HOEKOM SO STIL OOR BIRD ISLAND?

Twee maande het verstryk sedert die Bird Island-bohaai losgebars het. So eensklaps soos dit op die nasionale agenda verskyn het, het dit in die sand doodgeloop. Is ons wyser as wat ons was?

Klaarblyklik “nee”. Van die “nog onthullings” wat telkemale uit soveel monde belowe is (o.a. deur die uitgewer Tafelberg en die medeskrywer Chris Steyn) het dadels gekom.

Geen maar geen slagoffer van die beweerde wandade is opgespoor nie, ondanks vurige pleidooie en speurtogte (soos dié van wyle Mark Minnie en verslaggeefster Maygene de Wee kort voor sy dood).
Geen krieseltjie getuienis is opgediep wat die “derde minister” (Barend du Plessis) aan ‘n “pedofielnetwerk” koppel nie, buiten dat hy – met die wete van sy kantoor en gesin! – op ‘n militệre helikopter na Bird Island is vir die opening van ‘n ghwanokaai.
T.o.v. Magnus Malan is geen aks gevorder nie om bewyse te vind vir wat in ‘n kollektiewe reaksie van Weermag-generaals tereg as “kwaadwillige bespiegelings, omstandigheidsgetuienis en verregaande afleidings” afgemaak is.

Sleutelkarakters, die seun wat in die agterlyf geskiet sou gewees het, die dokter agter sy wonderbaarlike herstel en die matrone wat omgekoop sou gewees het om hom in die geheim te versorg, het soos skimme verdamp. Jy hoor van hulle maar jy sien hulle nie.

Sinspelings dat agter Minnie se dood iets meer kon skuil as die klaarblyklike – die wanhoopsdaad van ‘n verwarde siel – het by wilde raaiery gebly. Geen forensiese of ander ondersoek het iets verdags opgelewer nie.

‘n Mens moet dankbaar wees dat die onheuglike sage nou dood soos ‘n mossie is. Dit is egter verontrusend dat die onreg aan onskuldiges skynbaar dan ook maar net begrawe en vergeet word. ‘n Berouvolle apologie vir ‘n kavalieragtige swartsmeerdery is die minste wat van elke betrokene verwag kan word.

 (Ek is dankbaar teenoor Volksblad en Netwerk24 vir die plasing van die briefie vanoggend. Hulle het Barend du Plessis en Maygene de Wee se name verwyder. Ek meen egtr dit is ter sake om dit, soos in die oorspronklike brief, hier te behou.)

‘N STER VERSKIET – ‘N BLINK BOOG

Ter ere van Pik Botha wat vanoggend oorlede is – ‘n uittreksel uit die hoofstuk “Pikante kant van Pik” in my jongste boek, “Laatoes – Kykweer van ‘n Kanniedood-koerantman” wat ook by Naledi aanlyn bestel kan word. 

'n Dinee by Boet Troskie: die uwe, Pik Botha en Boet.

‘n Dinee by Boet Troskie: die uwe, Pik Botha en Boet.

 Die diep spore wat die legendariese minister in sy loopbaan getrap het, is geskiedenis. Hy was ’n beroepsdiplomaat, ambassadeur en die langsdienenende minister van buitelandse sake in die wêreld; iemand wie se plek in die geskiedenis onder meer oopgekerf is deur sy deurslaggewende rol as die dryfkrag in die proses wat tot Namibië se onafhanklikheid gelei het.

Min mense kan, soos hy, daarop aanspraak maak dat sy biografie, insluitend die bronnelys, eindnota’s en register, amper 1 000 bladsye beslaan; ’n ware “magnum opus” waarvoor die geskiedenis die biograaf, Theresa Papenfus, volgens een resensent, “’n guns verskuldig is”.

My gesprek as koerantman met sy eerste vrou,  Helena, in die jare 70 was meer oor die mens Pik, die man wat sy liefhet: die terggees met die aansteeklike humorsin, die geesdriftige veerpyltjiespeler, die musiekliefhebber, die romantikus, die harde werker.

Die Pik met die klein hartjie wat homself amper verongeluk het om ’n verkleurmannetjie te red; wat in die middel van die nag sou opstaan om hom na die sterfbed van ’n mindere amptenaar te haas; die vrolike een wat die gesin soggens lewenslustig wakker sing met “Opstaan, opstaan, dis ’n lieflike dag …”

Sy gaan haal toe  ’n plakboek uit ’n donker eikehoutkas: ’n onbekende literêre skat. Haar eiesoortige man se eiesoortige kortverhale. Oor dié pikante kant van Pik kon jy die koerantman met ’n veertjie omtik. Dit blyk by die deurblaai dat 21 kortverhale uit sy pen in die gesinstydskrif Huisgenoot en die destydse Die Byvoegsel (gewilde naweekbylae tot Nasionale Pers se dagblaaie) verskyn het; gemiddeld amper een per maand. Vir die Perskor-publikasie Avontuur en Liefde het hy vier bydraes gelewer en vir die koerant Die Nataller een. In die plakboek is verskeie briewe van verhaleredakteurs. Hulle pleit vir meer stories van die talentvolle jong skrywer.

Op 14 Julie 1955 skryf WA Boozaaier van Huisgenoot namens die redakteur: “Hoekom was u so lank stil? Ons betaal deesdae beter vir goeie kortverhale en hoop om somaar binnekort weer van u te hoor.”

Net een Pik Botha-storie het nooit verskyn nie, sy heel eerste. Daarin het hy die Russiese leier Joseph Stalin ’n hartoorplanting laat ondergaan. Dit was in 1954. Eers dertien jaar later, in 1967, het daardie verbeeldingvlug ’n werklikheid geword. Prof. Chris Barnard het in die Groote Schuurhospitaal, Kaapstad, die sterwende Louis Washkansky se siek, ou hart uitgeslag en met die springlewendige hart van ’n jong ongelukslagoffer, Denise Darvall, vervang.

“Darem te fantasties en onwerklik,” was Die Byvoegsel se oordeel oor die verhaal, “Die waarde van ’n hart”. As troos is darem bygevoeg: “U het ’n lekker styl … kan net ’n bietjie meer ter sake wees.” Wonder wat die redakteur se kommentaar in 1967 sou wees. Of hy toe nog met ons was, weet ek nie.

Die kadet-diplomaat los toe maar die wetenskapfiksie en wend sy “lekker styl” aan vir smeulende liefdesverhale, oorlogstories en moordrillers; almal uit te ken aan sy kort, kragtige verteltrant en die verrassende kinkels. Pik hou nie van “happy” of onrealistiese eindes nie, het mev. Botha opgemerk.

Een verhaal wat treurig eindig, is “La Golondrina” (Die Byvoegsel, 9 Oktober 1954) oor ’n terugkerende soldaat wie se gedagtes deur daardie mooi lied teruggevoer word na sy ontmoeting met ’n Italiaanse sangeres, Sideritta Pella, wat kort daarna in ’n bomaanval sterf.

Die verhaal wat die skrywer self, volgens mev. Botha, uit ’n taaloogpunt as sy beste beskou het, is “Oorsaak en Gevolg” (Huisgenoot, 5 Maart 1956). Dit is die storie van ’n prokureur wat ’n boemelaar word nadat sy jong vrou met haar baas ’n verhouding aangeknoop het. Aan die einde sterf die boemelaar, en die jong Pik beskryf dit byna tasbaar soos volg:

“Dan verdof sy denke stadig. Die pyn word minder. ’n Magtige iets het hom beet en voer hom weg, verder en verder … ’n Ster verskiet – ‘n blink boog. Dan is alles verby. ‘n Wens is vervul.”

Verreweg sy langste storie, “Loftus Versfeld en Daarna” (Huisgenoot, 14 November 1955), is ’n speurverhaal oor ’n Tukkiedosent se betrokkenheid by ’n sinistere uraanprojek en die dood van ’n knap jong student wat daarby ingesleep word.

Die pragtige studentenooi wat in die verhaal sterf, Madelein Hechter, vriendin van die skurk, lok die speurder uit totdat hy op haar verlief raak. ’n Romantiese oomblik tussen haar en die speurder word soos volg beskryf:

“Sy het op my skouer geleun. Haar liggaam was warm tussen my hande, en ek het verlore gevoel toe ek in haar oë die sterre sien wat nog altyd vir my onbereikbare spikkels was, ver teen die donker, vreemde ewigheid van die nag, en toe was haar lippe voor my, vol diep geheimenisse, soos ’n verre see wat al die leemtes in my lewe, al die verlange vir ewig sou stilmaak.”

“Vintage” Pik Botha.