Einde van 'n era. Die laaste Balule-spanfoto: Pierre en Esther le Roux, Proppie en Lettie Goosen, Piet en Moraig Henning, Cas en Nella Jacobs, Vos en Magdaleen Grey, Hennie en Tokkie van Deventer.

Einde van ‘n era. Die laaste Balule-spanfoto: Pierre en Esther le Roux, Proppie en Lettie Goosen, Piet en Moraig Henning, Cas en Nella Jacobs, Vos en Magdaleen Grey, Hennie en Tokkie van Deventer.

Met soveel oorgawe het ek leeus nog nie hoor brul nie. Dit was asof die maanhare van die kontrei op Balule toesak vir ‘n magtige klimaks.

Dit was Woensdagaand 24 Augustus 2013.  Balule V – ‘n okkasie vir groot ure om groot vure; van herinneringe opdiep, stories vertel, koningskos maak en hiënas-uit-die-bos kuier – het gekom en gegaan.  Dit was ook die einde van ‘n era.

Sedert 2012 het ‘n sesstuks Kollegemanne van die die 58’s en 59’s elke winter vir drie nagte Balule toe gekom. In 2017 verskuif ons na ‘n plek met elektrisiteit en onderdak as ‘n skielike storm ons weer sou tref. Die donker het vir party eenvoudig te donker geword, en die sandstorm die eerste aand van die 2016-saamtrek het meer as net die aandete verinneweer.

Die Engelse praat van ‘n “sense of occasion”. Daardie finale van die konings van die bos het presies so ‘n “sense of occasion” openbaar. Wat ‘n gewigtige geleentheid was dit nie. Ironies genoeg, het hiënas ons eerste nag in Julie 2012 op hul beurt ‘n dawerende voorspel opgelewer, wat nie maklik geëwenaar sal word nie.

Tussen die hiënas se welluidende verwelkoming en die leeus se nog welluidender groet is herinneringe versamel wat hierdie sentimentele ou gryskop met hope heimwee vervul.

Magtige kampvure was een van Balule se handelsmerke. Piet Henning het met bakkievragte sekelbos uit die Soutpansberg gekom.  Ek het die Honda se sitplekke platgeslaan en uit Sabiepark hardehoutstompe aangery: rooibos, knoppiesdoring en nog wat.

Langs die vure is die keurigste kos berei, soos Cas en Nella Jacobs  se tradisionele fillet en sampioensous. Koningskos is ook in potjies berei. Potbrood is gebak soos net ‘n boervrou soos Magdaleen Grey kan. Vanjaar is Magdaleen se brood selfs “op reis” geneem. Die klimaatskontrole in Vos se Isuzu is aangeskakel en op die regte temperatuur gestel om die deeg perfek te laat rys.

Uit Balule se rudimentêre kombuisie (‘n paar gasplate en ‘n ketel) het aand vir aand die heerlikste geure gesweef. Kerse is later uitgepak en kleurryke tafeldoeke oopgevou vir die een na die ander onvergeetlike dis, met goeie wyn uit goeie glase – dit spreek mos vanself.   Ons kon telkens by ‘n prentjie van elegansie aansit – dankie, dames.

Nog ‘n handelmerk was die stories, slimmighede,  anekdotes en kwinksklae uit ons studentejare van amper ses dekades gelede. Ons bure anderkant die draad – kampeerders en wilde diere – moet seker baie gewonder het wat die kieriekommando soveel plesier gee. Veral  Pierre le Roux vergeet nie ‘n goeie storie nie, en vertel dit elke jaar met nuwe entoesiasme!

‘n Persoonlike herinnering is hoe ek en Tokkie die eerste jare in Skukuza gaan tou staan het om Balule se ses rondawels vir die saamtrekke te bekom.  Ons moes in die nagtelike ure opstaan in Sabiepark, by die Krugerhek in ‘n tou agter ses taxi’s wag dat die horlosie sesuur slaan, en in Skukuza geduldig in ‘n tweede tou gaan wag op 07:30. Besprekingskantore landwyd open dan op die minuut. Talryke rekenaars begin gelyk namens angstige Wildtuinliefhebbers meeding om hul gunstelingplekke vir die wintervakansie voor ander op te raap.

Dalk die spesiaalste enkele okkasie was in 2015 – die jaar van ons geliefde koshuis se eeufees. Die seekoeie het hul trombone ‘n wyle gebêre en die kikvorse het ophou kik. Dit was vir die Kollegelied wat welluidend onder die Laeveldse naghemel opklink.

Ses Kollegemanne van weleer – party bles, party grys, party al ietwat skeef en krom, maar almal met harte wat nog warm klop vir Kollege – het met ‘n glasie goed verouderde rooi hul liefde vir hul koshuis op die Tukkie-proefplaas betuig.

Op die “Republiek van Kollegetehuis” is ‘n heildronk gedrink uit ‘n botteltjie feeswyn van 1990 toe Kollege feestelik sy 75ste verjaardag gevier het.Die “medisyne” is deur Proppie Goosen met sy ou kamermaat Pierre le Roux uit George saamgestuur. Die ondeunde Proppie kon nie self kom nie. Vanjaar was hy op sy pos.

Om die feeswyn uit die boks te haal, te ontkurk en te skink was ‘n hele ritueel. Die vername taak is aan Vos Grey opgedra. Hy was in 1961 en weer in 1963 huisvoorsitter, die oudste lewende lid van daardie spesie. (HvD, 1962, is die naasoudste. Rowwe gedagte!)

In 2017 is ons bestemming Orpen. Natuurlik sal “Aan het oewer van de Schelftzee ” opklink. Glo ons sal ook ander rituele inbou om daar Balule I tot V te gedenk. Trouens, ek dink ‘n blink idee begin so stadigaan ontkiem…

Deel dit: