DIE OU VLAG

En Die Vlaglied nou wat ons as kinders so uit volle bors gesing het?  Mag dit seker nie meer sing nie. Sal hopelik darem as versagtende omstandighede gereken word by vonnisoplegging as jy betrap word dat jy die wysie net neurie?
 ——————–
Nooit hoef jou kinders wat trou is te vra:
 
Wat beteken jou vlag dan Suid-Afrika?
 
Ons weet hy’s die seël van ons vryheid en reg
 
vir naaste en vreemde, vir oorman en kneg;
 
die pand van ons erf’nis, geslag op geslag,
 
om te hou vir ons kinders se kinders wat wag;
 
ons nasie se grondbrief van eiendomsland,
uitgegee op gesag van die Hoogste se hand.
Oor ons hoof sal ons hys, in ons hart sal ons dra,
die vlag van ons eie Suid-Afrika.

RAAISEL VAN GEVEERDES SE BADJIE

Hoogtepunt.

Hoogtepunt.

Een van die raaisels van Sabiepark het verdiep.  Hoekom, wonder ek, verkies die diere om uit die klein voëlbadjie neffens die watergat te drink? Is die watergat dalk nie so aanloklik en gerieflik soos ons dink nie?

Die water is in elk geval presies dieselfde. Tokkie kan kwalik voorbly om emmers uit die watergat te skep en oor te karwei.  Vier tot vyf emmers op ‘n slag.  Die jongste gebruikers van die voëlbad vir drinkdoeleindes  is die njalas, veral die ooitjies.  Hulle volg in die spore van o.m. die koedoes, sebras, bosbokkies, bobbejane en blou-apies.

Die njalabul drink tot sy krediet ook onverstoord en sonder fiemies uit die watergat.  Die watervlak verklap dat hy nie die enigste is nie.  Die ander dorstiges drink blykbaar in die donker of wanneer ons ons rûe draai.

Die voëllewe was lewendiger as ooit.  Spreeus is dreunend soos ‘n vliegtuig in swart swerms hier oor. Tokkie moet eintlik daarvan vertel. Gekroonde neushorings het lang tye hier rondgesit en in die Honda se vensters hul profiele bewonder.  Sysies, blou en rooi, het gebad dat die water spat.  Bloukuifloeries was aanvanklik volop.  Seker kos aan later weggeraak?

Ons pak op.  Dat die vervroegde oppakkery so netjies  saamgeval het met volmaan was natuurlik onbepland. Was nietemin genoeglik om in die helder maanlig die laaste aand of twee op die agterstoep te braai.  Die bos skitter op sy mooiste as die maan ‘n ronde bal bokant die knoppiesdorings hang.

Laasgenoemde blom reeds vir ‘n vale.  Ek sit op die agterstoep en skryf.  As ek opkyk, sien ek die huilboerboon. Wens ek kon vertel die statige boom is ook al oortrek met sy rooi wasagtige  lentedrag. Maar ek is darem ‘n bietjie haastig.  Dis nog maar middel Augustus.

Die kameelperde het bly kom en kom om aan die beendere van die ontslape voorvader te kom kou.   As jy maar weer sien, knak een sy knieë asof hy op die droë motorpad wil drink – soos die ambisieuse hengelaars in die spreekwoord hul stokperdjie beoefen om op droë grond vis te vang.  Twee jong bulle het mekaar misverstaan oor eiendomsreg op ‘n been. Die tradisionele stadige nekgeveg het gevolg. As die twee my met die kamera gewaar, is alle vyandelikhede eers gestaak om die koddige indringer uit die hoogte te betrag. Dan woed die stryd ernstig voort.

Christo, Dalene en Marcus Malan van Pretoria was twee dae hier – ons enigste oorslaapgaste die vakansie, buiten die Claassens-seuns. Hou ons vriende nie meer van ons nie? Kom ons beskou dit liewer maar as nog ‘n teken van oud word.  Die 80ste-verjaardae om ons raak al hoe volopper.

Hoogtepunt van die vakansie?  Ongetwyfeld die twee luiperds op pad kerk toe.

KOL-KOL KERK TOE

Konfrontasie!

Konfrontasie!

van die vreugdes van ‘n vakansie in die bos is die Sondagbesoeke aan die karaktervolle kerkie in die personeeldorp met sy duursame inheemse hout oral, gewyde atmosfeer en natuurlike omgewing met ‘n reuse-reuse koorsboom by die een ingang.

Aanbidding saam met die intieme klein gemeente is ‘n geestelike verfrissing wat vrymoediglik by alle wildtuingangers aanbeveel word.  Vakansiegangers hoef nie te vrees dat hulle skeef aangekyk sal word omdat hulle nie “aangetrek” is nie.  Dienste is om 08:30 winter en somer. Almal is welkom.

Die een diens wat vir die uwe uitstaan, was die van Sondag 4 Augustus 2019.  Die preek van die  leraar, ds. Carl Louwrens, was ‘n boeiende kragtoer, soos altyd – sonder ‘n enkele nota en met ‘n goeie skeut humor.  Maar jammer, ds. Louwrens, dis nie jou preek waaroor ek dit hier het  nie.  Ek wil vertel van die rit van 15 kilometer van Sabiepark tot by die kerk.

Skaars twee kilometer gery, kry ons ons eerste luiperd van die dag in die Sabierivier skuins voor die Protea Hotel tussen die riete.  Dis ‘n fris mannetjie. Dié is in ‘n soort sielkundige oorlog gewikkel met ‘n trop bobbejane wat omtrent die horries wil kry van die opgewondenheid.  As hy maak of hy mik, retireer die ou lot met ‘n spoed.  Staan hy stil, skuif die bobbejane arrogant nader met die hoofman oor honderd  handeviervoet op die voorpunt.  Hy sluip al hoe nader en koggel die luiperd jillend.

Die sprong.

Die sprong.

Die luiperd vererg hom, en gee van die klip waarop hy staan ‘n elegante sprong in die sekelsterte se rigting. Toe moet jy sien hoe begewe die bende lawaaigatte se moed hulle. Hulle skarrel oor die brug tussen die motors deur, die dapper generaal losvoor.  Die granietbeeld van Pres. Paul Kruger bied ‘n aantreklike plek van veiligheid.  Op sy kop sit die naderhand swart. Wetende wat skrik aan bobbejane se spysvertering doen, skat ‘n mens ‘n goeie skrop  sou dalk vir Oom Paul se kop nodig gewees het.

Wat die luiperd betref, was die speletjie egter verby.  Die toonbeel van waardigheid, vind hy sy weg oor die rivierklippe, en verdwyn onder die brug.

Nou moet ons aanstoot.  Net agt kilometer verder, by die afdraai na die Lake Panic-voëlskuiling , gaan die remligte van die bakkie voor ons skielik aan.  Ek volg sy voorbeeld  en bring die Honda ook vinnig tot stilstand.  “Leeu!”   Die bestuurder van die bakkie vorm die woord met sy lippe. Maar toe is dit nie ‘n leeu nie, wel luiperd nommer twee. Weer ‘n mannetjie.

Hy kom uit die bos en gaan maak ‘n draai oorkant die grondpad.  Deurentyd merk hy sy gebied af. Toe maak hy ‘n regsomkeer. Reg van voor kom hy op ons afgestap.   Jy sou aan hom kon vat.  Die laaste foto is net ‘n blerts.  Hy was eenvoudig te naby.

Nommer twee.

Nommer twee.

Die laaste sien is toe hy so tussen die motors deur oor die H11-teerpad vleg.   Oorkant  verloor ons hom in die langerige wintergras.

Gelukkig is ons betyds by die kerk – net toe die klok aan ‘n hardekool-stellasie  sy eerste en laaste lui lui. So betyds dat ons nog vinnig kan vertel en foto’s wys om ander kerkgangers jaloers te maak.

Voorheen het ons in seker ver meer as honderd ritte  kerk toe al ‘n luiperd in die pad gekry.  Ons het al leeus gesien, ‘n renoster en selfs een keer wildehonde. Olifante is gereelde kalante op die roete.  Maar twee luiperds  – boonop so na aan mekaar en sulke oop teikens vir die kamera se oog!  Dit teken die Van Deventers aan as ‘n een- keer- in- ‘n- leeftyd-belewenis.

 

Party vriende trek ‘n verband tussen die wonderlike waarnemings en getroue kerkbesoek.  So asof dit ‘n beloning kon wees.  Hoe teologies korrek die teorie is, weet ek nie.  Ander kla dat dit darem nie regverdig is nie.  Hoe gelukkig kan party mense nou nie wees nie!

Vir hulle is my antwoord:   gaan kontroleer ‘n bietjie hoeveel keer per jaar ry die Van Deventers daardie paadjie.  Twintig jaar al. Dikwels sien ons tussen Sabiepark en Skukuza enkele rooibokkies en nie veel meer nie.  Maar dit is mos nou maar een maal so soos Gary Player graag opgemerk het: “Hoe meer jy oefen des te gelukkiger raak jy.”