Nou is Frank Smuts ook oorlede. Nog ‘n Vrystaatse seder het geval. Aan die jintelman van die regbank het ek aangename herinneringe, en ook aan sy aristokratiese vrou, Mudie, wat hom vooruit gegaan het. Regter Frank het sy vrou lank in hul elegante huis in Rhynlaan, Bloemfontein, met groot sorg verpleeg.

My positiewe gevoel jeens die man – en my respek vir sy onkreukbaarheid – kan ten beste verstaan word deur aan te knoop by ons eerste ontmoeting, vroeg in Mei 1981, enkele maande nadat ek as redakteur van Die Volksblad in Bart Zaaiman se skoene kom klim het.

˜n Verkiesing het nadergekom en die verhouding tussen koerant en die HNP – wat in daardie verkiesing vir oulaas die regse vaandeldraer was – was ver van hartlik. Die jong redakteur se uitgesproke verligtheid het hom ‘n baie spesifieke teiken van regse hoon gemaak.

In daardie verhitte klimaat gryp die polisie vier blankes in verband met regse terreur deur die sogenaamde “ Wit kommando” en Die Volksblad plaas toe ‘n prominente berig op die voorblad met die opskrif: Wit terreur – raaisel om HNP-man. Dit was ook die bewoording op die plakkaat.

Die streklking van die berig was dat n gewese HNP-kandidaat, ene B.M.A. Fotheringham van Witbank, gelyktydig met die inhegtenisnemings spoorloos verdwyn het. Vrae word gestel of daar nie dalk ‘n verband is nie…

Die HNP, erg onstuimig en opgeruk, vra dadelik ‘n dringende middernagtelike interdik aan, waarin hy beweer die berig is “uit hoorse-bronne” saamgeflans. Sy advokaat, Piet Geldenhuys, roep teatraal uit: “Fotheringham se naam word genoem omdat hy per toeval nie by die huis is nie. “Daar is honderde plekke waar hy hom kan bevind!”

Regter Frank was nie ge-imponeer nie. Skuins voor 01:00 het hy die HNP se saak uitgegooi, met koste.

Die HNP was bitter. Onder die gelukwensings was een van Johannes Grosskopf, vorige redakteur van Beeld: “En jy wen toe wragtig; as n man wat al twee interdikte teen hom gekry het, my uiterste felisitasies!”

Wat die arme HNP en die arme Piet Geldenhuys nie geweet het nie, was dat Die Volksblad nie geraai het oor die feit dat Fotheringham hom nie “op een van honderde plekke” bevind nie, maar wel in die tjoekie.

Die Minister van Polisie, Louis le Grange, was self die “betroubare bron”. En net ‘n dag later raak dit toe bekend: Fotheringham is wel een van die vier. Toe kraai ons behoorlik!

Ek glo regter Frank, ‘n knap en verstandige juris, het snuf in die neus gehad dat Die Volksblad nie sommer die heer Fotheringham by regse terreur sou insleep as hy net om die een of ander onskuldige rede absent geraak het nie.

Enkele jare later moet die Vrystaat ‘n nuwe regter-president kry. Kobie Coetsee, Minister van Justisie en Vrystaatse leier van die NP, vra my in die jagveld wie my kandidaat is. Ek het geweet die protokol is dat die senior regter outomaties opskuif, en die was regter Gannie de Wet. Sonder om ‘n oomblik te huiwer, se ek egter: Frank Smuts. En daar laat val Kobie toe dat hy in dieselfde rigting dink.

Gannie de Wet was verslae en tot met sy dood ongelukkig. Gelukkig het hy nooit geweet dat HvD op ‘n ander perd gewed het nie, want ons persoonlike verhouding het gesond gebly.

Met regter Frank en Mudie (op die foto hierbo) het mettertyd ‘n spesiale vriendskapsband ontwikkel. Al was ek en Tokkie heelwat jonger, is ons in hul kring verwelkom, is sosiaal saam gekuier en is prikkelende gesprekke gevoer.

Die Smutse se dogter is Dene, die politikus wat as redakteur van Fair Lady ‘n kollega by Naspers was. As iemand wat haar ken, hierdie stukkie lees en dit onder Dene se aandag sal bring, sal ek dankbaar wees. Dit is my huldeblyk aan ‘n besonderse man met groot gawes van hart en verstand.

Groete

HvD

Deel dit: