OM OP TE HOU ROOK

As ‘n ervare veteraan op die gebied van ophou rook, wil ek met Oumatjie Zuma saamstem dat dit ‘n maklike ding is. Mastig, ek het dit persoonlik hoeveel keer reggekry!

‘n Keer wat ek in ‘n ophoufase was, is ek in 1990 via Londen na Rusland op besoek. Kollega Tertius Myburgh van die Sunday Times gee my die wenk dat ‘n mens ‘n hardekwas Rus se gesindheid maklik met ‘n pakkie Marlboro positief kan swaai. Ek vertrek toe uit Bloem met ‘n karton Marlboros in my koffer.

Tydens my oorslaap in Londen gaan kuier ek ‘n aand by ds. Henno Cronje. Hy haal ‘n vergete pakkie uit ‘n laai en ons steek oor ‘n Engelse bier of wat ‘n paar entjies aan.

Volgende oggend staan ek op met daardie hond-in-die-mond-gevoel. Net ‘n sigaret kan red. Wel in my koffer onder die kooi is ‘n hele karton. ‘n Sielestryd soos min ontvlam. Sal ek toegee of sal ek verbete my belofte aan gade Tokkie probeer gestand doen?

Seker ‘n halfuur lank staan ek verskeurd. Toe borsel ek my tande ‘n tweede keer en gaan eet brekfis. Die Marlboros is saam Moskou toe. Tertius se wenk het gewerk soos ‘n bom.

Maklik om op te hou? Doodmaklik, Oumatjie Zuma. Vra ou Hennie, hy weet.

Van rook gepraat. In Bloemfontein was in die 80’s ‘n dr. Hiemstra wat oor die stad se gesondheid moes waak. Een of ander gesagsamp by die munisipaliteit beklee.

Soos Oumatjie Zuma was sy nie lief vir sigarette nie. Sy skryf toe aan Die Volksblad ‘n brief waarin sy drie van die stad se grootste rook-rampokkers by die naam noem: Louis Botha, administrateur, Barnie Human, motormagnaat, en Hennie van Deventer, redakteur van Die Volksblad.

My kollega by die brieweblad het gewonder of hy so ‘n sensitiewe briefie moet plaas of liewer nie,

Ek het nie lank gedink nie. Vir my ‘n Rembrandt van Rijn opgesteek en toe ek die eerste wolkie rook in die lug blaas, spreek ek die oorwoe oordeel uit: sit hom in.

Sy is uit vele oorde gelukgewens. Ook uit my eie huis. Ek het my egter nie deur die “misipaal” (Johan van Wyk se woord) laat voorskryf nie! Ook nie Louis of Oom Barnie nie.

“HEF ‘N SIEGRET”

Oumatjie Zuma se eenvrou-oorlog teen tabak voer my  gedagtes terug tot een van Volksblad se kernelemente oor dekades: die rubriek Stop van Myne.  Toe ek die koerant as vyfjarige aan die voete van my oupa Visser in Kimberley gelees het, was Stop in elke uitgawe ‘n moet.

Toe ek die redaksiekantore einde 1958 die eerste keer as studentewerker instap, was Stop van Myne  volstoom aan die gang. Die logo was ‘n pyp en twaksak. Die skrywer daardie tyd, Renier (Oom Giep Joubert),  se persoonlike aanhang het gesorg vir genoeg biltong vir sy spens om ‘n hele winter mee deur te kom.

In my redakteursdae (1980 tot 1992) was die groot gees van Stop Johan van Wyk (die “Oom”) wat in ‘n kwarteeu ‘n asemrowende 6 000 rubrieke, of vier miljoen woorde, gelewer het. Sy resep het hom ikoonstatus besorg. Van sy uitdrukkings het volksbesit geword. Dink aan “ohopoho” wanneer dinge rof raak. Of “Hef ‘n siegret” (“Ingels” vir Stop van Myne).

Dit is laasgenoemde wat my aan die wonder gesit het. Sou Oumatjie Zuma  (“‘n misdaad is ‘n misdaad”) sulke uittarting geduld het? ‘n Rubriek wat mense elke dag in twee van die 11 ampstale uitnooi tot ‘n dampie? Dis mos skreiende uitdaging van die staatsgesag! Hoop die outeur sou darem ‘n keuse gekry het tussen ‘n boete en tronkstraf.

Dis natuurlik alles net speel-speel, Wat nie-speel is nie, is haar magsug wat soveel derduisende rokers se verwagtinge van ‘n verslapping in vlak 3 in rook laat opgaan het.  Of haar beweerde verbintenis met die mafia van die smokkelhandel met rookgoed. Sy ontken. Geen rook is egter sonder vuur nie.

Die belangrikste vraag is of sy die pyp rook in die gesagsposisie wat sy nou beklee. As jy uit my twaksak wil stop, is die antwoord NEE.

KYK NET DAAI ETIKET!

You can’t keep a good man down,” seg hulle op Engels. Ek verbuig ter wille van die blog die spreuk ietwat: “You can’t keep a good wine down.”

Vanoggend deur ‘n brokkie in Die Burger herinner aan die Suid-Afrikaanse wyn wat ek in 1985 by Kenneth Kaunda in Lusaka gedrink het. Die storie storie agter die storie volg,  maar eers net gou die brokkie in Die Burger wat my gedagtes in trurat gesit het. Dis in die rubriek “50 Jaar gelede”. Opskrif: “Wyn laat bloos”.

Die storie: “Die etiket op ‘n wynbottel het ‘n paar hoe Kanadese gister in Ottawa by ’n anti-Suid-Afrikaanse dinee erg in die verleentheid gehad.  Mitchell Sharp, minister van buitelandse sake, het 40 anti-apartheidsondersteuners na die dinee genooi om hul versoek om strenger sanksies teen SA te  bespreek.   Een van hulle het die servet om’n bottel wyn op die tafel verwyder … en gesien dis Suid-Afrikaans. Die bottel is dadelik deur ’n ander vervang.   Sharp het gebloos en om verskoning gevra vir die blaps.”

Herinner my toe aan een van my eerste ervarings van “oor-grens-diplomasie”. Dit was  was op 25 Mei 1985. Ek is daardie dag saam met die joernaliste Hugh Murray (Leadership), Willem de Klerk (Rapport), Jan van Zyl (SAUK), Tertius Myburgh (Sunday Times), Harvey Tyson (Star) en Harald Pakendorf (Vaderland) in ‘n Citation van Anglo American na Lusaka vir ‘n ontmoeting in State House met pres. Kaunda.

Daar was ‘n prikkelende gedagtewisseling, opgevolg deur ‘n lang middagete met wyn wat net nie kon opraak nie.  Die etiket was onbedek. Dit was Bertrams. Eg-Suid-Afrikaans.

Kaunda was in ‘n joviale bui en het selfs ná ‘n paar glasies vir ons ‘n Van der Merwegrap vertel: oor John Vorster wat, verwysende na Afrika se swart premiers, vir ‘n Amerikaner sou gesê het: “Waar ons vandaan kom, laat ons swartes die werk doen!”

Die teleurstelling van die dag was dat ‘n poging om ook by Oliver Tambo uit te kom op die nippertjie misluk het. Maar dis ‘n ander storie.

Op die foto’s is vir eers ‘n boodskappie van die president op my naamkaartjie aan tafel. Het die Zambiërs  maar vergewe dat hulle my naam Jakob met ‘n c gespel het. Baie mense doen dit.  Op die ander foto is die spyskaart van die dag.  Nogal lekker filet gewees. Die naam van die wyn ontbreek opsigtelik.

Die dag was om drie ander redes onthoubaar:

Een is die groot pie wat ek weens die baie wyn ontwikkel het. Die Citation se toilet was vol gepak met kartonbokse. Toe ons op Jan Smuts land en die deur oopgaan, het ek sommer bo van die trappe af my ding op die laaiblad gedoen. Ek was 35 jaar jonger as nou!

Twee: Ons was laat vir die aansluitingsvlug na Bloem en die verleë Tokkie moes ‘n ete-afspraak kanselleer wat die arme gashere lank gesukkel het om te reël.

Drie: Later bel Tokkie my in die hotelkamer in Johannesburg. Ons sou buitendien die ete misgeloop het. Sy is met Marisa (ons dogter) by die hopitaal. Dié het geval en haar arm gebreek.

VROT KOMMUNIKASIE

Volledige weergawe van my brief oor Covid 19 wat Saterdag in verkorte vorm in Die Burger verskyn het. 

‘n Hardnekkige virus wat die wệreld in ‘n wurggreep het, ‘n deurmekaarspul met regulasies wat nie altyd sin maak nie, magsdronk wetstoepassers en vrot kommunikasie. Roer hierdie vier elemente saam in ‘n pot. Die resultaat is ‘n brousel van verydeling, moedeloosheid, kommer en, uiteindelik, opstandigheid.

Die publiek, aanvanklik so gewillig om saam te werk en op te offer, raak toenemend vervreem. Sosiale media gons van onhebbelikhede wat dese en gene weens masgevergrype en swak oordeel moes verduur.

Hoe stoei jy jou pad oop uit so ‘n moeras? Kitsoplossings bestaan ongelukkig nie. Om eenvoudig net voort te ploeter, is egter geen manier om die moreel te lig en groter vertroue in die hantering van die krisis te vestig nie.

Skerp in die eerste plek jou kommunikasie op – ook intern, want tussen die “bevelsraad” se insigte en die uitvoering op grondvlak is opsigtelik reuseklowe. Om onderlinge wanbegrip en teenstrydighede te probeer stroomlyn, verg sterk leierskap wat ongelukkig op die oomblik ontbreek.

‘n Komitee (kollektief) kan nie aan die spits wees in ‘n krisis nie. Cyril Ramaphosa sal sterker, meer dinamies na vore moet kom, nie net dan en wan op TV verskyn (altyd ‘n rukkie laat weens allerlei konsultasies) en dan 40 minute lank ‘n motiveringsrede van ‘n skerm lees nie. Die land smag na die ferm hand van ‘n kaptein.

Nogal vreemd vir ‘n regering wat so lief is vir “spokespersons” het sy korona-kampanje nie ‘n bedrewe eie kommunikeerder in daardie rol nie. ‘n “Meneer (of Mevrou) Covid 19” is onontbeerlik om regulasies, veranderinge en beweegredes daagliks helder en bevatlik (nie mompelend) aan die publiek oor te dra.

Die aksie het ewe dringend ‘n eie ombudsman nodig – nie een wat lang ondersoeke van stapel laat loop nie, maar wat vinnig, met gesonde verstand, in onsekerhede en dispute uitsluitsel kan gee.

Ten laaste bestaan behoefte aan ‘n klagtelyn, 24/7 soos hulle sệ. ‘n Amptelike uitlaatklep kan van die venyn wat nou op sosiale media vloei, in vrugbaarder kanale stuur.

PIET ROOK STEEDS DIE PYP

Agter is Giel de Swardt, George James, Jan Conradie, Sam Cronje en Piet Henning met sy py[. voor is die uwe, Bossie Bosman en Ralph van Schoor (kaptein).

Agter is Giel de Swardt, George James, Jan Conradie, Sam Cronje en Piet Henning met sy pyp.  Voor is die uwe, Bossie Bosman en Ralph van Schoor (klubkaptein).

Onder die “ienks” (eerstejaars) van 1958 in Kollege-tehuis was ene Piet Henning van die plaas Sweetwaters, Louis Trichardt. Wat hom van ons gewone vaal Boertjies onderskei het, is dat hy uit die “fênsie” St. John’s College in Johannesburg by Tukkies opgedaag het.  St. John’s  het van hom ‘n fyner jintelman gemaak as die res. Ongetwyfeld. Engelse private skole maak hul merk op ‘n mens. “

Opstêrs” was “ienk” P.B. Henning egter nooit.  Inteendeel! Dié lekker ou uit die Soutpansberg was dadelik 100% “een van ons”. Hy het boonop ‘n indrukwekkende repertorium oneerbiedige rugbyliedjies geken. Piet se “songs” was in die algemeen slimmer, ouliker, oorspronkliker, verfynder en … gewaagder … as bekendes soos “Die maan skyn so helder op my p….” en daardie klas ding wat ons Wes-Transvalers graag gesing het as ons, dikwels op ‘n oop vragmotor, van Potjiesdorp na plekke soos Klerksdorp, Lichtenburg en  Ventersdorp gereis het om op die sportveld te gaan kragte meet.

Piet se repertorium het gevorderde liedjies soos hierdie ene van St. Johns se buurskool, die meisiekool Rodean, ingesluit: “We are the girls from Rodeon High/ we take pride in our virginity/ we take precautions by having abortions/ we are the girls from Rodean High.” Veel meer gesofistikeerd as enigiets wat ons geken het, het ons gedink.

In ons tweede jaar het ek en Piet ‘n “onderskeiding” te beurt geval wat nie in elke geselskap hardop genoem kan word sonder die gevaar van veroordeling nie. Ons was naamlik lede van ‘n klub wat eufemisties as Kollege se Bierklub bekend was. Onder ons het ons sommer van die “Boozeklub” gepraat. Elke Vrydagaand was ons by Ta’ Bella  (die Hotel Belvedere) vir ‘n bietjie “tee”.  Ek plaas die foto hierbo in die oortuiging dat ons lewens sedert 1959 ons darem van ‘n ewige brandmerk behoort te vrywaar,

In 1963, toe Piet 23 was en ek 22, het hy vir my Ayn Rand se formidabele boek “The Fountainhead” present gegee – een van die beste boeke wat ek gelees het. ‘n Latere geskenk, net enkele jare gelede,  was Bill Bryson se kosbare “A really short history of nearly everything.”  Die keuse van boeke getuig van hierdie vriend van 62 jaar lank se stoffasie, meen ek.

Deur harde werk en met waagmoed en idealisme het Piet ‘n suikerbaron en ‘n voorste wildboer in Chiredzi,  Zimbabwe, geword, ‘n groot werkskepper en sterk bydraer tot die Zimbabwiese ekonomie. Die pyprokende Piet van ons studentedae het as boer die spreekwoordelikw pyp gerook dat die blou walms in die lug hang.

Vir wit boere in onse buurlandjie het dinge weens al die onbekookte grond-dramas natuurlik in die Mugabe-era maar taai geraak, bitter taai. Piet, sy vrou, Moraig, en hul seun, Greg, was van die ergste slagoffers van gewapende plundertogte deur bendes van korrupte, grondhonger oorlogsveterane, polisiemanne en soldate, asook van voortdurende viktimisasie en intimidasie deur grypsugtige politici en amptenare. Hul private wildreservaat, met “lodge”, rondawels en al, is verwoes. Duur, gesofistikeerde trekkers en swaar plaastoerusting vir die suikerboerdery is gestroop.

Die Hennings kon net magteloos toekyk hoe amper alles wat hulle opgebou het, tot niet gaan.

Vandag, 5 Mei 2020, vier Piet sy 80ste op sy plek van herkoms, Louis Trichardt, waar hy nou weer gevestig is. Ek weet hy gaan vir my tong uitsteek dat hy voor my by daardie baken kom.  Maar ek is vinnig pad, Piet. Te vinnig eintlik.  3 Januarie is om die draai.

Die laaste jare het Piet moedig aan vele fronte en in vele forums gestry vir. kompensasie vir die enome skades en verliese van miljoene der miljoene wat hulle gely het. Die resultate was maar effentjies teenoor die geld, tyd, energie en geestelike staal wat dit geverg het.

Oor waar hierdie goeie ou Kollegemaat die geestelike stamina kry om so hardnekkig te bly vasbyt, het ek al dikwels gewonder.  Andere sou al lankal tou opgegooi en op ‘n hopie gaan sit het. Maar Piet is een van daardie bewonderenswaardige mense wat ligstraaltjies gewaar waar ander net duisternis sien,

Hy rook nie regtig meer pyp nie, soos ek al lank nie meer sigarette rook nie. Hy volhard egter steeds om aan daardie spreekwoordelike pyp te suie deur so waardig en blymoedig teen die aanslae staande te bly. Simbolies is Piet nog altyd ‘n pyproker van formaat. En nog altyd dieselfde  kwaliteitsmens van dieselfde staal wat 62 jaar gelede by Kollege aangekom het.  Geluk, Piet. Hamba kahle.