Oumatjie Zuma se eenvrou-oorlog teen tabak voer my  gedagtes terug tot een van Volksblad se kernelemente oor dekades: die rubriek Stop van Myne.  Toe ek die koerant as vyfjarige aan die voete van my oupa Visser in Kimberley gelees het, was Stop in elke uitgawe ‘n moet.

Toe ek die redaksiekantore einde 1958 die eerste keer as studentewerker instap, was Stop van Myne  volstoom aan die gang. Die logo was ‘n pyp en twaksak. Die skrywer daardie tyd, Renier (Oom Giep Joubert),  se persoonlike aanhang het gesorg vir genoeg biltong vir sy spens om ‘n hele winter mee deur te kom.

In my redakteursdae (1980 tot 1992) was die groot gees van Stop Johan van Wyk (die “Oom”) wat in ‘n kwarteeu ‘n asemrowende 6 000 rubrieke, of vier miljoen woorde, gelewer het. Sy resep het hom ikoonstatus besorg. Van sy uitdrukkings het volksbesit geword. Dink aan “ohopoho” wanneer dinge rof raak. Of “Hef ‘n siegret” (“Ingels” vir Stop van Myne).

Dit is laasgenoemde wat my aan die wonder gesit het. Sou Oumatjie Zuma  (“‘n misdaad is ‘n misdaad”) sulke uittarting geduld het? ‘n Rubriek wat mense elke dag in twee van die 11 ampstale uitnooi tot ‘n dampie? Dis mos skreiende uitdaging van die staatsgesag! Hoop die outeur sou darem ‘n keuse gekry het tussen ‘n boete en tronkstraf.

Dis natuurlik alles net speel-speel, Wat nie-speel is nie, is haar magsug wat soveel derduisende rokers se verwagtinge van ‘n verslapping in vlak 3 in rook laat opgaan het.  Of haar beweerde verbintenis met die mafia van die smokkelhandel met rookgoed. Sy ontken. Geen rook is egter sonder vuur nie.

Die belangrikste vraag is of sy die pyp rook in die gesagsposisie wat sy nou beklee. As jy uit my twaksak wil stop, is die antwoord NEE.

Deel dit: