VRIENDE SE FEESDAE

Danie en Kathleen op hul troudag, Oktober 1989

Danie en Kathleen op hul troudag, Oktober 1989

Die byvoordele van oud word is bra minnerig. Jy kry (ook net soms) afslag by nasionale parke, by flieks en hier en daar by ‘n toeriste-attraksie; jy kry winkelkaarte vir inkopies op spesiale dae vir pensioentrekkers; jou versekering kos effens minder … en dis omtrent dit.

Nee wag, hier is nog ‘n besonderse bonus: die uitnogings na vriende se feesdae soos hulle toenemend 70 jaar of 80 jaar oud word, goue bruilofte vier of ander mylpale op ‘n geseënde lang lewe gedenk. Die viering van sulke gevorderde bakens op die lewenspad is meesal sjarmant, heuglik en stylvol – al stem dit ook tot ‘n bietjie hartseer omdat jy weet: met die water wat verby is, sal die meule nooit weer maal nie.

Margot Asquith (1864 – 1945) het op haar oudag gekla: “All I have to live on now is macaroni and memoral services.” Arme ding. Hopelik was dit ‘n oordrywing en gelukkig is dit gewis nie vir alle ou mense waar nie. Die “memoral services” is wel onvermydelik, maar die “macaroni” word darem afgewissel!

Saterdag by ‘n verjaardagfees op die skilderagtige Lourensford-landgoed by Somerset-Wes was op die spyskaart byvoorbeeld ‘n voortreflike eend-voorgereg, daarna vir hoofgereg ‘n keuse tussen geurige salm-forel en lamsrak, heerlike malvapoeding vir nagereg en ‘n ekskwisiete kaasbord. Al dié heerlikhede is afgesluk met net die beste Lourensford-wyne: merlot en sauvignon blanc. Bra ver van macaroni af, me, Asquith!

Die geleentheid was my oud-kollega Danie Krynauw se 80ste. Die immergroen Danie was hoof van Naspers se tydsklrifte toe ek in 1992 by die Naspersentrum ingestap het as hoof van koerante. Ons was bure in ‘n kantoor-suite. Ons het een buitedeur na die gang gedeel en het ons onderskeie domeine betree deur die gemeenskaplike kwartiere van ons twee P.A.’s, Willa (Danie) en Lizette (HvD).

Ek beskryf die ruimtelike opset in detail omdat dit geen geringe rol gespeel het in die gawe verhouding wat tussen die twee bure ontwikkel het nie. Die ligging van my kantoor het aan my terselfdertyd ‘n verkwiklike uitsig gebied op die verkeer na Danie se kantoor, wat ingrypend verskil het van die verkeer na myne. Die meeste van Danie se besoekers was elegante dames uit die tydskrifte-omgewing. Koerantredakteurs en –bestuurders was minder sag op die oog. Maar dit daargelaat. .

Feit is dat die fyn jintelman Danie en ek heelwat van mekaar gesien het. Ons samesyn was vir my ‘n ekstra plesiertjie van my nuwe pos. Op die eerste dag, 1 April 1992 (Gekkedag!), was hy my gasheer op my eerste besoek aan die kafeteria Van Alle Kante met die prentjiemooi uitsig na alle kante. Danie het vir my ‘n ete gekoop en vir die groentjie ‘n broodnodige blitskursus in hoofkantoor-kultuur gegee. Hy het my nogal verras met openhartige uitsprake oor sekere persoonlikhede. Ja, hy kon nogal brutaal eerlik wees, dié Danie, maar hy het ook die geheim geken om elke mens spesiaal te laat voel. In ‘n sekere sin was hy meer ‘n ou vleier as ‘n bakleier.

Mettertyd het ek agtergekom Danie was selde verkeerd in sy oordeel oor mense. Hy kon hulle haarfyn raak takseer – seker een van die redes waarom hy die uitsonderlike Kathleen in Oktober 1989 as bruid gekies het. Sy bederf hom tot vandag toe tot in die aarde, en hy aanbid na amper 20 jaar nog die grond waarop sy loop.

Meer as een keer het ek in sy kantoor ingewals om oor, noem dit maar, die eienaardige optrede van dié of daardie koerantekollega te skinder. Hy het altyd gereageer met ‘n kenmerkende Krynauw-kwinkslag. Dan lag ons saam in ons moue. Nóg Danie nóg ek had ‘n aptyt vir ‘n opgeblase ego of oordrewe selfbeeld.

Danie was in verskeie opsigte bewonderenswaardig. Ek het sy talent beny om selfs in die uitdagendste omstandighede koel en kalm te bly. Na die uwe se eerste paar direksievergaderings het ek aan hom gebieg hoe ek sidder dat ‘n bepaalde direkteur my (wat geen M.B.A. was nie!) oor geldsake sou vasvra. Sy advies was pront: moet nooit dat hulle agterkom dat jy nie weet nie; ‘n ingeligte raaiskoot is altyd beter as ‘n erkenning van onkunde.

Ek het sy raad een keer op die proef gestel. Later het ek ontdek my raaiskoot was ver van die kol. Dit verklaar seker die verwarde uitdrukkling op die betrokke direkteur se gesig. Hy was ‘n skrander man wat met syfers kon toor en deur kafpraatjies kon sien. Hy was seker maar die jongeling Absalom genadig!

Na Danie se aftrede het hy soms op die 18de verdieping kom inloer vir ‘n vinnige: “Haai, hoe gaan dit?” In 1997, aan die vooraand van my eie aftrede, was Danie weer op besoek. Ons is na die kafeteria vir koffie en hy het vertel van sy en Kathleen se salige leefwyse: somer op Hermanus, winter in die Laeveld.

‘n Vrugbare saadjie is daardie dag geplant. Kort daarna was die Van Deventers die trotse eienaars van ‘n eiendom in Sabiepark by die Krugerhek, ‘n plekkie wat diep in ons harte gekruip het. Dankie, Danie, jy was vader van die gedagte. Ek sal jou rol altyd in dankbaarheid onthou as ek in die bos ‘n vuurtjie aansteek.

Hazyview en Sabiepark is net 40 kilometer uit mekaar. Nog ‘n gesellige Krynauw/Van Deventer-reëling het sedert 1998 ontwikkel. Op besoek aan Sabiepark is die Van Deventers meermale genooi na die Krynauws se spogplek aan die Sabierivier in die manjifieke Kruger Park Lodge, elke deftige vertrek spierwit van A tot Z. Middagetes was op die houtdek onder ‘n grasdak met onweerstaanbare kos en wyn, die gulste gasvryheid en wonderlike natuurskoon.

Wanneer ons die Krynauws na Sabiepark genooi het, moes hulle maar inval by die Van Deventer-patroon van tjops en wors met pap en sheba. Tot hul krediet was hulle altyd galant en vol lof, al was die vleis dalk ‘n raps te gaar.

Die laaste jare woon die Krynauws in Helderberg Village – nog net so sjarmant en onberispelik stylvol soos altyd. Daarvan het ook Danie se 80ste getuig. Alles was eksie-perfeksie.

Die kreatiewe Kathleen het ‘n gedugte boek oor Danie se lewe (tot dusver!) laat saamstel waartoe elke gas ‘n bydrae gelewer het – klaarblyklik ‘n kosbaarheid vir die verjaardagkêrel. ‘n Buurman het gesorg vir ‘n “power point”-skyfievertoning, Ton Vosloo het met ‘n spitsvondige en waarderende toespraak die gaste om die beurt laat proes en hande klap. Daar is geëet, gedrink en gesels en in die algemeen sommer lank en innig gekuier. Lourensford se sjefs kan maar daardie kos vir die fynste fynproewer voorsit, en die wyne … engeltjiepiepie, glo my.

Die spyskaart se omslag was die voorblad van Die Burger van 26 September 1928 – Danie se geboortedag. In ‘n groot advertensie kondig die afdelingswinkel Sonnenberg’s die “eerste 1/11-uitverkoop (minder as twee sjielings per artikel dus!) in Kaapstad” aan en adverteer Cleghorns die “beroemde Kayser-handskoene” teen 5/11 per paar.

Pryse van daardie kaliber stimuleer in 2008 ‘n aanval van nostalgie. Nie net oor die kopies van 80 jaar gelede kon ‘n mens egter Saterdag nostalgies raak nie. Ook oor die stuk lewe wat jy bevoorreg was om met so ‘n ware heer te deel. Weet net nie hoe kry die bokker dit reg om op 80 minstens 20 jaar jonger te lyk nie – en nog ‘n toespraak af te steek waarin hy elkeen van sy gaste by die naam noem sonder ‘n flentertjie papier in die hand.

Ek wonder nou al stilletjies oor hoe Danie se 90ste verjaardag gevier gaan word. Maak maar die sitplekgordels vas, vriende en familie. Daardie twee uithalermense se name is nie verniet Danie en Kathleen Krynauw nie! (HvD)

STUUR, STUUR, DIS PURE DIEREPLESIER!

Maar, ma, ek wou
nog rem –
toe sien ek net,
ek moet nou swem!

Met hierdie variasie op ‘n vorige HvD-versie kon die baba-kameelperdjie op die foto hierbo wel sy lot bekla nadat hy op ‘n wildplaas by Hoedspruit pens en pootjies in ‘n (mense-)swembad beland het.

Kameelperd-ma’s is berug vir hul afsydige moederskap. Aapstert se ma het egter nie op haar laat wag nie. Voordat jy kon sê kreepy-krauly is sy gatoorkop agterna om haar bloedjie te beskerm.

Die kortgat-langnekkie is sonder te veel moeite deur personeel van die wildplaas gered. Maar toe sit die heldhaftige moeder se turf. Hoe gemaak met so ‘n lompe dier wat om die dood toe nie die eenvoudige kuns kon bemeester om die trappies te bestyg nie?

Mamma kameelperd het terug in die water bly gly en gly, en natuurlik al hoe meer paniekerig begin raak. In die proses is haar enkels beseer. Net een genade was oor – die water moes uitgepomp word. Nog later is ‘n berg grond aangery en in die gat gestort. So sou die angstige kameelperd as’ t ware uit die swembad kon “stap”. So het die span redders altans gedink.

Maar aikona – alles steeds vergeefs. Einde ten laaste het die uitgeputte dier op ‘n moedelose hopie op die swembad se bodem neergesyg – skynbaar klaar met kees.

Maar ‘n boer (ook ‘n wildboer) maak ‘n plan. Iemand kry die ingewing om ‘n sterk tou om haar lang nek te bewimpel. ‘n Trekker word ontbied en dié sleep haar al spokende met ‘n brullende enjin na bowe.

Albei avonturiers is vinnig ingespuit om te keer dat hulle verkoue kry. Onthou, hulle was darem ‘n hele rukkie in daardie koue water, en selfs doer in die warm noorde is ‘n swembad in die middel van die winter niemand se maat nie.

Gelukkig het ma en kind albei vinnig van hul beproewing herstel. Hulle is weer pure kameelperd. Dit lyk net of die twee deesdae wye draaie om daardie gevaarlike swembad loop!

Die storie kom van Retha Botes uit die Vrystaat en is een van verskeie dierestories per e-pos wat die uwe die laaste ruk versamel het om die kleinkinders mee te plesier.

Twee vlakvark-video’s het die seuntjies veral laat kraai. Op die een storm ‘n onverskrokke vlakvark tussen vyf jagluiperds in by ‘n watergat. Die jagluiperds vlug in volle vaart! Op die ander bly ‘n vlakvark ‘n knorrige leeuwyfie in die sy stamp totdat die koning van die diere ook maar besluit: liewer Bang Jan as Dooie Jan.

‘n Prettige video het in dieselfde tyd hier opgedaag van ‘n moedswillige olifantjie wat ‘n hans volstruis se nek met sy slurp vasgryp. Die groot voël spook en wriemel vir al wat hy werd is, maar olifant se kind slaan ysterklou in die grond.

‘n Video doen op die oomblik die ronde van ‘n olifant wat ‘n sokkerbal kan sool – so sekuur dat hy in 2010 vir Bafana Bafana ‘n wedstrydwenner sou kon wees. En, vergewe asseblief as dit politiek inkorrek is, maar het daardie arme drommels nie ‘n wedstrydwenner nodig nie!

Dankie aan almal wat vir die uwe sulke diereplesiere stuur. Stuur nog! Die kinders is mal daaroor. Hul oupa ook. (HvD)

ONS GAAN DALK NOG VERLANG!

Nie al my vriende stem saam met my blog hieronder oor Thabo Mbeki en wat die toekoms vir ons kan inhou nie. Vanmiddag was ek weer daaroor in ‘n vurige debat.

Ek is egter nie heeltemal alleen in my sienswyse nie. Hierdie paragraaf uit ‘n hoofartikel van die gesaghebbende Wall Street Journal klop 100% met wat ek glo:

“For all of Mr. Mbeki’s faults — and there were
many — South Africans may yet look back at his tenure with nostalgia.”

HvD

PIK SE TREIN

Gelukkiger dae. HvD en Thabo Mbeki 20 jaar gelede.

Gelukkiger dae. HvD en Thabo Mbeki 20 jaar gelede.

Vir vandag se stukkie moes ek uit twee opskrifte kies. Die een wat eerste by my opgekom het, was Tot siens, Thabo. Ons twee se paaie het in 1988 in Londen gekruis en ‘n vreemde band het tussen die wellewende ANC-diplomaat van destyds en die Afrikaanse koerantredakteur van Bloemfontein ontstaan.

Ondanks al die water wat in die see geloop het, het ek nog ‘n gevoel vir die man en kry ek seer oor sy vernedering aan die hand van ‘n klomp willewragtigs soos die Malemas. Vavis en Nzimandes wat met dreigemente, beledigings en rou emosie hul primitiewe politiek bedryf. Ek wou graag ietsie persoonliks skryf oor die pad wat ek en Thabo Mbeki saamgeloop het – tot op ‘n punt.

Die opskrif hierbo – Pik se trein – was derhalwe aanvanklik die tweede keuse. ‘n Herlees van die kwiksilwer oud-minister se optimistiese oorborreling in vanoggend se Burger het dit egter skielik vir my meer relevant laat lyk om by sy uitsprake aan te knoop as om oor die “goeie ou dae” twintig jaar gelede nostalgies te raak.

Aan my verhouding met Thabo het ek immers in my loopbaanboekie Kroniek van ‘n Koerantman ‘n hele hoofstuk gewei onder die opskrif Twee kanne koffie. Wat hierdie blog betref, volstaan ek dan met ‘n “tot siens”, met waardering vir sy waardige uitvaart en met ‘n onderskrywing van Marinus Wiechers se TV- opmerking van nou die aand dat hy Suid-Afrika “nooit in die skande gesteek het deur met AK 47’s te dans nie.” (Marinus is ‘n intelligente, skerp en insiggewende kommentator – luister maar gerus na hom!)

Maar dan: Pik se trein. Almal wat vanoggend onseker, verward en dalk ietwat besorg voel, sal geen beter troos vind as in die spraaksame oud-minister se kommentaar oor die ANC se opspraakwekkende paleisrevolusie nie. Hy bevind naamlik “ons trein is nou op die regte spoor gerangeer”.

Ja-nee, nadat Pik daar agter Magalieskruin sy kristalbol geraadpleeg het, sien hy net ‘n beter Suid-Afrika verrys met minder misdaad, werkskepping, asook beter onderwys, paaie en gesondheidsdienste. “Ek sien ‘n nuwe Suid-Afrika kom ….!”

Ongelukkig vergeet Pik skoon wie dryf daardie trein. Is dit Jacob Zuma of nie?

As dit Zuma self was, glo ek daar was al klaar genoeg rede om die hart vas te hou. Zuma se instinkte is veel meer van Afrika as die van Mbeki. Dit sou interessant wees om te weet watter bestemmings hy oral vir daardie trein in gedagte het.

Maar nou sit ons met ‘n gevaarliker situasie as ‘n Jacob Zuma se hand op die stange. Want die Zuma-trein is onherroepelik gekaap! Zwelenzima Vavi, Julius Malema, Blade Nzimande – hulle is die manne voor in die lokomotief. En die arme Zuma? Hy sit met ‘n pistool teen die kop. Hy gaan moeilik roer as hy nie na die kapers se “goeie advies” wil luister nie.

Dit was mos al van Polokwane af duidelik wie slaan nou die tamboere in die enjinkamers van die ANC. Hierdie naweek het dit nog duideliker geword. Hoe harder jy met massa-aksie en ander ontwrigtings kan dreig, des te swaarder weeg jou woorde. Of dink Pik Botha en andere wat soos hy dink, nie daardie aggressiewe kamerade is nou in ‘n magsposisie nie?

‘n Onuitstaanbare mannetjie soos Malema se tjank moes lankal afgetrap gewees het. Maar wie sou dit waag? Nie Jacob Zuma nie; hy het maar saam getoi-toi omdat dit sy politieke agenda pas – of so het hy gemeen. Nou is daardie politieke agenda grootliks uit sy hande geruk, vrees ek, en die trein dalk op pad na spore wat die land nog gaan laat sidder.

Die opskrif bo die rubriek van Die Burger se redakteur, Henry Jeffreys, is vanoggend: “Les ook vir Zuma in Mbeki se harde val.” Die redakteur snap klaarblyklik beter wat “politieke twakpraatjies” is – sy woorde – en wat nie as party ander mense. Ek dink daardie les vir Zuma kan in vier woorde opgesom word: “Hou jou rug gedek.”

Mense soos Pik Botha grond hul positiewe verwagtinge waarskynlik aan ‘n amperse verligting dat die Mbeki-era ten einde kom, omdat daar, soos dit gestel word, “die laaste tyd maar min gebeur het” en nadat die sogenaamde stille diplomasie in Zimbabwe Suid-Afrikaners erg gefrustreer het. Hulle dink nie daaraan dat ‘n Zuma-bewind – met totaal ander waardes wat dan gaan oorheers – ons nog met ‘n seer hart na Thabo Mbeki kan laat verlang nie.

Henry Jeffreys haal vir Samuel Huntington aan dat die eintlike transformasie van Suid-Afrika eers gaan kom die dag as die “Westerlinge” van die toneel verdwyn. Vir my lyk dit of daardie transformasie-dag nou aangebreek het.

Die nuwe Zuma-era gaan onteenseglik ons eerste ware Afrika-era wees. Zuma self moet egter maar stilletjies wonder op watter wilde Afrika-spore drywers soos Vavi, Malema en Nzimande (met Jeremy Cronin as ‘n “token white” stoker) “Pik se trein” nog gaan voortstu. (HvD)

BRAAIDAG, HIER KOM ONS!

Braaimeester Sakkie Bruwer

Braaimeester Sakkie Bruwer

Onse braaimeester, Sakkie Bruwer, het gepraat, en kom storms, sneeu of wat ook al Woensdag, Braaidag, ruk ons Probus-span met ons braaitange, mandjies en genoeg wyn op vir ‘n meneer van ‘n braai hier by die uwe op Melkbosstrand.

Probus sal gereelde lesers van hierdie blog weet – as daar gereelde lesers is! – is ‘n klub van afgetredenes en semi-afgetredenes . Ons is almal seniors. Min stuit ons egter as ons wil braai. En ons braaie is gewoonlik menere.

Woensdag braai so plus-minus 40 van ons. Die vaste patroon is dat Sakkie die vleis koop – hy is ‘n uitsoekerige vleis-kenner en vertrou g’n ander mens met die aankope nie – en dan persoonlik volgens sy eie hoë maatstawwe braai. Wat hy gaan braai, is nog geheim. Ons ander verrig, op sy bevel, minder verantwoordelike handlangertakies soos om die hout aan te dra, speserye aan te gee of die glasies vol te hou.

Van die vroue is opgekommandeer om te sorg vir die aartappels, slaaie en pap. Ja, ons (wel, party van ons!) eet nogal pap hier aan die Weskus. Verder sorg elkeen vir sy eie te drinke, eetgerei, wyn en glase. Twee opslaantafels word aangery om as staanplek vir die verskeidenheid mandjies en bottels te dien. Vrydag kreun Penguin Place 11 se vullisdrom weer onder die vrag wynbottels, arme ding.

‘n Vorige keer toe so ‘n groot Probus- spanbraai by die Van Deventers was, was op 11 Augustus 2001 in Sabiepark. ‘n Groep van 24 Melkbosse vriende het die aand “oorgekom vir ‘n braai”. In ‘n konvooi het hulle opgeruk, die hele 2 000 kilometer van ons “strand van melk en heuning” aan die Weskus af. Die volgende oggend is die Melkbossers Wildtuin toe.

Dié aand is op die tipiese Bosveld-manier gekuier. ‘n Tweevuurkuier is aangelê. Agter was ’n ramkatvuur vir die skaaptjops en die wors (en die stywe pap in ’n swart driepootpot). Voor was ‘n nog ysliker een vir die atmosfeer en geselligheid. ‘n Vrag hardekool, rooiboswilg en sekelbos is daardie aand in vlamme op. Genoeg vir ’n maand se gewone kampvure — ‘n hele bakkievrag vol.

Maar ’n bobaas-Bosveldfees was dit bepaald met drie plaaslike raakvat-braaiers om die vure te stook en die feestelike ete van die gloeiende kole af op te dis.

“Watter wonderlike gawes kom nie uit U vaderhand nie?” kon ek dankbaar bid toe ek onder die sterre die seën vra. Voor slaaptyd gaan lees ek toe weer Prediker 3: 12 en 13: “Ek het tot die insig gekom dat daar vir ‘n mens niks beter is nie as om vrolik te wees en die goeie van die lewe te geniet. Dat die mens kan eet en drink en onder al sy arbeid nog die goeie kan geniet, ook dit is ‘n gawe van God.” Na sulke overdaad is dié trooswoorde van die Prediker ‘n lafenis.

‘n Amperse insident is daardie aand deur Thys Slabber, Swartlandse boer met g’n bang haar op sy kop nie, afgeweer deur ‘n nuuskierige (en waarskynlik honger) hiëna met ‘n graaf te verjaag toe hy die voorstoep wou bestyg. Amper was dit ‘n braai met ‘n hoonlag, soos dit by geleentheid vir ander Sabieparkers ‘n braai met ‘n brul was.

Die lapa van erf 353 uit Wildevylaan wat toe nog aan Tony en Noenoe Zimolong behoort het, is neffens die piekniekplek en kyk uit op ‘n oop stuk rivieroewer. Die oewerbos in daardie omgewing is meesal yl en klein. Langs die kampvuur in hul lapa verlustig die Zimolongs en ‘n paar vriende, drankie in die hand, hulle een aand lank aan ‘n seldsame skemer-vertoning van leeus wat op ‘n veilige afstand kom en gaan.

Eers verskyn ‘n uitgegroeide wyfie in die oopte en staar die groepie Sabieparkers onvriendelik aan met ‘n wye oop bek. Toe kom die kraagmannetjie. Hy gaan sit soos ‘n hond op sy agterpote en gluur vir die toeskouers. Twee lewenslustige welpies klouter en speel op en bo-oor hul ma.

Vir Gary en Michelle Karlson van Thulani (erf 191 in Maroelalaan) het die Zimolongs daardie middag eers leer ken. Die Karlson-egpaar is sommer in die pad voorgekeer en genooi: “Kom kyk, hier’s leeus” Die Karlsons het hulle nie twee keer laat nooi nie; hulle kon nie vinnig genoeg ‘n U-draai maak nie.

Kort na 18:00 groet hulle om ‘n eie vuurtjie te gaan pak. Maar ‘n luide, aanhoudende gegrom laat hulle op pad na hul motor toe versteen vassteek. ‘n Vinnige leeu-stormloop in hul rigting laat hulle, wit geskrik, vinnig retireer. Gelukkig is die gevaar sowat vyftien meter ver, met die draad tussen hulle!

Tony sit vir sy etegaste ‘n vleisie op die kole. Gashere en gaste sou buite aansit. Vir oulaas swaai hy sy flitslig rivier se kant toe. Toe’s dit net die ene blink oë. Die vyf groot katte sit snoesig saamgebondel in die ligkol, teenaan die draad. Die vyftien meter het onheilspellend tot skaars twee meter gekrimp.

Die vierstuks neem toe ‘n vinnige besluit. Hulle raap hul braaivleis op en soek liewer maar vinnig die veiligheid van die huis op. By sy eie huis, ver van die leeus af, braai Gary Karlson daardie aand ook maar haastig en op sy hoede. Ja-nee, n braai kan gevaarlik raak as hy wil!

Braaie is gewoonlik maar, om allerlei redes, nie altyd ’n plesiertjie nie. Een Van Deventer–braai onthou ek om pynlike redes.

Nog sonder kind of kraai, is ek en Tokkie in die jare sestig op ’n Tuinroete-toer. Deel van ons bagasie was ’n opvoubraaiertjie wat spotgoedkoop by ’n Bloemfonteinse vulstasie aangeskaf is. Op Oudtshoorn kry ek ‘n ingewing: ons gaan braai vanaand in Meiringspoort. Tokkie is dadelik vuur en vlam. Vleis, bier en houtskool word gekoop en ’n mooi, beskutte plekkie in daardie ruwe gebergtes uitgesoek.

’n Leë vuurhoutjiedosie en ’n bier of twee later is die houtskool egter nog pikswart en yskoud. Met my selfbeeld aan flarde en my frustrasie hemelhoog, raap ek daardie braaiertjie op en smyt dit met geweld in die leë konka wat gerieflik byderhand is. Tokkie protesteer — sy het nog altyd gekloek oor haar besittings — en herwin die verwerpte braaiertjie huilend uit die konka. Ons ry in broeiende stilte terug dorp toe.

By Kleinplaas swaai ons in en kry ’n hoop gloeiende kole wat ’n woonwa-eienaar bedagsaam vir ’n braaier in nood agtergelaat het. Só het ons darem nie honger gaan slaap nie. Huweliksharmonie het egter ’n bietjie langer geneem om te herstel.

Daardie braai noem ek die Misbaksel van Meiringspoort. Maar ek glo Woensdag s’n op Melkbos sal voorspoediger verloop. Ons braaimeester, Sakkie Bruwer, is immers persoonlik in beheer. (HvD)

Hoede af vir die “vyand”!

Die komediant Victor Borge sit op die klawers en tokkel en sê kamma-ernstig oor die mikrofoon: “The Steinway people have asked me to announce that I’m playing on a (sê nou maar)Otto Bach piano.” Ek het gedink dis nogal skerp.

Voordat die Sonoppers my vra (dwing) om dit te doen, rapporteer ek hiermee dat die onderstaande blog oor ‘n Sonop-reünie deur ‘n Kollegeman geskryf is!

Ter agtergrond: toe ek in 1958 op Tukkies aankom, was daar drie manskoshuise: Kollege (op die kampus), Sonop en Voortrekker. Die mededinging was, om dit sag te stel, nogal intens. Liefde vir mekaar het nie juis oorgeborrel nie.

In die geledere van Sonop se eerstejaars was ‘n hele paar bekendes. Wat hulle van vriendskap gediskwalifiseer het, was dat hulle Sonoppers was – die “vyand”. Nou het daardie “Klas van 1958” van Sonop presies na 50 jaar na hul Ienkskap (dit beteken om eerstejaar te wees) in Pretoria reünie gehou. Hierdie “Kollegeman tot ek sterwe” voel gedronge om daaroor te skryf.

My eerste rede – in alle eerlikheid – is jaloesie. Dis ‘n onuitstaanbare gedagte dat die Sonoppers so kreatief en oorspronklik kon wees terwyl ons Kollegemanne – wat darem vir jou ‘n oulike klomp Ienks was, hoor – nie een eens ‘n vonkel in die oog gekry het oor die moontlikheid van so ‘n 1958 + 50-reünie nie.

Dit tref my persoonlik swaar, want ek is as’t ware Mnr. Reünie. Ek is lief vir reünies, genereer hulle, help reël hulle, laat my nie deur afstande afskrik om hulle by te woon nie en is in die algemeen die toonbeeld van betrokkenheid. Vroulief Tokkie, soos ek al vroeër hier rapporteer het, sê mos bytend al reünie wat ek nog moet bywoon, is dié van my speelgroepie!

Die tweede rede behels ‘n belydenis. Ek moet erken dat ek nogal graag daardie Sonop-reünie sou wou bygewoon het. Ongehoordsoos dit is, sou ek heerlik saam met daardie manne kon kuier. Ondanks die Sonop-etiket is hulle ‘n eersteklas-klomp. Ek hou van hulle!

Veertien Sonoppers van 1958 was daar: Daan Erasmus, Leon Windt, Anton Lombard, Gert Pretorius, Gerrie Almond, Gerrit Kruger, Kobus Kruger, Frans Boot, Stoney Steenkamp. Thys Oosthuizen, Hennie van Wyk, Johan Lamprect, Carl Fuchs en Fanie de Jager.

Met sewe van hulle – die helfte – het ek ‘n persoonlike konneksie. Ek en Anton was saam in matriek op Potch-Volkies. Ek en Carl en Johan Lamprect was saam in standerd vier en vyf aan Port Natal in Durban – ek het nog Carel se kleurbaadjie geleen Van Riebeeckfees in Kaapstad toe. Ek het teen Hennie van Wyk krieket gespeel op skool – hy was ‘n beter kolwer vir Lichtenburg se eerste span as wat ek ‘n snelbouler vir Volkies was. Ek en Daan Erasmus was albei Klerksdorpers. Ons was goeie maats. Onshet saam gery Pretoria toe met die Santa Maria, my Peugeot 203. Daan het my as jong verslaggewer op stories vergesel – selfs na ‘n moord op Potchefstroom. Gert Pretorius het my meisie afgevry en met haar getrou. Sy is ongelukkig bloedjonk in ‘n motorongeluk oorlede. Ek en Stoney was die vleuels van Tukkies se O/19 D-span.

Vyf van die veertien was, soos ek, Wes-Transvalers (nou Noordwesters). Ons het vir die Mielieboere geskree in die tyd toe bulle soos Johan Claassen , Dick Putter en Kranskop Bezuidenhout in die Wes-Transvaalse XV-tal was.

Anton Lombard het my van die reünie vertel toe ek en hy in Augustus in die Bosveld saam gekuier het. Sy foto’s en stories het die mond laat water. Ek het o.m. agtergekom – en dit sê ekwaaragtig met ‘n swaar hart – dat Sonop se karakter en tradisies beter oorleef het as Kollege s’n.

Die tipiese “Sonop-mansijoen” met dosyne gesteelde naamborde ens. leef voort. Sonop se “boerdery” is nog geil aan die gang. Daar is selfs nou ‘n krokodil (onheilspellend lewend) op die werf. Die Sonop-argief spog steeds met sy Pierneef-skilderye, die lot.

Die matrones word steeds “nonnies” genoem. Die Saterdagmiddagete was in die Sonop-eetsaal – “platvleis” en “gravy” en slaai nes vyftig jaar gelede.

Ai, ou dierbare Kollege, wat het dan met jou skeefgeloop dat jy soos die ou grys merrie van die liedjie nie meer is wat jy was nie? Waarskynlik het die Groot Trek in 1960 van die kampus af proefplaas toe mettertyd tog sy tol geëis. Kollege het net TE groot en TE onpersoonlik geword. Later het die Kollegekarakter en van sy mooi tradisies ietwat verwring geraak. Kom ons los dit maar daar.

Geluk aanSonop en die Sonoppers oorwat julle oor vyf dekades in stand kon hou, en ‘n pluimpie virCarl Fuchs met sy blink idee om na 50 jaar so ‘n reünie te reël. As Kollegeman lig ek my hoed vir julle.

Maar ek soek nie witvoetjie nie. Ek isgeen Hans Kakie nie. Kollege – soos hy was – bly bo. En die hegte Kollegeband van eertyds is darem ook nie daarmee heen nie, hoor. In 2005 is Kollege se 90ste met ‘n dinee in die Sportsentrum gevier. Groot stories is die aand daar gesels. Die volgende dag het n klomp tydgenote by Cas Jacobs se huis in Centurion skaap gebraai. Dit was ‘n fees.

In daardie groep was die Kollege-Ienks van 1958in die meerderheid. Daar was sewe van ons: Vossie Grey, Cas Jacobs, Piet Henning, Mornay du Plessis, Leon Engela, Giel de Swart en die uwe.Ons sewe en ons huisvoorsitter van 1958, Leon Visser, is op die foto by die volgende skakel:

http://picasaweb.google.com/hennievandeventer/Kollegemanne#

By dieselfde skakel is ook ‘n Augustusfoto van my Volkiemaat Anton (Sonopper) en Leonie saam met my (Kollegeman) en Tokkie op Tarlehoet in Sabiepark se stoep.

Moet iets in die water gewees het daar in die laat vyftigs dat ons generasie – hetsy Kollegemanne of Sonoppers – so uitblink in lojaliteit en groepsgees. Of wat praat ek alles? (HvD)