96088306_10158846301830190_8389104257701249024_oVriend Ronnie de Bruyn wat die naweek op amper 90 in die aftree-oord Klaradyn ter ruste is,  was ‘n gerespekteerde oud-skoolhoof en ‘n pilaar van die gemeenskap. Kon lekker ondeund ook wees as hy die dag lus was.

Sal ek sy storie vergeet van Anita se heupvervanging? Bedagsame eggenoot wat hy is, koop hy toe vir haar ‘n fluitjie om hom slaapkamer toe te ontbied as hy ‘n pliggie moet kom verrig.

Die Saterdagmiddag sit hy in hul huis –  toe nog hier in Tweede Laan, Melkbos –  voor die TV en rugby kyk. Iets haper egter. Lyk of die spelers die skeidsregter eenvoudig net ignoreer. Fluitjie blaas skril. Spel gaan voort. Fluitjie blaas nog dringender. Geen teken dat iemand wil ophou speel nie.

Hy wou hom eers vervies vir die swak dissipline. Toe tref dit hom soos ‘n emmer yskoue water.  Daardie fluitjie blaas nie op Nuweland nie. Dit blaas hier in sy slaapkamer. Dis Anita wat blaas en blaas dat haar longe wil ingee.

Toe hy skuldig by die deur inloer, kan hy sien Anita is ongeduldig.  “Ek blaas en blaas, maar lyk my jy raak nou hardhorend!”

Met dieselfde operasie (en die lang rehabilitasie) was Ronnie later nie meer so fluks met al die huiswerkies soos aan die begin nie. Dis toe dat hy sy vriende sugtend meedeel hy wil  kerkkantoor  toe om ‘n reëling te tref.  Hulle moet Anita se naam nou summier van die gebedslys verwyder en met syne vervang!

 

Deel dit: