Scoops en Skandes

n “SCOOP” is iets wat elke verslaggewer najaag. ‘n Skande is iets wat meer dikwels oor sy pad kom. Maar albei is so deel van die joernalistiek dat dit net gepas is dat daar nou ‘n boek verskyn het om die publiek met hierdie hoogte- en laagtepunte te laat kennis maak. Mnr. Hennie van Deventer, sedert April verlede jaar Uitvoerende Hoof: Koerante van die Nasionale Pers, se boek Scoops en Skandes doen presies dit. As iemand wat reeds dertig jaar in die joernalistiek is, is hy ‘n bron van staaltjies en interessante stories wat hy oor die jare beleef of gehoor het.

Die meeste hiervan het hy aangeteken en gebêre. Nie met die doel om ooit ‘n boek te skryf nie, maar omdat baie van hulle te kosbaar is om verlore te laat gaan. Aan die einde van sy redakteursloopbaan by Die Volksblad in Bloemfontein het die SAUK hom genader om ‘n reeks praatjies oor die radio te lewer en sy aantekeninge het toe handig te pas gekom. Met die staaltjies en vertellings reeds georden, het dit vir hom na ‘n goeie plan gelyk om dit in boekvorm uit te gee.

Deel dit: