Smaak my die oud-koerantman Hennie van Deventer ervaar die verlede en hede soms in een teug. Afgetree is hy wel reeds twee dekades, maar sy skryfstem weet nie van swyg nie. So skryf die joernalis AJ Opperman in ‘n resensie van Laatoes – Kykweer  van ‘n kanniedood-koerantman op Litnet.

 

In Laatoes spring hy tussen hede en verlede, gebeure en ontmoetings wat hy ervaar het, wat waarskynlik ’n indruk op enigiemand sou gemaak het. Dit klink eintlik so lekker, want hy kyk terug met genoegdoening – natuurlik kom groet heimwee en nostalgie ook – maar terselfdertyd bly hy nuwe goed ervaar. En hy het steeds die lewenslus en belangstelling.

Van Deventer ken baie mense en onderneem nog gereeld reise – alles kry oplaas uiting in sy skryfwerk, hetsy op sy blog of enige ander skryfsel met sy naam op.Die woorde “kanniedood-koerantman” is nogal gepas, want die opteken van gebeure en ervarings doen hy slaafs. Met baie omsigtigheid op die koop toe. Onder die titel van elke hoofstuk verskyn ook dikwels ’n datum.

Hy en sy vrou, Tokkie, woon op Melkbosstrand, maar hulle klink nie soos kluisenaars nie.

Van Deventer sit die werk voort wat hy in sy vorige boek Kroniek van ’n koerantman begin het.

In Laatoes vertel hy van afsterwes, maar ook ontmoetings, nuusgebeure lank gelede en meer onlangs. Jy kom inligting teë wat jy nie verwag het nie, daar is net soveel interessante goed wat opduik.

Synde self ’n joernalis, het ek aanklank gevind by baie van sy media-stories en hoogtepunte uit sy loopbaan. Hy skryf onder meer oor die geskiedenis en ontstaan van die einste gebou waarin ek vandag werk, Media Park, in Auckland Park, Johannesburg. Hy was een van die rolspelers destyds met die Nasionale Pers se se soektog na ’n nuwe perseel in Johannesburg.

Selfs al werk jy glad nie in die mediabedryf werk nie, sal jy ook iets uit hierdie vertellings kry.

Jy sal vir seker begin dink aan ’n besoek of herbesoek aan die Krugerwildtuin – daar is nou vir jou inligting en staaltjies. Gepraat daarvan, soveel nuwe inligting oor dié nasionale park sal jy ook hier kry, maar in ’n baie lekker verteltrant. Trouens, jy bekom baie inligting oor gebeure of mense wat jy glad nie verwag het jy sou nie.

Hoe klink die bywoning van ’n geleentheid met Suid-Afrika se voormalige Eerste Minister dr HF Verwoerd of sy kuier by die bokser Gerrie Coetzee in 1978 en die moontlikheid van ’n boksgeveg tussen Kallie Knoetze en die Amerikaner Joe Frazier?

Sy dae by Die Volksblad (vandag Volksblad), sy kollegas, die bekendstelling van Johan van Wyk se bundel koerantrubrieke, Só is dit nou, die dood van sy goeie vriend Jan Scholtz. Dit is steeds ’n vol lewe.

Die kerkie in die Krugerwildtuin, ’n besoek aan die kamp Orpen in die Krugerwildtuin, begrafnisse en verjaardae. Van Deventer leef die afgetrede lewe wat enige afgetrede joernalis stellig wil ervaar – om steeds aan te (kan) hou skryf. En natuurlik legio avonture, hoe gering ook al, en dies meer te ervaar wat juis stof vir nuwe skrywes skep.

Jy hoef natuurlik nie afgetree te wees om hierdie soort goed te kan doen nie, maar dit is lekker om daaraan herinner te word dat inspirasie jou wragtig enige dag of uur kan beetpak.

Deel dit: