BY MY STOEL VERBY

Om jou  toonnaels te laat knip,  is een van daardie sleurwerkies waaraan min mense seker erg het.  Diè roetintakie kan ‘n openbarende studie in geriatriese gedragspatrone word as jy, soos ek, vir daardie doel die plaaslike oord vir bejaardes besoek.

Jy wag jou beurt by die voetdokter op ‘n bamboesstoel in die voorportaal af. Regs van jou is die Alzheimer-vleuel, links woon die ander oumense. Langs jou is die deur na die eetsaal. Aan die arm van ‘n verpleegster in ‘n kraaknetjiese blou uniform, in rolstoele of met looprame daag inwoners wat nie meer so mobiel is nie, vir ontbyt aan groot ronde tafels op.

Van hulle kyk met die verbygaan stip grond toe, ander groet vriendelik of knoop selfs met die vreemdelinge in die voorportaal ‘n geselsie aan. ‘n Skraal man met ‘n groot, ouderwetse bril stap op die blonde vrou af wat langs my in die ry sit en wag.  Sy herinner hom aan iemand. Hy probeer vir haar verduidelik maar dit kom bra skeef en krom uit sy mond.  Sy kommentaartjie klink amper onvleiend. Sy glimlag net ongemaklik.

Hy kom staan voor my en kyk my vierkant in die oë. “Lekker,” sệ hy. “Lekker,” antwoord ek. Toe stap hy doelgerig af op die eetsaal van waar ‘n geroesemoes van hoofsaaklik vrouestemme opklink.  Jy hoor ook slaapsale en kamer radio’s speel.  Die volume is hoog gestel, seker om beter te kan hoor.  Uit die sitkamer klink die temalied van ‘n laataand-TV-sepie wat ter wille van vroegslapers soggens herhaal word.

Dit tref hoe inwoners, hoofsaaklik pasiënte uit die Alzheimervleuel, graag aan iemand raak; aan die elmboë of skouers van die kantoordames, verpleegsters of mede-pasiënte. Dit is asof ‘n vlugtige aanraking  rustigheid, vrede en kalmte bring.

Op pad terug na haar kamer ná ete kom ‘n grys dame aan die arm van ‘n verpleegster verby.  ‘n Glimlag (van “herkenning?) verhelder die gelaat.  Woerts kielie sy my eers aan die linker- en toe aan die regterknie. My beurt om ongemaklik te glimlag. Nietemin, dadelik ontstaan tussen die twee wildvreemdes ‘n band.

Voor die hoofdeur by die ingang is tralies. Die deur bly gesluit. Jy moet ‘n knoppie druk as jy wil in. Die ontvangs moet weer ‘n knoppie druk om jou uit te laat.  Terwyl ek sit en wag – net 15 minute of so – stap twee inwoners kort ná mekaar na die deur en tuur geruime tyd deur die tralies na buite.

Die oord lệ op ‘n hoogtetjie.  Deur die hekke sien jy ‘n strepie see, ‘n blerts spierwit wolke en, oorheersend, die helderblou laatsomerlug van ‘n sjampanjedag in die Kaap.  Sou daar ‘n smagting in die binneste heers  om weer deel van die lewe daarbuite te wees?

Een van die twee gaan staan later voor ‘n groot muurspieël.  Hy kyk lank en deurdringend na die beeld wat dit na hom terugkaats. Oor sy gewaarwordinge kan ek maar net wonder. ‘n Mens is mos maar geneig om te romantiseer.

Van hoe bevoorreg jy jouself moet ag om na die naelknip-prosedure in jou motor te klim en volkome onafhanklik van ander mense weg te ry, raak jy opnuut intens bewus.  Jy is verreweg nie dankbaar genoeg nie, betig jy jouself.  Sodra jy weer onvergenoegd en morrig wil raak, laat net jou toonnaels knip, boeta! Dit is die boodskap vanoggend.

Dan druk die matrone die klokkie en maak haar gedugte verskyning by die voordeur.  Ons groet oor en weer. Sy weet van onlangse operasies, verneem na my welstand en merk vriendelik op: “Jy lyk goed”. Hoe troos jy immers  ‘n oumens anders?

Voel goed, antwoord ek. “Maar soos jy ouer word, gee die onderdele mos maar in.”  Dadelik kan ek my tong afbyt oor die simpel, voorspelbare stelling, so sprankelend soos ‘n verwelkte sonneblom.   Asof sy daardie onvermydelike waarheid nie elke liewe dag rondom haar sien en beleef nie.

 

‘N DONDER-DAG

Oor ‘n dag soos gister – nogal ‘n Donder-dag – sou ‘n mens jou maklik aan selfbejammering kon oorgee, deur jou tande sis van woede of ongereserveerd aan die swets gaan.  Dalk bied  ‘n suurderige  glimlag van gelatenheid die beste invalshoek  om die storie oor te vertel. Ek doen dit chronologies.

Ons vertrek omstreeks 12:00 per motor op Melkbos in die hoop om teen 12:30 by Table View ‘n MyCiti-bus stad toe te haal.  Ons moet ons Griekse visums gaan haal vir ‘n vaart wat by Katakolon  (naby Olympia,  geboorteplek van die Olimpiese Spele) die Schengen-gebiedswaters betree.

Net by Blaauwberg Netcare verby staan die verkeer op die R27 botstil.  Vir senutergend  lank. Later sien ons die rede. Tenks op reuse-vragmotors,  ratels, bosvarke, rooikatte en watter weermag-hardeware nog stroom van Blouberg se kant in.  Hoe op dees aarde kon ons vergeet het van die Gewapendemagtedag in die Kaap!

Ons druk egter dapper deur, vertraag maar volhardend.  Eindelik is ons op die bus – ‘n boordensvol ene. Gelukkig bestaan iets soos “voorkeursitplekke”.  Vir brose oumense met kieries moet jy reels en regulasies opstaan as jy daar sit. Dit doen ‘n bedagsame jong man sonder dat ek hom hoor brom.

By die burgersentrum lol dinge weer.  Die 105 na Seepunt via Strandstraat (wat ons bestemming is) ontbreek geheel op die skerm van die volgende 30 minute se verkeer, maar hy kom, hy kom, word ons verseker.  Ná ‘n halfuur kom ‘n 105  wel.  Die deure skuif oop. Ons wil opklim, maar nee, nee. Sien, die bus word aan diens onttrek weens die gebrek aan ‘n drywer.  Ons wag maar geduldig nog ‘n kwartier op daardie onverklaarbaar ontwerpte bankies met die sitplekke skuins na voor asof ‘n mens gom aan jou boude het.  Woerts ry hier ‘n 105 verby sonder om te stop.

Gelukkig is ons darem betyds by die visumkantoor.

Gedagtig aan die gevaar van onbetroubare skedules besluit ons om – besigheid afgehandel – liewer Adderleystraat toe aan te stryk waar ‘n lewendiger busverkeer as in Strandstraat te wagte kan wees. In  Adderley, onder die neus van Oom Jan van Riebeeck se standbeeld,   voel ek ‘n harde stamp van agter.

Feitlik by die bushalte kom ‘n man van agter en lig my in: “You dropped your cellphone on the corner.”  Wat nou?  Terugstap is nie ‘n haalbare opsie binne my fisieke vermoëns nie.  Tokkie wil maar ek keer haar. Klink vir my bra verdag. Dus maar selfoonloos verder. Die afskeid is swaar want ek was geheg aan my ou Blackberry sonder fieterjasies soos ‘n skerm wat jy met jou vinger boontoe en ondertoe rondskuiwe, internet en indringerige “toeps” (wat ‘n nare woord) soos whatsapp.

By die halte wag nuwe onheil. ‘n Man gebou soos ‘n Stormer-slot vermoed ons het verneuk en met een kaartjie deur die voudeur geglip. Ek protesteer dat ons twee kaarte het maar die man is onverbiddelik.  Iemand vat ons kaartjies en laat vat iewers heen.  Hy moet gaan vasstel of ons sluipryers is – wat ‘n “penalty” meebring, hoor ek.  Wonder hoeveel nogal. Gelukkig kom die uitspraak: onskuldig op die aanklag.

By Table View wil ek, soos aangeraai, ‘n simkaartomruiling doen.  Al gehoor van fica?  Hier byt die besigheid my weer. Nee, waar is my bewys van adres. Kos my en Tokkie eers bank toe ry om by ‘n ATM ‘n staat te trek. Nou weet ons darem ook hoe dit werk. Daarna terug MTN toe. Die keer werk die prosedure seepglad.

Ek sien die Engelsman skryf my naam Hendrick met ‘n oorbodige  “c”.  Vir een middag het ek egter genoeg gely. Ek hou dus my bek, betaal my R3,50 en swaai my voertuig se neus weswaarts.

Op my kroegrak staan ‘n botteltjie “Black Label” wat ek by ‘n welwillende vriend present gekry het. Hy (die whiskey, nie die vriend nie!)  is daar net vir spesiale okkasies.  Ek skink vir my ‘n stywe dop (dalk ‘n dubbel?), kies ‘n CD en ontspan.  Die snit wat ek speel is “The end of a perfect day” – ‘n gunsteling uit my skooldae in die 50’s.

Op die nostalgiese wysie neurie ek my eie woorde terwyl ek filosofies nadink oor al die pynlike lotgevalle van die laaste paar ure.  Die Van Deventer-weergawe lui so:  “When you come to the end of a dreadful day and you sit all alone with your sore.”

 

 

 

SPEK, EIERS EN ONSIN

Die "Illuminationsteater" op die QM 2.

Die “Illuminationsteater” op die QM 2.

Die onverdunde onsin wat die politikus Jacob Rees-Mogg oor die ABO se konsentrasiekampe kwytgeraak het, is so tipies Brits soos ‘n tradisionele “Engelse ontbyt” met gerookte haring en daarna spek en eiers met roosterbrood plus worsies, niertjies,  tamatie, sampioene, gebakte boontjies, die hele kaboedel.

Ontkenning oor hul wandade in daardie oorlog lệ diep in die kollektiewe Britse psige.  ‘n Onthullende demonstrasie van Britse onkunde oor die stukkie geskiedenis het ek op die weeldeskip Queen Mary 2 op pad na Australië gesien.  ‘n Militệre historikus van Melbourne, Australië, genl.-maj Michael O’Brien,  het die oorwegend Britse passasiers op die skip ongemaklik laat rondskuif met sy mededelings, en veral fotomateriaal.

Die naam Emily Hobhouse het herhaaldelik in sy praatjie opgeduik ( ook name soos genl. De Wet en genl. Louis Botha).  Me. Hobhouse se meelewing en ontnugtering oor die lyding van Boerevroue en –kinders agter die doringdrade van die konsentrasiekampe is deur hom as kapstok gebruik vir statistieke en foto’s wat veral Britse vroue na hul asems laat snak het.

Die smartlike foto van patetiese bondeltjie vel en been wat ‘n uitgeteerde Lizzie van Zyl kort voor haar dood was, verskyn in vele boeke oor die ABO.  Dit is in die “Illuminations”-teater op die skerm geflits met die byskrif dat 22 000 kampkinders gesterf het. Watter “illumination” was dit nie!

‘n Vrou skuins voor my en my vrou, Tokkie, het haar oë met haar sakdoekie afgedroog en teenoor haar buurvrou geprewel: “I did not know this, did you?”

Toe hierdie patriotiese “Boer” die spreker agterna ‘n kloppie op die skouer gaan gee, het hy met ‘n skewe glimlag lakoniek geantwoord: “People must hear the truth, must they not?”

Mense soos Rees-Mogg sal, helaas, die waarheid nie herken nie al word dit hoe oortuigend aan hulle oorgedra, vrees ek.

AL DRA ‘N AAP ‘N GOUE BRIL

My bydrae in BY, Saterdag-byvoegsel tot Die Burger, vanoggend: 

Desembers ly kwik nie aan hoogtevrees in die Laeveld nie.  As die son in die hartjie van die somer dooierus vat, is 40 grade plus maklik jou voorland. “Bloedig warm” soos die TV-weermense sê. Dié Saterdagmiddag was nie regtig “bloedig” nie. Net gewoon warm – so 33 tot 35 grade op die termometer teen ‘n dakstut op die stoep van ons boshuisie langs die Kruger-wildtuin.

Vir ‘n trop avontuurlike bobbejaan-indringers was dit egter warm genoeg om, sonder uitnodiging, in die wettige eienaars se bos-swembadjie te kom lafenis soek.

Vroegoggend, toe ons Skukuza toe ry, was die sekelsterte al onheilspellend bedrywignaby die huis. Hulle boggom uitdagend. Teen middagete keer ons terug. Die stoep in chaos. Oral lê plasse – swembadwater, wyn en die produk van die ongemanierde besoekers se nierfunksie – onuitkenbaar vermeng. (Die Bolandse wyn was op ys in ‘n groot Coleman). Minstens vyf stoelkussings is in ‘n haglike toestand. Die tropleier – ‘n lelike gevaarte met die bou van ‘n rofstoeier, ‘n mank been en afstootlike geel tande – het hom klaarblyklik soos wafferse veroweraar op my persoonlike swembad-gemakstoel neergevly – ‘n minagtende demonstrasie van baasskap as jy ooit een gesien het.  Die kussing is deurweek, hopelik net met swembadwater …

Die troebel kleur van die swembad verklap: wildvreemde lywe het waarskynlik in daardie water baljaar.  Die begeerte band in ons binneste om self in te spring. Maar in sulke besoedelde water? Nee, natuurlik sal ons eers moet opruim, en operasie skoonmaak is geen plesierige vooruitsig nie. Geen outomatiese filter of meganiese “kreepy krauley” is vir sulke noodgevalle beskikbaar nie. Eskom se netwerke loop nie daar nie.  Ons draai dus maar die badjie se uitlaatkraan oop en tap die swembad dolleeg. Daarna pak ons met besems en borsels die taak voorhande. Die kosbare water vat pad in ‘n koerslose stroompie die veld in.

Amper 24 uur later eers was ons al plassende terug in ons badjie – steeds suur oor die moeite, ongerief en verlies aan koue wyn! Nou boonop met die nuwe kommer oor ‘n dreigende alternatiewe vorm van kees-fese wat moontlik deur die waterkaskenades ingelui is. As jy eers gesta, lệ, proe het, dan raak jy mos meer erg, se die goeie mense van Namakwaland mos (dankie, Johan van Wyk!).

Laat my maar my liefeloosheid jeens daardie spesie bely. Dit verg regtig ‘n buitengewone pakket van deugde om sulke tergende omstandighede lankmoedig te verduur, of selfs  ‘n lughartigheidjie daaroor te pleeg as die booswigte jou breekgoed verwoes, jou wit leersitkamerstel met rooiwyn vlek, jou biltong skaai of  ‘n gat deur jou grasdak dolwe, soos, helaas, van tyd tot tyd in ons kontrei gebeur.

Iemand geseën met sulke spesiale lankmoedigheid is Kapous Mouton, oud-onderwysman van Montana, Pretoria, ‘n bosvriend met ‘n huis in dieselfde straat. Sy lankmoedigheid word getoets toe sy peperduur nuwe bifokale eendag spoorloos voete kry.  ‘n Deeglike soektog volg oral op elke moontlike en onmoontlike plek. Die bril is skoonveld. Kapous moet maar sy oë skrefies trek en hom in sy verlies berus. Ag nou ja, is sy lakonieke kommentaar – hy hoop darem die bril sal sy nuwe eienaar help om sy koerant beter te lees.

Op ‘n volgende besoek, twee maande later, hoor sy vrou, Leonora, by hul braaiplek ‘n geskuifel. ‘n Sterk flits word dadelik ingespan.  Al wat die straal optel, is twee dowwe “ogies” –  te klein om ‘n bedreiging te wees. Dalk glimwurms? Maar nee, dis nie glimwurms nie. Dis toe niks anders nie as Kapous se bril wat in ‘n bossie weggesmyt is. Een van die brilglase het ‘n lelike krap en een neusie is mors-af. Maar Kapous  kom daarna self ook weer lekkerder reg met die koerant!

Adoons moet besef het: al dra ‘n aap ‘n goue bril, bly hy met lees ‘n ronde nul!

Selfs ‘n Sondagmiddagslapie word nie ontsien nie. Vir David en Christine Serfontein van Randburg het só ‘n skuinslê grimmige gevolge gehad. Vir middagete was ‘n wildspotjie op die kole. Saam met hul gaste, twee egpare van Randburg, is gesellig in die lapa gekuier. Daarna is eenparig gestem om voor enige verdere aktiwiteit eers ‘n uiltjie te gaan knip.

Later word David en Christine wakker.  Uit die kombuis kom allerlei belowende klanke.  Bedagsame gaste, dag hulle, en draai weer om vir ‘n laaste rukkie se ontspan – verlig oor die berg skottelgoed wat hulle in hul geestesoog sien kleiner en kleiner word. Maar die geluide hou aan en die volume bereik ongewone vlakke. David spring op.  Op pad kombuis toe vir ‘n ondersoek ter plaatse loop hy hom in die gang trompop teen ‘n bobbejaanmannetjie vas.  Die res van die invalsmag is toe nog in die kombuis – nie besig om skottelgoed te was nie, maar om die chaos ná ‘n heerlike middagete tienvoudig te vererger.

