Tokkie met haar rooi baadjie – die geskenk van ‘n koerantverkoper.

Die tot siens vir Volksblad as papierkoerant beteken ook tot siens vir die knape wat vroeg opstaan om die nuus vroegdag by intekenare se hekkie of op die voorstoep te besorg.

Koerantverkopers verdwyn terselfdertyd by verkeersligte in stede soos Bloemfontein en Kimberley. Nuusplakkate, so lankal ‘n permanente faset van die stedelike landskap, word museumstukke.

Die rol van die koerantverkoper lyk dalk beskeie, maar dit sal ‘n sonde wees as dit onbesonge in vergetelheid verdwyn.

Die geldjies wat ‘n koerantseun huis toe bring, het al in sy huis die kos op die tafel moes sit. Of dit nog so gesteld is, weet ek nie. In my tyd was dit wel die geval. As verslaggewer het ek ‘n keer oor Die Volksblad se kortbroek-verkoopspannetjie ‘n storie geskryf. Sulke hartroerende stories het ‘n vogtigheid in die jong koerantman se oë gebring.

Toe was nie net die naam van die koerant anders nie (nog met die “Die” voor) maar ook sy tydgleuf. ‘n Skare seuntjies – in ’n stadium iets soos 180 – het met die varsgedrukte koerante die stad ingevaar om hul gebiede te bedien en hul hoeke te beman. Oom Blikkies Bilgnaut van die sirkulasie-afdeling moes hulle beheer. Dit het hare op die tande geverg.

Oom Blikkies was self egter ‘n Blik-skottel wat jy nie sonder handskoene moes aandurf nie!

Hoe meer koerante op ‘n bepaalde hoek verkoop is, hoe gesogter was die staanplek vanselfsprekend. Een hoek met status was op die hoek by die skoenwinkel Cuthberts in Maitlandstraat. Twee uitskieters wat daardie hoek in hul jeug hul eie kon noem, was wyle prof. Wynand Mouton van die UV en SAUK, en later ook Frans Stroebel wat lank ‘n sleutelman in die Rembrandtstal was. Frans was ook ‘n kranige Kovsie-rasieleier.

Onder Mouton-bewind in die 40’s was dit bekend as “Nantiie se hoek”. Geen indringer sou dit naby waag nie. Hy het laggend vertel hoe ‘n beskonke omie hom as onskuldige 12-jarige seun rondgejaag het as die nuus hom nie geval nie. Maar hy het goed geld gemaak: 12 sjielings en ‘n sikspens kommissie op ‘n dag. Eendag op ‘n reëndag het ‘n barmhartige samaritaan sommer 40 koerante by hom gekoop!

Ek het prof. Mouton skertsend “kollega” genoem weens die verbintenis. Hy het die “status” hom glimlaggend laat welgeval.

Die rekord vir ‘n lang “dienstermyn” is iets soos sewe jaar. Dit word gehou deur ene Louis Slump. Hy het alles mooi opgeteken en sy “loopbaansyfers” is indrukwekkend: in die sewe jaar het hy 15 288 km (sic) op sy fiets agter 82 intekenare aangery.

‘n Mooi storie oor jeugdige entrepreneurskap kom uit die dae toe dr. DF Malan pas in 1948 premier geword het. Op ‘n VP-kermis in Windhoek is op ‘n plakkaat met sy foto op skyfgeskiet.   Die storie was op die voorblad en op die plakkaat:

“Sappe skiet op dr, Malan se foto”. Toe sny van die verkopertjies die onderste lyn weg: “Sappe skiet op dr. Malan”.   Heeltemal iets anders! Koerante het soos soetkoek verkoop.

Verkopertjies is dikwels ingespan om as ‘n gunsie ander takies ook vir mense te verrig. “Ag boetie, help die ou tante tog die swaar boks kombuis toe dra!” Dan is die foets en koerante maar eers eenkant gelos em kruideniersware help dra.

Een moes selfs as “para-medikus”   uithelp. Op sy oggendrondes kom hy op ‘n drawwer af wat plat in die straat lệ. Dit was ‘n diabeet wat deur lae bloedsuiker neergevel is. Nogal ‘n redaksielid van Die Volksblad. Nadat die seun vasgestel het, die oom lewe nog, het hy ‘n motor voorgekeer, wat hulp ontbied het. Darem ‘n blok sjokolade vir sy moeite gekry!

My en Tokkie se seun, Johan, was as hoërskoolseun ook ‘n trotse koeranteverkoper. Met sy eerste tjekkie het hy by Repubiekbmeubels vir sy pa ‘n swarthoutkierie laat maak. Ek gebruik dit ná 30 jaar elke dag, al is dit al vol hondehappe en ander letsels.

Vir homself het het ‘n rooi baadjie van sulke gladde plastiekerige materiaal aangeskaf vir beskerming teen wind en weer. Met sy aftrede het sy ma die baadjie geërf.

Tokkie en daardie baadjie kom ’n lang pad. Vir elke reis wat ons onderneerm het, is dit altyd eerste ingepak. Ook vir elke skeepsreis. Dis ’n veteraan van ver paaie. Sy spore lê wyd op hierdie aardbol.

In die bittere koue wat die Kaap nou teister, wend sy haar gister tot “Johan se baadjie” vir ‘n ekstra hittetjie. Toe die uwe dit gewaar, spoel die herinneringe deur my: hoe lank dit in ons besit is en waarheen dit ons oral vergesel het. Sou ‘n bewoë nattigheidjie nie skielik in my oë opwel nie? Oor ‘n baadjie!

Maar ‘n dubbele bewoëndheid was dit darem  kan ‘n mens ter versagting sệ. Die trane lệ maar vlak oor al die verbygaande simbole van my koerant wat so lank so ‘n spesiale plekkie in my hart beklee het.

  • Van die inligting is met dankbaarheid bekom uit “’n Lewe van sy eie – die biografie van Volksblad” deur Leo Barnard en Jan-Ad Stemmet.

 

 

 

Deel dit: