Diagonalstraat 10. Ek speel met my Dinky Toykarretjies op die trappies van die voorstoepie.

Diagonalstraat 10. Ek speel met my Dinky Toykarretjies op die trappies van die voorstoepie.

Kort nadat ek in 1980 van Beeld af Die Volksblad in Bloemfontein  toe is, het ek my ou tuisstad Kimberley besoek. Ek het Tokkie Diagonaalstraat 10 gaan wys waar ek van 1944 tot 1950 gewoon het, waar my pa in 1946 oorlede is en waaruit ek in 1947 by die Laerskool Diamantveld begin skoolgaan het.

Natuurlik het ek gewonder: wie sou nou in daardie huisie woon?

Wel, 35 jaar later, weet ek. Dit was ‘n jong paartjie met die van Malan – interessant genoeg  ook die nuwe van my ma, Baby, nadat sy in 1951 met Tony Malan van Durban getroud is. Hy het my Pa Malan geword en ons verhouding was so goed soos dit tussen ‘n stiefpa en ‘n seun kon wees.  Dink dikwels met deernis aan hom.

Hannes Malan het uit Boskburg ‘n e-pos gestuur nadat hy in By van die Van Deventers se  Kimberleyjare gelees het in my Vadersdagartikel oor Pa Seun – die pa wat ek nie geken het nie weens sy te vroeë dood.

Hannes skryf:

“Ek het jou artikel in die By van 18 Junie met belangstelling gelees.

“Jou onthou het ook my en my vrou se onthou geword. Die skakelhuisie in Diagonalstraat 10 was ons eerste huisie nadat ons getroud is.

“Ons was die eienaars vanaf 1977 tot 1982.Jou artikel het goeie herinneringe terug gebring.Om een of ander rede het die huisie my altyd laat dink as dit kon praat, watter stories als daar sou kon uitkom. Wel hier is een.

“Ek kom nog van tyd tot tyd in Kimberley en sal graag vir jou n foto van die huisie stuur indien jy sou belangstel.”

Natuurlik het ek geesdriftig die aanbod aanvaar.

Eers die briefie van Trienette de Beer wat in Diagonaalstraat 5 gewoon het en toe die briefie van Hannes. Ons was as’t ware onder een dak – al was dit dekades uitmekaar.  Ek kon my oe nie glo nie.  Wonder of die sinkpplaatheining in 1977 nog daar was  – en die peperboom  in die agterplaas waaronder die kleinhuisie met sy lang houtbank en emmer was.

Ook uit die stad Deventer in die provinsie Overijssel in Nederland – die stad van my vadere –  het ek – al is dit onregstreeks – gehoor.

Jaap van Lille {weet ni van waar nie) het laat weet:

“My skoonsuster (my vrou se suster) woon al ‘n hele klompie jare in Nederland en ons het al ‘n hele paar kere vir hulle gaan kuier. Hulle was eers in Brummen, het toe vir ‘n paar jaar in Groningen gewoon en is nou weer terug in Zevenaar wat digby Arnhem is. Toe hulle in Brummen was, het ons gereeld Deventer besoek, want dit is die grootste plek daar naby en het ook die Lebuïnuskerk besoek.

“Jou artikel gaan oor ons wortels en dit was vir my so wonderlik om daar in die Lebuïnuskerk teen die mure in oud- Nederlands (wat verstommend naby aan ons eie taal Afrikaans is) tekste uit die Bybel en die Apostoliese Geloofsbelydenis te kon lees.

“Een jaar met ‘n winterreis na Nederland, het ons ‘n uitvoering van Kersliedere deur ‘n koor in die Lebuïnuskerk bygewoon wat ‘n blywende indruk op my gemaak het. Dit is indrukke soos hierdie wat vir ons, wat die gene van die Europeërs in ons dra, maar in Afrika woon, herinner waar ons vandaan kom en waarom dit vir ons moeilik is om die kulture van Afrika te aanvaar.

“My eie stamvader, Jakob van Lill(e), het in 1803 per skip van Rotterdam aan die Kaap geland, eintlik op pad na Batavia, maar op versoek in die Kaap gebly. Dit is heelwat later as jou stamvader.” (My stamvader, Gerrit Jansz het in 1687  na die Kaap gekom.)

Waarlik, hoe klein is die ou wêreld nie!

Deel dit: