Bo: Ek en ds. Willem van Niekerk klink 'n glasie. Onder links: Ek en ds. Ockie Raubenheimer op Melkbos. Onder regs: Ek en ds. Henno Cronje voor hul huis in Wimbledon.

Bo: Ek en ds. Willem van Niekerk klink ‘n glasie. Onder links: Ek en ds. Ockie Raubenheimer op Melkbos. Onder regs: Ek en ds. Henno Cronje voor hul huis in Wimbledon.

Min tokkelokke het in my geliefde Kollegetehuis onderdak gevind in die laat jare 50, begin 60’s. Kan hulle op die een hand se vingers tel.  Tokkelok se kind moes jy in Sonop gaan soek. Altyd ‘n volop spesie daar gewees.

Ek dink vandag aan twee tydgenootlike Sonop-tokkelokke n.a.v. my artikel oor ds. Ockie Raubenheimer in Sondag se Rapport-Weekliks. Die twee manne is Maans Steyn en Willem van Niekerk, ongelukkig albei oorlede.  Albei was, soos   ds. Ockie, kapelaan in Parys.

Maans was in die Franse hoofstad van 1978 tot 1980, net drie jaar na ds. Ockie. Willem het Maans in 1981 opgevolg. Sy termyn was tot 1984.

Maans was ‘n sterke derduiwel. Het vir Tukkies en Noord-Transvaal stut gespeel saam met mede-Tukkie Ben Alberts.  Met hom in ‘n moles beland nadat die studentekoerant Perdeby sy naam en besonderhede laat verlore raak het voor die studenteraadsverkiesing van 1961. Die afwesigheid het in die spesiale verkiesingsuitgawe soos ‘n seer vinger uitgestaan. Al die ander kandidate s’n was wel in. Ook myne –  en ek was, vir my sonde, Perdeby se redakteur!

‘n Groot geskarrel het gevolg. Van die ontstelde Sonoppers het ‘n Kollege-komplot geruik om hul man uit die SR te hou. Maans self was rustig en vol begrip oor die ligte mistykie van ‘n aard wat in die harwar van koerant uitgee – ja, selfs ook ‘n studentekoerant –  helaas nie seldsaam is nie.  Hy was dankbaar vir die spesiale pogings om die fout reg te stel.

Nog ek nog Maans het dit by die stembus gemaak.  ‘n Goeie wedersydse gesindheid het egter uit die hele spulletjie tot stand gekom. Dit was ‘n skok toe ek verneem dat hy relatief jonk die slagoffer van breinkanker was.

Ek en Willem was in 1962 huisvoorsitters, ek van Kollege, hy van Sonop. Hy was ook, soos ek die jaar voor hom, Perdebyredakteur.  Ons was albei rugby-entoesiaste van die eerste water. Van Deventer en Van Niekerk was van die weinige Tukkies wat weekdae selfs agter Tukkies se tweede span aangery het. Albei van ons was ietwat luidrugtig en vrypostig met ons kommentare. Een middag op die Polisieveld moes dieners ons tussen moerige kollegas deur na veiligheid begelei.

Skat ons had albei die reputasie van “grootbek” wees. Dalk was daardie eienskap die band wat ons oor die jare bly bind het.  Ons het wel nie altyd kontak gehad nie, maar altyd ten minste binne hoorafstand van mekaar gebly.  Nadat hy uit die bediening is, het hy as gids by die Voortrekkermonument gaan werk.  Goeie gids gewees, verstaan ek.

Ons het Facebook-vriende geword. In daardie dae het hy en Mariki vir my en Tokkie op Melkbos kom kuier. Willem was altyd ‘n opgeruimde kêrel, spitsvondig en lief vir ‘n grappie. Dit was ‘n heuglike middagete waar die koue wit wyn nie onaangeraak bly staan het nie.  ‘n Hartaanval het Willem ‘n jaar of drie skielik te vroeg weggeneem.

Nog ‘n Sonopper maar van ‘n vroeëre era, Henno Cronje, het later , van 1987 af, dieselfde pos as ds. Ockie,  Maans en Willem beklee.  Sy hoofkwartier was egter Londen, nie meer Parys nie. Het ‘n hele paar keer by hom in Suid-Afrikahuis op Trafalgarplein asook by hom en die sjarmante Charmara by hul mooi dubbelveriepinghuis in Wimbledon gaan inloer.

Henno was altyd ‘n skelm roker.  Een aand het ons ‘n worsie gebraai. “Het jy sigarette?” wou hy weet. Ek het egter pas vir die soveelste keer opgehou. Toe tower Henno ‘n pakkie sigarette uit ‘n kas.  Ek het enetjie geneem, toe nog enetjie en so aan. Ai tog.

Een besoek aan Henno staan in my herinneringe uit. Dit was aan die vooraand van ‘n konferensie oor Suid-Afrika by Wiston House in Essex. Groot geeste soos die Amerikaanse onderminister van buitelandse sake Chester Crocker was teenwoordig. Onder andere ook ‘n hoë Rus met die naam Yuri Yukalov.

In die koerante kom toe ‘n berig oor die ontmoeting by Wiston House tussen prof. Peter de Lange, wat voorsitter van die Afrikaner-Broederbond was en die heer Yukalov uit Moskou.  In AB-geledere het dit gou bekend geraak dat Van Deventer ook daar was. Ek was toe, benewens redakteur van Die Volksblad, ook lid van die uitvoerende raad van die AB.

Plek-plek was in onse organisasie groot ongelukkigheid oor die UR-lede wat “agteraf” met Russe praatjies maak oor – soos hulle dit gestel het – Suid-Afrika se toekoms – en dit onder die wakende oog van die liberale Chester Crocker, maaindjoe.

Drie kommentare:

i. Die jaar 1989 lyk skielik so ver-ver terug in die verlede.

ii. Self verbaas oor al die kapelane met wie my paaie gekruis het.

iii. En die Sonoppers was toe regtig nie sulke slegte ouens soos die algemene geloof in Kollege doerie tyd was nie.

Deel dit: