Mar 17, 2024 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
As ek myself mag aanhaal; op my webblad (www.hennievandeventer.co.za of .com) het ek ses jaar gelede geskryf: “Die durendheid van studentevriendskappe is een van die vele onverdiende vreugdes wat in my 77 jaar oor my pad gekom…” Die 77 het nou 83 geword maar dit is nie soseer ter sake nie. Ek wil net vinnig ‘n merkwaardige storie vertel van ‘n paar Kollegemanne wat in 1958 en 1959 in Kollege aangekom het.
Die betrokke 1958-modelle is die uwe (Potchefstroom), Cas Jacobs (Calvinia), Johan Bekker (Phillipolis) en Willem Paulsen (Harrismith).
Die 1959’s is Pierre le Roux (Calvinia) en Proppie Goosen (Kirkwood).
In 2018 was die ses van hulle – nou almal heelwat bo 80 – deel van ‘n Kollegegroep uit daardie era wat in die wildtuinkamp Orpen saamgetrek het saam met Vos Grey (Ermelo, 1958) en Manie Steyn (Krugersdorp, 1960) wat albei reeds oorlede is.
Die kontak tussen ons ses oorlewendes is sedertdien ongereeld en afwisselend.
In die week wat verby is, bel ek my goeie vriend Pierre le Roux (nou van Mosselbaai) om hieroor en daaroor te gesels. Daarna bel ek Cas Jacobs (nou van Centurion), met wie ek ook noue kontak behou, om na sy welstand te verneem. Hy ondergaan chemo-behandeling.
Die volgende oomblik lui my foon. Dit is Johan Bekker (nou van Jacobsdal). Hy is besig om met behulp van sy seun, Hennie, ‘n selfoonprobleem uit te sorteer. In die proses kom hy by my uit – sommer ook ‘n geleentheid om hom oor sy heupvervanging uit te vra.
Nie 12 uur later nie, lui my foon weer uit die Kollegekamp. Dis hierdie keer Willem Paulsen (nou van Bloemfontein). Heel onverwags. Hy wil net weet hoe dit gaan.
Ek kan dit nie glo nie: binne 24 uur het ek onbepland met Pierre, Cas, Johan en Willem gepraat.
Gisteraand lui my foon. Dis Proppie Goosen (nou van George). Werklik uit die bloute. Hy dink aan die goeie ou dae en goeie ou vriende met ‘n traan in die oog.
Is dit ‘n voorbode dat almal skielik aan almal dink, wil ek by Tokkie weet. Dis ‘n lawwe gedagte, meen sy. Maar dat dit ongewoon is, is ongetwyfeld. Niemand sal my van die teendeel oortuig nie.
Maar nou-ja: “Aan het oever van het Schelftzee, tussen Delft en Rotterdam, zat een verie luid te wenen met een Matie vuur en vlam; zag het verie aan het Matie: Ziet je daar die Kollegeman? Ben de moord’naar van je vader ….”
FOTO: : Orpenspan en hul gades: (Proppie (Lettie), Willem (Joan), Johan (Antoinette), wyle Manie (wewenaar), Cas (Nella), wyle Vos (Magdaleen), HvD (Tokkie) en Pierre (Esther).
Mar 14, 2024 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Party mense kan dink dis vervelig. Van my 83 jaar op aarde is ‘n kenmerk egter my lang verbintenisse. Ek en my kerk (amper 70 jaar), ek en my bank ( oor die 60 jaar), ek en vrou (amper 60 jaar ), ek en my rugbyspan (amper 60 jaar), ek en my werkgewer (amper 50 jaar) – ons kom ‘n la-a-a-a-a-ng pad saam. Ook my politieke party sou die lys kon haal – toe gaan hy tot niet.
Gister is nog ‘n verbintenis van 50 jaar verseël. ‘n Afvaardiging van die Afrikanerbond het my sertifikaat kom oorhandig vir ‘n halfeeu se lidmaatskap van die trotse organisasie. So welaangenaam en verrykend soos daardie verbintenis was /steeds is, so welaangenaam was die besoek. My sertifikaat is klaar geraam en vervang die een met die syfer 40 op my “gedenkmuur” in die woonkamer.
Op die foto is van links Nico Burger, sekretaris van die Kaapse gebiedsraad, die uwe met sy sertifikaat, Nico Stofberg, voorsitter van die gebiedsraad en lid van die nasionale raad, en Dirk Rossouw, sekretaris van die Melkbos-afdeling.
Van besonderse betekenis vir my is dat ek en Nico Stofberg – al is hy 10 jaar jonger as ek – in die 60’s in Bloemfontein saam in die tuig was, gebind deur dieselfde lojaliteite, strewes en ideale. Hy was later burgemeester van Pretoria. Hy het mooi geleer daardie tyd!
Mar 13, 2024 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Telkens as ek iets oor genadedood lees, dink ek aan Johann Beukes van Bloemfontein – ‘n Suid-Afrikaanse pionier onder lydendes wat in 2015 al met die hulp van die Switserse Dignitas-organisasie sy eie lewe beëindig.het. Dignitas, soos nou reeds taamlik wyd bekend – verleen onder streng voorwaardes hulp aan mense met genade-selfdood (eutanasie).
Johann, seun van die bekende dramaturg prof. Gerhard Beukes (“As ons twee eers getroud is”), ’n gerekende argitek en later ‘n voorloper in die reisbedryf, het reeds sy kinderdae weens erge fisieke gebreke pyn gely. Op ouderdom 66 het dit vir hom net te ondraaglik geword.
Hy het sy gesin en vriende rustig ingelig dat hy die pad gaan loop en hom aan die uitvoerige keurngsproses van Dignitas gaan onderwerp. Dignitas beteken, terloops, waardigheid in Latyn.
Ek was toe al langer as 20 jaar weg uit Bloemfontein en moet bely dat my reaksie op die bekendmaking van die nuus van sy dood ambivalent was. Al het ek hom in die jare 80 feitlik daagliks gesien, en oppervlakkig bewus was van ‘n probleem, was die omvang aan my onbekend.
Ons feitlik daaglikse kontak was weens ‘n insident op Die Volksblad se terrein in die destydse Voortrekkerstraat (later Nelson Mandelarylaan). My nuwe ampsmotor, ‘n goudkleurige Audi 200, is deur ‘n vragmotor sleg gestamp. Woedend het ek na ander parkeerplek begin soek.
Dié kry ek toe by Johann se argitekspraktyk net om die hoek, skuins oorkant die Ramblersklub, net af van Aliwalstraat in Henrystraat (meen ek). Sonder verdere insident het ek jare daar parkeer. In die proses het ek die waardige en blymoedige man met die sagte stem en geredelike glimlag al hoe beter leer ken.
Toe in 2015 kom die nuus, bekend gemaak deur ‘n intieme huisvriend en steeds ‘n voorste bydraer op Nagkantoor, radioman Albe Grobbelaar. Dit was ‘n skok en die land het gegons. Maar Albe se deernisvolle verklaring het ook die sluier gelig oor Johann se stille stryd. Dit het diepe simpatie gewek.
Hy het naamlik ‘n seldsame en uiters pynlike siektetoestand gehad waarvan die hoofkenmerk is dat die kraakbeen tussen gewrigte in ‘n onvoorspelbare tempo verweer. Dit is bekend as die Beukes-sindroom. Sedert sy kinderdae het hy meer as dertig operasies ondergaan, wat verskeie ingrypende rugoperasies ingesluit het.
Op 31-jarige ouderdom het hy reeds bi-laterale [sic] heupvervangings, gevolg deur skouers, enkels en handgewrig-vervangings gehad. Hy was toenemend in konstante pyn wat nie met medikasie beheer kon word nie.
In die vroeë 90’s het hy weens sy toestand sy beroep as argitek prysgegee en ‘nsuksesvolle reisagentskap begin. My vriend, Andrew Murray, ‘n oud-ingenieur het hom daarin bygestaan.
In 2012 het hy tydens ingewikkelde hand-chirurgie in Duitsland ‘n hartstilstand beleef. Spesialiste het geoordeel dat sy pyndrempel verby hanteringsvlakke gegaan het. Dit is toe dat hy intensief na die Dignitas-opsie begin kyk het.
In die vroeglente van 2015 het hy na Switserland vertrek vir die voltrekking van ‘n waardige genadedood in ‘n goed ingerigte kliniek in Zurich. Net hy – stoksielalleen. Vir sy vrou, Monique, drie kinders, Johard, Leandi en Izanne, en drie kleinkinders, moes hy groet voordat hy die eerste skof van sy eensame reis aangepak het.
Twee weke voor sy dood het Albe ‘n omvattende onderhoud met hom gevoer. Dit bied merkwaardige insigte. Die onderhoud is te lese by https://maroelamedia.co.za/nuus/in-diepte/johann-beukes-n-onderhoud-voor-die-dood/
Mar 11, 2024 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
SO KUIER ‘N MENS: Tokkie, Gustav en Frances enkele jare gelede gemoedelik saam by Sabiepark se piekniekplek.
Dertien jaar gelede is my 70ste verjaardag op ‘n agterna-ete in die Sabieparkse huis van Gustav Hoexter, oud-appèregter, en sy sprankelende eggenote, Frances, gevier. ‘n “Nunc pro tunc” het die vermaarde regsman dit genoem – ‘n “nou vir toe”.
Aan die “nunc pro tunc” dink ek sedert ek my en Tokkie se vliegkaartjies vir ons Juliebesoek aan Sabiepark gekoop het. Hoop die iets-in-die 50-ste kuier by ons bosplek sal die geleentheid skep vir ‘n omgekeerde “nunc pro tunc”: ‘n agternaviering van Gustav se 100ste wat op 9 Februarie op ‘n fees soos min in Bloemfontein gevier is. Gaste het van heinde en verre opgeruk.
Ek en Tokkie sou wat wou gee om by die Bloemfonteinse fees teenwoordig te wees. Ongelukkig was ons op die waters. Daarom die hoop en verwagting op ‘n tweede geleentheid in Julie in Sabiepark.
Aan die aand in 2011 met my eie “nunc pro tunc” het ek die aangenaamste herinneringe. Ek is uit Tambotiestraat (die Hoexterwoning) huis toe met ’n bottel Bell’s (“gee daai man ’n Bell’s!”) onder die arm. Op die drasak was ’n stukkie Duitse waarheid: “Alt werden steht in Gottes Gunst, jung bleiben, das ist Lebenskunst!”
In my drasak was ook die woorde van ’n raak heildronk op die nuttige kurktrekker: “Here’s to the corckscrew! The key to unlock the storehouse of wit! The treasury of laughter! The front door of fellowship! And the gate of pleasant folly!”
Aan daardie wyshede dink ek terwyl ek hier skryf. Gustav is op 100 noodwendig nie meer die Gustav wat hy op 70 of 80 0f 90 was nie. Maar dat hy steeds ‘n lewende getuigskrif vir daardie Duitse gesegde en die heildronk op die kurktrekker is, staan soos ‘n paal bo water. Hy is by uitstek die voorbeeld van ‘n man wat die ware lewenskuns bemeester het.
Ek het hom by geleentheid Sabiepark se gulste gasheer genoem. Ons “grand old man” is egter nie net ‘n gulle gasheer nie, maar ook meesleurend galant en gevat. Ek onthou met vreugde die meesleurende anekdotes wat hy altyd langs die kampvuur of van sy punt aan die hoof van die tafel kon oprakel; sy onuitputlike fonteintjie van kwinkslae, feestelike bydraes tot tafelgesprekke en sy raakvat-kwotasies uit klassieke werke.
Watter vreugde sal dit nie vir hierdie 83-jarige wees as hy in Julie weer by die “front door of fellowship” van daardie eeu-oue “storehouse of wit” sal kan aanklop nie. Hou saam duim vas, asseblief.
Mar 11, 2024 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Is die eerste foto van Catherine, prinses van Wallis, na haar operasie gedokter of nie? Terwyl nuusagentskappe daaroor kopkrap, bied die storie van Die Burger en die wit duif ‘n interessante konteks om die kwessie in te beoordeel.
Met die foto van die duif in sierlike vlug ’n meter of wat bokant die uitgestrekte arms van Nelson Mandela het Die Burger sy mededingers op 10 Mei 1994 laat skeef opkyk. ’n Treffender voorbladfoto van Suid-Afrika se nuwe president op die dag van sy inhuldiging sou jy kwalik kon bedink.
Maar ’n vraagteken het dadelik daaroor gehang. Was die foto eg of vals? Ongelukkig nie honderd persent eg nie. Op die foto wat fotograaf Henk Blom die vorige dag by die Kaapstadse stadsaal geneem het, was die duif al ’n ent in die lug. Vir visuele impak is hy, danksy veerkragtige nuwe tegnologie, digitaal in as’t ware trurat geplaas en ’n meter of wat laer geskuif. Kortom: Die beeld is vernuftig ge-“photoshop” om die prentjie groter trefkrag te gee.
Wat maak ’n meter tog saak? Eintlik niks, het die hoof-subredakteur, Stephanie Hefer, geredeneer. ’n Breukdeel van ’n sekonde voordat Blom die knoppie gedruk het, was die duif immers presies op daardie strategiese plek waar sy hom nou neergesit het. Aikôna, het puriste in die redaksie teruggekap. Jy peuter nie aan prentjies nie. As jy manipuleer, jok jy. Hoe eties is dit?
Soos verwag kon word, het twee kampe dadelik by Die Burger ontstaan: vir en teen. Die turksvy is – hoe dan anders? – pylreguit na Ebbe Dommisse, redakteur, se lessenaar. Ná oorweging het hy die beswaarmakers gelyk gegee. Die besluit om aan die foto te torring was ’n fout, het hy geoordeel. In ’n memorandum aan die redaksie het hy as voorwaarde gestel dat lesers volledig ingelig word wanneer wesenlik aan ’n foto verander word. (Natuurlik darem nie as byvoorbeeld net aan kleur of helderheid verstel word nie.)
Die duif-insident het in joernalistieke en fotografiese vaktydskrifte wêreldwyd opslae gemaak. Dit het selfs ’n naam gekry: “The lowering of the dove”. Aan universiteite reg oor die wêreld word die laat sak van die duif steeds as gevallestudie in etiekklasse gebruik.
Die rede is voor die hand liggend. “Photoshop” was ’n splinternuwe speelding. Internasionaal was riglyne nog vaag. Antwoorde is oral gesoek oor wat behoorlik is en wat konkelwerk is. Die duif-episode het gehelp om riglyne te definieer.
Ironies was Die Burger se banieropskrif daardie dag: “Die nuwe era begin”. ’n Nuwe era inderdaad: ’n nuwe politieke era vir Suid-Afrika; ook ’n nuwe era in die etiek van moderne koerantfotografie.