YSKASTE VIR ESKIMO’S

Johann Kriegler se verwyt teen Ton Vosloo kom daarop neer dat Naspers nie yskaste aan Eskimo’s probeer verkoop het nie. Hy verwag dat ons super-verligte koerante moes uitgee  in ‘n tydperk toe super-verligtheid tot ‘n baie klein puntjie van die leserspiramide beperk was. Noem sy resensie in vanoggend se Rapport dus spitsvondig, indringend, deeglik, slim, enigiets; dis ongelukkig net te onrealisties om deur my geslag koerantmense ernstig opgeneem te word.

Selfs die Engelstalige mark van die turbulente 80’s bewys my punt oor die uitdagende politieke klimaat waarin koerante hul werk moes doen.  Die Rand Daily Mail, vlagskip van politieke super-verligtheid, het in 1985 met reuse-verliese soos ‘n klip gesink. Nie Naspers met sy beweerde hansie-my-kneg-gesindheid jeens die Nasionale Party nie, maar die giftige anti-regerings-persgroep SAAN (SA Associated Newspapers) kon, ondanks top-joernaliste, professionaliteit van die produk, internasionale status en geldelike rugsteun deur mynreuse soos Anglo American, nie die Mail langer laat werk nie.

By sy heengaan het die bekende politieke kommentator Patrick Laurence die RDM in Amerika so besing: “For the past 25 years the Mail has opposed apartheid and championed the right of South Africa’s subordinate blacks to participation in the lawmaking process, to social and economic justice, and to equality of opportunity.” Inderdaad. Niemand kan fout vind met mnr. Laurence se grafskrif nie.  Maar toe was juis daardie super-verligte “opposition to apartheid” en “championing of rights of subordinate blacks” in die finale instansie sy ondergang – dit was eenvoudig net te prematuur.  Selfs die Engelse mark was nie vir sy soort voorpos-politiek ryp nie.

Kom ons kyk nou na die Afrikaanse mark.  Hier maak Vrye Weekblad in 1988, drie jaar nadat die RDM daarmee heen is, sy buiging as super-verligte weekblad. Hy doen plek-plek uitstekende werk met deurvorsende ondersoekende joernalistiek, soos die onthulling van Vlakplaas (iets waaroor ons hoofstroom-blaaie nie rede het om trots te wees nie.) Maar sy aggressiewe politieke aanslag verower verreweg nie die mark nie. In 1993, na  net vyf stormagtige jare, word ook sy hortjies gegrendel  – juis toe ‘n mens kon verwag het dat ‘n koerant van daardie ingesteldheid se dag nou aangebreek het.

Hoekom? Natuurlik was daar duur hofsake en ander struikelblokke. Maar die een harde waarheid staan soos ‘n paal bo water: dat Vrye Weekblad net te ver verwyder van die gewone Afrikaanse leser was om volhoubaar te wees.  Idealisme het dalk polsend in sy are gepomp; maar nooit die lewensbloed van elke koerant nie, naamlik lesers en adverteerders.  Sy sirkulasie het by iets soos 11 000 vasgeval, dalk 13 000.  Te min, te min.

Vrye Weekblad het ons hoofstroomkoerante graag gekoggel.  Maar wat doen Naspers toe (en nogal op my advies)?  In sy finale oorlewingstryd word ‘n senior oud-amptenaar, wyle Jan Prins, na Johannesburg gestuur om die terminale pasiënt met raad en daad te gaan ondersteun.  Die Pers het al die koste gedra en Jan hom boonop ‘n salaris betaal. Selfs sy pogings kon die finale gordyn egter nie uitstel of keer nie. Soos bekend, moes Vrye Weekblad noodgedwonge 1993 sy deure sluit.Te prematuur vir sy mark, soos die RDM agt jaar tevore vir sy mark te prematuur was.

Die Jan- Prins-geskiedenis is nie wyd bekend nie.  Max du Preez, vader van Vrye Weekblad, hou ook niks daarvan dat dit op die lappe kom nie. Toe ek die Pers se diskrete hulp enkele jare gelede in ‘n brief in “By” onthul, was Du Preez so gesteurd dat hy my in ‘n volblad-artikel in dieselfde publikasie van ‘n kant af geloop het. Ondanks sy beskuldigings oor hoe ‘n vrot redakteur ek dan was, het Die Volksblad in my redakteurskap nie ondergegaan soos Vrye Weekblad in syne nie. Maar dit daar gelaat.

‘n Werklikheid van daardie tyd wat kritici van Afrikaanse koerante gerieflik vergeet, is die opkoms van sterk regse weerstand teen politieke hervorming in deursnee-Afrikaner-geledere.  Kom ons neem die goeie ou Vrystaat as voorbeeld waar die politieke ewewig in ‘n stadium op ‘n mespunt was.

“Swart Woensdag”. So het ‘n politieke rubriekskrywer 6 September 1989  gedoop.  Dit was die dag toe die Konserwatiewe Party ampertjies die Vrystaat ingepalm het. In ‘n ontnugterende swaai van ses persent  na regs het die KP ses uit 14 setels verower. ‘n Sewende was in die weegskaal weens ‘n dispuut. Iemand, wie weet ek nie, het na die uitslag met galgehumor verklaar die Vrystaatse parlementere koukus van die NP kon daarna, baie gerieflik, sommer in ‘n telefoonhokkie vergader!

Teen 1991 het dit nog slegter gegaan.   In daardie jaar is in Ladybrand en Virginia in tussenverkiesings verpletterende nederlae gely. Die KP het ook in munisipale tussenverkiesings suksesse ingeryg.

Wat was dan aan die gang? In my oë was dit ‘n klaarblyklike ‘n vingerwysing dat weerstand teen die FW-de Klerk-koers (en amper des te meer die koers van Die Volksblad) in die Vrystaat dieper gewortel was as wat vriend of vyand ooit besef het.  Hoe iemand hierdie verharding in gesindhede kan rym met hul versugting vir heroïeser hervormingspolitiek is vir hierdie oud-redakteur raaiselagtig. Tensy ons die pad van die RDM en die Vrye Weeblad wou gaan.

Ek sou nog kon vertel van nagtelike doodsdreigemente, viktimiserings en selfs fisieke aanrandings uit regse oorde op koerantmense, net omdat hulle hul werk doen.  Dalk is dit die stof vir ‘n volgende blog.

Ten slotte dan:

Die volle waarheid oor Naspers se totale rol in die politieke omwentelinge van die 90’s moet nog geboekstaaf word. Ons koerante het hulle onderskei met beriggewing en rigtinggewende  kommentaar, meen ek. Ook op bestuursvlak is uit ons pad gegaan om na nuwe leidsliede uit te reik. Welwillende kontak is met die here Mandela, Mbeki en andere bewerkstellig.

Teen die vroeë 90’s al is ingesien dat op die mediatoneel veranderinge sou moes kom. Hoe groter die verskeidenheid stemme, des te beter sou dit wees vir die nuwe demokrasie. Met dié insig is City Press (met sy sterk ANC-oriëntasie) uitgebou tot winsgewendheid en het die Pers teen groot koste ‘n reeks koerante gemik op die agtergeblewe gemeenskappe tot volwaardige onderneminkies help uitbou.

‘n Reeks gemeenskapskoerante is op die been gebring, plek-plek ook met swart mede-eienaarskap. Alternatiewe koerante (soos South in Kaapstad) is teen tegmoetkomende tariewe gedruk en versprei. Ruim hulp is verleen aan die Independent Media Diversity Trust om opkomende onafhanklike blaaie te finansier. Daar is nie gevra wie gehelp word en watter standpunte hulle bevorder nie. Steun is toegesê aan Allister Sparks se Institute for the Advancement of Journalism om ‘n nuwe generasie joernaliste vir ‘n nuwe generasie media op te lei.

In hierdie konteks, feit vir feit naspeurbaar in betroubare bronne, dink ek werklik nie Naspers verdien sulke verwyte soos dié van Johann Kriegler nie.

LEKKER STUKKIE LUISTER

Gerekende boekeman Danie Botha, oud-uitgewer by Tafelberg, het my die eer aangedoen om “Laatoes – kykweer van ‘n kanniedood-koerantman” in die program “Boekkeuse” op Fine Music Radio te resenseer. Werklik ‘n warm, gesellige resensie, en boonop perfek voorgedra. Dankie, Danie, vir ‘n lekker stukkie luister.  Hierby Danie se vriendelike woorde:  

Laatoes-1000-500x778

Ek vind Hennie van Deventer se Laatoes ’n wonderlik meevoerende werk. Die subtitel lui: Kykweer van ’n kanniedood-koerantman. Dit bestaan uit 57 kort tekste; elkeen iets tussen 3 en 7 bladsye lank. Louis Esterhuizen het gehelp met die samestelling van die bundel.

Die boek is ideaal vir ’n gewag van allerlei aard of om te lees waar jy ook al mag reis. Die prosa en meestal speelse verse is deurgaans maklik verstaanbaar. Hennie laat jou lag, maak jou nostalgies of aangedaan. Dit is hoofsaaklik tekste om iets te herdenk of hulde aan mense te bring. Die jongste tekste is van 2017 en daarna gaan ons verder en verder die verlede in tot by Hennie van Deventer se aftrede by Naspers op 15 Desember 1997 en die afskeidsgeleentheid op 19 Februarie 1998.

Ons beleef sy studentejare by Tukkies in Pretoria. Hoe ’n man regkom met die dames en by ’n aanstaande skoonpa. By hom en die digter en later regsgeleerde Toon van den Heever “pomp dieselfde koshuisbloed: Ou Kollege”. Toon het inspirasie gekry vir sy grootse gedig “Beeld van Oom Paul” toe hy op ’n aand te laat uit was vir die laaste trem terug kampus toe. Hy moes voetslaan, verby Prinsespark en die begraafplaas waar die standbeeld destyds gestaan het. Toon se woorde: “Grou in die maanlig rys die swaar kolos.”

Van  Deventer vertel baie oor sy jare by Die Volksblad in Bloemfontein. Hier het hy onder meer gehelp om die nuus van twee van die groot gebeurtenisse in ons geskiedenis uit te dra.

Danie Botha

Danie Botha

Die eerste: 6 September 1966. Dr. H.F. Verwoerd word vermoor in die parlement. Van Deventer is hoofsubredakteur. Hy vertel: “ʻStop alles!’ het ek skielik deur dun lippe geskreeu, en my sigaret sommer agterstevoor in my mond gestop, die kooltjie op my tong. Van die mees dramatiese, emosioneel-uitmergelendste en pakkendste ure in my koerantloopbaan is daarmee ingelui.”  Van Deventer vertel van ’n vroeëre ontmoeting met Verwoerd toe Van Deventer parlementêre verslaggewer was. Ook hoe Tsafendas altyd vir hulle as verslaggewers iets te ete van die kombuis gebring het. “Die hand wat die dolk in Verwoerd se hart gedruk het, het vir my geroosterde eiertoebroodjies gebring!”

Die tweede gebeurtenis: prof. Chris Barnard se eerste hartoorplanting op 3 Desember 1967. Van Deventer gee kleiner besonderhede wat ’n mens dalk destyds nooit van gehoor of gelees het. Hoe die skenker Denise Darvall en haar moeder in Hoofweg, Observatory deur ’n jaagduiwel omgery is toe hulle die straat wou oorsteek om “by ’n geliefkoosde bakkery ’n koek te koop terwyl pa, Edward, en jonger broer, Keith, in hul geparkeerde Ford Anglia niksvermoedend oorkant die straat sit en wag.”

In die boek is daar vele vermaaklike gedeeltes. Rubriekskrywer Johan van Wyk se “Stop van Myne” het ’n kwarteeu lank in Die Volksblad verskyn. Hoekom het hy homself “Oom” genoem? “Van Wyk het ’n aand met Anneline Kriel (19), vars gekroon as Mej. Wêreld, gedans. Agterna sê sy toe: ‘Dankie, oom. Dit was lekker.’”

Teen die einde van sy loopbaan word Hennie hoof van koerante in Kaapstad. Hy erken dat finansies ’n gedugte taak vir hom as oudredakteur was, hy “wat tot vandag toe nie ’n balansstaat behoorlik kan lees nie”. Maar toe kom Naspers se “prins van syfermense” tot sy redding:  finansiële direkteur Eric Wiese. Eric Wiese is op 4 Augustus 2017 vermoor. Hennie huldig hom en beeld Eric ook as gesinsmens uit en gee voorbeelde van Eric se wyse mensekennis en sy spitsvondigheid.

Hennie vertel: “Een aand, in sy jongmansdae, maar reeds getroud, kuier Eric en ’n klomp ouens iewers, aan die kaart speel tot vroeg in die oggend. Toe hy die oggend vyfuur by die huis kom en saggies by die kamer probeer insluip, word Sannie, sy vrou, wakker en vra: ‘En waar kom jy nou vandaan?’ Waarop hy antwoord: ‘Nee, ek is op pad werk toe. Ek het vreeslik baie om te doen.’ En so is hy reguit terug kantoor toe, nog in die vorige dag se klere.”

Hennie van Deventer skrywe oor sport, bv. oor die verskil tussen ou Gerrie Seerhandjies Coetzee en Kallie Knoetze die Bek van Boomstraat; oor motors en veral oor ervarings in sy geliefde Sabie-wildtuin. Kyk hoe gee Hennie ’n beskrywing van ’n  ratel. Hy is lief om enumerasies te gebruik; dit skep iets dramaties en versnel die verteltempo. Jy moet ‘n ratel nie net taai noem nie, maar in alfbetiese volgorde: “aggressief, dapper, humeurig, manhaftig, meedoënloos, onvoorspelbaar, strydlustig, vasbeslote, verbeeldingryk, vreesloos en volhardend. ’n Ware ‘doodkry is min’ van die diereryk.”

En toe kom ek ’n gedeelte teë wat my bewoë gemaak het. Hy beskryf die NG Kerk op Philadelphia, hoe hy en sy vrou Tokkie ’n geestelike tuiste daar vind. Hulle ry vanaf hulle huis in Melkbos daarheen.

“Die kerk is ’n waardige huis van die Here. Dit het ’n hoë plafon, Oregondenbanke, plankvloere wat kraak onder jou voete, ornate vensters en ’n outydse preekstoel. Die liturgiese ruimte is skoon en oop — ongeskend deur allerlei ‘orkesverhoë’ en ander nuwerwetsighede. Jy voel die gewydheid aan as jy instap. Dis die soort kerk waar ek tuis voel.” ( Ek sekondeer.)

Laatoes: Kykweer van ’n kanniedood-koerantman deur Hennie van Deventer word uitgegee deur Naledi.

 

MNR. Z SKRYF ‘N BRIEF

Die Bird Island-histerie het ‘n stille dood gesterf.  Die land kan weer asemhaal, dankie tog.  Maar wat gebeur t.o.v. al die valse bewerings en gerugte wat as’t ware op die markplein verkondig is?  Word die skromelike onreg wat mense aangedoen is, eenvoudig maar begrawe en vergeet?

Enkele vrae verdien beslis antwoorde voordat afsluiting (“closure”) moontlik is, meen ek.  Voorheen het ek al twee briewe oor die onderwerp vir koerante geskryf, en ‘n derde sal  een te veel wees.  As ek tog ‘n derde sou aanbied, sou ek graag ‘n klompie vrae aan die orde wou stel. Hier is net tien, wat tog ‘n goeie toets behoort te wees vir elkeen wat nog die Bird Islandstories glo of half glo:

  1. Watter ander krieseltjie getuienis verbind die “derde minister” (Barend du Plessis) aan ‘n pedofielnetwerk buiten dat hy – met die medewete van sy kantoor en gesin, let wel – op ‘n militệre helikopter na Bird Island gevlieg is vir die opening van ‘n  ghwanokaai?
  2. Waarom dan te bang wees om die “derde minister” se naam te noem as jy so seker van jou saak is? Laat hom dan maar kom met ‘n lasteraksie!
  3. Waar is die “nog onthullings” (ook oor Minnie se selfdood) wat telkemale uit soveel monde belowe is?
  4. Waar is al die slagoffers van Bird Island heen dat geeneen in drie dekades na vore gekom het nie, selfs nou wanneer hulle so gesmeek en oral gesoek is?
  5. Waarom is geen saak by die polisie aanhangig gemaak nie en is hierdie verskriklike dade nie by die WVK geopper nie? Is ‘n mens nie moreel en regtens verplig om sulke ernstige misdrywe teen kinders aan te meld nie? Is versuim om dit te doen nie ‘n ernstige misdryf wat strafbaar is nie – vrae wat sekerlik ook geld t.o.v. Minnie se beweerde aanranders (die tweelingbroers wat by name genoem word?
  6. Watter bewyse/bronne het Chris Steyn vir haar jongste aanspraak dat Mark Minnie “gedwing” is om die weg van selfdood te kies? Wie het hom “gedwing” en hoe?
  7. Hoekom het Chris Steyn nie in haar 2006-boek, Publish and be damned reeds na die betrokkenheid van Magnus Malan en Barend du Plessis verwys as sy self nou loop en vertel  dat sy in die jare 80 al daaroor ingelig is?
  8. Kan iemand die Babelse verwarring opklaar oor die seuntjie wat na bewering in sy agterlyf geskiet is? Tussen die medeskrywer van die boek, die skrywer van die voorwoord en ‘n kritiese resensent heers oor die nare insident en die identiteit van die slagoffer maar grote onklaarheid.  In elk geval: hoe sou selfs Superman so ‘n skoot kon oorleef?
  9. Hoekom loop ‘n geneesheer wat dan so ‘n ernstige misdryf teenoor ‘n kind sou toegesmeer het, skotvry tussen sy druiweboorde, en word ‘n matrone wat dan omkoopgeld sou ontvang het om haar mond te hou, nie geskraap nie?
  10. Hoekom stel Chris Steyn haar nie eenvoudig net, soos genl. Johan van der Merwe, beskikbaar vir ‘n leunverklikkertoets ten einde haar geloofwaardigheid te beskerm nie, in plaas daarvan om uittartend te vra dat sy verkeerd bewys moet word?

As ek nie vir myself ‘n plafon gestel het, sou daar beslis ook ‘n vraag of wat  aan die adres van die uitgewery Tafelberg en die media gewees het. As die nuwe etiek is om eers gerugte te publiseer en dan getuienis te loop  soek, is elke mens  mos weerloos.

Ten slotte: omdat in die onheuglike sage soveel naamloses gefigureer het, sou ek my brief onder die skuilnaam “Mnr. Z” wou skryf!

FOTO WAT ROER

OU BOKKE

‘n Foto wat my diep roer, is gister deur matriekmaat Van Aardt du Preez van Potchefstroom op Facebook geplaas.

Johan Claassen, oud-Springbokkaptein, is in ‘n versorgingsoord in Pretoria opgeneem. Van sy ou spanmaats het hom kom ondersteun.

Hennie van Zyl, oud-Springbokvleuel, staan links. Regs langs Claassen is Avril Malan, ook ‘n oud-Bok-kaptein. Dan die ikoniese Frik du Preez. Hennie en Avril hou die ou grote uit Potchefstroom se hande vas.  Die oord se katelsteile is duidelik sigbaar; ook die feit dat Johan Claassen pantoffels aan het. .

Claassen was my onderwyser op Volkies: ‘n bloedjong Oom Clasie. By hom het ek pak gekry, tot in matriek. Vir Hennie van Zyl het ek pragdriee sien druk in toetse, o.m. teen die All Blacks op Ellispark. . Avril Malan was ‘n rots. Vir Frik du Preez het ek op Loftus gesien “place, score en drop”.

Teen vanoggend was daar 370 “Likes” op my Facebookblad en kommentaar wat getuig van deernis en bewondering.

Dankie Van Aardt du Preez vir ‘n kosbare foto – al vee ek ‘n traan uit die oog.

ERNSTIGE SAKE

Ek het die volgende hekelversie op Facebook geplaas:

Hoop nie ek’s nou
te krassie
maar smaak my
onder Rassie 
is ons rugby nie
eens wat dit 
onder Snorre
wassie.

Die antwoorde wys: Moenie met rugby spot nie; dis ernstige sake. Die manne het my geantwoord met statistieke en vele insigte oor hoekom Rassie sukkel om sy span aan die wenkant te kry. Daar is gesuggereer: Nou’s jy darem onbillik.

Ek vra toe: “Mense, hoekom so gramstorig, ek voel net ‘n bietjie orig? Dis net ‘n spotversie!”  Kon eintlik gvra het: “Mense, hoekom die gramstorigheid oor net ‘n bietjie origheid so tussen al die gorigheid?”

In elk geval, nou weet ek om nie oor rugby ligsinnig te raak nie. Sal my dus weerhou van speelse aanmerkings soos dat die Grafsteensangers dringnd na Wellington ontbied is om die volkslied Saterdag voor die toets “damn sad” te sing!