorde “luiperd” en “swembad” laat my die rekenaar vinnig los, my Canon gryp en by die TV-kamer uitstorm na die openbare swembad toe. Maar dáár is niks – net ’n arbeider wat rustig blare staan en uitskep.

Op daardie oomblik van waarheid besef ek: my vrou is tuis, nie by die waskamer, waar ek vermoed het nie. Die swembad waarvan sy praat, is ons eie bos-swembadjie.

Later hoor ek die pynlike storie. Tokkie is dadelik huis toe toe haar bondel wasgoed uit die wasmasjien kom. Sy is dadelik na die badkamer. Soos altyd, loer sy toe deur ons slaapkamer se skuifdeur na moontlike lewe by die voëlbad. “Lewe” is daar toe wel, maar heelwat nader. Haar oë val verstom op kolle teen die swembadmuur!

Terwyl sy haar oë knip-knip, begin die kolle beweeg; eers stadig om die swembad en toe rus-rus af langs die paaltjieheining. Hy lig sy kop, perfek vir ’n trefferfoto. Hy stap stadig aan tot by die motorpad. ‘n Windmakerige nuwe swaai kom in sy stert. Die sebras agter die huis is duidelik in sy visier. Voetjie-vir-voetjie (letterlik) sluip hy nader, terwyl Tokkie in sirkels in die huis rondhardloop. Steeds sonder kamera.

Maar plotseling ruik die sebras onraad. Die groepie spat gillend (hulle het vergeet om te balk!) in alle rigtings uiteen. Die gefrustreerde luiperd moet druipstert omdraai. Tokkie sien vir oulaas sy kolle in die grasse kleiner en kleiner word.

Twee keer in agt jaar het my vrou tuis ’n solo-luiperd-avontuur beleef terwyl die uwe elders met die rekenaar besig was. En hierdie keer sit ons toe >hoog en droog op Melkbos.

Nietemin: Ek lig graag ‘n glasie op elkeen wat al op ons pad opgeduik het, en dié wat nog gaan opduik (hoop ek) – so op die patroon van Julia Iglesias se romantiese ballade “To all the girls I loved before”. (hvd)

Deel dit: