‘N VRIENDIN DUISEND

IMG_0001Op haar bereiking van die Bybelse baken van 70 jaar, het ek deur my albums gesif vir ‘n foto van ons gewese Bloemfonteinse buurvrou Annette van Rensburg vir haar verjaardagkaartjie.  Daardie foto wil ek vandag hier herhaal as huldeblyk by haar heengaan ‘n bietjie meer as drie jaar later op Kleinmond.  Die foto illustreer watter jonkheid van gees Annette lewenslank uitgestraal het.

Op die foto (hierbo) vat sy kortpad tussen ons huisies in die Addo-olifantpark op ‘n saamkuier ‘n stuk of nege jaar gelede. Ons was ‘n paar dae lank weer bure in Addo soos ons in die dekade 80 ‘n hele paar jaar lank goeie bure in Bloemfontein was.

Soos Annette op die foto kortpad vat met n ratse sprongetjie van hul stoep na ons s’n, het sy gelewe: altyd vol lewenslus en “sports”.  Sy het nooit gelyk – of gelewe – soos iemand wat 70 somers agter die rug het nie. Trouens, ‘n jeugdiger 70-plusser het ek nog nie raakgeloop nie, totdat haar gesondheid in Februarie begin agteruitgaan het. Dis ‘n jeudigheid wat hom, buiten in haar jong voorkoms, veral in haar avontuurlustigheid gemanifesteer het.

Een voorbeeld: Om die beroemde (berugte?) El Camino te stap. Diep in die sestig al, het sy met borrelende entoesiasme die uitdagende honderde kilometer met dapper en stapper afgelê, en haar vriende met opgewonde daaglikse rapporte kleurryk in die ervaring laat deel. Sy het haar man, Chris, saamgesleep – ‘n vermeldenswaardige prestasie in my oë. Ek haal my hoed af vir buurman Chris vir vele deugde (‘n gedugte braaier van vis, maar ook van enigiets anders – van frikkadelle tot kreef onder meer). Dat hy ‘n kranige stapper is, sou ek nie voor daardie epiese tog aan hom toegedig het nie.

Tokkie en Annette klink 'n glasie.

Tokkie en Annette klink ‘n glasie.

So vlugvoetig soos Annette oor daardie muurtjie op die foto geklouter het, het sy ook graag rondgeklouter in die Kogelberg by Kleinmond waarheen sy en Chris verhuis het na sy aftrede as vise-rektor van die Sentrale Universiteit van Tegnologie in Bloemfontein. In hul woonkamer was op die koffietafel altyd allerlei publikasies met gedugte roetes, wat my op elke besoek benoud laat wonder oor wat sy vir haar kuiergaste in die skild voer.

Maar eintlik was Annette se horisonne wyer. Sy was ‘n wêreldreisiger. Soos Tokkie dit stel: Sy was die enigste mens wat ons geken het, wat sowel die El Camino as Machu Picchu,  die “Verlore Stad van die Inkas”, op haar kerfstok het. Waar sy oral op die aardbol voetspore agtertgelaat het, en op hoeveel kontinente, moet ‘n formidabele bundel beslaan. Oral – soos met die El Camino en Machu Picchu – was  haar reise allesbehalwe doodgewoon.

Noem haar gerus ‘n student van reis, wat vooraf elke roete met die grootste deeglikheid bestudeer het. Dan  het sy haar skedule uitgewerk. Haarfyn. Geen bousel, rotsformasie, klip, boom of plant van betekenis sou sy oorslaan nie. Hoe antieker des te beter. (Sy het ook nie graag ‘n oudhede – of tweedehandse boekwinkel oorgeslaan nie, en het dit tot ‘n fyn kuns ontwikkel om waardevolle dinge op stowwerige rakke uit te snuffel.)

Op ‘n tog deur Namibië enkele amper 30 jaar gelede het die uwe met daardie deeglike verkenningsvermoë deeglik kennis gemaak. Sy het my wat nog nie voorheen van ‘n ligeen gehoor het nie, o.m. behoorlik laat bontstaan met haar gretigheid om geen, maar geen, van dié groen, grys of geel organismetjies op geen rots of boomstam oor te slaan nie. Sy het ook nie, glo ek. Dit was nogal veeleisend!

Vir daardie toer het Annette ons reisplan uitgewerk – van Ais-Ais af oor Swakopmund en Khorixas, op Etosha toe en terug via Windhoek – wat waarskynlik selfs vir gebore en getoë Namibiërs talle verrassings sou opgelewer het. Sy het nie net elke afdraaipaadjie se bestemming geken nie, maar tot vooruit geweet waar op Luderitz ons die beste kreef in die hande sou kry. Dié het Chris in tierende wind die aand in die stort van die munisipale rondaweltjie tot perfeksie gebraai.

Perfeksie. Dis ‘n goeie woord om Annette se benadering tot enigiets te beskryf: van reis tot die kombuis. Ook aan laasgenoemde front was sy kranig. Daarvan kan hierdie gretige aansitter aan haar etenstafel (en verskeie sentimeters om sy middellyf) van harte getuig.

Annette was ‘n vriendin duisend. Vir haar twee dogters, Elana en Elindi.  Vir al haar nuwe vriende en al die oues, soos die Van Deventers wat langer as drie dekades die voordeel van haar vriendskap geniet het. Ek wonder hoeveel flessies vonkelwyn ons deur die jare saam geledig het. Ook ‘n biertjie op sy tyd.

Ons groet met diepe hartseer ‘n sprankelende, lewensblye, vonkelende vriendin. Ons doen dit in dankbaarheid vir soveel heerlike herinneringe wat ons altyd sal bybly.

LIEWER DOODSWYG?

Stemme gaan al hoe meer op dat Julius Malema se flirtasies met rou rassehaat en ander bedenklikhede liefs deur die media doodgeswyg word.  ‘n Mens begryp die kommer en vrese wat sulke denke dryf.  Jy kom selfs in die versoeking om daarby in te val.

Snoer Malema se mond, is natuurlik ‘n populệre strydkreet omdat sy opsweping van massahisterie so teen die grein van beskaafde waardes ingaan. Oor vliegtuigkapings en ander geweldsdade is in die hoogseisoen van internasionale terreur presies dieselfde versugting gehoor.  Moenie die publisiteitsjagters hul sin gee nie, het mense geredeneer.

Veral oor die teenwoordigheid van TV-kameras by tonele van oproerigheid is koppe geskud.  Dit lok net erger dade van sệ maar brandstigting uit ter wille van die visuele effek, het kritici graag aangevoer.

Maar wat is die taak van die media?  Is dit nie ‘n primệre doelwit om ‘n ingeligte openbare mening in stand te hou sodat mense op grond van al die feite voor hulle die regte keuses kan uitoefen nie?

Malema is, helaas,  een maal deel van die Suid-Afrikaanse werklikheid. Wegwens, kan jy hom nie. Suid-Afrikaners sal dalk rustiger slaap as hulle nie elke dag met ‘n roekelose nuwe Malema-truuk gekronfronteer word nie. Maar gaan dit nie dalk  ‘n valse gerustheid wees nie?  Floreer uitwasse nie juis wanneer die openbare lig nie daarop skyn nie?

‘n Wệreld word nie oornag beter deur sy imperfeksies weg te steek en vir hom ‘n beter, nie-waarheidsgetroue beeld van homself voor te hou nie.‘n Media wat sy plig ernstig opneem, durf nooit bewustelik werklikhede verwring nie. Anders word ‘n selektiewe spieël voorgehou wat mense later sal kan laat pleit:  maar ons het nie geweet nie.  Hoe verantwoordelik sal dit wees?

Moet dus nie  van die media verwag om “onaangename nuus” dood te swyg nie –  anders is ons binnekort terug waar die ou “Die Transvaler” in 1947 was met die besoek van die koningsgesin.  Weens sy sterk Republikeinse strewe het daardie koerant die besoek doodgeswyg.  Net een oggend was daar ‘n klein beriggie oor strate wat gesluit gaan weens ‘n “optog” in die middestad!

Soek ons sulke media ? Nee, die uitdaging voor die media is om hul gesonde  oordeel so aan te wend dat die publiek behoorlik, sinvol en gebalanseerd ingelig word oor alles en almal – maar dan ook weer nie met soveel klem op kalkligsoekers  dat na die ander kant ‘n skeeftrekking kom nie.

(Bostaande het vandag as ‘n brief in Die Burger se meningskoklomme verskyn.)

 

 

DIE HOND KOM TERUG!

IMG-001‘n Goeie hondestorie is ‘n joernalistieke treffer – ‘n paspoort tot die voorblad. Dit staan in my hondeboekie,”‘n Vriend vir Altyd – Honderde Hondestories” wat in 2000 by H&R verskyn het.

Vandag is weer in Die Burger die storie van Millie wat in drie dae 40 km geloop het. Maar hoe ver kan ‘n hond stap en hoe lank kan hy op sy eie oorleef?

In “Vriend” is die storie van Lekkie, ‘n swart staffie, wat na ‘n motorkaping op Krugersdorp met net die son, maan en sterre as enigste bakens na sy huis in die distrik Cornelia teruggestap het – 700 km ver. Lekkie het 18 maande lank sy huis bly soek.

Daar is ook die storie van die Kroasiese hond Teddy wat tydens Zagreb se blitzkrieg van sy eienaars geskei geraak het. Die hond het hulle opgespoor na ‘n swerftog van sewe maande oor ‘n afstand van 600 km – oor bree riviere met min brue wat nog staan en militere frontlinies.

Ja, dis nie net die kat wat terugkom nie!

DUBBEL-EEUFEES VIR STILLE NAG

Dit is weer daardie tyd van die jaar dat Kersliedere in kerke se Kerssangdienste, by Kersmarkte, in skole-tablo’s, in winkelsentrums en in huise, op private musieksentrums, toenemend begin opklink tot en met 25 Desember.

Die kroonjuweel van Kersliedere bly Joseph Mohr (teks) en Franz Gruber (melodie) se “Stille Nacht” (“Stille Nag”/”Silent Night”). ‘n Mens hoop nie die wetenswaardigheid glip ongesiens verby nie dat die aangrypende gewyde lied vanjaar presies twee eeue oud is.

Die oorsprong is die klein dorpie Obendorf by Salzburg, Oostenryk.   Die eerste uitvoering was op Kersaand 1818 in die St. Nicholas-kerk in Obendorf (om die aand voor Kersfees “Kersaand” te noem en nie “Oukersaand” nie, is in die jare 60 as jong koerantman by my ingeprent).

Mohr was ‘n jong priester wat net die jaar tevore na Obendorf gekom het. Hy het die lirieke van “Stille Nacht” in 1816 geskryf. In 1818 het hy gaan aanklop by Gruber, onderwyser en orrelis in die buurdorpie Arnsdorf, vir ‘n melodie en kitaarbegeleiding met die oog die Kersaand-diens.

Die lied het dadelik inslag gevind, het in al hoe groter kring mense van amper alle nasies se harte verower, en is deur die twee eeue deur dosyne bekende kunstenaars en seker honderde onbekendes in alle genres opgeneem: van Pavarotti en José Carreras tot die Kosakkekoor tot Mimi Coertse ….

Die opname wat die septer swaai, is dié van Bing Croby (wat “White Christmas” beroemd gemaak het). Sy plaatopname (“single”) van “Silent Night” is die plaat wat die derde beste verkoper van alle tye was, lees ek op Google. Ook dat die lied in 2011 deur die Verenigde Nasies se Organisasie vir Onderwys, Wetenskap en Kultuur (Unesco) as ‘n “ontasbare kuluurerfenis) verklaar is.

In die Liedboek van die Kerk, daardie pragbundel met ‘n weergalose skat gewyde liedere (wat helaas hoofsaaklik ongebruik in huise stof vergaar), sien ek dat die Afrikaans teks van “Stille Nag” in 1978 deur Izak de Villiers en Attie van der Colff gewyig is. Dit is juis in die Liedboek wat haar na aan die hart lệ dat my vrou, Tokkie, die brokkie oor “Stille Nag” se dubbel-eeufees raakgelees het.

(Die bydrae verskyn vandag op Netwertk24 en in Volksblad se briewekolom.)

 

HAND IN ‘N EMMER

Dink jy jy is onvervangbaar, heer/ dame? Vanoggend rede gehad om die versie uit my “pampiere” te gaan uitdelf. Dis brutaal reguit en presies in die kol:

Sometime when you’re feeling important,
Sometime when your ego’s in bloom,
Sometime when you take it for granted,
You’re the best qualified man in the room.
Sometime when you think that your passing
Will leave an un-fillable hole,
Just remember this simple example,
And see how it humbles your soul.

Take a bucket and fill it with water,
Put your hand in up to your wrists,
The hole that you make when you leave it,
Is the measure of how much you’ll be missed.
You may thrash all you want when you enter,
You may stir up the waters galore,
But just wait for a moment
And it is still the same as before.

The moral of this is quite simple,
Just do the best that you can.
But please always remember
There is no irreplaceable man

– Saxon N. White Kessinger, 1959