Dit was ‘n kuieraand soos min met hope “onthou-jy-nogs” en politieke staaltjies toe tagtig of wat oud-politici van die destydse NP/NNP twee weke gelede in Bloemfontein vir ‘n reunie saamtrek.

Loshande die onvergeetlikste staaltjie van die aand was – seker nie onverwags nie – ‘n Hendrik Schoemanstorie. Wel onverwags, was die oord waaruit dit gekom het – die mond van ‘n onberispelike dame, die tagtig-en-iets-jarige Christa van Rensburg, weduwee van Basie, wat in die jare sewentig Vrystaatse NP-leier was.

Mev. Van R se storie was oor die keer toe daardie platjie-minister uitgevra is oor sy indrukke van Orania na ‘n eerste besoek. “Lyk of daar maar bokkerol aangaan,” antwoord hy toe. “Daar’s seker net een prostituut, en sy is nog ‘n ‘virgin’!”

Die tagtig of wat oud-kollegas wat van dwarsoor die land Bloemfontein toe opgeruk het, het geskud soos hulle lag.

Nou-ja, oor die stand van prostitusie in Bloemfontein moet ek onkunde bely. Een ding weet ek egter na daardie kuiertjie: Bloemfontein is beslis nie ‘n plek waar ‘bokkerol’ aangaan nie.

Ry net met Lucas Steynstraat weswaarts uit die stad. Jy staan verstom. ‘n Deftige “nuwe Bloemfontein” skiet daar op met peperduur herehuise wat in geen rykmansbuurt in Gauteng of die groter Kaapstad ontuis sal lyk nie.

In die gesogte woonbuurt Woodlands Wildlife Estate is dit nie net die argitektuur en die treffende vergesigte oor die Vrystaatse vlaktes wat eksklusiwiteit spel nie. Om alles te kroon, loop die wild (soos in my geliefde Sabiepark) vrylik op uitgestrekte groen areas los tussen die spoghuise rond. Kom nou Sandton, Constantia of Waterkloof, kom troef dit!

Op die foto is Tokkie by ‘n watergat in El Moya Estate in dieselfde kontrei. El Moya lyk soos ‘n wafferse Bosveld “lodge”, met ‘n ruim houtdek aan ‘n watergat wat ‘n voellewe het soos min en waar ‘n verskeidenheid bokke, sebras en kameelperde kom suip. Kyk mooi na die foto, op die horison agter steek van die groot, duur huise van die “nuwe Bloemfontein” uit.

Op daardie dek het ek en Tokkie ‘n heerlike middagetetjie geniet – ver van die stadsgewoel, voel dit – met net een ding wat pla: die lot van die arme kameelperde waarvoor daar nie bome is nie. Hulle loop maar potsierlik en wei op die kort grasvlakte, met gestrekte voorpote asof hulle wil drink. Tokkie wou opsluit die DBV op El Moya se mense sit.

Die stadskern self verskuif al hoe meer UV se kant toe, met Boet Troskie se topklas-winkelsentrum Mimosa Mall in die middelpunt. In die Kaap is my gunsteling-winkelkompleks Tygervallei en Tokkie s’n Canal Walk. Geeneen stof Mimosa Mall in enige opsig uit nie – en in die Mall het jy nog die bonus van ou vriende wat jy na jare onverwags weer in sy gange raak loop. (Theresa Troskie beman steeds haar biltongstalletjie in ontwepersdrag!)

‘n Aftreeplek soos Noorderbloem is waarlik ‘n pensioentrekkerhemel, met ‘n aantreklike uitleg, mooi huise en netjiese tuine. Daar sou hierdie ou ook – soos ‘n verskeidenheid ou vriende – sy laaste skof kon kom deurbring – as daar maar net ‘n see was!

Ongelukkig is nie alles aan die “nuwe Bloemfontein” net blink nie. Die middestad spel Afrika. Vriende waarsku waar jy daar durf parkeer en waar liewer nie. Selfs die rustige, boomryke Kmdt. Senekalstraat in Dan Pienaar lyk soggens, volgens ‘n ou inwoner, na ‘n voorstad van Maseru soos die besige Albrechtstraat ‘n drukke voetgangerverkeer al hoe meer daardie kant toe dwing.

Die Volksblad (nou Volksblad) is al geruime tyd nie meer in Voortrekkerstraat nie, wel in Nelson Mandelarylaan. Die Glaspaleis heet die Bram Fischer-gebou. Nou vind kollega Sarel Venter dit al nodig om in ‘n brief in Volksblad te waarsku: Haai, onthou tog, dis net die munisipaliteit wat Mangaung is, nie die Rosestad self nie.” Ohopoho , sou Johan van Wyk seker uitroep.

Ek het reeds na die saamtrek van vergange se Nasionaliste verwys. Wil darem net byvoeg watter vreugde dit was om iemand soos Oom Danie Pienaar daar raak te loop. Hy’s nou 86 en broos, maar hy bly ‘n ware heer – wellewend en opreg. Hy was my hoofwag in my Ruiterwagjare in die sestigs, en een van die sterkste invloede in my jonkmanslewe. Ek eer hom daarvoor.

Ook om weer saam met vriende soos Flip Nel, Inus Aucamp, Johan Swanepoel en hul gades aan tafel te sit, was net ‘n louter plesier. Ek bly maar ‘n man vir reunies…

Nog ‘n spesiale vreugde is die gedenkboek van ons ou gemeente, Berg-en-Dal, wat nou 50 jaar oud is. Vandat ons dit by die kerkkantoor gaan haal het, maak ek en Tokkie beurte om te lees. Dis fassinerend om so op die ou paaie terug te loop en op bladsy na bladsy die verbintenis van soveel gebeurtenisvolle jare te herleef. Dis ‘n allemintige boek, soos ek in Volksblad die opstellers ‘n pluimpie gegee het; ‘n stylvolle boek met ‘n trefwydte, diepte en omvang wat min ander gemeentes Berg-en-Dal sou kon nadoen. Dalk nie eens die gedugte Moreletapark van Pretoria nie, glo ek.

Gevorderheid in jare kan die beste waargeneem word in vier dinge: ou hout om te brand, ou wyn om te drink, ou vriende om te vertrou en ou skrywers om te lees. So het Francis Bacon gese. Kom ons los maar die hout, die wyn en die skrywers eenkant. Kosbaar was dit egter inderdaad om soveel ou vriende weer te sien en te kuier en gesels asof tyd en afstand geen versperring gebring het nie.

Jan Scholtz was, soos altyd tevore, aan’t timmer en skawe in sy motorhuis toe ons daar aankom – ‘n toneeltjie wat diep in die geheue ingekerf is.

By Chris en Annette van Rensburg, wonderlike ou bure in Kmdt. Senekalstraat, het ons drie genotvolle aande deurgebring. Annette het ou foto’s gaan uithaal van onvergeetlike vakansies in die Wildtuin aan die begin van die tagtigs. Ons kon nie glo ons was ooit so jonk en ons kinders ooit so klein nie.

In die Van Rensburghuis staan ook herinneringe aan die Tokkiewinkel van destyds amper in elke vertrek: koffiebekers in die kombuis, koper in die eetkamer, voels wat kunstig uit hout gekerf is in die sitkamer, ‘n leer-aktetas in Chris se studeerkamer…

Ai, hoe pak die nostalgie ‘n mens nie opnuut beet nie …

HvD

Deel dit: