Brief in Die Burger.

Brief in Die Burger.

 

Ek verwys die uitgewer Tafelberg graag na die verskoning wat die Sondagkoerant Rapport oor sy dwalinge met die Bird Island-sage op 16 April 2019 prominent gepubliseer het.

“Ons het ‘n fout gemaak,” het die koerant ruiterlik erken. Sy verskoning was inklusief en berouvol. Dit het eksplisiet ook lesers en die naasbestaandes van Magnus Malan en John Wiley ingesluit.

Daarteenoor is die apologie van die primêre sondaars (saam met die opportunistiese outeurs) flou, onvolledig en ontoereikend.

Die uitgewers erken dat sy “ gewraakte stellings nie onafhanklik geveriëer (kon) word nie.” Maar in sy apologie – duidelik versigtig regstegnies geformuleer – word in dieselfde asem sy verskoning “net beperk tot mnr. Du Plessis”.

Onmiddelllik ontstaan die vraag: kon die “gewraakte stellings” rakende Malan en Wiley wel dan op enige wyse “onafhanklik geveriëer” word? Indien wel, word dit deksels goed verbloem.

Of sou die “verifikasie” steun op slegs die vae bewerings van die naamlose Mnr. X wat een dag voorbladnuus was en die volgende soos ‘n groot speld verdwyn het? Hoeveel beëdigde verklarings van sleutelmense verlang NB-uitgewers en Tafelberg dan nog om hulle van hul mistasting te oortuig?

Maar natuurlik: anders as Du Pessis is Malan en Wiley nie meer in lewe nie.

Voorts: ag die uitgewer die misleiding van derduisende lesers van so min betekenis dat hy hulle, anders as sy susterpublikasie Rapport, in sy oomblik van berou skoon vergeet?

Die onttrekking van onverkoopte eksemplare is ‘n gebaar – ‘n nogal sterk simboliese gebaar van skuldbekentenis – maar op die keper is dit in geldwaarde uiters gering teenoor die miljoene wat internasionaal ingehark is. Op biblioteekrakke wêrelwyd pryk die boek nog. Op die internet leef miljoene verguisende woorde. Wat gaan NB-uitgewers en Tafelberg doen om hierdie tsoenami van skade te beperk ?

(Die brief het vanoggend in Die Burger en Volksblad verskyn.) 

Deel dit: