Hennie se hoogtepunte 1941 –

‘n nuwe profiel wat in Mei 2012 voorberei is vir die webblad Mediamense (www.mediamense.co.za)

  1. 1961 Redakteur, Perdeby, U.P. Dux-erekleure, U.P.
  2. 1962 Primarius, Kollegetehuis, U.P.
  3. 1966 Huwelik met Tokkie
  4. 1971 Geboorte van Johan
  5. 1974 Eerste nuusredakteur, Beeld. Geboorte van Marisa
  6. 1976 Nieman Fellow, Harvard-universiteit
  7. 1980 Redakteur, Die Volksblad
  8. 1984 Raadslid, Technikon O.V.S
  9. 1985 U.R.-lid, Afrikaner-Broederbond, Akademie vir Wetenskap en Kuns
  10. 1988 Oorkonde,Bloemfontein-stadsraad Direkteur, Nasionale Media Raadslid, U.V.
  11. 1989 Goue medalje, Bloemfontein (vir Kunsmark)
  12. 1992 Uitvoerende hoof: koerante, Direkteur, Rapport-Uitgewers
  13. 1993/2012 Scoops en Skandes (Tafelberg), eerste van
    15 boeke, o.a. Flaters en Kraters,Oos, Wes- Reismoles, Kroniek van ‘n Koerantman, ‘n Vriend vir Altyd, In Kamera, Buurman van die Wildtuin Praat-praat in Tamatiestraat.
  14. 1994 Direkteur, SAPA
  15. 1997 Phil Weber-medalje, Naspers Erepenning, Hoër Volkskool Voorsitter, Nuusblad-Assosiasie, Aftrede
  16. 1998 Laureatus-kleure, U.P. Lewenslange Genoot, Drukmedia SA Raadslid, World Assoc. of Newspapers, Sabiepark kom in ons lewe
  17. 2004Eeufeesmedalje, U.V. Geboorte van tweeling, Jacob en Thomas
  18. 2006 Tokkie 60
  19. 2009 Christopher gebore
  20. 2011 HvD 70
  21. 2012 Migael  word Van Deventer, Eerste e-boek, Spore in die bos
  22. 2013 HvD borg woord “koerant” by WAT. Lewenslange lid van Vriende van Voortrekkermonument.
  23. 2016 Goue bruilof, HvD 75, TvD 70
  24. 2017 Laatoes – Kykweer van ‘n kanniedood-koerantman

PROFIEL – voorberei vir die webblad Mediamense op 9 Mei 2012

Jakob Hendrik (Hennie) van Deventer (71) is as ‘t ware in die wieg gelê  vir die redakteurstoel. Sy eerste proesel was in

1957: hy word die eerste leerlingredakteur van die Hoër Volkskool op Potchefstroom se jaarblad. Vier jaar later, in
1961, volg die redakteurskap van Die Perdeby, studenteweekblad van die Universiteit van Pretoria.  In sy agttiende
jaar as joernalis by Naspers word hy op 39 jaar aangestel as redakteur van Die Volksblad.

In die broedertwis in die Afrikaanse politiek in die onstuimige jare 80 het hy hom deurgaans geskaar by die soeke na ‘n
regverdige bedeling vir almal.  Oor die netelige Asiërkwessie in die Vrystaat het hy byvoorbeeld uit die staanspoor ‘n
sterk eie stem laat hoor, tot ergernis van die Nasionale Party.   Opskudding is gewek toe hy in 1990 op die voorblad vir
P.W. Botha in ‘n ope brief kaalvuis oor sy weerstand teen F.W. de Klerk se hervormings aanvat.

Hy was ‘n wegbereider vir gesprek met die ANC sedert sy baanbreker-ontmoeting met Thabo Mbeki in 1988 in Londen,
en was die enigste Afrikaanse redakteur wat in 1992 genooi is na die geskiedkundige laaste buitelandse konferensie
van die leierskader van die ANC in Parys onder die sambreel van mev. Danielle Mitterand se Frances Liberté-beweging.

Onder Van Deventer se entoesiastiese aanvoering het Die Volksblad sy credo van voortreflike gemeenskapsdiens
uitgeleef.  Die koerant wen in 1988 die FAK se miniatuur-ossewa vir die beste dekking van alle media van die
simboliese Groot Trek nadat hy die vorige jaar, in 1987, deur die Provinsie vereer is as bouer van gesonde
verhoudings in die Vrystaat  Die redakteur was die vader van die gewilde Bloemfonteinse Kunsmark, die immergroen-
Matrieknooiwedstryd en die Bloemfonteiner-van-die-Jaarwedstryd.

Ná 12 jaar as redakteur aanvaar hy die uitnoding van Ton Vosloo om Kaap toe te kom as eerste uitvoerende hoof van
koerante van die Pers. Daardie skof van sewe jaar is later, met sy uittrede in 1998, deur Vosloo as “‘n tydperk van
hoogtepunte, van uitskieters op die grafiek, van ‘n groot omswaai” tipeer.

Van Deventer het sedert sy aftrede 15 boeke gepubliseer: humorsketse, perspektiewe oor koerante, die pers en
perspersoonlikhede, en toenemend oor sy hartswêreld, die bos, waar hy in ‘n boshuis in Sabiepark langs die
Krugerwildtuin, omring deur inheemse bome en vrylopende wild, sy liefde vir die natuur uitleef.  Hy het in sy hart
joernalis gebly. Hy borg byvoorbeeld die woorde “koerant” en “joernalis” by die Woordeboek van die Afrikaanse Taal
(WAT).

Naspers het sy hoogste eerbewys, die Phil Weber-medalje, in 1997 aan hom toegeken vir sy “nalatenskap in elke fase
van sy loopbaan van 35 jaar.” Vererings vir die koerantman Hennie van Deventer het ook gekom van o.m. sy skool, sy
alma mater, die stad Bloemfontein, die pers-assosiasie Drukmedia S.A. en die Vrystaatse Universiteit. Van die Hoër
Volkskool op sy driekwarteeufees sy eerste (en tot dusver enigste) erepenning vir ‘n oud-Volkie wat presteer het
(1997); van die Universiteit van Pretoria se Alumnibond Laureatus-kleure (1988); van die stad Bloemfontein ‘n
oorkonde vir gemeenskapsbetrokkenheid (1988); van Drukmedia SA  lewenslange Genootskap  – die eerste “Fellow”
uit die Afrikaanse media (1998), en van die Vrystaatse Universiteit ‘n Eeufeesmedalje vir sy rol as Raadslid en
Redakteur van Die Volksblad (2004).

Drukmedia SA het sy verering so gemotiveer: “Hennie van Deventer holds a reputation of great stature both within the
local industry and within the newspaper publishing fraternity across the globe.  He is recognised for his wisdom, his
diplomacy and naturally for his contribution to print media in South Africa over a considerable number of years.”
Die hoogtepunt van sy loopbaan van 36 jaar was in sy eie oë die verwerwing in 1976/77 van die gesogte Nieman
Fellowship vir joernaliste vir ‘n jaar se studie aan die Harvard-universiteit in Cambridge, Massachusetts, VSA.

In sy vroeë loopbaan was hy o.m. parlementêre verslaggewer, hoofsubredakteur en nuusredakteur van Die Volksblad ,
asook die eerste nuusredakteur en adjunk-redakteur van Vosloo by Beeld.  In 1980, op ouderdom 39, is hy aangestel
as redakteur van Die Volksblad.

Aan die bestuurskant het hy gedien as in die direksies van Nasionale Media Bpk. (die eerste dienende redakteur van
Die Volksblad in daardie posisie), Rapport-Uitgewers Bpk., die Suid-Afrikaanse Persvereniging (SAPA), die Drukmedia-
Assosiasie van Suid-Afrika en die Worcester Standard Electric Press Ltd,.

Hy was voorsitter van o.m. die Nuusblad-Assosiasie (voorheen NPU), die SA Vereniging van Nieman Fellows, die
Vrystaatse tak van die Bond van Oud-Studente van UP en die Bloemfonteinse Junior Rapportryerskorps. Hy was lid
van die Uitvoerende Rade van die Wêreldvereniging van Koerante (WAN) – die eerste Suid-Afrikaner – die Afrikaner-
Broederbond, die UOVS, die Technikon OVS en die Bond van Oudstudente van UP.  Hy is lid van die Akademie vir
Wetenskap en Kuns, die Afrikanerbond, die FAK en die Probusklub van Bloubergstrand, waarvan hy twee termyne
president was.

Hy het internasionale konferensies oor die perswese en oor die politiek bygewoon in die VSA, Europa, Brittanje en
Australië, ook as referent. Artikels uit sy pen het in vaktydskrifte soos Nieman Reports (VSA) en Ecquid Novi (SA)
verskyn. Hy was ‘n beoordelaar in die Frewin-kompetisie vir koerante. Hy was ‘n stigterslid van die Afrikaanse Studente-
Persunie en die skolekoerantkompetisie van die Junior Rapportryers.

Hy is op 3 Januarie 1941 op Dundee gebore.  Hy slaag matriek op 16 in die eerste klas (met onderskeidings in
Afrikaans en Engels) in 1957, en behaal die graad B.A. in 1960. Hy studeer daarna in die regte. Voor voltooiing van sy
LL.B het die roepstem van die koerant te sterk geword.  Hy was as Tukkiestudent o.m. ook primarius van Kollege-
tehuis in 1962.  In 1961 is  Dux-erekleure aan hom toegeken.

Hy is getroud met Tokkie (van Wyk) van Bultfontein en die egpaar het twee kinders, Johan (40) en Marisa 36. Hennie
en Tokkie het vier kleinseuns.   Hulle woon reeds die afgelope 15 jaar op Melkbosstrand.

* Hy word 76 op 3 Januarie 2017.

virhvdcoza1PLUIMPIES UIT DIE PERS

Ton Vosloo:  Ek wil hom beskou as een in ‘n ry van befaamde Naspersers wat blywende bakens gelaat het.”

Salie de Swardt, commendatio, Phil Weberprys: “In elke fase van sy loopbaan het hy n nalatenskap gelos waarop hy trots kan wees.”

Herman le Roux:  “Hennie van Deventer was die beste van die agt redakteurs onder wie ek in 40 jaar gewerk het – ‘n briljante joernalis. ”

Ton Vosloo: “Die tydperk van sy leierskap sal in ons geskiedenis beslis aangeteken word as ʼn tydperk van hoogtepunte …. Ek soek nog die geheime formule, maar Hennie het die span gelei van een oorname van ʼn vesting na ʼn ander.”.

Johan de Wet: “Jy het hard geraas, maar jou hart was sag. Met ‘n gelukwensing of die uitspreek van medelye was jou kaartjie altyd eerste.”

Frikkie van Rensburg: “Watter voorreg was dit nie om HvD as een van my ses redakteurs te kon hê nie! My nommer-een-redakteur – verreweg die veelsydigste. ”

Johan van Wyk: ” Ek word moeg van net sit en kyk hoe jy werk. Veral in die ou dae wanneer jy ʼn tikmasjien, met ʼn pak Rembrandt van Rijn aan jou sy, soos ʼn verwoede tier bespring en die toetsbord met jou twee voorvingers so aangerand het dat die arme ding rittel en beef soos ʼn hond wat gif gevreet het. Terwyl almal om jou ook rittel en beef. Dit was nogal vreesaanjaend.”

Commendatio, erelidmaatskap van Genootskap van Drukmedia-Assosiasie:   “Hennie van Deventer holds a reputation of great stature  …. within the newspaper publishing fraternity across the globe.  He is recognised for his wisdom, his diplomacy and naturally for his contribution to print media in South Africa over a considerable number of years.”

Andre Brink:   Heel bo aan my lysie is Hennie van Deventer. Hy was ’n kwaai en veeleisende baas, maar hy het ook nooit geskroom om lof uit te deel as jy goeie werk gedoen het nie. Ek sal hom altyd dankbaar wees vir die geleenthede wat hy vir my gebied en geskep het. As joernalis staan hy vir my kop en skouers uit bo almal met wie en saamgewerk het.

 

Deel dit: