Suid-Kaap5

More uit Melkbos

Waters waar rus is en vir die oog ‘n lus is – dit beteken die uitgestrekte Suid-Kaapse kuslyn, spieëlgladde mere, riviere, damme en plasse vir baie mense. Waters wat net bly neerstort uit ‘n loodgrys hemel. Dit het ons vanjaar daar beleef. Vyf dae en nagte lank gereën, vyf dae en nagte agtereen …

Ons wou een middag Botelierskop toe, maar bruisende vloedwater het die paaie verspoel en laagwaterbrûe onbegaanbaar gemaak. Die plek was afgesny, soos so vele ander. Toe ry ons maar rond by Groot Brak, Klein Brak, Tergniet, Reebock, Fraai Uitsig en sulke plekke; en verwonder ons aan die geswolle riviere asook die nuwe damme in elke denkbare leegte, terwyl die motor se ruitveërs op volspoed oortyd bly werk.

Ons wou een aand by die Nasionale Wildernisplek ‘n vleisie op die kole sit, maar toe die rokie opwaarts begin krul, donder, blits en giet dit skielik soos in ‘n mini-wolkbreukie in Sabiepark. Koddige Kaapse weer vir die uwe wat darem al in 1992 oor die Hexrivierberge getrek en aan baie klimaatskommelinge gewoond geraak het.

Tot en met die GROOT REENS van Januarie 2014 was die wêreld van Mosselbaai tot George glo maar droog en het die vakansiegangers van die beste strandweer in baie jare gehad. Soos ons self op my verjaardag (nommer 73) op ons geliefde Buffelsbaai beleef het. Maar siestog, Hartenbos se plate kampeerders was teen die derde grys dag al soos natgereënde hoenders en die strande dolleeg.

Was maar dankbaar ons was nie die avontuurlike bosslapers in ‘n mankoliekige blou tentjie op die wal van die Hartenbosrivier oorkant my broer Cules (Malan) se huis nie! Die arme mense het oornag verdwyn – waarheen wonder ek. Want ‘n droë kolletjie sou jy nêrens in daardie wêreld kry nie.

Iets wat ek nog nooit gedoen het nie, was om die Sewepassepad te ry – die eerste pad van 75 km wat tussen 1862 en 1883 deur Thomas Bain tussen George en Knysna gebou is. Die tog is vir vanjaar geskeduleer. Toe ons nog droogvoets daar deur is – via die Kaaimanspas, die Silwerrivierpas, die Touwsrivierpas, die Hoogkraalpas, die Karatarapas, die Homtinipas en die Phantompas – was die bome en die varings langs die gewilde bergfietsroete vaal van die stof en die riviere net onskuldige stroompies. Sou dit graag ‘n dag of drie later wou sien!

Reën of te nie, kuier HET ons gekuier. So deeglik dat die badkamerskaal die gees bedroef.
Dankie, Johan en Mariza (kinders), Cules en Dalene (broer en skoonsuster), Pierre en Esther (studentemaats), Theuns en Marian (Randburg-vriende), Paul en Cora (Volksbladvriende), Piérre en Erika (Bloemfontein-vriende), en Dawie en en Annatjie (Sabieparkvriende).

Soos ons onthaal is met T-been op die kole, ‘n verskeidenheid van verbeeldingryke Van Rensburg-worse, tuisgemaakte pizza, smaaklike visgeregte, lekker ontbyte (o die roereier en tuisgebakte croissants op 3 Januarie!), Kersfeeskoek, hamburgers, vleispasteitjies en ander happies – natuurlik ook wyn sonder bodem (onder meer) – was iets uit ‘n ander wêreld.

‘n Wêreld van wonderskone see-, meer- en bergtonele, raaswaters, eindelose branders, riviere, reën, reën reën, ryke herinneringe en vreemde registrasienommers, asook die ewe enorme bate van ‘n gulle permanente en vakansiegemeenskap bestaande uit gasvrye, ruimhartige, wellewende mense met oop deure en oop harte. (hvd)

FOTO BO: Sewe passe, hier kom die Van D’s. ONDER: TvD by die Touwrivierbrug op die ou pad.

Deel dit: