VRAAGTEKENS OOR BOEK

 

Die polemiek oor die Melletboek  The Lie of 1652  maak dit relevant om weer die spoor te vat van die boek oor Bird Island wat in die jongste verlede ná hewige kritiek en verskeie ondersoeke as ‘n bose duimsuiery ontmasker is.

Albei omstrede boeke is deur Tafelberg goedsmoeds as sogenaamde “non-fiksie” gepubliseer.

Die beswaddering van twee reeds oorlede en een nog lewende oud-minister in die PW Botha-era in die Bird Island-boek het Tafelberg en Media24 nogal duur te staan gekom. Die gerespekteerde publikasiehuis moes sy trots in sy sak steek, hoed in die hand erken dat ‘n gruwelike onreg sonder enige bewyse teenoor onskuldiges gepleeg is, nederig apologie vra, die boek onttrek en skadevergoeding van ‘n koele paar miljoen opdok.

Boonop leef die vergryp voort as ‘n veelvoudige, voortdurende klad op sy naam. Met elke klik op elke berig rakende die sage op Netwerk24 word Barend du Plessis opnuut verskoning aangebied vir die lasterlike stellings wat oor hom gepubliseer is, en die Malan- en Wiley-families vir hul emosionele skade. Hoeveel kniebuigings is dit per dag? Moet nogal heelwat wees.

Tafelberg se verdriet eindig nie hier nie. Van die primêre verskoning by elke berig lei ‘n skakel die leser na die drie verklarings wat kort ná mekaar deur die maatskappy uitgereik is om hom uit die penarie te probeer wikkel: op 3 Maart, 17 April en 28 April. Elke keer krabbel hy ‘n entjie verder terug.

Op 28 April betuig Ishmet Davidson, besturende direkteur van Media24, oplaas persoonlik sy “opregte en onvoor-waardelike apologie” aan die betrokke families, erken hy dat die vuige dade wat aan hulle toegedig is, “ongegrond” is en bied hy vergoeding van R3 miljoen aan ‒ ‘n bedrag wat Barend du Plessis as ontoereikend verwerp het in die lig van al sy regs- en ander koste. Agter die skerms is daarna verder onderhandel.

In die geval van “Lie of 1652” bestaan natuurlik nie sprake van nog lewende en relatief onlangs gestorwe mense wat beswadder word nie. Die generasie voor 1652 oor wie dit handel, het eeue gelede geleef. In die opsig is dit ‘n “veilige boek”.

Maar vir die geloofwaardigheid van Tafelberg kan The Lie of 1652 nog ‘n knou wees soos die getuienis opstapel dat die outeur ook maar sterk op sy duim en sy verbeelding staatgemaak het ter stawing van die herskrewe  geskiedenis oor die ou Kaap wat hy aanbied. En geloofwaardigheid is vir ‘n uitgewer nogal ‘n kritieke bate.

VERRASSING IN VOLKSBLAD

In Volksblad en op Netwerk24 kry ek toe vanoggend n lekker verrassing – ‘n vriendelike artikel deur my vriend en staatmaker-kollega Sarel Venter, ‘n vorige adjunk-redakteur. So skryf Sarel oor my aanstaande 80ste en die boekie waarmee ek dit vier:

Aan die vooraand van sy tagtigste verjaardag het nog ‘n boek van Hennie van Deventer die lig gesien. Sy twintigste in byna 24 jaar sedert sy aftrede as hoof: koerante van Naspers (stet), nadat hy onder meer 12  jaar redakteur van Die Volksblad was.

Hy het oor ‘n verskeidenheid temas geskryf: van outobiografiese werk en koerantsake tot mense, humor, diere, reiservarings.

Sy koerantverbintenis is vir hom onuitwisbaar.  Om saam te val met sy naderende verjaardag (3 Januarie 2021) verskyn ‘n gedenkboek,  Koerant.  Dit is ‘n selfpublikasie met voorlopig ‘n beperkte oplaag, versorg deur De Novo Boeke, wat dit ook as e-boek aanbied.

In die boek van 215 bladsye is die rou oor Volksblad se lot – einde as gedrukte koerant  –  nog vars. Hy probeer nie sy hartseer verbloem nie. Dit bied die  kapstok vir die boek. Die rou is ‘n vlammetjie wat ‘n groter vuur aansteek. In sowat 50 essays skryf hy nie net met hartseer nie, maar ook met hartstog en humor. Talryke eie herinneringe en anekdotes is in hierdie terugblik opgeteken – oor Volksblad, maar ook oor mense, kollegas, ander koerante en die koerantwese in die algemeen.

 

Hoekom woel hy nog so op 80?  Eenvoudig omdat “kommunikeer” die lewe vir my sin gee.  Ek sit maklik agt uur per dag voor die rekenaar.  Ek skryf twee blogs, deel gedagtes op Facebook, werk tussenin aan artikels en boeke.  Wat anders?  Daarsonder sal ek opgeskeep wees met myself.   Ek pak nie veel ander dinge aan nie.  My hande is dom. Maar my geprese “geesdrif” soek ‘n uitlaatklep.  Daardie uitlaatklep is skryf, debatteer, saam gesels, tred hou met die nuus, kommentaar lewer…

 ‘n Fokus in hierdie boek?  My groot passie en eerste liefde: die koerant in al sy dinamiese fasette.  Ook onvergeetlike karakters  agter die skerms. En hope humor. Sonder ‘n sin vir humor sal ‘n koerantmens moeilik  oorleef.

Geliefkoosde nuusonderwerpe?  Alles wat nuus is. Versot op politiek,  op sport (buiten skopboks), op menslike stories (“human interest”),  en op elke ander nuusonderwerp.

Sy hebbelikhede?  Ander moet liewer oordeel.  Ekself is bewus van ‘n kort lont. Altyd agterna jammer en verleë as ek ‘n vloermoer gegooi het. Lief vir humor/kwinkslae/rympies.

Sy voorliefdes? Ek het drie groot passies:  koerant, die bos,  reis (veral  vaar). Hy borg die woord “koerant” eksklusief by die WAT. Minstens vyf van sy boeke het koerantonderwerpe.

Die bos?  Hy is gek na Sabiepark, waar hy ‘n boshuis net langs die Krugerwildtuin het.  Verkies selfs – tot die verbystering van vriende – die hitte van die somerbos (Desember/Januarie) bo die “Kaapse Dokter”. Sy nuwe bosboek (Mei 2021) sal die sesde oor dié onderwerp wees.

Reis? ‘n Interessante reis was in Rusland in Gorbatsjof se tyd.  In sy Niemanjaar by Harvard het  hulle Amerika platgery.  In die laaste jare het hy verslaaf geraak aan  vaar. Onvergeetlike vaarte was met die Queen Mary ll na Sydney en met die MSC Musica langs die ooskus van Afrika tot in Venesië. (Dis alles in sy boek Na verre hawens.  Jare gelede het hy ook ‘n humorboek oor reis geskryf: Oos, Wes – Reismoles).

Hy het ‘n vierde voorliefde: musiek, alle musiek, buiten kletsrym en Afrikaanse oornag-treffers (“bokkie,sokkie,frokkie”).   Tien jaar lank het hy vir vriende vir Kersfees CD’s geskenk met temas soos die liefde, tuine, voëls, reise op ver paaie, ens.  Hy en Tokkie het die snitte saam uitgesoek.

Sy afkeure:  Hy haat moderne brabbel-Afrikaans, en kastige “ondersoekende joernaliste” wat ‘n “nuwe Suid-Afrikaanse geskiedenis”  uit hul duime suig. Moet ook nie dink hy sal afval eet en simpel TV-sepies en –storietjies kyk nie.

Hoogtepunte in sy lewe:  Die redakteurskap van Die Volksblad op 39 in 1980. Dit het ‘n ambisie verwesenlik wat hy van sy eerste dag by die koerant gehad het.

  • Nieman Fellowship aan Harvard 1976/77 – ‘n plek wat drup van tradisie en karakter.
  • Phil Weberprys, Naspers se hoogste eerbewys, in 1997.
  • Sy bydrae om die beswaddering oop te vlek van ministers Magnus Malan, Barend du Plessis en John Wiley in Tafelberg se prulboek “The Lost Boys of Bird Island” met agt kritiese briewe in koerante.
  • Drukmedia SA se lewenslange Genootskap (Felllowship) – die eerste aan  ‘n Afrikaanse mediamens in 1998.

Teleurstellings:  Die  keldering van Volksblad as gedrukte koerant.  (In Koerant brei hy uit op die tema). Nog ‘n teleurstelling was die latere besluit om Volksblad se Kunsmark  nek-om te draai.

Ten slotte ‘n paar dinge waarvan hy die vader is:  Pendoringprys vir Afrikaanse advertensies, die hoog aangeskrewe Nat Nakasa-prys vir joernaliste (wat toegeken is aan joernaliste wat oor Covid-19 geskryf het),  die Matrieknooiwedstryd, die Kunsmark en die Bloemfonteiner van die jaar-wedstryd.

Drukmedia SA het sy verering van Van Deventer so gemotiveer: “Hennie van Deventer holds a reputation of great stature both within the local industry and within the newspaper publishing fraternity across the globe.  He is recognised for his wisdom, his diplomacy  and naturally for his contribution to print media in South Africa over a considerable number of years.”

KAMERA-KONSTERNASIES

Met my gedenkboekie “Koerant”.

Oor fotograwe wat vergeet het om vir kritieke oomblikke film in hul kameras te laai, is hartverskeurende stories in omloop. Manjifieke nuusfoto’s het op hierdie manier verlore gegaan; selfs loopbane is kortgeknip. Twee van Suid-Afrika se grootste vliegrampe het elk ook ‘n kameradrama opgelewer.

In my gedenkboekieen geskenkboekie “Koerant”  –  aan die vooraand van my 80ste verjaardag oor twee maande – vertel ek van ‘n paar sulke en ander kamera-konsternasies.

Een so ‘n krisis was ná die ramp op die Windhoekse lughawe JG Strydom  in April 1968 toe ‘n Boeing van die SAL, die Pretoria, met die opstyging in die grond geboor het, met die verlies van baie lewens. Suid-Afrikaanse koerante het feitlik almal
vliegtuie gehuur om verslaggewers en fotograwe na die toneel te haas. Die Transvaler was geen uitsondering nie.
Laat die Sondagmiddag het sy span teruggekeer. Daar was nie baie tyd om foto’s te ontwikkel nie. Toe die nuusredakteur naderhand die fotograaf in die donker-kamer gaan soek, kry hy hom hande in die hare. Geeneen van die foto’s het uitgekom nie. Of lig in die kamera, of iets anders, maar daar was geen enkele opname nie.

 

***************************************************************

Om “Koerant” te bekom, is dit die enigste adres: 

KOERANT E-BOEK

****************************************************

Die tweede was in Mei 1972, met die Republiekfees in Kaapstad, toe drie Mercuriusvliegtuie van die Suid-Afrikaanse Lugmag tydens ‘n formasievlug in digte mis teen Duiwelspiek vasgevlieg het. Elf offisiere en beman-ningslede het omgekom. Die eerste fotograaf van Die Burger was verstommend gou op die toneel maar – helaas – met ‘n kamera sonder film.

Omstreeks dieselfde tyd is ‘n Volksblad-fotograaf, Willem van der Walt, in Bloemfontein op eie versoek so in ‘n Lugmagvliegtuig vasgegespe dat hy amper halflyf kon uithang om skouspelagtige foto’s van ‘n massa valskerm-springers van die Valskermbataljon te neem.

Ná al die moeite is agterna dieselfde ontdekking ge-doen: geen film nie!
Willem word ook vir ander dinge onthou. ‘n Keer het ons die Kovsie-tamboernooientjies gaan afneem. Die voorste ry sit kruisbene. Dan sien jy tot doer. Willem waarsku: “Pas op, ons sien julle almal se broeke.”

Die Willem-storie wat die koek vat, is ‘n storie oor terte.

Hy en Daan Nortier is in die Suid-Vrystaat en die kollega voer ‘n onderhoud met die plaaslike leraar oor die een of ander fondsinsameling. Die gesprek boei Willem hoegenaamd nie. “Dominee,” val hy sommer met die deur in die huis, “waar’s die terte?” Die leraar was momenteel uit die veld geslaan. Toe antwoord hy, terwyl hy bloedrooi begin bloos: “Ag broertjie, hier is ‘n paar onderwyseressies maar hulle is nou met vakansie!”

‘n Jong kollega – ek onthou net ons het hom Mordegai genoem – het vir hom berugtheid verwerf deur ‘n waardige dame by ‘n geleentheid so aan te spreek: “Haai jy, ou tannie met die rooi rok, staan ‘n bietjie diekant toe.” Die “ou tannie” was niemand anders nie as mev. Lettie Fouché, Suid-Afrika se presidentsvrou!

Gepraat van die tamboernooiens se broeke. Dit laat my dink aan die ding wat Ken Oosterbroek (sic) van The Star oorgekom het. Die aspirant Mej. Wêrelde van 1993 het op die Johannesburg-lughawe aangekom. Oosterbroek, altyd op soek vir ‘n buitengewone hoek, was vir dié okkasie plat op die grond. Dit het nie net ‘n fees van manjifieke bene op sy negatiewe opgelewer nie, maar ook onthul dat Mej. Denemarke dalk ‘n bietjie Skotse bloed in haar are kon hê.

Want toe sy op daardie trappe verskyn, was onder die roekeloos kort mini niks meer as wat ‘n rasegte Skot glo by tradisionele geleenthede onder sy rokkie dra nie.

Die bewysstuk het later by die koerant op ‘n kennis-gewingbord verskyn. Dié episode het tot ‘n amperse opstootjie gelei toe ‘n jong verslaggeefster opdrag kry om te gaan vasstel of ander aspirante hul suidelike dele op soortgelyke wyse koel hou.

Gesteun deur al wat ‘n vroulike kollega is, het sy haar teen hierdie soort “seksisme” verset. Gemoedere was aan die brand en hetige memos het heen en weer gevlieg. Richard Steyn, destydse hoofredakteur, moes van die gholfbaan gehaal word om die vrede te kom herstel.

BOEKIE VIR (AMPER) 80

 

Op 3 Januarie 2021 – ‘n bietjie meer as twee maande – word ek 80.  Ietwat prematuur of nie, maak ek dit die onderwerp van vandag se blog. Hoekom, sal mettertyd duidelik word, hoop ek.

In die (amper) 80 jaar staan verskeie hoofelemente uit. Almal wat my ken, sal kan raai watter dit is. Buiten my naastes,  is daar onder meer (plus-minus chronologies) Potch-Volkies, Kollege-tehuis, Tukkies, Harvard, Bloemfontein, Randburg, Sabiepark, die Krugerwildtuin, Melkbos en skeepvaarte, waaraan ek in die later jare verslaaf geraak het.

Van al die dimensies is my koerantverbintenis ongetwyfeld die onuitwisbaarste.  Niks identifiseer my in dieselfde mate nie,  glo ek, al het 24 jaar verloop sedert ek my kantoordeur aan die Heerengracht die laaste keer agter my toegetrek het.

Middel 2020 sou die noodlot egter ingryp.  Media24 kondig ‘n ingrypende  nuwe  bedeling vir sy drukmedia aan. Ook Volksblad se ink droog op. Sy lewe as papierkoerant ruk ná 116 vrugbare jare tot stilstand.

Vir geen oomblik sou ek ooit kon droom dat hierdie trotse koerantgewel uit die hoofstroom sou verdwyn voordat ek die 80-baken bereik nie.

Die afskaling van my geliefde koerant waar ek 12 jaar redakteur was,  was nie net volslae onverwags nie.  Dit was ook ontugterend  en ‘n moeilik verteerbare skok –  ‘n sware verlies.

Vir my 80ste verskyn ‘n gedenkboekie met die titel “Koerant”.  Dit is ‘n selfpublikasie met ‘n beperkte oplaag, versorg deur Coenie Nolte se De Novoboeke. In die boekie  is die rou oor Volksblad se lot nog vars. Ek probeer nie my hartseer verbloem nie. Dit bied trouens die kapstok vir die boek.

Die rou is egter maar net die vlammetjie wat ‘n groter vuur aansteek. In ‘n stuk of 50 essays skryf ek darem nie net met hartseer nie, maar ook met hartstog en humor. Talryke eie herinneringe en anekotes is opgeteken – oor Volksblad, maar ook oor  ander koerante en die koerantwese in die algemeen.

Noem ‘n aspek van my  loopbaan –  iewers steek dit kop uit. Moet dus nie verras wees nie as selfs onverwagte name soos Dallas, Anneline Kriel en Racheltjie de Beer in die bladsye van Koerant opduik.

Onder die jongste nuuswaardighede in my boekie is die roemlose aftog van die uitgewery Tafelberg rakende die snertboek oor “die seuns van Bird Island” en sy gruwelike beswaddering van eerbare leiers in die vorige bedeling. Van die aanvanklike onboetvaardigheid uit daardie oord het niks oorgebly nie.

Die sage was ‘n stukkie pynlike Persgeskiedenis waaroor ek my uit die staanspoor nie onbetuig gelaat het nie. Oor ‘n tydperk het ek agt koerantbriewe daaroor geskryf in Rapport, Die Burger, Beeld en Volksblad.

Dat my radar nie verkeerd was nie, is vir my hier aan die vooraand van my 80ste ‘n bron van vreugde. Ek draai daaroor nie doekies om nie. Nie almal wat die boekie onder oë kry, sal daardie hoofstuk met welgevalle lees nie – en dalk enkele van die ander hoofstukke ook nie. Ek maak nie ‘n moordkuil van my hart nie.

Die boekie verskyn in gedrukte formaat vir naaste familie, vriende en kollegas.  Vir die grootste gros ontvangers bied ek dit as e-boek aan. Die skakel sal binnekort aan hulle bekend gemaak word.

Die aflewering is ietwat prematuur. Dit is met die oog op die einde-van-die-jaar-gewoel aan vele fronte. Dit is nog te meer die geval om my Volksblad-storie te vertel terwyl dit nog relatief vars is.

Aan al die lesers: lees die boek en klink saam ‘n glasie op 80 vervullende jare.

 

 

 

 

EEN AAND IN LONDEN

Johan en sy wen-kar,.

My storie gaan oor ‘n herinnering aan my goeie kollega, vertroueling en gewaardeerde gespreksgenoot  Chris Moolman (79) wat vanoggend  oorlede is. Om by die storie te kom, moet ek eers ‘n draai maak by ’n motorwedstryd van die Vrystaatse Nasionale Party, ter viering van dié se vyf en twintigste bewindsjaar.

’n Deftige maroen 1973-Dodge SE met ’n ligbruin vinieldak was die eerste prys. Deelnemers moes ’n limeriek voltooi wat soos volg lui:

Vir vyf-en-twintig jaar ’n wakker Party
wat gereeld die Opposisie
met mening kasty –
Nasionaal is sy naam,
hy kan baie hard slaan
taradam, taradam, taradam.

Ek skryf toe in op my vrou, Tokkie, se naam. My slotreël (namens Tokkie) was: “Soos die vuisvose Sappe met verdriet moet bely!”  Dit wen vir haar die Dodge.

Met die maroen Dodge veilig in ons motorhuis in Kmdt. Senekalstraat, Bloemfontein, word ek aangestel as eerste nuusredakteur van Beeld, die te stigte Naspers-dagblad in Johannesburg. Begin April groet ek Die Volksblad en vertrek dadelik op ’n studiereis van vyf weke na Londen om my voor te berei vir my nuwe taak.

Kollega Chris verteenwoordig daardie tyd die Nasperskoertante in die Londense kantoor. Een aand het ons groot planne vir ‘n “manne-aand” by Soho se kuierplekkies. Hy daag by my in die Charing Cross-hotel op met die vreemde vraag: “Wat gaan jy met die kar doen wat jy gewen het?”

“Nee, ons ry hom al,” antwoord ek.

“Albei?”

Eers toe snap ek daar is weer goeie nuus. Dié keer was die wenmotor ’n 1974-Valiant Charger, die eerste prys in ’n wedstryd van die Vrystaatse Universiteit. Ek het op my seun Johan se naam ingeskryf.Die driejarige knaap stap toe met die tweedeur-Charger weg en op die foto (hierby) lyk hy nogal heel in sy noppies agter die stuurwiel.

Aan my en Molie (soos ek Chris genoem het) se “kuier-aand” is meteens ‘n ekstra dimensie gevoeg, ‘n Dop of twee op die Charger was sekerlik nie buite orde nie.

Om te wen, moes ’n mens die beste rede gee waarom jy graag die betrokke motor sou wou besit. Ek het (namens Johan) in rympievorm geantwoord:
Hy’s vir die oog ’n fees en so sterk soos ’n bees,
Dis waarlik ’n spogwa om trots op te wees!

In Naspers-koerante was daarna berigte met opskrifte soos: “Twee motors gewen binne ses maande!” en “Koerantman wen twee motors”. In die berigte is daarvan gewag gemaak dat die twee nuwe motors saam meer as R9 000 werd is. Goeie ou dae!

Hoe ook al, ek het nog nooit weer soveel geld vir so bietjie skryfwerk verdien nie.

Dikwels moes ek daarna hoor hoe “gelukkig” ek dan is. Nou nie juis die toonbeeld van nederigheid nie, was my respons altyd dié van Gary Player oor sy suksesse op die gholfbaan: “Hoe meer ek oefen, des te gelukkiger word ek!”

OM TE KOES VIR ‘N SOEN

Hoe reageer jy as ’n dierbare vriendin, soos haar pikante Swartlandse manier is, jou gesig in haar hande toeskulp en jou met ’n klapsoen groet? Of as ’n goeie buurman onaangekondig jou voordeurklokkie lui sonder ’n masker op die gesig?

Volhard jy om “nee dankie” te sê vir die een hartlike uitnodiging op die ander na aandetes by vriende wat al hoe lank sukkel om ’n afspraak te beklink? Bly jy liefs steeds ver weg van byeenkomste van jou klub, leeskring of kerk? Vermy jy alle partytjies en was jy Braaidag maar stoksielalleen by jou vuurtjie?

Skielik maak COVID-19 vrae soos hierdie nogal relevant omdat verskillende lewenswyses spanning en onbegrip tussen vriende bring. Botsende beskouings veroorsaak verwydering, selfs tweespalt. Dit etiketteer mense, kategoriseer hulle en dryf wigte tussen verskillende kategorieë in. Dit is een van die jammerlike, onvoorsiene, gevolge van die COVID-19-regulasies wat nie op grond van grafieke geprojekteer kon word nie.

Feit is: Uiteenlopende sienswyses oor COVID-19 is uit die staanspoor al ’n werklikheid. Mense redekawel oor die erns van die bedreiging. Is daar werklik so ’n vreesaanjaende virus of is dit maar die gewone seisoenale-griep-ding in ’n ietwat ander gedaante? Soveel mense, soveel menings.

Nou verskuif die debat na vlak een wat uiteindelik, ná soveel moeite, koste en inspanning bereik is. Mense stry dat die spoeg spat. Is dit nou weer “open Sesame” soos tevore? Is dit ’n tyd om dubbel op die hoede te wees?

“Kan ons asseblief nou die nare besigheid agter ons sit en aangaan met ons lewens?”

“Moenie ophou om masker te dra, hande te was en afstande te handhaaf nie.”

“Is daardie vervelige ou rympie regtig nog nodig?”

Ontkenning loop jy raak om elke draai – en soms waar jy dit die minste verwag. Sal ’n verantwoordelike kontrakteur willens en wetens sy werksmense toelaat om ongemasker hul pligte by vreemdes se huise gaan verrig, soos in een week drie keer by ons gebeur het? Of is dit ’n geval dat werkmense hulle eenvoudig nie aan die baas se opdragte steur nie?

Ontkenning is natuurlik nie nuut nie. Uit die staanspoor was vrae, kritiek en botsende menings tiekie die bos. Skeptisisme, komplotteorieë en fluisterstories oor politieke bymotiewe het soos ’n stadslegende deur die land geswiep – mense wat “vertroulik” by dié of daardie sus en so gehoor het. Gewoonlik op sosiale media.

Nou, op vlak 1, is dit of hierdie verskynsel nuwe lewe kry. ’n Vriend staan ’n dag of drie gelede by Dis-Chem in die tou by die kasregister. Agter hom staan ’n groterige vrou van seker iets in die vyftig. Sy kruip al nader aan hom elke keer as hy verder weg van haar probeer staan. Haar masker is net oor haar mond en bedek nie haar neus nie.

Sy neem ’n redelik “uitdagende” houding aan en verkondig kliphard sodat almal om haar kan hoor: “Ek steur my nie aan hierdie virus nie. Niemand gaan my vertel wat ek nie mag doen nie. By die woonstel moet ek ’n masker dra as ek by die deur uitgaan, al is daar niemand op die trap nie. Ek doen dit nie.”

Dis toe dat my vriend hom vervies en rustig opmerk: “As dit almal se houding is, gaan ons almal siek raak.” Die tante wip haar vir hom en kap terug: “Nee, ons sal nie. Dis net verkoue.”

“Nee, dis nie. Ek het mense geken wat dood is van die siekte,” antwoord hy.

“Stront,” snork sy weerbarstig. Asof sy alwetend is.

’n Tipiese toneeltjie wat elke dag seker hoeveel kere in elke winkel of openbare plek afspeel. Sedert die afskaling tot vlak 1 kom dit net gereelder, vrymoediger en spontaner voor.

Die generasiefaktor figureer natuurlik sterk. Jong, gesonde mense, maskermoeg en gefrustreerd weens die weke lange inhokkery, is bondels energie wat brand om die lewe onbelemmerd te pak. Dis te verstane, soos dit vir hulle ook te verstane behoort te wees dat bejaardes, dikwels onheilspellend oorgewig en met lywe propvol sogenaamde komorbiditeite in die algemeen huiweriger is.

Die sienswyse geniet, helaas, nie wyd simpatieke begrip nie.

Omgewingsfaktore speel natuurlik ’n rol. Nie almal het die voorreg om tuis ’n goeie, gesonde lewenswyse as tweede natuur aan te leer en om bedagsaamheid teenoor die kwesbaarder medemens as beskaafde gedrag aan te kweek nie.

Die kleurfaktor sal deur sommige ingesleep word, hoewel dit verstandig is om te waak teen stereotipes. ’n Vriend getuig: “Niemand word by ons huis toegelaat sonder ’n masker nie. Ek moet erken: Ons huishulp wat maar 50 is, gee die toon aan. Sy is absoluut gesteld daarop. Dit dwing die res van ons om ter wille van haar by die reëls te hou.”

Wat bejaardes dalk die meeste hoofbrekens gee, is die diverse hantering van die COVID-19-kwessie onder porture.

Groep A kruip steeds weg agter maskers; wanneer hulle die huis vir inkopies en dies meer moet verlaat, vermy hulle opeenhopings van mense sover moontlik, sonder hulle bra asosiaal by die huis af en is baie bewus van patrone in die buiteland waar nuwe aangetekende koronavirusinfeksies in hierdie week op die hoogste vlak ooit was, volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie. Sterftes aan COVID-19 in Europa het op ’n weeklikse grondslag met 27% gestyg, is Dinsdag berig.

Sulke syfers wek vrese vir ’n “tweede vlaag” van infeksies waarteen so gereeld gewaarsku word, en die vooruitsig van tot 60, 70 swaarkrydae in ’n oorvol waakeenheid in ’n koma op ’n ventilator – aan die einde ’n waarskynlik eensame verhuising na beter oorde sonder ’n naaste van ’n dag oud in die nabyheid om in die laaste oomblikke jou hand ’n drukkie te gee.

Vir vriende in groep B is sulke somber gedagtes vreemd. Hulle voel ontslae van ’n sware juk en wil met alle geweld weer “normaal” lewe.

’n Goeie vriend in groep B brand om met sy vriend in groep A gesellig te verkeer. Hy wil vinnig inloer, hom/haar nooi vir ’n koffietjie of ’n glasie wyn of om, soos in die goeie ou dae, ’n broodjie saam te breek. Ou vriende van ver bel selfs om te kom oornag. Arme groep A-ers moet verleë walgooi. Hulle besef hul vriende uit groep B dink hulle is sommer verspot of hul varkies kwyt.

Deesdae het die groep A-mense ’n onvleiende etiket: Hulle “lewe in vrees”. Hulle kry gereeld SMS’e met die boodskap: “Laat jou geloof sterker wees as jou vrees.” Van besorgde leraars kom bemoediging en subtiele herinnerings aan versies soos 1 Johannes 4:18: “In die liefde is daar geen vrees nie. Inteendeel, volmaakte liefde dryf die vrees na buite, want vrees het te doen met straf …”

Dit laat jou intens skuldig voel; skuldig en radeloos. Want jy bly maar vrekbang vir daai ventilator. Jy weet as die virus jou beetkry, is dit nag. Die druk is enorm. Hoe hanteer ’n groep A-mens dit?

(Die bydrae is ook te lese op Litnet. Die titel is Covid 19:  Maskermoeg? )