1-IMG_7168

‘n Stroomversnelling in die Sabierivier vlakvoor die middelste van Sabiepark se drie uitkykpunte by die piekniekplek sorg vir ‘n konstante gedruis – soete watermusiek wat tot op ons stoep by Tarlehoet in Wildevy die oor streel.

Die water wat voor jou oë skielik lewe kry en skuimende wit tussen die klippers koers kry Skukuza se kant toe, wek ook mymeringe.
Vanoggend sit ek daar en mymer oor lewe en dood. Die lang lys afgestorwene Sabieparkers in die vorige boekj.aar bly maal in my gedagtes.

Die lys van tien name is die langste in die 20 jaar dat ek Sabiepark se jaarvergaderings bywoon. Dit sluit bekende mense in soos regter-president Frikkie Eloff (erf 362) en sy vrou, Wanda, wat ‘n maand uitmekaar oorlede is.

Twee van die oorledenes, Anne Weiland (erf 42) en Connie Openshaw (erf 92), niggie van Flip en Linda Nel van Kaapstad, was kuiergaste by ons plek, Tarlehoet.
Die ander ses was Wessel Germishuysen (erf 289), Benno de Klerk (erf 133), Hannetjie Lourens (erf 52), Christo Makaal (erf 85), Dave Barnett (erf 217) en Willem Badenhorst (erf 132).

Ek dink daaraan dat elkeen van hulle, soos ek, op hierdie bankie gesit het, bekoor deur grootse toneel voor hulle, en intens bewus van die watergeruis – des te harder soos die vlak van die rivier ná reën in die berge by Sabie styg.

Daardie geruis sal die tien nie weer hoor nie. Maar die Sabie sal steeds bly vloei: steeds jaar in en jaar uit voor die piekniekplek verbykom in ‘n kalm stroom lewegewende water wat ineens opbreek in ‘n tiental klaterende versnellings.

‘n Mens dink aan onsekerhede soos hoe lank nog vir jou oor is. Jy dink ook aan sekerhede soos die lewe wat tot aan die einde van die aarde sal bly voortgaan en die simbole daarvan – soos die Sabierivier aan jou voete.

Deel dit: