More uit Melkbos

As dit pap reën, moet jy skep, lui die spreekwoord. Hoe liewer jy vir pap is, hoe ruimer skep jy natuurlik. ‘n Geleentheid om werklik ruim te skep, is Sabiepark se jaarvergadering, gewoonlik die eerste Saterdag in Julie. Die pap word deur Sjangaanvroue in tamaaie ysterpotte op tamaaie oop vure gaargemaak.

1-IMG

Pap en sheba in Sabiepark.

Die jaarvergadering word in ‘n spesiale markiestent in ons pragtige piekniekplek langs die Sabierivier gehou. Terwyl die prate gepraat word, hoor jy seekoeie snork. Soms dwaal ‘n paar leeus op die oorkantste oewer rond. Alles pure plesier.

Ná die pratery verskuif die aandag na die kospotte – die plesier hou nie op nie. Grawe vol gloeiende kole word op die gemesselde braaiplekke omgekeer. Gou vul die reuk van tjops, wors en wat nog op die swaar draadroosters die lug. Voordat jy aansit, gaan skep jy jou pap by ‘n vuur. Party ouens, soos ekke, doen dit met soveel vrymoedigheid dat besorgde gades ons soms moet aanspreek.

Maar daardie pap, lekker stywerig, en die sheba wat daarmee saamkom – ‘n heerlike, geurige tamatie- en uiesmoor volgens ‘n resep uit eie bodem – is koningskos, hoor. Hou maar die nagereg en die fensie slaaie. Pap en vleis – dis my dis.

1-1-IMG

Jacob en Thomas by die pappotte, 2008.

Sit nou wel nie langbeen om die pot en skep die pap met jou vingers nie; maar niks kom nader aan kleintyd se poetoe-ervarings doer in Babanango se kontrei in KwaZulu-Natal nie. Onthou goed hoe ek en niggies Lina en Elsa in die jare 40 agter Oom Martiens en tannie Dinah Maritz se plaaswinkel naby Slilutshana om ‘n reusepot gesit en pap eet het. Saam met die Zoeloes het ons die poetoepap met die hand geskep, in bolletjies gerol en dan heerlik gesmul.

Die gemeenskaplike pot pap is ‘n tradisie wat plek-plek voortleef, verstaan ek. Maar weet die moderne stadsmens steeds hoe? “Jy moet dit met jou vingers eet. Vat n skeppie en brei dit bietjie met jou vingers…. jy sal nie glo hoe dit die tekstuur en ook die smaak verander nie. Dan vorm jy n lepel met jou duim en skep die sous daarmee op, sit dit in jou mond en kyk in die verte met n dromerige uitdrukking wyl jy kou, ” raak omroeper Andre Walters amper liries. Hy het sy pap-ruteel as kind geleer by die Sjangaans wat saam met sy pa op die kopermyn by Messina gewerk het.

Andre en ‘n menigte ander het hul pap-stories opgedis nadat ek op my Fb-blad as’t ware die pappot geroer het oor die netelige onderwerp: Kapenaars en pap. ‘n Stukkie Kaapse kultuur wat my dadelik beetgekry het toe ek in 1992 uit die Vrystaat inkom, was die gretigheid om altyd en oral ‘n botteltjie wyn oop te maak, het ek geskryf. ‘n Stukkie Kaapse kultuur wat ek na amper 25 jaar hier te lande nog nie kan kleinkry nie, is egter die redelik algemene renons in pap.

In vino veritas, in pap is plesier, glo ek. Vele Kaapse vriende glo daarenteen dalk soos die Kaapse tannie van wie joernalis Tienie Fourie vertel. Sy het hom jare gelede ernstig gewaarsku: Mieliepap gee n mens ‘n hartaanval! Of so iets.

Soms swig ou vooroordele verrassend vinnig. Tokkie maak ‘n pap wat weerstand nogal kan laat verkrummel. In die resep is o.m. baie kaas, room en suikermielies. Op ‘n lieflike laatsomermiddag is nou die dag hier gebraai. Een gas trek sy neus op vir die aanbod van pap. Sit nie sy mond daaraan nie, dankie.

Iemand skep tog wel vir hom ‘n porsie. Toe hy dit in het, hou hy dadelik sy bord uit: Nog ‘n skeppie mielie-souffle, asseblief! (Wat is tog in ‘n naam?)

Tienie Halgryn van die Suid-Kaap onthou ‘n soortgelykle ervaring in die Hel by Calitzdorp in 1959. Hy maak pap en almal trek hulle neuse op. Pap klaar gemaak en hy gaan was gou die pot. Kom terug. Nie n krummel pap oor nie. Hy glimlag nou nog altyd daaroor.

Agter die “biltonggordyn” is dit natuurlik ‘n ander storie. Sommer baie Vrystaters en Transvalers eet elke oggend getrou hul bord mieliepap – krummelpap, slap pap, stywe pap, pap met ‘n vleisigheidjie of sous daarby, pap met melk en suiker … Alle soorte pap – net nie “met sampioene en sulke nonsense nie, want dit bederf die smaak.” Die definisie van ‘n Transvaalse hamburger? Twee snye stywe pap en n slappap-vulsel, aldus Stephan Schoeman.

Om die kultuurgaping tussen noorderlike pap-eters en suidelike nie-pap-eters te probeer vernou, het Barnard Beukman, redakteur van Beeld, ‘n voorstel: “Dalk moet julle papeters ‘n gids uitbring oor watter wyne die beste gaan by watter manier die pap voorberei is….”

Miskien iets om aan te herkou. Laaste woord behoort egter aan oud-kollega Ollie Olwagen: “” Ek stem vir ‘n monument wat aan die pap opgedra word. Niemand sal dit wil papslaan nie!” (hvd)

Deel dit: