RUS IN VREDE, VRIENDE

Met die lys voor jou van tien afgestorwenes in Sabiepark in die vorige jaar tref dit hoe die Byl ook in die kleiner, persoonlik bos bly kap, kap en kap …

Nie minder nie as veertig gaste sal nie weer ‘n voet oor Tarlehoet se drumpel sit nie – ‘n vreemde gedagte.

Met van hulle is in die vorige 20 jaar lank saam om die kampvuur gesit en na naggeluide geluister, ander het saam op die stoep die aktiwiteite van die nagapies dopgehou. Hul name staan in ons gasteboek. Nou staan hul name op grafstene, gedenkplaatjies in tuine van herinnering en dies meer.

Hier is my “bose” lys (wat nogal verskeie egpare insluit):

Sabieparkers: Dawie Strydom, Martie van der Merwe, Jan de Necker, Dalene de Necker, Fickie Visagie, Andre Visagie, Cecilia Roux, Gert Pols, Anne Weiland, Connie Openshaw.

Familie: Ouma Marietjie van Wyk,  Fanie van Wyk, Ben Smith,

Hannetjie Smith, Sina van Wyk.

Melkbosvriende: Chan de Kock, Andries Brewis, Martin Grond,

Danie Grundlingh, Esbe Krynauw, Harry Kloot, Pauline Bell, Hennie Jonker, Magriet Jonker.

Vriende uit ander oorde: Sannie Steyn, Barnie Human, Swanie Human, Wynand Mouton, Daleen Mouton, Pieter de Kock.

Kollegas: Eric Wiese, Alf Ries, Ben van Rensburg, Andrew Marais, Jan Scholtz, Piet Gouws, Esta Gouws.

Besoekers saam met besoekers: Anton Steyl, Theuns van Heerden, Tim Krynauw.

Rus in vrede, vriende.

KAN NIE IS DOOD

Ek en Piet op Melkbos se stoep.

Ek en Piet op Melkbos se stoep.

Piet Theron, Volksblad-kollega wat op 27 Julie 80 word, se motto is “kan nie is dood” – ‘n rigtingwyser wat by sy ouers gekry het.  Van daardie 80 jaar ken ek hom amper 60; het hom in 1960 as 21-jarige in Kollegetehuis by Tukkies leer ken.

Op die lang pad wat ons amper ses dekades saamgestap het,  van ons Kollegedae tot ons Volksblad-dae, van jong woonstelmaats tot lewenslange vriende wat tot vandag toe in Bloemfontein, op Melkbos en in Sabiepark graag saamkuier, het hy dit oor en oor bewys:  Kan nie is inderdaad dood.

In ‘n geleentheidstuk het ek na Piet verwys as ‘n S-man: ‘n staatmaker oor ‘n breë terrein. Op Tukkies was sy bynaam nie verniet Piet Sportie nie.  Hy was  nie net self ‘n bruikbare losskakel nie, maar Kollege se toegewyde rugbybaas.

Hy was ook ‘n Piet Skêr – ‘n haarkapper van formaat. Baie ouens wat later bekend geword het, het op Tukkies met Piet Theron-haarkapsels gespog.

By Die Volksblad het hy o.m. as Piet Sportredakteur diep spore getrap. Tuis is hy al 50 jaar Piet Saaier. Daar is altyd groente. Sy pampoene is legendaries.  Sy amarillas blom feestelik in ‘n reuse-beeskrip wat as blombak.  Sy tuin is, in sy woorde, sy gimnasium waar hy kan spit, skoffel, plant, bewerk en oes.  Dit is “salf vir sy siel”.

Hy is Piet Snoeier wat ‘n ongetemde boord vinnig kan kafdraf. Hy is Piet Slagter wat weet hoe om ‘n bees te bewerk. Hy is Piet Sjef wat lekker kan kosmaak. Sy sappige steaks bewys sy stoffasie as baasbraaier.

Ná sy aftrede het hy hom as ‘n bedrywige Piet Skrywer ontpop. Hy was redakteur van ‘n insiggewende boek oor die omstrede Belhar-belydenis, en het allerlei hoogs interessante private publikasies op sy kerfstok. As iets hom pla (wat nogal nie ongereeld gebeur nie!) skryf hy aan die koerant. Hy steek bepaald nie sy sentimente onder ‘n maatemmer weg nie! Sy weldeurdagte briewe word wyd gewaardeer

 

By nadenke is hy egter dalk eerder ‘n D-man as ‘n S-man.

Piet Donnerwetter sal ek hom liefs nie noem nie, al het die tweemanskap Van Deventer en Theron soms bra sakke growwerige sout saam opgeeet. Ja, ons twee oues het in vuriger dae ons kwota konflik gehad. By twee sulke hardekoppe is dit seker onvermydelik!

Hy is by uitstek Piet Doener. Na ‘n uitnemende loopbaan van 35 jaar het hy afgetree as assistent-redakteur. Hy was ook nuuredakteur en hoofsub.  Een van sy kragvertonings as verslaggewer was toe drie Mercuriusvliegtuie van die Lugmag  in Mei 1972 met die Republiekfees in Kaapstad tydens ‘n formasievlug in digte mis teen Duiwelspiek vasgevlieg het. Elf offisiere en bemanningslede het omgekom. Piet het die stories uitgeryg.

In 1988 was hy die eerste wenner van die Hennie van Deventertrofee – ‘n stuk stinkhout in die vorm van ‘n opgerolde Volksblad. Die Laura Rautenbach-skepping word toegeken vir ondernemingsgees, dryfkrag, skeppingsvermoë, leierskap, volharding, kundigheid, geesdrif, goeie oordeel en algemene bekwaamheid.

Piet Dienaar noem ek hom vrymoediglik.  Hy is ‘n dienaar wat hom veral op die geestelike heil van sy (NG) gemeente en die politieke heil van die groter Bloemfonteinse gemeenskap toespits. Hy was op 48 leier-ouderling en was (of is dalk steeds) redakteur van ‘n lewendige kerkblad. Hy was (of is dalk steeds) en voorsitter van die D.A. se kandidatekomitee wat nie onsin van kabouters verdra

In sy matriekjaar aan Oos-Moot in Pretoria het die Nederlandse voorgeskrewe boek Duikelaartje deur G. van Nes-Uylkens hom diep getref. ‘n Duikelaartjie is ‘n poppie met lood in die voete, wat telkens regop spring as dit omgestamp word.  Einste die vegter Piet. Noem hom gerus ook Piet Duikelaar.  

In uitdagende en beproewende omstandighede soos hul onderskeie ernstige operasies en kinder-teenspoede was Piet Petro se anker en omgekeerd. Toe hul oudste seun, Dawie, in ‘n veldbrand sleg verbrand het, was hulle vir hom daar. Toe nekbeserings die tweede, Jannie, se belowende rugbyloopbaan verongeluk, was hulle vir hom daar. Toe die jongste, Pieta, na ‘n operasie wat sleg skeefgeloop het, in ‘n lang lyding gedompel is, was hulle vir hom daar.

Hulle is ook vir vir hul kleinkinders daar – ‘n wonderlike, opofferende oupa en ouma..

Piet is vir Petro ‘n eggenoot duisend. Vir sy kinders is hy ‘n pa duisend.  Vir sy kleinkinders  is hy ‘n oupa duisend. Vir sy kollegas is hy ‘n kollega duisend. Vir sy vriende is hy ‘n vriend duisend.

Piet is waarlik ‘n man duisend.

 

 

IN MEMORIAM

1-IMG_7168

‘n Stroomversnelling in die Sabierivier vlakvoor die middelste van Sabiepark se drie uitkykpunte by die piekniekplek sorg vir ‘n konstante gedruis – soete watermusiek wat tot op ons stoep by Tarlehoet in Wildevy die oor streel.

Die water wat voor jou oë skielik lewe kry en skuimende wit tussen die klippers koers kry Skukuza se kant toe, wek ook mymeringe.
Vanoggend sit ek daar en mymer oor lewe en dood. Die lang lys afgestorwene Sabieparkers in die vorige boekj.aar bly maal in my gedagtes.

Die lys van tien name is die langste in die 20 jaar dat ek Sabiepark se jaarvergaderings bywoon. Dit sluit bekende mense in soos regter-president Frikkie Eloff (erf 362) en sy vrou, Wanda, wat ‘n maand uitmekaar oorlede is.

Twee van die oorledenes, Anne Weiland (erf 42) en Connie Openshaw (erf 92), niggie van Flip en Linda Nel van Kaapstad, was kuiergaste by ons plek, Tarlehoet.
Die ander ses was Wessel Germishuysen (erf 289), Benno de Klerk (erf 133), Hannetjie Lourens (erf 52), Christo Makaal (erf 85), Dave Barnett (erf 217) en Willem Badenhorst (erf 132).

Ek dink daaraan dat elkeen van hulle, soos ek, op hierdie bankie gesit het, bekoor deur grootse toneel voor hulle, en intens bewus van die watergeruis – des te harder soos die vlak van die rivier ná reën in die berge by Sabie styg.

Daardie geruis sal die tien nie weer hoor nie. Maar die Sabie sal steeds bly vloei: steeds jaar in en jaar uit voor die piekniekplek verbykom in ‘n kalm stroom lewegewende water wat ineens opbreek in ‘n tiental klaterende versnellings.

‘n Mens dink aan onsekerhede soos hoe lank nog vir jou oor is. Jy dink ook aan sekerhede soos die lewe wat tot aan die einde van die aarde sal bly voortgaan en die simbole daarvan – soos die Sabierivier aan jou voete.

HALF NARE NAG IN WILDTUIN

Hendrik (links) en Chris by hul gedwonge oonagskuiling.

Hendrik (links) en Chris by hul gedwonge oonagskuiling.

‘n  Sabieparkse buurman, dr. Hendrik van Tonder, vertel op die Sabiepark-webwerf van die “half nare” Wildtuinervaring nadat sy voertuig se battery hom in die steek gelaat het. Hy en sy broer, Chris, ń Australiese burger, sal hul nag van ontbering naby die Mopani-ruskamp nie lig vergeet nie.

In Mopani het hulle  in ń hut gebly met ń pragtige uitsig oor die Pioniersdam. Na ‘n lekker ontbyt van spek en eiers vat hulle die Dipenipad al langs die oostelike grens, rigting Shingwedzi. Hulle vat niks ander in Hendrik se Prado saam nie en as net verkykers,  kameras, hul selfone en 500ml  water elk.

Die pad was doodstil wat ander motors betref, maar hulle  het heelwat wild gesien, veral groot olifanttroppe, ook  alleenloperbulleen hul askari’s.

Sowat 48km van Mopani is die Nyawutsi-voëlskuiling. Hulle het so 15 minute daar vertoef. Hendrik draai die sleutel om verder te ry, en … niks. Die battery was morsdood. Hoe maak ń narkotiseur en ń veearts om uit díe penarie te ontsnap?

Dit was warm, sommer baie warm, hul waterbotteltjies onder die halfpadmerk, geen selfoonontvangs, 300 meter van die Dipenigrondpad, en ergste van alles: op die laaste sowat 20 km het hulle geen ander voertuig teengekom nie. Dit was n Maandagmiddag,buite skoolvakansie in die noorde van die Park en gou het hulle besef hulle slaap moontlik die nag net daar.

Hulle  het die Prado gestoot tot teenaan die ingang van die skuiling en toe voorraad opgeneem: sowat 500 ml water tussen die twee,  ń pakkie XXX-pepermente, twee selfone met flitsies, kameras en verkykers. Verder net twee moedelose middeljarige mans sonder hul pille en brille. Teen 18h00 was dit donker en die muskiete bedrywig daar langs die water. Hulle  het maar in die kar gaan sit. Die ruite was gelukkig oop  want dit was stomend warm en hulle was baie,baie dors.

Hulle het die nag deurgebring in die voorste sitplekke en het oor baie dinge gesels (hulle sien mekaar maar sowat elke vyf jaar). Olifante was deur die nag om die watergat maar hulle kon nie hul hande voor hul oë sien in die nagdonkerte nie en die selfoonliggies was te lig in die broek.

Dit was ń eindelose,dorstige en warm nag en later het jy nie eens die muskiete probeer wegklap nie., vertel Hendrik.

Om 05h00 het ń reënbui uitgesak. Aangesien die ruite oop  was, het hulle bietjie nat geword. Hulle kon egter geen water opvang onder die twee groot appelblaarbome waaronder die motor gestaan het nie. Dit was toe dat Chris vra of sy broer seep by die ruitwasser se water gooi. Hulle kon van die water uittap en dit was skynbaar sonder enige byvoegsel gewees – toe drink hulle  water!

Die twee was toe meer positief oor die penarie, en het maar in die skuiling gaan sit en na die voëls en bome gekyk. Chris wou teen die tyd ń vuur maak en rookseine die lug instuur, maar ouens wat nie rook nie het dikwels nie vuurhoutjies by hulle nie en die Prado se sigaretaansteker benodig ń motorbattery wat krag lewer.

Toe kom Mark en sy vriend daar verby – twee manne in hul twintigerjare wat in Shingwedzi gekampeer het en op pad was na Satara. Hulle het die pap battery vervang met hul dieselbakkie s’n (nooit geweet ‘n dieselmotor kan ry sonder sy battery nie!) en Hendrik en Chris is vort Mopani toe vir water, kos en ń stortbad …. 22 ure nadat hulle by Nyawutsi gestop het. Mark het als weer reggepak in sy bakkie en sou hulle volg.

Drie ure later was die twee Samaritane nog nie in Mopani nie. Hendrik is na die Veldwagter toe en hulle is met twee voertuie uit om hulle te soek. Die soektog het niks opgelewer nie. Die die soekgeselskap is terug kamp toe.Daar staan hul bakkie toe! Die bakkie het gaan staan kort na Hendrik en Chris hulle verlaat het. Daar sit hulle toe met die dooie battery. Gelukkig was hulle reg vir kampeer en het begin kosmaak in die stofpad totdat ń weldoener hulle na Mopani kon sleep.

Mark en sy vriend is toe teerpadlangs na Satara nadat die vriendelike ouens by Mopani gereël het met Satara dat hulle laat by die kamp sou aankom.

Die twee Van Tonderbroers het die res van die dag geslaap en net ‘n broodjie vir aandete gehad. Die gebraaide tjops is terug  yskas toe; hulle was te moeg om te eet. Die volgende oggend het ń vriendelike man van Mopani se werkwinkel ‘n vragmotor en n paar reusekabels gebring om die Prado aan die gang te kry.

Hullr het ń nuwe battery op Phalaborwa gekoop en is sonder voorval terug Pretoria toe.