SON VAT DOOIERUS

Jacob met die byl.

Jacob met die byl.

Of ons ou mense weer ‘n somervakansie in Sabiepark sal aandurf, weet ek nie.  By al die vreugdes – drie keer se heerlike reën, donderstorms in die verte, die geil groen van die veld; die blomme aan die katjiepiering, die haak-en-steek en andere; die sambokpeule; die paddakore;  voëlgesang;  die oes aan nuwe bokkies; oggendkoffie op die stoep; ons swembadjie, en wat nog  –  tap die hitte op die werklik warm en bedompige  dae maar baie uit ‘n bejaarde lyf.

Daardie skroeiende dae is minder as die algemene persepsie; dalk net vyf of ses in ‘n vakansie van drie weke.  Ander dae in Desember/Januarie is woon warm, matig of selfs koel ná die reën. Op minstens een dag was Tokkie in ‘n langbroek en met ‘n langmou-bloese.  Sowaar.  Nietemin: wanneer die son  dooierus vat, begin sterk manne wonder …

Thomas met sy boek.

Thomas met sy boek.

Ek skryf hier dus bitter-soet; ietwat morbied oor die verbygaande aard van sekere dinge; maar ook intens dankbaar vir die genot wat minstens 15 somervakansies sedert ons kennimaking met Tarlehoet in 1998 my en Tokkie  besorg het, ondanks die voorspooksels van verbaasde  vriende wat nie kon glo ‘n mens doen sulke dinge doelbewus en vir jou plesier nie. Asof die “Kaapse dokter” in Desember, Januarie so’n aantreklike alternatiewe opsie is! Maar in die Kaap is darem lugversorging.  Dit tel vir punte.

As dit dan ons laaste somervakansie hier was, was die voorreg om dit saam met die Claassens-span van Welgemoed  deur te bring, vir ons van betekenis. Met hulle is van kleintyd af oor die jare ‘n paar sakke sout in Sabiepark saam opgeëet.

Christopher (wat nou 10 word) het saam met Oupa en Ouma op 12 Desember aangekom.  Sy kuier was die langste.  Jacob en Thomas  (14) het vyf dae later op Maandag 17 Desember op hul eie opgedaag. Om alleen te vlieg (waarvoor jy 14 jaar oud moet wees) en daarna met die City Bug van OR Tambo tot op Nelspruit te kom, was ‘n geskenk van ons. Brent en Marisa se huurkar het Saterdag 22 Desember by Tarlehoet ingeswaai.  Hulle het ook tot op OR Tambo gevlieg.  Hulle is Saterdagoggend 5 Januarie vroeg-vroeg weg.

Die kinders is tradisioneel by Tarlehoet se naambordjie afgeneem.  Die kleintjies van destyds, op waggelbeentjies en in doeke, toring bo die naambord uit. Hulle is lenige jong mans wat kan langsteelbyl swaai, vure pak, braai, dik boeke verslind, ‘n stewige arm bied om Oupa uit die swembad te help klim, spykers slaan, skerpioene jag, raad gee en toekomsdrome droom.

Thomas het ‘n enorme leeslus.   Hy slurp die spanningverhale van die Amerikaner Clive Cussler op (“The guy I read” – Tom Clancey.)  Thomas het die vakansie oor die 1 000 bladsye (!) uit Cussler se pen verslind. Ek sien Thomas in my verbeelding hier op die stoep, verdiep in sy dik boek.  Jacob kap vuurmaakhout dat die flenters spat – hoeveel stompe hardekool het hy nie gekloof nie! – werskaf met die kamera, maak stukkende ligte heel en is vol planne oor die lewe in die bos.  My prentjie van hom is met die byl oor die skouer of die kamera in die hand. Christopher knoop met almal geselsies aan en steel harte met sy opgeruimde geaardheid.  Hy was ook die woelwater in die swembad – ons moes later gaan medisyne soek vir sy seer ore! Ek sien (en hoor) hom vroeg tot laat duik en plas,  of doenig by die vuur.

Christopher by sy vuur.

Christopher by sy vuur.

Al drie is fluks en verrig graag allerlei takies rakende die kosmakery. Hulle was  geesdrigtige braai-assistente vir pa Brent, help graag vir Ouma en mamma Marisa in die kombuis met die een en die ander (Jacob maak ‘n smullekker pepermint-yskastert), en is meesters as dit kom by die dek van tafels met ‘n “bostema”.  Wie se beurt dit is om te dek, was gereeld ‘n debatspunt. Thomas se kreatwiteit kom oor jare.  Hy het duidelik sy broers aangesteek.

Die braavleis-aroma om Tarlehoet se lapa is soms virdie hiënas net te veel om te weerstaan.  Verskeie paaltjies van die paaltjieheining en van Ouma se sonkragligies het in een aanslag in die slag gebly. Jacob was natuurlik aan die voorpunt met die opmetings en dinge.  Al drie het Brent  gretig help saag en hamer kap.  Die heining is weer eksieperfeksie.

Die laaste paar dae van die somervakansie was Tarlehoet stil en leeg onder Jacob, Thomas en Christopher se ywer, humor, bedagsaamheid  en slimstories. By Johan Lawson het elk ‘n deurlugtige Franse Frelon=knipmes present gekry omdat hulle “sulke voorbeeldige bos-seuns” is. Oupa het nie messe om  uit te deel nie, maar hy ondersteun van harte die sentiment wat agter die geskenk sit.

Dankie, julle drie, vir prysenswaardige bydraes tot die somervakansie van 2018/2019.

  • Heerlike reen: 20/12/18 (17 mm), 3/1/19 (64 mm) en 8/1/19 (34 mm).

SKERPIOEN-SEISOEN

Vlakvark-fiasko.

Vlakvark-fiasko.

Dit was ‘n “skerpioenvakansie” soos nie tevore by Tarlehoet nie. Die goggas met hul dodelike knypers het gewemel. Ongelukkig het Marisa een raakgetrap. Die pyn was verblindend.  Dae klank was die voet onheilpellend pynlik, verkleurd en geswel ondanks intensiewe mediese sorg en aandag.

Die les was duidelik: as iets in die bos soos gif vermy moet word, is dit ‘n skerpioen se steek. In die opwellende bewustheid by Tarlehoet se inwoners van hierdie gevaar wat in die donker oral skuil, is onder meer ‘n spesiale infra-rooilig (korrigeer asseblief, Jacob!) aangeskaf wat die skelet van ‘n skerpioen ‘n helder geel verkleur.  So word die maaifoedies in elke skuilplek opgespoor en voor stok gekry.

“Bronne” verskil, maar ek meen van sowat 10 kan rekenskap gegee word.  Verskeie het in ‘n konfytbottel bekand wat deur Ouma verskaf is. In die bottel het ‘n aggressiewe ou ‘n nuwe aankomeling sonder seremonie opgevreet; duidelik nie die soort kreatuur wie se gramskap ‘n vredeliewende mens graag wil uitlok nie.

Nietemin, “operasie skerpioen” was ongetwyfeld ‘n hoogtepunt, al het Oupa verkies om die hakkejag  grootliks in die veiligheid van die swembadjie se water mee te maak.

‘n Likkewaangesin van drie het vir ‘n tweede hoogtepunt gesorg. ‘n Ma en twee kleingoed het onder ons dak, begin “plak”.  Die meeste van tyd het net hul lang nekke onder die grasbdekking van die dak uitgesteek en het hulle met wakker kraalogies elke beweging van die mensekinders met wie hulle die huis deel, dopgehou. Ons lek nou nog wonde na ‘n vorige likkewaan-episode in ons huis waarin gordyne geskeur, foto’s van die muur gestamp en ‘n hoop breekgoed gebreek is.
 Dit was ons hartsbegeerte dat hulle moet skoert. Sabiepark se vanghok is vinnig staangemaak met ‘n eier as aas. Uiteindelik kon een van die kleintjies die versoeking  nie weerstaan nie. Hy is agter die eier aan, gevang en ver van Tarlehoet losgelaat. Die ma en ander kind het daarna self padgegee.

‘n Slang op die stoep het ook vir opwinding gesorg. ‘n Swart mamba?  Daardie teorie had sy aanhangers. Ek weet werklik nie.

Mini en Maksi, twee semi-mak vlakvarke, het gereeld kom besoek. Mini slag toe daarin om haarself in die buitekamer met sy defektiewe deurhandvatsel toe te sluit. Ons sit op die stoep n hoor net doef, doef, doef.  Gewapen met ‘n trapleer, besems en wat nog is ‘n soekgeselskap op die been gebring.

Die arme Mini het bra verleë gelyk toe sy voor die oë van een en almal van Tarlehoet onwaardig uit die buitekamer stoom en in die bos verdwyn.  Later het haar afwsigheid aan Maksi se sy vrese oor haar welstand gewek.  Was sy luiperdkos?  Het sy dalk in ‘n strik beland?  Nee, verneem ons later. Anders as ‘n donkie wat nie sy kop twee keer teen dieselfde klip stamp nie, het sy  sowaar daarin geslaag om haarself in die tennisbaan se toilet toe te sluit. Sy is eers na ‘n dag of twee se eensame opsluiting bevry.

 

Hiënas was telkens te sien en te hoor. Een is deur Chistopher afgeneem waar hy plat op sy blaker in die watergatjie sit en afkoel. “Toe ta een aand ‘n koue bad wou vat, kom sit hy plat, plat op sy blad, in Tarlehoet se watergat.”  Twee het die paaltjieheining in die nag bestorm. ‘n Klomp paaltjies moes vervang word.

Njalas en bosbokke was gereeld op die werf. Die span kameelperde het twee keer naby die huis verbybeweeg. ‘n Wildebeestrop met iets soos agt kleintjies was die hele tyd in Wildevy en het een aand met ons motorpad opgestap.  Verder was daar o.m. koedoes, rooibokkies, duikertjies, apies en skilpaaie, en aan die front van die gevleueldes ‘n resident-boskraai, piet-my-vroue, bloukuifloeries en baardwipsterte met hul melodieuse lied.

Sebras was minder volop as in die verlede. Wat bitter skaars was, was bosnagape en nagapies. Net enkele kere vlugtig een opgemerk of gehoor.  Hopelik keer hulle terug tot ou patrone as die veld nie so welig is nie.  Bobbejane was ook skaars. Hul geselskap is met graagte ontbeer.

 

 

 

FEESTE-INNIE-BOS

Velle-seremonei: TvD en seuns

Velle-seremonie: TvD en seuns

Oupa78

Oupa78

Fees-inie-bos noem Nelspruit sy jaarlikse kunstekarnaval.’n Fees-innie-bos soos min was ons somervakansie van 2018/2019.

Op 30 Desember was Brent en Marisa 18 jaar getroud; op 31 Desember ek en Tokkie 52 jaar (70 jaar se versamelde huweliksoet  en –suur binne 48 uur by Tarlehoet gevier); op 3 Januarie was die uwe 78.  Die tradisionele groot feesdae Kersfees en Nuwejaar tussenin het nie vergete gebly nie.

Vonkelwyn is telkens geskink. Feestelike etes het ingesluit ‘n Groot Ontbyt by die Protea, Kerskalkoen in die Weber, dik gebraaide kruisskyf op Tarlehoet se stoep, ‘n koue-vleis-buffet (die seuns is vrye teuels gegee met die opdis van die keurige middagmaal) , kaasborde en wat nog.

Thomas, Jacob en Christopher se kreatwiteit met tafeltemas was weer eens onbeperk.   Eetgerei met sebra- en luiperdmotiewe kersies, ystervarkpenne, spesiale servette, ysterpotjies – waar alles uitgegrawe is, weet ek nie.  ‘n Fees van liggies is gereeld opgtower: in die lapa, op die stoep, rondom en in die swembad. (‘n Fotoblog van hul tafels verskyn later.)

Met Oupa se 78ste is die oggend ‘n tradisie voortgesit wat met sy 21ste langer as ‘n halfeeu gelede in Welkom begin is. ‘n Omelet is bedien met 78 daarop in Bovril geskryf.  Die aand was op sy plek aan tafel ’n sewe en ‘n agt van hartens, Christopher (‘n vreetkaart-kampioen) se idee.

Die natuur het vir twee buitengewone  feeste gesorg met heerlike reën wat twee maal  in digte gordyne neergegiet het: onderskeidelik 17 in ‘n vroegoggend-storm en’n  deurdringende 64 mm deur die nag. Vir die storm het ons en die seuns om 0400 op die stoep versamel, koffie gedrink en ons aan die tipiese Laeveldse natuurskouspel van blitse verwonder. Dit is sulke meesleurende oomblikke wat jou die swaarkry in die somerhitte laat vergeet.

Kalkoen in Weber: Brent en seuns

Kalkoen in Weber: Brent en seuns

Dan het die magdom paddas luidrugtig gekwaak en die kinders uitgelate in die reën in die swembad baljaar.  Een met ‘n diep stem is Petrus Padda gedoop. ‘n Ander koer (pirr)  soos ons nog nooit ‘n padda hoor koer het nie. Dalk ‘n immigrant uit Mosambiek?

Die koeligheid weens die reën was ‘n heerlike  lafenis te midde van versengende hitte met die kwik wat verby 40 grade klim.  (Thomas se humoristiese paddastories was ewe verfrissend. )

 

“Seremonies” het ingesluit die ooprol van twee wildebees- en ‘n paar springbokvelle wat met die komplimente van Brent uit die jagveld kom. Tokkie het vir die rooi linte gesorg en die kameras het elke aspek van die plegtighede verewig.

Sabiepark is vanjaar 40 jaar oud.  Na die insigte van hierdie Sabiepark-veteraan verdien die bereiking van hierdie baken ‘n eie fees. As Sabiepark se owerhede en magte dan traag is, sal ons maar ons eie interne fesie moet reël. Ons weet immers hoe!

 

(Die eerste van vier blogs oor ons somervakansie in Sabiepark.)

JAARBRIEF UIT MELKBOS

Houthuiswinter2018(1)23

Liewe vriende

Desember is hier. Tyd vir die jaarlikse bulletin uit Melkbosstrand vir die jaar 2018.

Dit kon ‘n jaar van sombere nuus geword het met HvD se onverwagte viervat-hartomleiding en die langerige verblyf in die waakeenheid. Ook met George se verskriklike brande wat as’t ware tot by die voorstoepe van Johan-hulle se huis in Glen Barrie en skooltjie in Denneoord gekom het.

Gelukkig is daardie minder gelukkige dae sonder ernstige letsel by ons verby. Laat ons dus in dankbaarheid op die positiewe konsentreer:

Hier op Melkbos, op George en by Marisa-hulle in Welgemoed gaan dit relatief rustig en voorspoedig.  Die foto’s is van gesamentlike kuiers, met die Claassense by Boulders in die Wildtuin en met die Van Deventers by Buffelsjachtrivier, ‘n gerieflike halfweghuis tussen Melkbos en George.

Op George word die uitstekende werk van Mariza se suksesvolle Legacy Centre vir kinders met uitdagings voortreflik deur die gemeenskap ondersteun. Saam met ‘n indrukwekkende lys borge is verskeie ambisieuse projekte geslaagd van stapel laat loop.  Johan se trokwas-bedrywighede is vlot op koers, met goeie ontwikkelinge soos ‘n nuwe terrein vir sy Unitrans-kontrak (namens die skooltjie).  Migael besorg sy ouers verrassings en vreugde met sy vooruitgang.

In die Kaap gooi Brent kragte in by die Hoerskool Stellenberg waar die tweeling in hul eerste jaar as Stellies al, akademies en andersins, spore getrap het.  Hy is ‘n aktiewe lid van die beheerraad. Marisa het ná vele jare tuis ‘n oggendpos losgeslaan wat sy stimulerend vind. Thomas het as leier en skerpskutter-stelskopper ontluik. Hy en Jacob, ‘n gesogte klankman, laat met die bal die paaltjies spat.  Kleinboet Christopher is ‘n uitblinker met voordrag en herwinning.

Ek en Tokkie sien uit na ‘n somerbesoek aan Sabiepark, aanvanklik ‘n paar dae alleen saam met die flukse Christopher. Daarna kom die tweeling op hul eerste alleen-vlug, daarna Brent en Marisa.  Die swembadjie daar is nuut geverf. Lyk spiekeries. Ons gaan hom behoorlik inwy. Ná Sabiepark gaan ons kennis maak met die MSC Musica op ‘n vaart in Mosambiekse waters.  Vaar op die oseane word blykbaar ‘n familieding. Johan en Mariza was pas op die Musica. Die Claassense is geskeduleer vir  April.

Die Julievakansie was buitengewoon gedenkwaardig.  Drie aande in die private kamp Boulders saam met die Claassense was salig verby. Die tradisionele saamtrek van studentemaats uit die Kollegetehuis-era (nou College met ‘n Engelse C) was, presies 60 jaar ná ons eerste jaar in 1958, ook baie besonders hoewel, helaas, dalk die laaste in huidige vorm. Ons word nie jonger nie.

Vir my en Tokkie was dit ‘n voorreg om verskeie goue bruilofte en groot verjaardae van kollegas en vriende te kon bywoon. In die proses kon ons  in Bloemfontein en op haar heimat, Bultfontein, gaan kuier en op my ou Wes-Transvaalse spore terugloop. Welaangename herinneringe.  Onvermydelik gebeur dit ook al hoe meer dat ons vriende moet groet. Die jongste was ons dierbare Bloemfonteinse buurvrou vir baie jare, Annette van Rensburg. Sy en Tokkie was baie na aan mekaar.

“Laatoes – Kykweer van ‘n kanniedood-koerantman”, dalk my laaste boek, dalk ook nie, het nie juis die boekewêreld aan die brand gesteek nie.  Die boek het tog wel vreugdes gebring, soos ‘n uitnodiging na die Woordeboek van die Afrikaanse taal (WAT), vriendelike resensies soos deur boeke-ghoeroe Danie Botha op Fine Music Radio en Litnet, ‘n besoek aan NALN in Bloemfontein, en ‘n in-diepte-onderhoud met Herman Lategan.

Wat die uwe  nogal plesier gegee het, is dat ‘n foto wat ek jare gelede van die Van Bredagesin van bylmoord-faam in Sabiepark geneem het, dwarsoor die voorblad van Die Burger geplaas is – die eerste keer in my koerante-verbintenis sedert 1958 dat so iets die ou man te beurt val.

Tokkie het, ná die onderbreking om (met onderskeiding) heeltydse verpleegster te speel vir haar kranke man, teruggekeer tot haar voltydse aktiwiteite van “manager of works” by Penguin Place en Melkbos-biblioteek se kampioen-leser.

Uit Penguin Place 11 ons beste Kers- en Nuwejaarswense vir een en almal. Laat ons strewe tot die maksimum-kontak in 2019.

Hennie & Tokkie  

 

 

 

 

 

 

‘N VRIENDIN DUISEND

IMG_0001Op haar bereiking van die Bybelse baken van 70 jaar, het ek deur my albums gesif vir ‘n foto van ons gewese Bloemfonteinse buurvrou Annette van Rensburg vir haar verjaardagkaartjie.  Daardie foto wil ek vandag hier herhaal as huldeblyk by haar heengaan ‘n bietjie meer as drie jaar later op Kleinmond.  Die foto illustreer watter jonkheid van gees Annette lewenslank uitgestraal het.

Op die foto (hierbo) vat sy kortpad tussen ons huisies in die Addo-olifantpark op ‘n saamkuier ‘n stuk of nege jaar gelede. Ons was ‘n paar dae lank weer bure in Addo soos ons in die dekade 80 ‘n hele paar jaar lank goeie bure in Bloemfontein was.

Soos Annette op die foto kortpad vat met n ratse sprongetjie van hul stoep na ons s’n, het sy gelewe: altyd vol lewenslus en “sports”.  Sy het nooit gelyk – of gelewe – soos iemand wat 70 somers agter die rug het nie. Trouens, ‘n jeugdiger 70-plusser het ek nog nie raakgeloop nie, totdat haar gesondheid in Februarie begin agteruitgaan het. Dis ‘n jeudigheid wat hom, buiten in haar jong voorkoms, veral in haar avontuurlustigheid gemanifesteer het.

Een voorbeeld: Om die beroemde (berugte?) El Camino te stap. Diep in die sestig al, het sy met borrelende entoesiasme die uitdagende honderde kilometer met dapper en stapper afgelê, en haar vriende met opgewonde daaglikse rapporte kleurryk in die ervaring laat deel. Sy het haar man, Chris, saamgesleep – ‘n vermeldenswaardige prestasie in my oë. Ek haal my hoed af vir buurman Chris vir vele deugde (‘n gedugte braaier van vis, maar ook van enigiets anders – van frikkadelle tot kreef onder meer). Dat hy ‘n kranige stapper is, sou ek nie voor daardie epiese tog aan hom toegedig het nie.

Tokkie en Annette klink 'n glasie.

Tokkie en Annette klink ‘n glasie.

So vlugvoetig soos Annette oor daardie muurtjie op die foto geklouter het, het sy ook graag rondgeklouter in die Kogelberg by Kleinmond waarheen sy en Chris verhuis het na sy aftrede as vise-rektor van die Sentrale Universiteit van Tegnologie in Bloemfontein. In hul woonkamer was op die koffietafel altyd allerlei publikasies met gedugte roetes, wat my op elke besoek benoud laat wonder oor wat sy vir haar kuiergaste in die skild voer.

Maar eintlik was Annette se horisonne wyer. Sy was ‘n wêreldreisiger. Soos Tokkie dit stel: Sy was die enigste mens wat ons geken het, wat sowel die El Camino as Machu Picchu,  die “Verlore Stad van die Inkas”, op haar kerfstok het. Waar sy oral op die aardbol voetspore agtertgelaat het, en op hoeveel kontinente, moet ‘n formidabele bundel beslaan. Oral – soos met die El Camino en Machu Picchu – was  haar reise allesbehalwe doodgewoon.

Noem haar gerus ‘n student van reis, wat vooraf elke roete met die grootste deeglikheid bestudeer het. Dan  het sy haar skedule uitgewerk. Haarfyn. Geen bousel, rotsformasie, klip, boom of plant van betekenis sou sy oorslaan nie. Hoe antieker des te beter. (Sy het ook nie graag ‘n oudhede – of tweedehandse boekwinkel oorgeslaan nie, en het dit tot ‘n fyn kuns ontwikkel om waardevolle dinge op stowwerige rakke uit te snuffel.)

Op ‘n tog deur Namibië enkele amper 30 jaar gelede het die uwe met daardie deeglike verkenningsvermoë deeglik kennis gemaak. Sy het my wat nog nie voorheen van ‘n ligeen gehoor het nie, o.m. behoorlik laat bontstaan met haar gretigheid om geen, maar geen, van dié groen, grys of geel organismetjies op geen rots of boomstam oor te slaan nie. Sy het ook nie, glo ek. Dit was nogal veeleisend!

Vir daardie toer het Annette ons reisplan uitgewerk – van Ais-Ais af oor Swakopmund en Khorixas, op Etosha toe en terug via Windhoek – wat waarskynlik selfs vir gebore en getoë Namibiërs talle verrassings sou opgelewer het. Sy het nie net elke afdraaipaadjie se bestemming geken nie, maar tot vooruit geweet waar op Luderitz ons die beste kreef in die hande sou kry. Dié het Chris in tierende wind die aand in die stort van die munisipale rondaweltjie tot perfeksie gebraai.

Perfeksie. Dis ‘n goeie woord om Annette se benadering tot enigiets te beskryf: van reis tot die kombuis. Ook aan laasgenoemde front was sy kranig. Daarvan kan hierdie gretige aansitter aan haar etenstafel (en verskeie sentimeters om sy middellyf) van harte getuig.

Annette was ‘n vriendin duisend. Vir haar twee dogters, Elana en Elindi.  Vir al haar nuwe vriende en al die oues, soos die Van Deventers wat langer as drie dekades die voordeel van haar vriendskap geniet het. Ek wonder hoeveel flessies vonkelwyn ons deur die jare saam geledig het. Ook ‘n biertjie op sy tyd.

Ons groet met diepe hartseer ‘n sprankelende, lewensblye, vonkelende vriendin. Ons doen dit in dankbaarheid vir soveel heerlike herinneringe wat ons altyd sal bybly.