Wyle Fred Schnetler, meesterlik op die gebied van motors en musiek, het die pikante gewoonte gehad om vir vriende op bakenverjaardae CD’s te sny met musiek uit hul geboortejaar. Toe ek in 2001 60 word, was ‘n Fred-CD in die pos. Toe Tokkie vyf jaar later volg, ditto.

Wat 1941 – my geboortejaar – betref, is oorlog en musiek stalmaats. In die Tweede Wereldoorlog het te midde van al die troostelose ellende musiek gekom wat onvergeetlik geword het.

Op Fred se “CD vir HvD” is Duitse bydraes soos Lilli Marleen (waarskynlik die grootste treffer van die Tweede Wereldoorlog), Mowe, du fliegst in die Heimat en die marslied Erika. Hartsmusiek!

Aan die Geallieerde kant was die Amerikaanse Colonel Bogey van die gewildste marsmusiek (saam met die ewe bekende The Stars and Stripes forever). Op Fred se CD is die Boston Pops se weergawes, albei met die groot Arthur Fiedler as dirigent. Vera Lynn was die “Force’s Favourite”. Van haar is twee nommers op my CD: The White Cliffs of Dover en A Nightingale Sang in Berkeley Square.

Tokkie se CD lê in Sabiepark. Hoekom, weet ek nie.   Vir ‘n paragrafie oor musiek van 1946 moes ek op Google staatmaak.

Volgens daardie bron is van die nostalgiese pop-herinneringhe van daardie jaar  Nancy (With the Laughing Face) deur  Louis Armstrong, Perry Como se They Say It’s Wonderful, Bing Crosby se  Aren’t You Glad You’re You,  die Ink Spots se  To Each His Own en  Dinah Shore se Laughing on the Outside. Kennende Fred, sou nie net popliedjies op Tokkie  se CD ingesluit gewees het nie, maar nietemin.

Dit bring my by die eintlike rede vir my skrywe: ‘n musiekgebeurtenis in 1946 waarcvan seker nie eens die gedugte Fred sou weet nie. Op 15 Maart 1946 nogal – presies Tokkie se geboortedag –  is naamlik  ‘n kantate van Arnold van Wyk uitgesaai.

Johan van Wyk vertel daarvan in sy nuwe boek, So is dit nou – nog stories van gister en vandag: hoe in die komponis se geboortekontrei, die Roggeveld,  die mense in groot afwagting gesit het om hul kortgolfradio’s, gekoppel aan 6 volt-batterye wat heeldag deur windlaaiers gelaai is.

In een huis was dit nie lank nie voor die oupa opdrag gee: “Draai af die draadloos. Arnold se lawaai is erger as Booi se geraas.” Booi, die stalkneg, het – so lig Johan van Wyk ons in –  die gewoonte gehad om ‘n  paraffienblik vol klippe te skud om die perde skrik te maak!

Sal nooit weer aan 15 Maart 1946 dink sonder om die mooi anekdote ook te onthou nie.

* Ek en Tokkie het ook ander herinneringe van ons geboortejare as net die musiek. In 1941 is die Perdeberg-wynkelder gestig. Ter ere daarvan was Perdeberg op die tafel met die viering van ons onderskeie bakenverjaardae – 75 en 70 –  op 26 Maart vanjaar.  Ek was daardie dag geklee in ‘n Jeep-hemp –  nie net omdat ek nie ‘n Pringle of ‘n Polo kan bekostig nie.  Kyk op die etiket. Einste anno 1941.  Man, wyn, hemp – selle jaar se kalwers.

Tokkie is, soos eld, anno 1946. Dit was die geseënde jaar dat die bikini die lig gesien het.  Ter wille van die historiese simboliek sou ‘n bikini vir my vrou  – ‘n rooie dalk  – nie  uit sy plek gewees het nie. Om kuisheidsredes meer as klimaatsredes is daarteen besluit.

Deel dit: