IMG_6576Hierdie is die verhaal van twee Laatoese – die een op papier, die ander in ‘n bottel.

Die bedoeling is nie om die twee, hul boek-et en die plesier wat hulle liefhebbers of nie-liefhebbers verskaf of nie verskaf nie,  teen mekaar af te speel nie. Dis ‘n kultuur-historiese blog wat vrae soos wie, wat, waarom en wanneer probeer beantwoord.

Eersgenoemde is die natuurlik jongste pennevruggie van die uwe, gepubliseer deur Naledi ‘n maand of twee gelede.  Laasgenoemde is een van die spogprodukte van die bekroonde Paul Cluver-kelders van Elgin: ‘n riesling noble late harvest.

 

Gister het ek geskenk-eksemplare van eersgenoemde aan Andries Burger, afgetrede ginekoloog van die Paarl, en sy seun, Andries Junior, bekroonde wynmaker van Paul Cluver oorhandig. Ek het huis toe gekom met ‘n “eksemplaar” van laasgenoemde in ‘n netjiese kartondosie ná ‘n aangename kuiertjie by die sierlike Paul Cluver-landgoed en ‘n ete in die karaktervolle klein Salt-restaurant tussen die groot akkerbome.

Die gashere was Andries Senior en sy minsame vrou, Irma, en die aanknopingspunt vind ons 56 jaar gelede in Kollegetehuis, Pretoria. Dit is die jaar toe Andries, plaasseun uit Suidwes (nou Namibië), met die trein van Gobabis af in Pretoria aangekom het om op Tukkies te kom swot.  Hy was in 1961 ‘n ienk (eerstejaar) in Kollegetehuis, waar ek die jaar huisvoorsitter was.

Die koms na Tukkies was ‘n ontredderende ervaring waarvan hy boeiend kan vertel: oor hoe hy op Johannesburg moes oorklim en verlore op die grote Parkstasie rondgedwaal het. Hy betaal toe `n tiekie om af te gaan na ‘n platform en vra aan iemand wat nie gevaarlik lyk nie: “Is dit die trein na Pretoria?” Intussen klou hy aan sy twee tasse, kosmandjie en beddegoedrol. want hy gehoor as jy weg kyk, is dit gesteel.

“Nee.” Kom die kortaf-antwoord. Toe takel Andries maar die volgende platform. Skielik loop iemand na hom en sê: “Jy was mos ook op die trein. Dit was mede-Suidwester Arend de Waal wat tot sy redding gekom het. Arend was sekretaris van die HK (huiskomitee).

Toe deel hulle ook die taxi. Die volgende oggend het Arend kom seker maak dat hy weet waar die universiteit is. Andries dit nogtans reggekry om tot by die Uniegebou te loop waar hy toe weer aan `n enkeling op straat vra: “Kan meneer my sê waar die universiteit is”. Die “meneer” sê toe hy is nie seker nie want hy is ook `n eerstejaar!

Andries het baie dae erg na Windhoek verlang, verklap hy. Hy is nou nog dankbaar jeens Arend dat hy gekeer het dat hy die eerste trein terugvat huis toe. Ook die huisvoorsitter is gelukkig nie in sy slegte boekies nie.

Ná Tukkies is ek koerante toe: Bloemfontein, Johannesburg, Bloemfontein, Kaapstad. Andries het ginekoloog geword in die Paarl.   Die eerste wat ek weer van hom gehoor het, was in September toe hy lees my “Laatoes” is op pad, en ek vier dit met ‘n ‘laatoessie” van ‘n ander kelder.  Hy wou dat ek die “ware Jakob” proe.

Ek en Tokkie in die proeklokaal by Paul Cluver; asemrowende meubels van natuurlike sederhout uit die berge.

Ek en Tokkie in die proeklokaal by Paul Cluver; asemrowende meubels van natuurlike sederhout uit die berge.

Ewenwel, hy en Irma (sy was ‘n matrieknooi op Affies toe haar en mediese student Andries se weë in die 60’s gekruis het) kom kuier toe hier op 14 September (met ‘n gewaardeerde pakkie van sy seun se wyne in die hand!). Ons spreek ook af om saam Paul Cluver te besoek.  Wat toe gister gebeur het.

‘n Geleentheid vir my om die vorige gasvryheid met my eie “Laatoes” te beloon, en, onverdiend, ‘n tweede botteltjie van daardie Paul Cluver se “engeltjiepiepie” in die hand geprop te word.

“Laatoes” deur Hennie van Deventer; ‘n wonderlike “laatoes” uit die Paul Cluverstal van die wynmeester Andries Burger Junior. Die bonus: ‘n heerlike kuier met twee voortreflike pêrels van die Paarl en die herontdekking van Kollegebande wat oor 56 jaar bly voortbestaan het.

Deel dit: