My hart is nog te stukkend oor die lot van my geliefde Volksblad  – wat nou deur die magte en owerhede van die teenswoordige Naspers (of Media24 as u dan wil) op ‘n digitale syspoor gerangeer word – om ‘n blog oor my gewaarwordinge aan te durf. Ek beperk my tot ‘n kort teruglik.

Vier, vyf jaar gelede was daar ‘n soortgelyke inisiatief, gedryf deur dieselfde mnr. Ishmet Davidson wat nou uitvoerende hoof van Media24 is. Koerantmense in murg en been soos Ton Vosloo en Salie de Swardt was toe nog in direksies. Hulle en ander nugterdenkendes  kon stem dik maak en walgooi. Dit het egter toenemend duidelik geword dat die gedrukte koeran top geleende tyd leef.

Bob van Dyk, Nederlander wat Naspersbaas geword het, het trouens al gewaag om te voorpel dat koerante dalk vinniger op pad uit is as wat deurtrapte koerantmense soos ekself verwag het. Wat Die Volksblad betref, was mnr. Van Dyk helaas toe reg. My eie insigte is as wensdenkery ontmasker.

Maar die kort terugblik:

Op 18 Oktober 2012, net agt jaar gelede, het ek ‘n taamlik uitvoerige dokument opgestel waarin ek my lewenslange verbintenis met die Pers, soos ons geslag ons maatskappy gemeensaam genoem het, deur ‘n sogenaamde ek-bril in oënskou neem.

 By koerante was in daardie stadium opnuut ‘n verkleining van redaksies op die agenda, wat onder meer behels dat veral 60-plussers in die gedrang kom – al hul opgepotte ervaring ten spyt.

My gevolgtrekking het ek toe so geformuleer: “Dit tref hierdie waarnemer dat koerante se hande kwalik gesterk word vir hul uitdagende stryd in ‘n uiters medingende omgewing, waarin die sogenaamde nuwe media, sosiale media en watse media nie nog nie steeds al hoe dieper inkeep.  Hul hande word, soos dit vir my lyk, eerder agter die rug vasgeknoop. Dit word ‘n uitmergelende, ongelyke stryd. “

Dit bring my nog ‘n stappie terug:  tot ‘n  versugting aan die einde van my afskeidstoespraak by my aftrede begin 1998  oor die “bewaring van ‘n goue ewewig, asseblief tog, tussen die nuwe tegnologie en kernpublikasies wat al geslag ná geslag hul gemeenskappe getrou dien, immer waaksaam die sosiale orde in stand help hou en lank die ruggraat van die maatskappy was.”  Daardie goue ewewig is helaas nie bewaar nie.

In intrinsieke waarde was dit in 2018 al ‘n geheel ander Pers as wat ek gegroet het. Naspers was toe al ‘n internasionale sakereus. Wyd gereken, op elke terrein op die voorpunt, skitterend suksesvol.

“Vir die geweldige internasionale deurbrake, astronomiese omsette, reuse-winste en vuurpylaangedrewe aandeleprys kan ‘n mens net bewondering uitspreek.  Entrepreneurskap, waagmoed, inisiatief en visie is lewendig en gesond in die Heerengracht,” het ek geskryf.  “Hoede af vir ‘n nuwe leiersgeslag!”

Maar, het ek gevra, en dit is my eintlike punt, is Naspers dan nie juis nou ryk genoeg om sy so belangrike gedrukte media sommer uit sy agtersak te fortifiseer om hul rol as “moedersmelk” vir die volk te bly speel nie?

Vandag is Naspers selfs nog ryker en daardie agtersak nog dieper.  Om ‘n gerekende, eerbare titel in die hoofstroom van koerante soos Volksblad in stand te hou ter erkenning van waar sy eie wortels vandaan kom, behoort vir Naspers ‘n geleentheid te gewees het om aan te gryp. As hy maar net die lewe deur ‘n ander bril as ‘n geldbril wou beskou.

Deel dit: