Gerekende boekeman Danie Botha, oud-uitgewer by Tafelberg, het my die eer aangedoen om “Laatoes – kykweer van ‘n kanniedood-koerantman” in die program “Boekkeuse” op Fine Music Radio te resenseer. Werklik ‘n warm, gesellige resensie, en boonop perfek voorgedra. Dankie, Danie, vir ‘n lekker stukkie luister.  Hierby Danie se vriendelike woorde:  

Laatoes-1000-500x778

Ek vind Hennie van Deventer se Laatoes ’n wonderlik meevoerende werk. Die subtitel lui: Kykweer van ’n kanniedood-koerantman. Dit bestaan uit 57 kort tekste; elkeen iets tussen 3 en 7 bladsye lank. Louis Esterhuizen het gehelp met die samestelling van die bundel.

Die boek is ideaal vir ’n gewag van allerlei aard of om te lees waar jy ook al mag reis. Die prosa en meestal speelse verse is deurgaans maklik verstaanbaar. Hennie laat jou lag, maak jou nostalgies of aangedaan. Dit is hoofsaaklik tekste om iets te herdenk of hulde aan mense te bring. Die jongste tekste is van 2017 en daarna gaan ons verder en verder die verlede in tot by Hennie van Deventer se aftrede by Naspers op 15 Desember 1997 en die afskeidsgeleentheid op 19 Februarie 1998.

Ons beleef sy studentejare by Tukkies in Pretoria. Hoe ’n man regkom met die dames en by ’n aanstaande skoonpa. By hom en die digter en later regsgeleerde Toon van den Heever “pomp dieselfde koshuisbloed: Ou Kollege”. Toon het inspirasie gekry vir sy grootse gedig “Beeld van Oom Paul” toe hy op ’n aand te laat uit was vir die laaste trem terug kampus toe. Hy moes voetslaan, verby Prinsespark en die begraafplaas waar die standbeeld destyds gestaan het. Toon se woorde: “Grou in die maanlig rys die swaar kolos.”

Van  Deventer vertel baie oor sy jare by Die Volksblad in Bloemfontein. Hier het hy onder meer gehelp om die nuus van twee van die groot gebeurtenisse in ons geskiedenis uit te dra.

Danie Botha

Danie Botha

Die eerste: 6 September 1966. Dr. H.F. Verwoerd word vermoor in die parlement. Van Deventer is hoofsubredakteur. Hy vertel: “ʻStop alles!’ het ek skielik deur dun lippe geskreeu, en my sigaret sommer agterstevoor in my mond gestop, die kooltjie op my tong. Van die mees dramatiese, emosioneel-uitmergelendste en pakkendste ure in my koerantloopbaan is daarmee ingelui.”  Van Deventer vertel van ’n vroeëre ontmoeting met Verwoerd toe Van Deventer parlementêre verslaggewer was. Ook hoe Tsafendas altyd vir hulle as verslaggewers iets te ete van die kombuis gebring het. “Die hand wat die dolk in Verwoerd se hart gedruk het, het vir my geroosterde eiertoebroodjies gebring!”

Die tweede gebeurtenis: prof. Chris Barnard se eerste hartoorplanting op 3 Desember 1967. Van Deventer gee kleiner besonderhede wat ’n mens dalk destyds nooit van gehoor of gelees het. Hoe die skenker Denise Darvall en haar moeder in Hoofweg, Observatory deur ’n jaagduiwel omgery is toe hulle die straat wou oorsteek om “by ’n geliefkoosde bakkery ’n koek te koop terwyl pa, Edward, en jonger broer, Keith, in hul geparkeerde Ford Anglia niksvermoedend oorkant die straat sit en wag.”

In die boek is daar vele vermaaklike gedeeltes. Rubriekskrywer Johan van Wyk se “Stop van Myne” het ’n kwarteeu lank in Die Volksblad verskyn. Hoekom het hy homself “Oom” genoem? “Van Wyk het ’n aand met Anneline Kriel (19), vars gekroon as Mej. Wêreld, gedans. Agterna sê sy toe: ‘Dankie, oom. Dit was lekker.’”

Teen die einde van sy loopbaan word Hennie hoof van koerante in Kaapstad. Hy erken dat finansies ’n gedugte taak vir hom as oudredakteur was, hy “wat tot vandag toe nie ’n balansstaat behoorlik kan lees nie”. Maar toe kom Naspers se “prins van syfermense” tot sy redding:  finansiële direkteur Eric Wiese. Eric Wiese is op 4 Augustus 2017 vermoor. Hennie huldig hom en beeld Eric ook as gesinsmens uit en gee voorbeelde van Eric se wyse mensekennis en sy spitsvondigheid.

Hennie vertel: “Een aand, in sy jongmansdae, maar reeds getroud, kuier Eric en ’n klomp ouens iewers, aan die kaart speel tot vroeg in die oggend. Toe hy die oggend vyfuur by die huis kom en saggies by die kamer probeer insluip, word Sannie, sy vrou, wakker en vra: ‘En waar kom jy nou vandaan?’ Waarop hy antwoord: ‘Nee, ek is op pad werk toe. Ek het vreeslik baie om te doen.’ En so is hy reguit terug kantoor toe, nog in die vorige dag se klere.”

Hennie van Deventer skrywe oor sport, bv. oor die verskil tussen ou Gerrie Seerhandjies Coetzee en Kallie Knoetze die Bek van Boomstraat; oor motors en veral oor ervarings in sy geliefde Sabie-wildtuin. Kyk hoe gee Hennie ’n beskrywing van ’n  ratel. Hy is lief om enumerasies te gebruik; dit skep iets dramaties en versnel die verteltempo. Jy moet ‘n ratel nie net taai noem nie, maar in alfbetiese volgorde: “aggressief, dapper, humeurig, manhaftig, meedoënloos, onvoorspelbaar, strydlustig, vasbeslote, verbeeldingryk, vreesloos en volhardend. ’n Ware ‘doodkry is min’ van die diereryk.”

En toe kom ek ’n gedeelte teë wat my bewoë gemaak het. Hy beskryf die NG Kerk op Philadelphia, hoe hy en sy vrou Tokkie ’n geestelike tuiste daar vind. Hulle ry vanaf hulle huis in Melkbos daarheen.

“Die kerk is ’n waardige huis van die Here. Dit het ’n hoë plafon, Oregondenbanke, plankvloere wat kraak onder jou voete, ornate vensters en ’n outydse preekstoel. Die liturgiese ruimte is skoon en oop — ongeskend deur allerlei ‘orkesverhoë’ en ander nuwerwetsighede. Jy voel die gewydheid aan as jy instap. Dis die soort kerk waar ek tuis voel.” ( Ek sekondeer.)

Laatoes: Kykweer van ’n kanniedood-koerantman deur Hennie van Deventer word uitgegee deur Naledi.

 

Deel dit: