Niemand wat ek ken, sal so vootvarend wees om ‘n mens oor jou keuse van huweliksmaat en jou getrouheid aan hom/haar aan te vat nie.  Ek en Tokkie is fluks op pad na ons goue bruilof. Niemand het dit nog gewaag om iets daarvan te bevraagteken nie.

Oor ander “liefdes” word ek egter gereeld geroskam. Soos oor my bloed wat blou is.

Kom nou, sal my Kaapse vriende my aanspreek,  jy’s darem al 20 jaar hier; regtig nou tyd om vir jou “eie span” te skree. Eie span! Vrystaatse vriende is op hul beurt verontwaardig dat ek na twee gelukkige skofte van 12 jaar elk in Bloemfontein nie die Cheetahs uit en uit steun nie.

Ek gebruik die woorde “uit en uit”, want meesal steun ek die Vrystaat wel.  Eintlik amper altyd – veral teen raai wie.  Dis net as die Cheetahs en die Bulle mekaar pak dat dinge lol.

Ná Saterdag se wedtryd het ek op FB die volgende inskrywing gemaak:  “Lekker as jou twee gunstelingspanne mekaar in die Curriebeker-eindstryd pak. Ek is bly die Cheetahs het gewen. Ek is jammer die Bulle het verloor. As die telling andersom was, sou my bly en jammer ook andersom gewees het.”

Klink dalk ietwat draad-sitterig. Laat ek dus hier eerliker wees: Ek is inderdaad bly oor die Cheetahs. Maar ek is VREK jammer dat die Bulle verloor het (boonop so sleg verloor het).

Die band met die blou span kom nie van gister af nie. Is al in die jare 1958 tot 1962 op Loftus gesmee.  Amper 60 jaar gelede. Ons kringetjie vriende, almal Kollegemanne, was maar gewoonlik Saterdae daar as ons nie self elders gespeel het nie.   Altyd probeer om te gaan kyk as Tukkies speel.  Veral teen die Bobbies. Epiese stryde.

Waneer Noord-Transvaal op die veld draf, was dit groot sake. Ons kele is hees geskree.

Legendes soos die snorman Louis Schmidt, Frik du Preez, Mof Myburgh en Piet Uys was die helde in blou wat Loftus daardie jare gaande gehad het soos Hannes Brewis en Tom van Vollenhoven voor hulle. Vir ‘n rugbymens is dit name wat jy ná al die jare steeds met die grootste respekte bejeën.

Eie studentemaats soos die Kollegemanne Nic Bojé, Proppie Goosen en Andries Pretorius het die Noord-Transvaalse trui met die Barberton-madeliefie op die bors oor die kop getrek.  Nog ‘n stewige band tussen jou en die span.

Nou wel nooit op Loftus nie, maar op L.C. de Villiers, Oostelikes se veld,  die Bobbies se veld, Danville en so het die uwe boonop sy eie rugbytande in Pretoria geslyp. Vleuel vir Kollege gespeel in die derde liga.  Was ‘n skraal, liggewig-mannetjie en skrikkerig om te tekkel.  Maar nogal vinnig gewees as ek afsit hoekvlag toe!

Die Jakarandastad was as’t ware my rugby-universiteit soos Tukkies my akademiese universiteit was.  Ewe lief vir Loftus. L.C. de Villiers en die ander velde gewees as vir die indrukwekkende kampus. Is nou nog aan Tukkies rotsvas lojaal, Engels en al.  Verstom my werklik dat iemand kan verwag ek moet aan Bulle-rugby minder lojaal wees.

Ja, lojaal bly – dis nou maar eenmaal my storie.  Ek is lojaal aan my vrou en my vriende: lojaal aan my skool, Volkies op Potchefstroom: aan Kollege-tehuis en Tukkies: aan die NG Kerk:  aan Die Volksblad en Beeld, my twee koerante waar ek in die redaksie was: aan Absa, my bank (wat uit Volkskas gebore is). Ek was ook lojaal aan die Nasionale Party totdat hy opgehou het om te bestaan. Ek het lojaal geword aan Melkbos en aan Sabiepark.  Ek is selfs lojaal aan die A.A. – darem  die ander een as Alkoholiste-Anoniem!

Deur dik en dun skop ek vas waar my ankers is. Hoekom, vra ek met trane in my ligblou oë,  sal ek dan nie deur dik en dun lojaal bly aan die Ligbloues nie – die span wat ek in my vormingsjare so hart en siel as my eie aangegryp het? Sal mos verraad wees om nou mantel te swaai, of hoe?

Deel dit: