Raid ,,,Jong Tukkie … modderbad … HK-aflos

Laat elke ou Tukkie sy glasie vol maak ….Die vyfde en laaste era van my jongmensdae was die vyf goue jare in Kollegetehuis op Tukkies van 1958 tot 1962. Die heerlike era kom vandag aan die beurt in my reeksie mymeringe oor vergange tye aan die vooraand van my 80ste Sondag.    

‘n Jaar van groot nederigheid was jou eerste in die dierbare Kollege.  Maar as dit verby was, na ‘n ordentlike modderbad aan die einde, het jy behoort. Jy het soos vir ‘n mooi nooi lief geword vir die plek, ondanks sy dun klapperhaarmatrassies, tekort aan warm water, middelmatige kos en die kwaaiste seniors op die kampus.

Party ouens het met Fisika geworstel. Ander met Romeins-Hollandse Reg. ‘n Derde groep met Toegepaste Wiskunde, en so aan. Maar ander noodsaaklike kennis is ook vroeg-vroeg aangeleer. Soos die sogenaamde “broek-raid”: twee groepe manne (gewoonlik van verskillende koshuise) pak mekaar in die middel van die nag en trek mekaar se broeke uit — na ‘n woeste gespook, geknoop en geruk-en-pluk. ‘n Man moes net keer vir skade.

In die laat jare vyftig was “Tant Bella” (die lang ontslape Hotel Belvedere in Kerkstraat) se “tee” ‘n gewilde verversing onder Kollegemanne. In aansluiting daarby was in die koshuis selfs ‘n sogenaamde boozeklub” — eufemisties bierklub genoem — met die leuse: “Tee verdra geen onreg nie”.  Ek verskyn links in die voorste ry van die klub se 1959-span.

Vir die jaarlikse ienksport is aan elke koshuis ‘n kleur toegeken. Vir sy sonde is Kollege se kleur die een jaar pienk. Vir die hoogtepunt van die byeenkoms, die huiskomitee se aflosnommer, kry die manne toe ‘n ingewing. Hulle verskyn op die baan in sulke enorme pienk bloemers wat by ‘n afslagwinkel aangeskaf is — en hulle wen ver. My val die eer te beurt om met ‘n wapperende bloemer die lint te breek – die tweede jaar in ‘n ry.

Rugby  was in Kollege ‘n saak na aan die gemeenskaplike hart. Groot wedstryde is gespeel, en dikwels gewen, want latere provinsiale spelers soos Nic Bojé, Proppie Goosen, Henry van Vuuren, Dries Pretorius en Koos Claassens was derduiwels.

In 1961 gaan toer Kollege se span na Vrede, Harrismith, Volksrust en Ladysmith. Ek wat nogal kan ooplê lyn toe maar ‘n ongelukkige lugtigheid op die verdediging openbaar, is ‘n verrassende keuse as een van die vleuels. Op ‘n groot rugbydag speel ons span in die hoofwedstryd teen die tuisspan. Ek is daardie dag vlagman.

In ‘n kritieke stadium van die wedstryd kry Kollege ‘n strafskop, amper op die halflyn. Dries Pretorius wat kon skop soos ‘n muil, mik pale toe. Die bal trek goed, hy trek goed… Ek wys dis oor. Die ander vlagman beduie dis mis. Terug voor die paviljoen, te midde van ‘n energieke geboe van die tuisskare, skree ‘n ou vir my: “Was hy oor?”

“Nee,” skree ek terug, “hy was mis.”

“Nou hoekom wys jy hy was oor?”

“Omdat hy amper oor was!”

In 1961 word ek vir die tweede keer in my lewe redakteur: nou van Die Perdeby, die studentekoerant.

Wat ‘n jaar word dit nie! Suid-Afrika word ‘n Republiek — ‘n droom bewaarheid. Dr. H.F. Verwoerd verbreek Suid-Afrika se bande met die Statebond. Kerkmense bots by Cottesloe oor die politieke rol van die kerk.  Oor  al die gewigtige gebeure praat Die Perdeby saam. Hoë besoekers stroom na die kampus. Dr. H.F. Verwoerd kom kuier twee keer.   Pres. C.R. Swart woon die intervarsity by, wat Wits tot algemene verbystering daardie jaar wen.

Elke keer is Die Perdeby op die toneel met ‘n verslaggewer — dikwels in die persoon van die redakteur self — en ‘n fotograaf, Dirk Cloete, ‘n fris ingenieurstudent met ‘n motorfiets.

Die Perdeby was darem nie net politiek nie.  Van een mooie Bloemfonteinse roos, Gerdia Neethling, wat later joolprinses geword het en by wie  die redakteur in ‘n stadium knaend flikkers gegooi het,  tel ek nie minder nie as sewe foto’s in die jaar se 22 uitgawes. Dit is seker ‘n rekord in nepotisme, maar het ongetwyfeld die koerant  versier.

Van die Akademie het in 1961 helaas maar min gekom.  Maar lof vir Die Perdeby het  uit verskillende oorde opgedaag.  Selfs die rektor, prof. C.H. Rautenbach, het lofuitend van hom laat hoor: “U het ‘n moeilike taak op ‘n eervolle wyse behartig … ek dink dit was ‘n goeie jaar — ook vir die redaksie van Die Perdeby.”

Hoofsaaklik seker maar vir my bedrywighede aan die joernalistieke front, meer bepaald Die Perdeby, is Dux -erekleure einde van 1961 aan my toegeken – ‘n hoogs gewaardeerde belonging.

By Die Volksblad was toe al ‘n sekere grimmigheid oor die beurshouer wat eenvoudig nie genoeg kan kry van student-wees nie.  Laat 1962 net eers verbygaan, het ek gepleit, want die huisvoorsitterskap van Kollege het vir my voorgelê — die hoogste vorm van lewe volgens my voorkeure van daardie tyd!

Toe kom boonop sommer ook die kans vir ‘n bietjie akademiese rehabilitasie. Oor die bietjie regskennis wat ek in LL.B 1 opgedoen het en oor daardie ekstra jaar in die algemeen  was ek  nooit spyt nie.  In 1963 het ek by Die Volksblad ingeval.  Van toe af moes ek my eie potjie krap tot einde 1997 toe ek in die Perssentrum aan die Heerengracht in Kaapstad my kantoordeur vir oulaas agter my toegetrek het.

Die finale era – die Melkbos-era van toe af tot nou  – duur reeds reeds 32 jaar. Wat ‘n wonderlike voorreg. Om die voorreg nog saliger te maak, was Sabiepark van die begin af deel daarvan.  Hoe lief is ek nie vir daardie bosplekkie van my langs die Sabierivier nie!  Maar dis ‘n ander storie. Lees gerus “Bure van nature” wat in Mei 2021 by Protea Boekhuis verskyn.

Deel dit: