BY VLIEG AL 80 JAAR

By-redakteur, 1961

By-redakteur, 1961

Die Perdeby, studentekoerant van Tukkies, vlieg vanjaar al 80 jaar lank, swaai by geleentheid die heuningkwas of deel by ander geleenthede sy goedgemikte stekies uit op die kampus. Zoem voort, liewe By – my eerste “koerant” waarvan ek in 1961 bevoorreg was om redakteur te wees.

Wat ‘n jaar was 1961 nie – Suid-Afrika word ‘n Republiek. dr. H.F. Verwoerd verbreek bande met die Statebond, kerkmense bots by Cottesloe oor die politieke rol van die kerk ….Oor al die gewigtige gebeure praat Die Perdeby saam.

Hoë besoekers stroom na die kampus. Dr. Verwoerd kom kuier twee keer. Pres. C.R. Swart woon die intervarsity by, wat Wits tot algemene verbystering daardie jaar wen. Dr. Anton Rupert is die spreker op Lentedag. Hy bepleit ‘n “nuwe rassebenadering”. N. P. van Wyk Louw praat op gradedag. Elke keer is Die Perdeby op die toneel met ‘n verslaggewer — dikwels in die persoon van die redakteur self — en ‘n fotograaf, Dirk Cloete, ‘n fris ingenieurstudent met ‘n motorfiets.

Op die hoofartikelblad het ‘n gereelde rubriekie verskyn, waarby ‘n tekening was van ‘n vet Meksikaan met ‘n hangsnor en ‘n rokende pistool in die hand. Hy sê: “Ek skiet jou as nie saamstem nie ….” In die uitgawe van 24 Maart moet daar eenstemmigheid wees “ dat ons nou almal Commonwealth Old Boys-kleurbaadjies kan dra!”

Die Perdeby was darem nie net politiek nie. Van een mooie Bloemfonteinse roos, Gerdia Neethling, wat later joolprinses geword het. tel ek nie minder nie as sewe foto’s in die jaar se 22 uitgawes. Sy het mev. Gerdia Pretorius geword en het tussen Klerksdorp en Lichtenburg verongeluk.(G’n fout met die redakteur se smaak nie!)

Sosiale nuus was o.m. dat die naelloop-kampioen Sep Serfontein gekroon is tot 1961 se Mnr. Asterhof . Vir die eer moes hy daardie koshuis se ses verdiepings op en terug in minder as 46 sekondes.

Van die Akademie het in 1961 helaas maar min gekom. Maar lof vir Die Perdeby het uit verskillende oorde opgedaag. Jan Grobler, gewese Nasionale LV wat met dr. Andries Treurnicht in sy ministersdae oorhoops geraak het, het geskryf: “Die beste ‘By in die afgelope ses jaar wat ek al hier rondlê. Baie, baie geluk.”

Selfs die rektor, prof. C.H. Rautenbach, het lof uitgespreek: “U het ‘n moeilike taak op ‘n eervolle wyse behartig … ek dink dit was ‘n goeie jaar — ook vir die redaksie van Die Perdeby.”

In my eie laaste hoofartikel was ek half weemoedig. “’n Mens raak lief vir die ‘By. Dit is nie alleen jou verantwoordelikheid nie, maar ook jou trots. Die verskyning van elke uitgawe word ‘n persoonlike bevrediging soos ‘n kunswerk vir sy skepper.”

Die Perdeby is vanjaar 80. Dat 57 jaar intussen verloop het, stem my opnuut weemoedig

MEDALJE-TROTS

 

 

 

 

 

 

 

 

In 1984 is die Phil Webermedalje, die Nasionale Pers (nou Naspers) se hoogste bekroning, die eerste keer toegeken: aan adv. Lang Dawid de Villiers, besturende direkteur. Gisteraand op ‘n deftige dinee in die nuwe KIKS2, langs die Perssentrum, is die rgsadviseur David Tudor, wat ek nie geken het nie, met die eer beloon vir sy bydraes oor twee dekades.

In 1997, kort voor my aftrede, het die voorreg my te beurt geval. By ‘n middagete in die destydse Cape Sun se balsaal het Ton Vosloo, voorsitter, die medalje (en wat daarmee saamgaan) aan my ooorhandig. Met gisteraand se spyskaart voor my, en die name van al die wenners tot dusver op die agterblad, het ek opnuut genoegdoening oor my Weberprys van 21 jaar gelede ervaar. Verskoon my asseblief maar die openhartige onbeskeidenheid.

In die commendation is o.m. verklaar: “Vandat hy in Januarie 1963 die eerste keer by Die Volksblad in Bloemfontein as verslaggewer begin werk het, tot en met die bereiking van die hoogste bestuurspos by Nasionale Koerante in 1992, het hy in elke fase van sy loopbaan ‘n nalatenskap gelos waarop hy trots kan wees.”

Daar is gewag gemaak van die geesdrif waarmee ek dinge aanpak; ook dat ek soms “geesdriftig negatief” kon wees oor swak werk of ander frustrasies. Ek meen dit is steeds ‘n eienskap. Van my briewe aan die pers, blogs en inskrywings op Facebook getuig van daardie “negatiewe geesdrif”.

Wat ek nooit sal vergeet nie, is hoe die nuu soor my medalje aan my oorgedra is. Ton Vosloo het my in Londen gebel en oor ditjies en datjies gesels. Ek het geweet die direksie sou die vorige dag oor die Weberprys besluit en dat my naam in die hoed is. Later kon ek dik nie meer hou nie.

“Wie wen die Weberprys?” het ek die voorsitter in die rede geval.

“O aarde,: was sy antwoord. “Dit is eintlik hoekom ek jou gebel het. Geluk, jy is die wenner.”

Gelukkig was ek (en Tokkie wat saam met my was) op daardie oomblik voor ‘n “pub” naby Piccadilly Circus. Ons het dadelik die nuus gaan vier met ‘n pint of twee.

By David se bekroning was die wyn van Weltevreden. Ek het ‘n glasie chardonnay op hom en die Weberprys geklink, en salig weltevrede gevoel.

(Wenners voor my op die lys sluit ook in : Piet Cillié, Willem Wepener, Wiets Beukes en Koos Human. Ná my op die lys is Naspersers soos Ton Vosloo, Jonathan Ball, Ebbe Dommisse en Salie de Swardt. Ook kollega Herman le Roux is op die lys. Dit is vir my lekker dat hy my telkens nog die eer gee dat dit ek was wat die deurslaggewende lansie vir hom gebreek het.)

Foto’s: Ton oorhandig die Phil Webermedalje aan my; die volledige lys wenners op gisteraand se spyskaart.

MEDIA EN WAARHEID

Een gevolg van die Magnus-sage is dat oud-kollegas uit ‘n vorige era by die koerante weer ‘n slag druk met mekaar gesels.  E-posse vlieg. Die verontwaardiging oor die afgelope twee weke se media-sirkus  loop hoog.

Dit druis in teen alle joernalistieke etiek om ongetoetste dinge as die waarheid op te dis, word onder mekaar gesệ.  Verder:  ‘n boek soos “Seuns van Bird-eiland” moes nooit by ‘n gerespekteerde uitgewery soos Tafelberg verskyn het nie – bepaald nie voordat ‘n baie beter saak vir die waarheid daarvan uitgemaak kan word nie.

Oor een ding is die meeste dit roerend eens:  dat die karaktermoord op Magnus Malan (en die ongenoemde Barend du Plessis) op ten minste uiters wankelende gronde, of, waarskynliker,  op totale valse gronde gepleeg word.  In ons era, met al sy en ook ons eie gebreke,  was so ‘n media-malligheid ondenkbaar.

Verregaande bewerings van die aard sou eenvoudig nooit gepubliseer gewees het nie, nie in my koerant Die Volksblad nie, nie in Die Burger nie, nie in Beeld nie, nie in Rapport nie, ook nie in ‘n boek by Tafelberg-uitgewers nie.  Dit sệ ek onomwonde.

Vaste formules en etiekreëls het bestaan om besluite oor sulke sensitiewe stories te neem:

Wie is die bronne?

Hoeveel bronne is daar en klop hul stories?

Bestaan enige bewyse wat op vaste pote staan?

Wat sệ die benadeelde party (audi ad alteram partem)?

M.a.w. hoe seker is ons dat ons die waarheid beet het en nie ons lesers op hol jag met ‘n spookasemstorie nie?

Die gangbare joernalistike etiek van die dag word geïllustreer deur hierdie mooi storie van kollega Johann Holzapfel  (die nimlike Appel), destyds, van 1974 af, saam met my een van die pioniers by Beeld:

In die jare 80 was daar stories in omloop oor Alan Boesak se vurige buite-egtelike romanse.  Die veiliheidspolisie het hom dopgehou en ‘n mikrofoon in ‘n hotelkamer geplant. ‘n Intieme onderonsie tussen die twee is op band opgeneem. Dis later aan die media gelek, onder meer ook by Beeld.

Die redaksie was onseker wat om met die kompromitterende band te doen.  Eenparig is besluit: dit is die saak vir die redakteur, wat toe Willem Wepener was.  Hy het vir Ton Vosloo opgevolg.

Wepener het ook geluister en hom gruwelik vererg. Oor sy dooie liggaam! Dit is “dirt disguised as uplift”.

Later het hy ‘n hoofartikel oor die petalje geskryf met die strekking dat ook in die politiek sekere grense nie oorgesteek mag word nie – speel die bal… nie die man nie.

“Dirt disguised as uplift” – die beskrywing pas die Magnus-storie soos ‘n handskoen.  Boonop ontbreek die getuienis wat in die Boesak-geval bo alle twyfel was.

In welke mate die sosiale media vir die hele vervlakking in die openbare diskoers verantwoordelik is, kan ‘n mens bespiegel. Ek meen hul bydrae is is geweldig.  Die koorsagtige gegons op die internet skep bepaald ‘n losse mediaklimaat wat ons nie geken het nie.

Ten tweede moet dit in alle billikheid gestel word dat nie alle redakteurs ewe entoesiasties aan die jag op Malan (en Du Plessis) deelneem nie.  Party staan tog  ietwat tru maar bevind hulle in ‘n onbenydenswaardige posisie in die lig van die verwagtinge van opgesweepte Jong Turke in hul redaksies en leserskorpse wie se wrewel in die ou bestel hoog loop.

Vir daardie mense is sulke veldtogte klaarblyklik ‘n soort ontvlugtingsdwelm uit daardie era se onheile – al saal hulle ‘n wilde perd op en is al hul saal en toom so skromelik ontoereikend soos in hierdie geval.

Hoe stop ‘n mens dit?  Die gedagte van ‘n volledige, onafhanklike ondersoek word geopper.  Dit klink aantreklik, maar dan is die vraag steeds:  wie gaan die ondersoek inisieer en wie gaan die byna bomenslike  vermag om ‘n bevinding te maak wat naastenby almal oortuig?

Dalk is ek onrealisties maar my hoop is tog ook op die verantwoordelike mense in die media: dat hulle al hoe meer sal herbesin soos Waldimar Pelser, redakteur van Rapport, Sondag voel-voel  die pad vir so ‘n herbesinning begin oopmaak het.

Die waarheid moet uiteindelik seëvier. Daaroor moet ons tog almal saamstem.

 

Barend du Plessis het gevra dat ek die volgende kommentaar nmens hom opsit:

“Baie dankie, Hennie, vir jou skitterende pennevrug. Dit speek onder andere van die insig en ononderhandelbare sin vir regverdigheid wat jou loopbaan as mediamens gekenmerk het en tot op die hoogste bestuursvlak ondersteun het. Ek hoop en bid saam met jou en so baie mense wat reeds met my in aanraking was, dat die waarheid spoedig en volledig sal seëvier. Ek weet dat daardie waarheid my nie sal seermaak nie, want dit kan nie anders nie as om my van die wrede beproewing waaraan ek en my geliefdes nou onderwerp word, te bevry. Groete en seënwense Barend.”

VRAE VIR MNR. X

Die geheimsinnige Mnr. X bevind hom in die gerieflike posisie dat hy eensydig sy storie kan vertel. Verslaggeefster Maygene de Wee, skynbaar die enigste met toegang tot hom, teken dit op; Netwerk24 en Media24 se dagblaaie (met die lofwaardige uitsondering van Beeld) publiseer dit.

Agterdogtig van Bellville vra gister (14 Augustus) in Die Burger vrae oor die merkwaardige onthou ná drie dekades van die blou Volkswagen-Kombi (met die gordyntjies)   se roete. Die tyd het aangebreek dat me. De Wee, ‘n senior joernalis of iemand met ervaring van kruisondervraging   ‘n kritiese gesprek met Mnr. X   voer.

Onthou hy die opset van die “huis in Tsitsikamma” ewe haarfyn as die roete in Port Elizabeth?   Waar presies is die gruwelhuis; hoe lyk dit van binne en buite? Hoe groot is die slaapkamer waarin hy die “Oom” moes vermaak? Was die badkamer waar hy ewe bedagsaam toegelaat is om te gaan bad, en-suite?

Hoe ver of naby is dit van die see of aan ander huise? Kan hy dit gaan uitwys?

Blou Kombi’s was volop. Ekself het een besit (darem sonder gordyntjies!) Wat maak Mnr. X so seker dat die een wat hy jare later in militere intelligensie se parkeerarea opgemerk het, dieselfde is as die een waarin hy “ontvoer” is? Net die gordyntjies, lyk dit, want hy wat strate en geboue so haarfyn onthou, het nie na die registrasienommer opgelet nie. Of het hy?

Volgens hom is ‘n vuurwapen in sy sy gedruk. Jare later kon hy dit as ‘n militệre .38 Special identifiseer. Die verskrikte seun moes dus geleentheid gehad het om dit, of wat daarvan in die aanvaller se hand sigbaar was, nogal fyn te bekyk.

Wie sou die vyf mans in die kombi gewees het en hul helpers wat by die vulstasie opgedaag het? Lede van militere intelligensie wat in opdrag van die minister vir hom seuntjies gaan vang het? Was hulle gemasker dat hy hulle nie later kon herken nie?

Hy vertel van die lekker middagete – die lekkerste en meeste kos wat hy nog gesien het. ‘n Mens verwonder jou aan so ‘n makabere feesmaal en dat die slagoffers so gesellig saam kon aansit.

Die lys kan gerek word. Dit behoort egter vir elkeen duidelik te wees dat Mnr. X se opspraakwekkende storie nie langer ongetoets vir soetkoek opgedis durf word nie. In belang van verantwoordelike joernalistiek behoort hy met die vaaghede, onwaarskynlikhede en ongeloofwaardighede gekonfronteer te word.

Hierdie  blog is vandag in Volksblad as brief gepubliseer. Dit is te lese by: https://www.netwerk24.com/Stemme/MyStem/kruisvra-mnr-x-oor-magnus-bewerings-20180814

‘n Verwante brief van Maritz Spaarwater in Die Burger is by: https://www.netwerk24.com/Stemme/MyStem/ondersoek-na-skrywers-kan-help-20180814

MET BLINDHEID GESLAAN

‘n Massiewe ineenstorting van veiligheidstelsels sou nodig gewees het vir ‘n sensitiewe geheim oor ‘n sleutelminister se private lewe om dekades lank geheim te bly.

Dink mense werklik dat PW Botha en Niël Barnard, hoof van nasionale intelligensie, nie presies geweet het wat in die private lewe van vername kabinetslede aangegaan het nie? En dat selfs polisie-ondersoeke eenvoudig doodgesmoor sou kon word sonder dat enige kennis daarvan boontoe uitlek?

Is dit moontlik dat ook militệre intelligensie deel van ’n doodswyg-komplot kon wees ondanks die klaarblyklike veiligheidsrisiko’s van sulke nagtelike avontuurtjies soos in die boek “Seuns van Bird-eiland” beskryf en deur die geheimsinnige Mnr. X in ‘n latere klandestiene onderhoud beweer word? Sou die staatsveiligheidsraad sulke aktiwiteite maar handjies-gevou geduld het?

Vincent Torlage, gewese lyfwag van min. Magnus Malan wat 16 jaar lank in teen-intelligensie gewerk het,  wys in ‘n Facebook-inskrywing tereg uit hoe veral ‘n minister van verediging hom met sulke gevaarlike speletjies aan afpersing sou blootstel. Dit kon tot iets erger as die  Profumoskandaal uitkring.

Torlage skryf: “As daar soliede getuienis was, sou ons dit ondersoek het. Die minister sou op spesiale verlof geplaas word hangende ‘n volledige ondersoek. Selfs gerugte sou tot ‘n ondersoek lei.  Dit sou onmoontlik gewees het om dit toe te smeer.”

Hy wys voorts op hoe deeglik die minister opgepas is.  Hy is nooit iewers heen sonder sy lyfwagte nie. Selfs met vakansies is die lyfwagte saam. Ook kerk toe het Torlage hom vergesel. Hoe sou hy dan so doodstil in die nagtelike ure kon verdwyn om onbehoorlike dade te gaan pleeg – en selfs daarna stil-stil in ‘n geheime nessie  ‘n lekker ontbyt wegsit, aldus Mnr. X?

Volgens die gewraakte “onthullings” van die skrywers Chris Steyn (gewese eggenoot van die huursoldaat Eeben Barlow), voorheen bekend as Christa Steyn en Chris Steyn-Barlow, en Mark Minnie. ‘n afgedankte polisieman met ‘n skimmelrige loopbaan, was die kring van mense wat geweet het of behoort te geweet het, nogal aansienlik.  Helikopters het tog bemannings. Die polisie en speurdiens het gesagsvlakke. Hospitale het verpleeg- en administratiewe personeel.  Chirurge het ontvangsdames, ens.

Moet ons werklik glo dat van die president en nasionale intelligensie se kantore op makrovlak af deur elke ander vlak tot selfs by huishoudings wat moes sorg vir kos, beddegoed, handdoeke en dies meer, almal met blindheid geslaan was vir wat om hulle aangaan of hulle opsetlik daarvoor blind gehou het?

Wat sou die rede gewees het?

Daarmee, vir nou,  my laaste woord oor die reuse-onreg wat  Magnus Malan en sy familie so argeloos aangedoen word.

SKINDERSTORIES

My brief in vanoggend se Volksblad:
Die opspraak oor die bewerings teen Magnus Malan in die boek “Die seuns van Bird Island”  duur sedert Sondagoggend. Ek het nie die boek gelees nie. Ek gaan ook nie.  Ek volg die beriggewing in die nuusmedia wel getrou. Tot dusver soek ek vergeefs na een greintjie getuienis teen die oud-minister van verdediging  wat nie verbeeldingryk uit losse draadjies saamgeflans is nie.
Die teatrale onderhoud met medeskrywer Chris Steyn Maandagaand op Kyknet het werklik ook geen geloofwaardigheid bygedra tot haar en die oud-speurder Mark Minnie se aanslag op die karakter van ‘n gerespekteerde man met ‘n soliede rol in die geskiedenis van Suid-Afrika nie. 
Me. Steyn is hier die geleentheid gebied om oortuigingswerk te doen by onoortuigdes soos ekself. Toe verval haar vertoning in emosie en melodrama. Waar is die antwoorde op die wie, wat, waar en wanneers wat by haar as gewese joernalis ingeprent behoort te wees  as noodsaaklike vrae as jou doelwit is om die waarheid te dien. Trane alleen is helaas onvoldoende. 
Ek skryf as tydgenootlike joernalis met groot agting vir Magnus Malan se onkreukbaarheid van karakter. Al het ek nie altyd saamgestem met wat hy doen of se nie,   het sulke verskille nie afbreuk gedoen aan my respek vir sy integriteit nie.
Vir my en andere is dit diep betreurenswaardig dat iemand van sy kaliber na sy dood so beswadder kan word op grond van vergete skinderstories wat afgestof en met nuwe stertjies as evangelie aangebied word.  Sulke roekelose sluipskietery is die vlak van die sosiale media. Van ‘n gerespekteerde uitgewery soos Tafelberg verwag ‘n mens dit nie. 
Me. Steyn erken self dat haar eie koerant, die Cape Times – geen vriend van die NP-regering nie! – nie haar stories wou sluk nie. Selfs ‘n koerant soos Vrye Weekblad wat nie geaarsel het om die bul by die horings te pak nie, het in alle tale geswyg, hoewel sy oud-redakteur Max du Preez, volgens eie getuienis, van gerugte in daardie trant bewus was.  Niks nuuts het in twee dekades aan die lig gekom nie.  Skynbaar het die mark vir sulke sensasionele onthullings maar net ontvankliker geword.
Wat Mark Minnie betref, is min oor sy polisieloopbaan bekend.  Hoe pas die mantel as “baaspeurder” hom wat al in 2007 die land verlaat het en nou iewers  in China klein Chinesies basiese Engels leer?    Ondernemende joernaliste kan gerus oorweeg om op sy spoor te gaan loop en vir senior offisiere in die polisie en speurdiens te vra of en hoe hulle hom onthou. So ‘n joernalistieke speurtog kan insiggewende antwoord lewer, vermoed ek.
(Oor John Wiley was die storie in politieke kringe destyds dat hy hom geskiet het omdat hy kanker gehad het. Ek het geen gronde om dit as feit aan te bied nie. Dalk kan iemand anders hom of haar gesaghebbender daaroor uitspreek. ) 
Hennie van Deventer
Melkbossstrand