Dis die klas aapstreke wat ‘n mens aapstuipe kan gee! Die Serfonteins en hul gaste moes ure lank swoeg om orde naastenby te herstel. Die stroefheid in die lug is darem deur ‘n bietjie selfspot gebalanseer.  Dit kom op die lappe al drie pare is deur die geraas in die kombuis gewek.  Al drie kom toe tot dieselfde (foutiewe) gevolgtrekking en ag dit gerade om hulleself eers ‘n rukkie skaars te hou.   Selfs uit bobbejaanstreke kan ‘n mens ‘n paar waardevolle lewenslesse leer. Een is om nie lui te wees vir skottelgoedwas nie – veral in die bos

‘N GEWRAAKTE MEMO

‘n Ietwat oorgeesdriftige verkiesingsmemorandum van Die Volksblad se politieke redaksie in 1981 maak nou, amper vier dekades later, weer sy buiging op Facebook.  Die een of ander verdwaalde gees het dit iewers uitgegrawe en stuur dit rond om sogenaamd die geheime band tussen die Afrikaanse koerante en die DA te ontmasker.

Die relevansie van die dokument vir die huidige politiek ontsnap my werklik.  Dit was in 1981 aan die koerant se buitekantore gerig met die oog op die hantering van verkiesingsvergaderings, Die opposisie was nie die ANC, EFF of selfs blanke progressiewes nie, maar ultra-regses onder die vaandel van die Herstigte Nasionale Party.  Die Konserwatiewe Party was nog nie eens gestig nie. Die Volksblad was destyds  ‘n amptelike spreekbuis van die Nasionale Party (soos altyd tevore) en dit spreek vanself dat hy die party in verkiesings openlik sou steun.

Verspreiding van die memorandum met die oog op die aanstaande verkesing (op 8 Mei) is, wat my betref, ‘n weerspieëing van politieke wardenke van die ergste graad.  Ter wille van mense vir wie die politieke konteks van vier dekades gelede ietwat vreemd lyk en nie mooi agter die kap van die byl kan kom nie, gee ek graag aan die hand van my loopbaanboek,”Kroniek van ‘n Koerantman” (1998), agtergrond wat hopelik die stukkie misplaaste opportunisme by ewewigtige mense in die regte perspektief sal stel.

Maak dan kennis met die sage van die verkiesingsmemorandum.

Die gewraakte dokument is op 9 Maart 1981 aan Die Volksblad se buitekantore in Welkom, Kimberley, Kroonstad en Bethelehem gestuur, met riglyne oor rapportering van die verkiesingsveldtog. Dit is onderteken deur Willie Khn, ‘n assistent-redakteur wat later redakteur van Beeld en Huisgenoot geword het.

Die kern daarvan is dat Die Volksblad in daardie verkiesing vierkant agter die NP staan en voluit sal veg om vir hom die grootste moontlike oorwinning oor sy regse opposisie, die HNP, te help behaal.Van die tersaaklike paragrawe is die volgende:

* Dis seker onnodig om te herinner dat Die Volksblad hom met geesdrif vir die saak van die NP beywer en dat geen genade teenoor ander partye betoon moet word nie. Die feit dat die HNP en die NKP (Nasionale Konserwatiewe Party) ook met ‘n Afrikaanse mond spreek, moet redaksielede nie laat dink dat hulle sagkens behandel moet word nie.

* Waar julle voel ‘n Nasionale vergadering het nie veel opgelewer nie, werk gerus ‘n paragraaf of twee by om te seª dit was ‘n geesdriftige vergadering, die verhoog was pragtig versier, ens.

* Wat die HNP, NKP en ander teenpartye betref: ons stel nie belang in seksies en seksies van wat Jaap Marais en kie seª nie … daarom moet julle konsentreer op hul meer skokkende en verregaande uitlatings …

* Feite moet honderd persent korrek wees.

Vier dae nadat dit uitgestuur is, het ‘n jubelende Jaap Marais, met komplimente van ‘n gefrustreerde jong redaksielid, ‘n verskuilde regse wat lid van Aksie Eie Toekoms was, die vonds op Kroonstad aangekondig. Kort daarna was dit landwyd in HNP-hande.

Van doer in die Knersvlakte tot knap by die Zambezi moes HNP-gehore, dikwels onbegrypend, tot vervelens hoor van die verskriklike Volksblad en sy verskriklike redakteur wat die politiek so verknoei. Van kollega Willie se outeurskap is gerieflik vergeet.

Wat die HNP gemeen het ‘n kragtige bom was, het egter gou verflou. Niemand wou juis opgewonde raak nie. Toe kry iemand ‘n blink ingewing: die Engelse pers! Daarna blom weer daardie bose vennootskap van links en regs, om tog net hul gemeenskaplike vyand, die NP, by te kom.

Op 10 April het die “skoknuus” op die voorblaaie gebars: van die Friend in Bloemfontein tot die saliger Rand Daily Mail. Die Cape Times was so opgewonde dat ‘n eerbare koerant so skandalig kan raak, hy skryf sommer drie hoofartikels in ‘n ry — sonder om ooit die kardinale feit te vermeld dat uitdruklik opdrag gegee is: “Alle feite moet honderd persent korrek wees.”
Teen die tweede hoofartikel het ‘n  oproep uit die Kaap gekom: adv. Lang David de Villiers, Besturende Direkteur. “Môre Hendrik. Wat gaan dan aan?” Met sy kenmerkende laggie wat niemand wat hom ken in sulke omstandighede met geamuseerdheid sou verwar nie.

Ek het probeer gerus stel. Ons voel ons is in beheer. Maar die volgende dag word hy in die Engelse pers aangehaal: “Ek gaan nie vir julle sê wat ek vir Die Volksblad gaan sê nie.” Min twyfel is gelaat oor sy afkeuring!  Ek was vies en gekrenk.
Prof. Piet Cillie, Voorsitter, was op sy beurt so suiwer soos altyd. “Dis Die Volksblad se eie saak.”

Dae lank moes ons die skynheiligheid in die Engelse pers verduur: hoe ons dan opdragte gee “to slant the news” en “to embroider on the truth”, terwyl almal wat skielik vir ons wil kruisig, ewe geesdriftig veg vir die PFP.

Die Cape Times, wat berug was vir van die skeefste politieke beriggewing in die land en wat sonder gewetenswroeging belangrike beleidsverklarings van die Regering totaal geiëgnoreer het, het sover gegaan om die NP vir ‘n advertensie te laat betaal, en dit toe mooitjies met Prog-kommentaar op die voorblad plat te slaan. Hoe eties kan ‘n mens nie wees nie!

Juis daardie misbruik lei tot ‘n meesterskuif. Ons besluit om die memorandum volledig te publiseer. Ons doen daarby ‘n dapper ding: ons vra prof. Mias de Klerk, ‘n behoudende Vrystaatse teoloog, later die geestelike vader van regses in daardie provinsie, om die hele stuk vir publikasie uit die oogpunt van die Christelike etiek te beoordeel.

In ‘n merkwaardige dokument — waaraan regses gestik het, maar wat deur die ganse Prog-pers op ‘n skouspelagtige skaal geiëgnoreer is — het De Klerk bevind dat wel in die stuk — “net soos dit in die optrede van ander politieke partywerkers en joernaliste weerspieel word” — sekere “minder gelukkige sinsnedes” voorkom.

Hy bevind egter onder meer ook:

* In die memorandum staan niks wat nie eie is aan die verkiesingspraktyke wat deur alle politieke partye en hul koerante hier te lande asook in ander demokratiese lande gevolg word nie;

* Wanneer die etiek ter hand geneem word, moet ook “gekyk word of die hande wat dit hanteer, skoon is”;

* Om die swakhede van ‘n partybeleid of die bontpratery en politieke oneerlikheid van ‘n kandidaat onder die soeklig te plaas, kan nie in ‘n verkiesingstryd sonder meer as oneties en ongeregverdig beskryf word nie, en

* As die verband van die geskrewe stuk nie eerbiedig word nie, sou ‘n mens… maklik tot “oneerlike politieke buiksprekery kan kom”.

‘n Veroordeling van die veroordelaars! Ek kon “Oom Mias” gerus soen!

Was daardie memorandum vir openbare konsumpsie bedoel, kon dit inderdaad versigtiger geformuleer gewees het. Laat my dit nou maar hier erken. Maar dit was nie so bedoel nie. ‘n Kommunikasie tussen kollegas was al wat dit was — en ‘n goeie begrip het tog net ‘n halwe woord nodig. Dat dit onderskep is en daarmee na die HNP gehardloop is, herinner my nogal aan sekere gebruike vandag om alles wat intern bedoel was, met slimfone aan die groot klok te hang!.