Liewe ou Piet ….. Dit was die opskrif van die hoofartikeltjie in ‘n spesiale Piet Gouws-uitgawe van Beeld se personeelkoerant, Beeld-Intro, met die ou  vriend se vroeë aftrede in September 1998 weens swak gesondheid.  Liewe ou Piet  – só sal sy kollegs hierdie kleurryke joernalis van die ou garde in deernis onthou.

Hy was  Piet ……

* Die skynbaar sorgelose ou met die skewe, goedige en lakonieke glimlag en ‘n hart van goud;

* Die “bok vir sports”, die lekker kuierkameraad, die geesvanger en spanbouer;

* Die “vrek gawe ou” wat jou om sy pinkie kon draai – een van sy redakteurs se woorde;

* Die vasbyter wat met Job se geduld die soms harde slae van die lewe verduur het;

* Die ou op die speldedieet wat letterlik duisende van dié skerp stukkies staal opgekou of tussen sy vingers verfrommel het;

Hy was ook die Piet wat agter sy kasuele, amperse laisez faire-fasade geseënd was met ‘n vlymskerpe verstand, ‘n werksetiek soos min en hope, hope kreatiwiteit – eienskappe wat in die joernalistiek vir hom interessante, uitdagende deure laat oopgaan het, en in sy latere lewe van hom ‘n waardevolle steunpilaar van Patricia de Lille gemaak het toe sy nog die OD gelei het.

Hy was die ou wat by sy afsterwe van base, sy portuurgoep en mense wat onder hom gewerk het, gloeiende getuigskrifte soos die volgende gekry het:

* Hy was die beste nuusredakteur waarvoor jy kon vra; wat ‘n wonderlike verhouding met sy redaksie en ‘n goeie nuussin gehad het, en altyd kalm,  ordentlik en regverdig was.

* Sy manier van menswees het jou laat voel dat die wêreld n vriendelike plek is met goeie mense op wie jy sal kan staatmaak as jy oor n klip struikel.

* Hard werk of hard speel, PG was altyd in die voorste geledere;

‘* Hy het die aarde verlaat sonder een vyand.

Veral van ‘n nuusredakteur is dit merkwaardig, het een van die huidige generasie opgemerk. Sprekende as ‘n nuusredakteur van die oudste ou garde kan ek haar woorde beaam.

Ironies genoeg, het ook goeie ou Piet – soos baie ander goeie ouens voor hom – periodiek deur diep waters gegaan. Dink maar aan Job. Hoeveel keer Piet in en uit klinieke en die hospitaal was, het niemand seker van boek gehou nie. Hy sou ongetwyfeld kwalifiseer vir ‘n pensioen as Hospitaal-veteraan.  As jy besorg navraag doen, is jy deur sy gelatenheid getref.

In 1974 met Beeld se stigting is hy saam met ‘n stuk of ses ander Volksbladkollegas oor die Vaalrivier nuwe koerant toe. By Beeld was hy aanvanklik die nuusredakteur se “linker- en regterhand” met as primêre taak om opgemorste stories “reg te dokter”. Hy was gou een van die “manne”, ‘n bouer van spangees sonder weerga.  Hy was ‘n organiseerder van die beroemde/berugte “natstene” van destyds.

Later was hy o.m. nuusredakteur van ‘n wenspan in Pretoria, nuusredakteur in Johannesburg, lid van die hoofredaksie, administratiewe redakteur, bylaeredakteur, promosieredakteur, brieweredakteur, selfs sakeredakteur  – ‘n pos wat hom nie soos ‘n handskoen gepas het nie, raai ek.  Nietemin: By Beeld het hy diep, onuitwisbare spore getrap.

Ná aftrede het hy en Esta Kaap toe gekom en in Muizenberg ‘n gastehuis begin.  Hier het Piet trek begin kry vir die politiek.  Hy het hom by die OD aangesluit en was, soos ek verstaan, ‘n eerbiedwaardige, hardwerkende stadsraadslid. Toe die OD met die DA saamsmelt, het dit die einde van sy politieke loopbaan beteken. ‘n Hoofstuk het in Piet se lewe aangebreek waaraan hy, om weer ‘n Bybelwoord te gebruik, nie veel behae kon gehad het nie.  Ek glo hy het in hierdie tyd nostalgies teruggedink aan sy Beeldjare wat hoogtepuntjare was.

Dis my storie. As die indruk kon ontstaan het dat ek Piet as ‘n engeltjie skilder wat nog net vlerkies moes kry, het ek dalk so ietwat oordryf. Joernaliste doen dit mos maar, glo die publiek. Piet, regskape joernalis wat hy was, sou self die eerste wees wat keer: Hokaai, nou begrawe julle die verkeerde man!  Maar niks, niks kan iets daarvan wegneem nie dat ons hom almal met ‘n eie skewe, goedige en lakonieke glimlaggie sal onthou as liewe ou Piet.

Deel dit: