Die TV-onderhoud waarvoor die uwe met 'n lang slap Cadillac kom haal is.

Die TV-onderhoud waarvoor die uwe met ‘n lang slap Cadillac kom haal is.

Percy Qoboza en Tehobo (Tsietsi) Mashinini sal vir altyd in hierdie Afrikaanse koerantmens se geheue afgeëts bly. Ek het 40 jaar gelede net na die Soweto-opstande in 1976 op die Harvard-kampus met die twee te doen gekry, en kan na al die jare nie help om te glimlag by die aanhoor van hul name nie.

Qoboza was in die jare 70 redakteur van die invloedryke swart koerant The World wat in ‘n sekere sin vir die wêreld-media die kernbron van geloofwaardige nuus oor die uitbarsting van swart woede in 1976 was.  Hy was die gesig van The World  (die koerant is later, in Oktober 1977, deur die Regering gesluit en sy redakteur ses maande lank sonder verhoor aangehou).  Die heelwat jonger Mashinini was op sy beurt ‘n prominente studenteleier.  Hy kan, met goeie reg, een van die die gesigte van die destydse aktivisme genoem word.

Albei die here het in die nagloed van Soweto Amerika besoek om gretige gehore eerstehands oor die stormagtige gebeurde hier te lande in te lig. Hul reise het hulle na die Harvard-kampus gebring waar die uwe juis toe op ‘n joernalistieke sabbatsjaar as Nieman Fellow was. Onvermydelik het die uiteenlopende Suid-Afrikaners se paaie in die vreemde gekruis, nie sonder beroering nie.

Qoboza het, ongelooflik soos dit klink, van die wit Suid-Afrikaner ‘n bondgenoot kom maak in ‘n skema wat die onbegrypende Niemangenote siedend van verontwaardiging gelaat het.  My en Mashinini se ontmoeting was aan die ander kant ver van gemoedelik. Dit was my beurt om  verontwaardig te wees.

Qoboza was my onmiddellike voorganger as Suid-Afrikaanse Nieman. Op Harvard het hy in die politieke klimaat van die tyd in sy jaar ‘n gedugte reputasie as vyand van die apartheidsregering verwerf. Nie verrassend nie, het die stof in Soweto skaars gaan lê voordat hy weer na Amerika genooi is. Hy sou as held van die “struggle” ook die opgewonde Nieman-klas van 1976/77 ontmoet en toespreek. Qoboza sou soos die Verlore Seun ontvang word. Die gemeste kalf is geslag.

Percy Qoboza

Percy Qoboza

Die aand voor die groot okkasie is daar ‘n kloppie aan die voordeur van 6 Crimson Court by 375 Harvard Street, die donker baksteen-woonstelgebou waar die Qobozas die vorige jaar in dieselfde beskeie kelderwoonstelletjie gewoon het. Die gas uit Suid-Afrika meld hom aan met ‘n verrassende wellewendheid en ‘n bottel Oude Meester in die hand. Hy kom net respekte aan sy opvolger betoon en sommer kyk of ons nog die tafeltjie het wat hy in die gang vir die karig gemeubileerde woonstelletjie geskaai het terwyl niksvermoedende Amerikaners besig was om in of uit te trek. (Die tafel was toe wel nog veilig op sy plek.)

Nou-ja, brandewyn het nie brieke nie! Die bottel sak vinnig en ons gesels land en sand, onder meer in bewoë eensgesindheid oor die wonderlike ontwikkeling dat wit en swart nou in ons gemeenskaplike vaderland saam sokker speel. Laterig kondig Qoboza aan ek moet hom Logan-lughawe toe vat; hy wil die laataand-pendelvlug Washington toe haal.

“Sê net weer!”

Ja, asseblief, antwoord Percy; hy is vir more se smartlike gehaaihoe van die spul Ooskus-liberaliste net mooi niks lus nie. Ek praat mooi. Soebat amper. Benadruk hoe almal reikhalsend na sy koms uitsien. Hoe kan hy dan nou net nie opdaag nie? Maar Qoboza hou voet by stuk. Wel, die man is my gas, en ek vat hom later, soos hy versoek het, met my Toyota-stasiewa  Logan toe – nogal ‘n yslike ent.

Die volgende dag bly ek liewer ver weg van die Nieman-hoofkwartier in Trowbridge Street af.  In ‘n stadium lui my telefoon in Crimson Court. Of ek dalk weet waar Percy hom bevind; hy’s darem al baie laat.  Dit word toe my taak om die sprakelose Niemans haarfyn oor die vorige aand se verloop in te lig – natuurlik met die klem op my ongeslaagde pogings om my mede-Suid-Afrikaner oor sy afspraak van besluit te laat verander.

Ek het nie gese van die ‘Ooskus-liberaliste’ nie. Ons is almal per slot van rekening Fellows. En ek en Qoboza Suid-Afrikaners.

Lank daarna wou my twee swart Amerikaanse mede-Niemans, Jack White en Barbara Reynolds, albei goeie vriende, nog nie glo wat gebeur het nie. Hennie en Percy en ‘n bottel Oude Meester? Kan nie wees nie.

Tsietsi Mashinini

Tsietsi Mashinini

Vroeg in 1977 daag Mashinini in Boston op.  Hy word genooi om op die plaaslike TV-oggendprogram, die Today Show, te verskyn, en die aanbieder. John Willis, klop by die Niemankantoor aan aan vir die naam van ‘n wit Suid-Afrikaner om die program te “balanseer”.  Die kurator, Jim Thomson, beveel “Hennie vên Dievender” aan. Daar was nie juis ‘n ander kandidaat nie!

Nee, ekskuus, gooi ek wal, ek kan regtig nie. . Ek praat daardie aand by die Council on Foreign Relations, in Portland, Maine oor die onderwerp: “Some misconceptions about South Africa.”  Maar dan is jy juis goed voorberei, kap Thomson terug.  Ek laat my maar ompraat, bespreek plek op ‘n later Greyhound-bus en ry die oggend na die buurdorp Watertown waar die TV-ateljees is.

By die ateljees wag en wag ek. Lank gebeur niks. Ná twee koppies koffie Americano kom verduidelik die verleë regisseur daar is ‘n “hiccup”; die jong gas weier om saam met ‘n Afrikaner in dieselfde program op te tree. Ná al die moeite en verdriet! Ek protesteer, maar vergeefs. Einde ten laaste is ek vort, taamlik verontwaardig en ontnugter oor die beroemde Amerikaanse regverdigheidsbeginsel waarvolgens almal die kans moet kry om gehoor te word.

Thomson was tot in sy siel liberaal en had vir die Suid-Afrikaanse bedeling van destyds min tyd. Toe hy egter hoor van die behandeling wat sy man te beurt geval het, is hy ewe verontwaardig as wat ek was. Hy bel dadelik die TV-stasie en sê reguit: So laat ek nie met ‘n Nieman Fellow mors nie! Geen van sy Fellows sal ooit weer aan enige van die stasie se programme deelneem nie, tensy Mister “Vên Dievender” sy kans kry.

Die uiteinde is toe ruim geleentheid om in ‘n volgende program my prate te praat. ‘n Cadillac-limousien word selfs gestuur om my by die huis te kom haal – tot verwondering van twee Suid-Afrikaanse kindertjies wat die status-simbool grootoog betrag.

‘n Bewys van hoe ‘n onvoorpelbare land Amerika is (was?), daag ‘n paar dae later met die pos ‘n koevert uit Manchester, New Hampshire, op. Binne is ‘n brief van William Loeb, uitgewer van die Manchester Union Leader, en een van Amerika se bekendste konserwatiewe denkers van doerie tyd. “Mooi so,” laat weet hy. En gee toe sommer ook raad hoe om my saak in die vervolg nog oortuigender te stel.

In Mei 1989 is in Cambridge ‘n groot Nieman-reünie gehou. Nieman Fellows het uit die uithoeke van Amerika en van elke vasteland na hierdie verre alma mater gestroom vir ‘n glansryke vyftigste verjaardagfees wat oor drie dae gestrek het. By hierdie geleentheid het ek Jim Thomson weer gesien. Hy was nie in ‘n goeie toestand nie. Waarskynlik van te veel Jack Daniels.   Toe ek vir hom sê sulke lojaliteit vergeet ek nimmer, het sy oë opgehelder. In Augustus 2002 is hy aan ‘n hartaanval oorlede.

(Percy Qoboza en Tsietsi Mashinini is albei ook al oorlede: Qoboza in 1988 op sy 50ste verjaardag ná ‘n massiewe hartaanval en Mashinini in 1990 in Conakry, Guineë, in geheimsinnige omstandighede.  Sommige glo hy is vermoor. Ander bespiegel dit was Vigs. Sy oorblyfsels is na Suid-Afrika gebring en rus in die reuse-Avalonbegraafplaas by Soweto. Op sy gedenkteken is die woorde “Black power” gegraveer. )

Deel dit: