VIR JAN TUISBLYERS

Lekker om jou rekenaar na twee dae in ‘n werkwinkel oop te maak en so ‘n ruiker op jou Facebookblad raak te loop.  Dankie, Louise Viljoen.  Ek brand om die volledige resensie op Maroela Media te lees.

“Hennie van Deventer, voorheen redakteur van Volksblad en ook die uitvoerende hoof van koerante van Naspers, se Na verre hawens is een van daardie boeke wat jy lees as jy noodgedwonge met Jan Tuisbly se karretjie moet ry. Die boek beslaan 256 bladsye propvol onvergeetlike vertellinge van Hennie en Tokkie – albei gesoute wêreldreisigers – se bootvaarte oor ’n halfeeu heen. Dit bevat ook interessante navorsing oor die vaartuie waarop hulle gevaar het asook die plekke waar hulle aangedoen het. Ek het heerlik hieraan gelees! My resensie oor Na Verre Hawens verskyn weldra op Maroela Media. Bestel gerus die boek direk by tertiaswart@naledi.online.”

Na verre hawens (Hennie Van Deventer#LouiseBoeke #EkLeesNaledi

 

ORAL NEE VIR SWERWERS TER SEE

Die Costa Pacifica.

Die Costa Pacifica.

Die Prediker het, verstandiglik, al gewaarsku dat daar ‘n tyd is om te omhels en ‘n tyd om weg te bly van omhelsing af.  Die kneukelgroet en die elmboog-groet is waarskynlik die beste moontlike voorbeelde van wat hy bedoel het.  Natuurlik ook die een-meter-reël, hoewel ‘n mens wonder hoeveel jonges hulle aan hierdie dinge gaan steur. Dit daarby gelaat.

In aansluiting by die Prediker se motto dat elke ding sy vaste tyd het, wil ek graag ‘n eie straaltjie byvoeg. Dit is: daar is ‘n tyd om “na verre hawens” te vaar. Daar is ook ‘n tyd om ver van “verre hawens” weg bly. Nou is klaarblyklik so ‘n tyd.

Meen: In watter hawe waar kan ‘n mens met vrymoedigheid aankom met net jou paspoort en, indien nodig, visum in jou sak, dan’s alles piekfyn. Deesdae is op feitlik elke hawe ‘n kennisgewing opgesit: “Gesluit vir die Covid-19-seisoen”.

‘n Matriekmaat van Tokkie van Bultfontein se dae, Carien Weyers, bevind haar op die oomblik in so ‘n oral-onwelkom-penarie op die Middellandse see. Haar klasmaats word per whatsapp deel van die drama.  Carien en haar man, prof. Almero Weyers, afgetrede hoogleraar in sielkunde aan die Vrystaatse Universiteit,  bevind hulle ter see op die Costa Pacfica (meen ek) wat op 3 Maart uit Buenos Aires vertrek het na Barcelona in Spanje. Daar is 168 Suid-Afrikners op die skip.

Van toe af vaar hulle, vaar hulle, vaar hulle. Nêrens, by geen hawe,  is die skip welkom sodat hulle ’n bietjie kan rondkyk  en bene op vaste aarde rek nie.

Gister laat weet sy eers hulle mik nou maar Marseilles omdat Barcelona ontoeganklik is. Later hoor ons: net Duitsers, Amerikaners,  Kanadese en Franse is toegelaat om die skip te verlaat. Teen 13:00 is  ankers gelig en het die Costa weer begin begin vaar omdat hulle skynbaar “onwettig” in Marseilles was. Waarheen weet g’n mens. Die wat weet. wil nie sê nie.  Is dit  Savona in Italië . Is dit Genoa?

Die passasiers wat Engels kan praat of verstaan het blykbaar bande gesmee.  Hulle sou uit hul geledere ‘n komitee kies om vir die kaptein te gaan sê hulle gaan sowaar nie in Genoa afklim nie, kom wat wil. Daardie Italiaanse hawe lê omtrent in die episentrum van die huidige rooiste van rooi gebiede.   Hoop vir Almero en Carien en die ander se onthalwe hul pleidooi val nie op dowe ore nie, maar die wind waai frisserig wes.

Op die webblad Friends of the MSC was gister ‘n noodoproep van ene Tozelle Kohlmeyer dat iemand tog haar ouers te hulp moet snel. Hulle is onder die 168  Suid –Afrikaners wat weier om in Genoa af   te klim.  Volgens Tozelle word hulle met inhegtenisneming gedreig as hulle sou weier om te gehoorsaam.  Onder hulle heers blykbaar ontsteltenis, selfs paniek.

Op ‘n ander Costaskip,  die Costa Luminosa is die passasiers sedert Sondag in hul kajuite in kwarantyn nadat vier passasiers positief vir Covid- 19 getoets is. Op die skip is 36 Suid-Afrikaners.  Die vier koronalyers het intussen die skip verlaat. Die skip het op 24 Februarie Fort Lauderdale verlaat en is ook nou in Italianse waters, blykbaar op koers Savona of  … behoede dit .. Genoa toe.

(Die Costastories herinner ook aan ‘n ander Bybelse woord, nie waar nie, dat jy, as jy oud is, na plekke geneem sal word waar jy nie wil wees nie!)

 

MSC MUSICA – ‘n OPPIWATERSTORIE

Cappucinno with the Cornells.

Cappucinno with the Cornells.

Die Oppiwaterkunstefees verskuif tot 25 -30 Januarie 2021 op die MSC Musica. Vir die VanD’s is dit ‘n skip met vele herinneringe. Ons is op hom langs Oos-Afrika op terug na Europa in 2019, al langs die Somaliese kus met sy seerowergevaar. En deur die Suezkanaal. Wat ‘n ervaring!

Waar die Adriatiese kus van Montenegro en Kroasië ons voete op die vaart met sy natuurskoon onder ons uitgeslaan het, het die weldaad van twee wildvreemde Britte dit met hul ruimhartigheid gedoen.  Ons het langs die swembad, een van drie, oor ‘n koppie tee met die twee, Garry en Christine Cornell van Hayling Island, Hampshire, aan die gesels geraak. Ek bekla toe my lot oor ‘n selfoon wat, ondanks voorsorg en die beloftes van die diensverskaffer, geen sein wou optel nie.

Ek bemerk Garry loer vir Christine en Christine loer vir Garry. Die volgende oomblik verras die twee my met hul gulle aanbod.  ‘n Internetdiens is deel van hul toerpakket maar hulle gebruik dit nie. Ek kan dit met plesier kry as ek wil. Vinnig-vinnig is die MSCMusicahotspot gevind en verbind. Van daardie oomblik is my alias Garry Cornell. Skakel ek die rekenaar aan, groet Google my met ‘n “Hello, Hennie”.  Gaan ek na die Musica-toep is dit: “Hello, Garry”.

Later stel ons vas dit is die dag, Donderdag 2 Mei,  Christine se verjaardag. Aan wyn sit die twee Cornells nie hul monde nie, maar ons het die verjaardag darem met sterk Italiaanse cappucinno gevier. Cappucinno met die Cornells het ‘n instelling geword.  Gewoonlik is dit die een wat verjaar wat die geskenk kry. Die ander kry koffie en koek. Hier het dit net mooi andersom gewerk – tot ewigdurende voordeel vir die ontvanger se lewenslange sug na kommunikasie met die buitewệreld.  Hoop Christine sal die Bybelse woord oorvloedig beleef dat dit beter is om te gee as om te ontvang!

Vir haar volgende verjaardag het ek vir Christine ’n eksemplaar van my reisboek “Na verre hawens” Hampshire toe gepos met ‘n vertaling van die relevante paragrawe. Soos dinge sooms onverklarbaar uitwerk, kry ek net gister van Garry uit die bloute ‘n  Facebook-boodskap: die boek is daar. Met die komplimente van die SA Poskantoor en UK Mail. Enkele ure later kom die nuus dat die Oppiwaterfees nou Musica toe verskuif.  Is dit nou nie toeval nie!

EERS MOORD, TOE VLAMME

IMG-20200315-WA0019 IMG-20200315-WA0022 IMG-20200315-WA0020   

My kollega Eric Wiese is op Vrydag 4 Augustus 2017 in sy huis in Trekweg, Higgovale, Kaapstad, vermoor. Gister is daardie selfde huis in die reusebrand teen Tafelberg afgebrand.

Sannie, Eric se weduwee, het intussen verhuis en die huis word verhuur. Natuurlik is die trauma steeds baie, baie erg. Sannie, Kobus, hul seun uit Amerika wat in die Cape Argus-fietsren gery het, en ‘n Amerikaanse vriend het vir die Sondag ‘n plattelandse reis onderneem toe hulle op Swellendam die nuus oor die brand kry.

Die huurders en bure het sy aan sy met die brandbestryders geveg. Die wind was te sterk. Die huis met al sy herinneringe, goed en sleg, is deur die vlamme verwoes.

Met die hofsaak agter die rug en feitlik al die papierwerk rondom die dood van Eric –die “prins van syfermense”, het ek hom genoem – afgehandel, het dinge net begin stabiliseer. Nou die ramp. ‘n Mens staan verbysterd saam met die Wiese-gesin.

EKSKUSE IN ALLER YL

Terwyl in die base se kantore by my ou werkplek, Naspers, seker op hierdie moment kwaai kopgekrap word oor die dodelike ope brief van prokureur Johan Victor, oor die Bird Island-gedoente, kan twee ligter storietjies oor Pers-verleenthede en die flinke reaksie daarop nie kwaad doen nie, meen ek.

Die eerste raak mev. Maria Malan, tweede eggenote, van dr. D.F. Malan wat in 1948 premier geword (en 31 jaar jonger as wat hy was). Ockie Geyser noem haar in sy boek oor die vroue agter vorige leiers , amper eufemisties, “nie ‘n maklik mens nie”. Seker die dat Die Burger ‘n motor vol senior redakteurs so onverwyld Groote Schuur toe gestuur het om te gaan ekskuus vra oor ‘n”ligte mistykie” in die koerant ná die egpaar se eerste ampsreis na die buiteland in 1949. Die reis het Parys ingesluit.

Oorsese reise was in die jare 40 nog ver van doodgewoon en die gebruik van koerante was om na elke reis van ‘n bekende oor sy of haar indrukke van die vreemde te gaan voer. Ook mev. Malan is om ‘n onderhoud genader. Sy word toe gevra wat sy van die modes in die modehoofstad Parys gedink het. Mev, Malan se antwoord was saaklik: sy het nie juis na die modes opgelet nie. Sy stel nie eintlik belang in modes nie, want sy het so grootgeword.

‘n Oorywerige subredakteur verander die “grootgeword” in “groot geword” (twee woorde). Die puntenerige hoofsubredakteur lees die geredigeerde berig en plaas toe ook sy stempel daarop. Hy verander die “groot geword” tot “geset geword”.

Volgens koerantoorleweringe was die premiersvrou nie geamuseerd nie. Sy het wel darem eindelik die verskoning (plus ‘n duur ruiker) uit die redakteur, destyds Phil Weber, se hand aanvaar.

By (Die) Volksblad  is weer ‘n slag skeefgetrap met die Olimpiese hoogspringkampioen Esther Brand.  Dit was in die dae toe berigte nog in warm lood  deur vakmmanne geset is. By ‘n berig oor haar buitengewone atletiese vermoëns oor die dwarsbalk voeg ‘n ondeunde setter toe by: “En dan is sy boonop ‘n virgin”.

Die proeflesers lees dit mis. Die eerste uitgawe verskyn. Iemand in die sportkantoor lees die naskriffie en maak alarm. Maar te laat. Die vragmotor met die koerante vir Kimberley –  waar die waardige mev. Brand en haar man, Jan, destyds gewoon het, is reeds vort.

Selle storie as by Die Burger. ‘n Deputasie swaargewigte by die koerant word vinnig in ‘n motor gedompel en laat vat Kimberley toe. Skuins voor Dealesville sny hulle by die vragmotor met die gewraakte koerante verby.

Uiteindelik was hulle betyds om haar voor te berei op die skok en nederig om verskoning te vra.  Sy was inskiklik. Eggenoot Jan was egter erg gesteurd – soos enige viriele man in sulke omstandighede seker sou wees.

Wie daardie setter was, weet niemand tot vandag toe nie.  Sy fabriekskollegas en vakbond het soos oesters toegeslaan.