DIS WEER DOOPTYD IN SKUKUZA

Kerk in Skukuza.

Kerk in Skukuza.

Sondag toe ons die unieke doopvont – ‘n knoetsige stomp hardekool op wieletjies (omdat dit so swaar is) – voor die kansel sien staan, besef ons dadelik: vandag word hier gedoop in Skukuza-kerk.

Doop is, raar maar waar, ’n seldsaamheid in die wildtuingemeente. Sondag was maar ons tweede in die oor die 20 jaar dat ons in Sabiepark kom kuier. Dit beteken natuurlik geensins in al die jare is net twee keer gedoop nie, genade, nee – maar ds. Carl Louwrens bevestig:  die doop is ’n sakrament wat in sy kerk nie aldag bedien word nie Hoekom, weet hy nie. Sy eie plig het hy immers nie in die verband versuim nie, gee hy met ‘n vonkel in die oog die versekering.

So min word, trouens, gedoop dat hy elke keer skaars sy lus kan bedwing om die hele uitvoerige doopformulier woord vir woord te lees voordat hy die gebruiklike vrae aan die doopouers stel.

Sondag het die doopouers, Conrad en Maya Booyens van Letaba, hom as ’t ware gesystap  – darem met sy goedkeuring.  Die doop-belofte was ’n intieme selfgeskepte dokument. Mamma Maya het dit voorgedra – plek-plek met ’n bewende onderlip. Pappa Conrad, trots soos ‘n pou, het uit die Bybelboek Sagaria ’n stukkie voorgelees.

Klein Hugo Booyens was ’n regte meneertjie so met sy deftige kruisbande en al.  Stroopsoet en geduldig het hy in sy ma se arms gesit  terwyl ’n video van hom in ’n verskeidenheid monderings in verskillende omgewings vertoon is. Op een skyfie was hy op ’n antieke wakis, het dit gelyk.  Op ’n ander weer op ’n moderne smuktassie.  Elke grootouer het kans gekry om vir die kamera die kleinkind vas te hou.

Wat my en Tokkie betref, was hierdie karaktervolle doop ’n tradisie wat voortgesit is. Ook ons eerste doop in hierdie intieme boskerkie in die personeeldorp, waar vlakvarke soms die grasperk omdolwe en voëls in die reuse-koorsboom by die trappe hul eie koorsang aanhef, was iets om te onthou.

Die meisietjie se rokkie was die ene donsige tarentaalveertjies. ‘n Kinderkoor het haar toegesing, ‘n CD is gespeel en in die voorportaal was ‘n reuse-tietiebottel: een waarmee wees-olifantjies gevoed word.  Na die diens was daar ‘n kreunende koektafel onder die bome wat elke kerkbasaar eer sou aandoen. Die dooptee was vir almal in die kerk – ook vir die uwe in sy sportiewe vakansiedrag wat toe nog ‘n volslae vreemdeling vir die liewe mense van Skukuza was.

Ds. Carl het altyd ‘n boodskap wat tref. Sondag het hy almal weer diep laat nadink oor die voorbeeld wat hulle stel vir hul  kinders wat hul voetspore sal moet volstaan.  Hoor julle kinders julle byvoorbeeld ooit hardop bid? Sit julle ooit saam om ‘n tafel en lees uit die Bybel?

In April doop hy ‘n eie kleinkind – sy tweede dogter, Madge, se  dogter – in die gemeente Blouberg in die Kaap, ons buurgemeente. Vir seker gaan die Van Deventers die geleentheid bywoon, Wonder net of die hele formulier dan gelees gaan word. En of ds. Carl dalk ‘n bietjie bewoë gaan raak, soos sy vrou, Sarah, stellig verwag.

 

“MAAR EEN VAN DAARDIE DINGE”

 

Aan die vooraand van ‘n langnaweek is by die Vrystaatse Universiteit ‘n sogenaamde ope dag gehou om matrieks op die kampus rond te wys en touwys te maak. In die groep van die Sentrale Hoërskool was ‘n seun van 18 wat al van ses maande oud ‘n diabeet was. Almal was bewus van sy probleem.

Die middag het hy nie op die gewone tyd by die huis opgedaag nie. Namate die ure rek, het sy ma, Tokkie,  al hoe bekommerder geword. Later het sy vriende van hom begin bel. Nee, hulle het hom nie op die bus terug gewaar nie. Sy het die skool probeer. Daar was geen teken van lewe nie. Die hekke was gesluit en die langnaweek in volle gang.

Radeloos, probeer sy toe die universiteit. Die skakelbord was nog oop en skakel haar deur na ‘n vriend by die openbare skakelafdeling wie se pa ook ‘n diabeet was. Hy het dadelik die erns van die situasie besef en alarm gemaak. ‘n Veiligheidwag op sy laaste rondes om lokale te sluit, ontdek toe die bewustelose seun uitgestrek op die vloer van ‘n lesingsaal.

‘n Ambulans is ontbied. Dié jaag met hom  na die Universitas-hospitaal langs die kampus .

Toe sy ma by die hospitaal kom, loop sy haar vas in ‘n uitgebreide mediese span onder aanvoering van die hoogs ontstelde professor wat die seun gewoonlik behandel.  Die pasiënt was steeds bewusteloos en aan ‘n klomp pype gekoppel.    Voorbereidings is getref om hom ‘n hartskok toe te dien as sy hart sou gaan staan.

Die binne-aarse toediening van glukose was gelukkig betyds en voldoende. ‘n Hartskok is net-net afgeweer. Ure later het  hy dronkerig sy bewussyn herwin.  “Waar is ek? Wat maak ek hier” wou hy by sy ouers langs sy bed weet.

Einde van die storie – buiten vir die medies rekenings natuurlik!

By die skool het geen haan weer daaroor gekraai nie. Die skoolhoof het in salige onkunde voortgeleef.  Die “verantwoordelike” onderwyser – onverskillige bliksem! – is nooit voor stok gekry nie. Dalk het hy selfs later ‘n senior pos beklee danksy ‘n “skoon rekord”.   Hopelik darem nie. Want ek haas my om by te voeg: in die onderwys was ook baie voortreflikes wie se toewyding niemand kon bevraagteken nie.

In die kultuur van die tyd was wat gebeur het,  maar “een van daardie dinge” – ‘n ongelukkige glipsie wat ter wille van die vrede en  verhoudinge stilletjies onder die mat ingevee is. Onthou, dit was  30 jaar gelede: toe niemand nog van Facebook en ander sosiale media gehoor het nie.

Die dood van  Enock Mpianzi (13) ruk die deksel af.   Ons seun, Johan, nou 48, kon ook dood gewees het, besef ons opnuut. Trouens, hy sou ongetwyfeld dood gewees het as daardie veiligheidwag hom nie die Vrydagmiddag bewusteloos op die vloer gekry het nie. Iemand sou die Dinsdagoggend op die lyk afgekom het. Dalk sou die onderwyser dan moes verduidelik waarom op die bus terug een minder kind was as op die bus die oggend.

Die ontsteltenis oor die argelose pligsversuim in die geval van Enock vind sterk aanklank in ons gesin.  ‘n  Lastige skuldgevoel knaag terselfdertyd. Om koppe te tel, is tog ‘n basiese vorm van kontrole. Hoekom het ons die saak dan maar gelos? As ons en andere oor soveel jare skuldiges nie skotvry laat kom het nie, was daardie basiese, noodsaaklike, feitlik vanselfsprekende  dissipline dalk teen hierdie tyd beter ingedril by elke onderwyser wat oor die heil van groepe moet waak.

Ons oorversigtigheid om “nie op tone te trap nie”, was ‘n fout.   Kom ons erken dit maar eerlik. Hopelik is dit nooit te laat om ekskuus te vra aan almal wat in die 30 jaar na die amperse treurspel op die kampus van die Vrystaatse Universiteit die lydende partye van gruwelike agtelosigheid was nie.

SOPHIA EN DIE SKEPE

Sophia doop een van die 15 skepe

Sophia doop een van die 15 skepe op haar kerfstok

Het jy geweet:

* Sophia Loren (foto) het al 15 skepe “gedoop” – loshande die meeste van alle koninginne, prinsesse en glansmense;

* Cunard se Queen Mary2 kan drie Titanics insluk?

* Seerowers het die MSC Melody in 2009 aan die kus van Oos-Afrika aangeval en is o.m. deur pasassasiers met dekstoele verdryf?

Skeepvaartbrokkies soos bogenoemde kom voor in my boteboek “Na verre hawens” (uitgegee deur Naledi)  waaroor op Dinsdag 4 Februarie met Elsje van Jaarsveld op Pretroria FM ‘n regstreekse radio-onderhoud gevoer word.

Die tyd: Dinsdag 4 Februarie om 10:30. Die stasie: PretoriaFM.

  • “Na verre hawens” is by boekwinkels. Die boek ook kan regstreeks aanlyn bestel word by Naledi,online.  Kontakpersoon is Tertia Swart by tertiaswart@naledi.online. 

STORMAGTIGE VERWELKOMING

Drie generasies in Tarlehoet se swembad.

Drie generasies in Tarlehoet se swembad.

So ‘n stormagtige verwelkoming het ons in twee dekades nie in die Laeveld beleef nie: die donker hemel wat as’ t ware soos ‘n stuk lap oopskeur en die water in emmers laat neerstort.

Dit gebeur toe ons Sondag van OR Tambo af per bus in Nelspruit opdaag.  Johan moet ons daar kom haal met die Honda.  Min weet ons watter stryd hy voer om die taak te kom verrig. Hy ontdek iets aan die Honda waarvan ek nog nooit in my 79 jaar gehoor het nie. Weens ‘n fout in die bedrading – skynbaar – stroom die warm lug oral in sodra jy die ligte aanskakel.  Ja, Gevolg?  Die ruite wasem terstond toe.  Gelukkig kry Johan ‘n handdoek in die kar, maar maklik was dit nie: om met die een hand die kar in die pad en die ander die voorruit darem effens deursigtig te hou.

Hoe lank die storm aangehou het, weet ek nie. Nelspruit se strate was omtrent riviere. Ek was in die gietende reën skoon verdwaal – het in ’n stadium geglo ons is op pad terug Witbank toe! In, elk geval, ek en Tokkie het plekke geruil. Sy is tot  beheer van die handdoek gepromoveer –‘n deksels uitdagende taak. By Tarlehoet het ‘n ongeduldige Migael gewag. Hy soek Oupa en Ouma dadelik – maar dadelik in die swembad! Die aand het die ribbetjie op die kole gesis.  Geen teken van reën nie.

Die tipiese Laevelde donderstorm volg op ‘n taamlik onstuimige ontwrigting van die Van Deventers (juniors) se Kersmaal op Tarlehoet se stoep. Johan, Mariza, Migael en Kenny (M se onderwyser/versorger) was onthuts toe ‘n meneer met onheilspellende geel strepe skielik uit die stoep se grasdak plons terwyl hulle vir middagete aansit. ‘n Takslang (ook bekend as voelslang) – ‘n dodelike slang waarvoor geen teengif nog ontdek is nie, was my langafstand-identifikasie.

Slang se kind het later tussen die houte in die braaiplek verdwyn. Toe Sabiepark se slangvangers sy avontuurtjie kom kortknip, ontdek hulle ‘n maat. Twee slange aan ‘n Kerstafel. Laat ‘n mens nogal ril. Nie elke dag se ding nie. Nog ‘n ongenooide besoeker was ‘n veldlikkewaan op die motorafdak.

Vir wat dit werd is, was my identifikasie heel uit die kol. “Oom Hennie, dis ‘n skadelose westelike geelpenssandslang,“ het Lorinda  Steenkamp   van hoër op in Wildevy laat weet. Sy is ‘n kenner. Ekskuus oor my ‘ligte mistykie’

Pluspunte so op die Kersdag was die span VanD se eerste sien van die park se nuwe swartwitpense. Op hyl lysie is o.m ook ‘n luiperd in die wildtuin,  olifante, buffels en seekoeie by die piekniekplek, wildebeeste, bloukuifloeries by Tarlehoet en  nagapies. Minder aangenaam was dit om ‘n wildebesie met ‘n gebreekte been raak te loop.  Hy moes uitgesit word, soos een met ‘n gebreekte nek ‘n paar dae tevore. Waarskynlik hiëna se werk.  Laasgenoemde is egter net gehoor. Nooit gesien nie

Ek en Tokkie soek die swartwitpense – nuwe statussimbool van Sabiepark – nog vergeefs. Wat ons aangenaam verras het. is die vordering met rasseskrede van ons troetel-appelblaarboompie agter die huis. Hy het maar lank gesukkel. Ook die aartappelbos wat die uwe in ‘n stadium as dood gesertifiseer het, is is groen getooi. Om nie te praat van al die rosyntjiebosse wat langs die swembad opgeskiet het nie.

Ons hoor aaneen die Piet-my-vrou. Die bosveldsvisvanger is vreemd stil. Saans is die paddas bra luidrugtig. Die hiena bly roep maar kruip weg.

‘n Onafgehandelde taak wat soos ‘n aflosstokkie van die een span VanD aan die ander span VanD aangegee is, is die dophou van die kragstelsel se kodeliggies wat die stand van die batterye verraai.  Dié openbaar sedert opgradering om ‘n elektriese yskas (groot aanwins!) te kan aanskaf, nogal ‘n wispelturigheid. Die vrees is gedurig aanwesig dat die spulletjie ‘n Eskom op ons kan trek.  Sal later rapporteer of ons die kwale – soos die Honda se lugversorger s’n – kon uitsorteer.

En die swembadjie? Natuurlik ‘n fees in die Laeveldse somerhitte. Oupa en Ouma het hulle heel gewillig deur Migael laat opkommandeer om saam die water te kom geniet.  Net dankbaar hy is hier weg sonder ‘n paar tande minus.  Soos hy vreesloos van die een muurtjie na die ander spring, het Oupa elke keer laat ys vir ‘n smesj.

Oor Ouma se beroemde  “renostermelk” het ek al vantevore met lof hier geskryf. In die drankkabinet is met komplimnte van die VanD’s nou ‘n professionele weergawe: ‘n Royal Rhino African- roomlikeur. Kom nogal in ‘n houer op ‘n haar soos ‘n renosterhoring.  Ons brand om te proe. Vanaand is dalk die aand!