More uit Melkbos

Nou die aand wanneer sing Gé Korsten op “U Eie Keuse” Psalm 23 – ‘n aangrypende opname. Die wysie is bekend, maar ietwat ongewoon vir “Die Here is my herder”, soos ons oues die geliefde Psalm nog leer ken het. (Deesdae is dit mos “My Heer, my herder, laat my niks ontbreek nie….”, ‘n omdigting deur T.T. Cloete.)

Oor die identiteit van die wysie in die Gé-opname ontstaan in die Van Deventer-bed, waarheen ons vroeg-vroeg verkas het, ‘n debat.

“Die Heer droog al my trane af …” is die naaste wat ek later neurie-neurie aan die oorsprong kom.

Toe gryp Tokkie die “Liedboek van die Kerk”, ‘n publikasie waarin sy graag rondblaai om die ontroerende digkuns van geïnspireerde einddigters soos die einste Cloete, Izak de Villiers, Antjie Krog, Lina Spies, Cas Vos en andere te geniet.

Die antwoord kom gou ter hand. Die wysie is dié van “Ek sien ‘n nuwe hemel kom” (lied 602, teks Izak de Villiers), wat by soveel begrafnisse troos en hoop help bring.

Pragtig. Maar wat het van die “Liedboek” in onse kerk geword?

In sy voorwoord skryf prof. A.C. Barnard, voorsitter van die Psalmkommissie, “die kommissie nooi die Afrikaanse kerke om deur hierdie nuwe psalmbundel opnuut en met entoesiasme in te gaan en hulle regmatige geloofserfenis in besit te neem.”

Sê weer, professor! In my gemeente en ander waarvan ek weet, is die entoesiasme vir hierdie kosbare boekie, die produk van soveel inspanning en toewyding van soveel talentvolle mense, klaarblyklik maar bra eina.

Ons sing van die skerm af, ook maar uit ‘n uiters beperkte repertoire, en dikwels, sonder skroom, in Engels ….. ” ‘Glory, glory, Hallelujah’ and so on forth.”

Die “Liedboek” is ‘n lig wat onder ‘n maatemmer versteek word – ‘n offer aan die vertering van mot en roes, helaas.

Hoe hartverskeurend. Kan iemand hierdie onverklaarbaarheid verklaar?

Naskrif: Lank het ek gewonder hoekom ons in Lied 178 sing van “paatsjêm, paatsjêm” terwyl die Latynse uitspraak vir die word “vrede” tog “pacem” is (die “c” soos ‘n “k” uitgespreek). Toe Tokkie my aansteek en ek in die “Liedboek” begin rondlees, ontdek ek hierdie insiggewende mededeling: “Liturgiese Latyn volg ander uitspraakreëls as akademiese Latyn”.

Nooit geweet nie. Nou is hierdie Latyn 1-er (Tukkies 1959) ook op datum!
(HvD)

Deel dit: