AS LERAARS STAAK …

Dr. Francois en "Pop"

Dr. Francois en “Pop”

Geweet hoekom predikante nie staak nie?  Omdat niemand dit sal agterkom nie. Die wysheid by Bybelstudie gehoor  – nogal uit die mond van ‘n predikant. Die spitsvondige dr. Francois Hanekom, eerste leraar van die NG gemeente Melkbosstrand en nou, ná sy aftrede,  bedienaar van die 75-plussers in die gemeente, is dikwels so ondeund. Ook van die kansel af.

‘n Keer het hy sy gemeente nog regopper as gewoonlik laat sit toe hulle  sy preektema verneem: “Hou jy van ‘striptease’?” Maar dit was darem net oëverblindery. Klaar geterg, word dit ‘n verrykende preek – “vintage” Francois Hanekom. .

Die hulpmiddels waarmee hy sy boodskappe beklemtoon, is legendaries. Hy het bv. al ballonne laat bars, geraamde foto’s van die kansel gewerp dat die glas in stukkies spat, ‘n rooi bra aan sy vinger geswaai of met poppe, teddies, ander speelgoed, iinspuitnaalde, selfs vermomming vorendag gekom.

Dr. Marius Falck, medeleraar, onthou ‘n Sondag toe dr. Francois se keuse geval het op ‘n Pyrexbak uit sy “Pop” (mev. Riana Hanekom) se kombuiskas – boonop een waaraan sy buitengewoon waarde heg. Sy was orrelis. Toe sy van die orrel (destyds nog op die galery) afkyk, val haar oog op haar kosbare bak in sy vreemde rol.

Sy het verstyf en deur dun lippies uitgepers: “Mannetjie, vandag gaan ek jou vrek maak.”  Francois kon net antwoord: Ai, Pop, ai ….., aldus kollega Marius.

‘n Dominee se treffendste hulpmiddele is helaas nié altyd immuun teenoor die “onvoorsiene” nie. ‘n Keer het die “onvoorsiene” pynlik toegeslaan. Dit was toe Francois met boeie die houvas van die sonde wou demonstreer. ‘n Meisie van so plus-minus 10 kom op sy uitnodiging vol bravade na vore. Sy word met presiesheid “geboei”.

Toé tref die onheil – die sleutel wil om die dood nie die boeie oopsluit nie.

Terwyl die geproes en gelag in die gemeente al ‘n crescendo bereik, gaan skakel  die koster die polisiehoof. Die geregsdienaar hou met die vangwa voor die kerk stil, natuurlik met skreeuende bande! “Pop” speel en speel. Die dominee en die verskrikte meisieskind word weggeneem polisiekantoor toe. Eers daar word die regte sleutel gevind.

Die volgende oggend het Francois Die Burger se voorblad gehaal: Leraar se “gevangene” vas ná boeiende preek. ‘n BOEIENDE preek, inderdaad.

By die feesdiens met die kerkgebou se 30ste verjaardag was hy op die kansel. Voor die diens is die lidmate op ‘n geestige toer deur die vroeë geskiedenis geneem. ‘n Konneksie van die kerk met ‘n kroeg word toe onthul.

Klink gelukkig erger as wat dit werklik was. Die verkoper van die grond,   Harold Ashwell, ‘n eiendomsbaron na wie ‘n spogstraat van Melkbos genoem is, en verteenwoordigers van die gemeente Philadelphia waarvan Melkbos afgestig is, het afgespreek om die koopkontrak by die Hotel Miramar in Kusweg te teken.

By die hotel aangekom, was die sitkamer onder reparasie, Die kroeg was al uitweg. Die manne het darem nie die transaksie met ‘n dop beklink nie, het dr. Francois bekommerdes verseker.

Anders as sy destydse  kollegas, dr. Marius en dr. Hennie Swanepoel, is dr.  geen sanger van formaat nie. Maar – het hy sy gemeente by ‘n Pinksterdiens ingelig – hy sing darem self ook, en dan nie met “backtracks” nie; hy sing sommer met sy “eie bek”. Toe sing hy ‘n opgeruimde solo: “Jesus roep my vir ‘n sonstraal, ‘n sonstraal …..”

‘n Sonstraal? Ja-wel, die keuse van liedjie was werklik in die kol. Waar Francois Hanekom is, breek die son gou deur die wolke.

SKUIMENDE LIEFDE

Paddatjie in sy skuimende liefdesnes.

Paddatjie in sy skuimende liefdesnes.

Padda-indabas kan veral na ‘n verfrissende somerbui die nagrus ru versteur.  Die bruinrug-boompaddas “haa….haa” sonder ophou. Hulle glo blykbaar hulle moet die wêreld opkikker. Lag en die wêreld lag saam met jou! Ander (op-)kikkers — identiteit onbekend — laat jou wonder wat jy hoor: ‘n magtige paddakoor of dalk ‘n onwettige kragopwekker?

Van die skuimnespadda se naam raak ek die eerste keer bewus toe ‘n yslike bol “skeerskuim” aan die reuserosyntjieboom by ons  watergat in die private natuurreservaat Sabiepark opduik. Naslaanwerk bring aan die lig dis ‘n liefdesnes wat soos room opgeklop word deur die betrokke paartjie met die hulp van ‘n paar flukse vrygeselle. In die nes, gewoonlik aan ‘n tak wat oor water hang, word die eiers dan gelê — baie gerieflik met die oog op ‘n “watergeboorte” cum doop. Skuimnespaddas? Natuurlik! Hoe dan anders?

Die skuimnes-paddas is  verkleurmannetjies in vermomming. In die skaduwee vertoon hulle grys. In die sonlig word hulle krytwit. Hul eintlike woonplek is bome, maar die stoep is bedags besonder aanloklik. Saans is dit ‘n stryd om dit in hul koppe te prent die swembad is eintlik ons s’n. Private eiendom. Oortreders sal vervolg word. Hierdie paddatjies sit ook graag op die buitenste dranktrollie wat deur die vorige eienaar wit geverf is, of balanseer hulle op die rame van die groot voëlplakkate op die stoep. Op die tafeltjie is hulle so wit dat jy hulle kwalik raaksien.  Op die houtraam raak hulle bruin. Weer uitstekend gekamoefleer.

‘n Grillerige padda-ervaring was juis met een van die skuimnes-garde. Ek skop my stapskoene uit vir ‘n middagslapie op die swembadstoel. Toe gaan soek ‘n klein kikvorsie ‘n holte vir sy torso heel voor in die neus van die bruin skoen.  Susanna platanna! Ek gil en gooi die skoen dat hy doer trek toe my tone die skurwerige teenwoordigheid van ‘n onbekende verstopping agterkom. Ter verdediging, daardie hindernis kon ‘n skerpioen gewees het. Goue reël: skud altyd jou skoen uit voordat jy dit aantrek — veral as jy dit buite laat rondstaan.

 

 

 

 

 

 

 

VOORBLADFOTO

koerante3Reken net: dat ‘n ou koerantestrydros nou 77 jaar oud moet word voordat die eerste keer een van sy foto’s oor die volle 7 kolom op die voorblad aangebied word. Dankie, Burger, lekker gewees om die koerant saam met die eerste koppie koffie in die bed te kry.

Die foto (oor 4 kolom) was ook op Volksblad se voorblad (plus die berig).Die foto stoom voort. Het self plakkate gehaal, hoor ek uit Stellenbosch. So lyk Henri op 11 – iets in daardie trant.

Wie sou dit ooit kon raai toe ek 12 jaar gelede die Cannon se knoppie in Sabiepark druk om ‘n doodgewone gesinnetjie op ‘n doodgewone middagwandeling af te neem, dat later om hul koppe soveel opspraak sou ontstaan?

Was ek in die VSA het die dollars nou ingerol. Maar nou is ek in SA. Al wat ‘n mens hier vir jou moeite kry, is ‘n paar pluimpies en dalk ‘n dankie hier en daar. Maar wat: dis ook genoeg, dankie! Die lekkerte kan geen geld koop nie.

 

GAT-NEUS-WURMS

IMGDit is weer daardie seisoen van die jaar in die bos wanneer die harige versamelwurms doen wat hulle naam aandui: hulle versamel in ‘n menigte. Kort voor die winter, slaan hulle toe – gewoonlik in Mei. Skielik is dit net wurms, wurms, wurms; wurms waar jy loop of kyk.

Rosyntjiebosse is blykbaar hul gunsteling. Wit of vaal rosyntjiebosse word oornag met wurms oortrek. Ná enkele dae lyk die boompies bra oes. Die takke is kaalgestroop. Die harige wurms koek ook graag in grillerige bondels teen huise se skurwe buitemure (foto).

Maar “’n ieder woelt hier om verandering”. Die hele koeksel wil dan, klaarblyklik gelyktydig, op ‘n ander plek kom as waar hulle is. Dan tou hulle in ellelange rye oor paaie en strate, waar duisende ‘n gewelddadige einde onder motorwiele tegemoet gaan.

Bosbeseoekers leer om stadig en met oop oë te ry. Vir enigiets van onwrikbare miskruiers met rekord-bolle, tot hottentotsgotte wat, soos slagysters, roerloos op hul agterpote vir ‘n prooi sit en wag, tot suutjiestrap verkleurmannetjies met hul lang tonge hou ‘n mens graag stil. Wie is dan ook so harteloos om twee skilpadjies kort te knip nadat hulle met ‘n slakkegang tot in die middel van die pad gekom het om te paar? Of om ‘n oorblufte kolhaas met sy swart-wit donsiestert in die straal van jou motorligte te verblind?

Maar teen die versamelwurm is jy ‘n magtelose gevangene agter die stuurwiel.   Geen manier bestaan om die vermorseling onder jou wiele te vermy nie.

Versamelwurms is hul regte naam. Bosvelders noem hulle ook    “treinwurms” – om klaarblyklike redes. Honderde wurms haak by mekaar aan soos treinwaens.

Haal ‘n mens een uit die ry, wurm die volgende homself lank uit om die “gat” toe te maak. Sit jy die een wat jy uitgehaal het weer terug, maak die span eenvoudig vir hom plek, en val hy as’t ware weer op sy plek in die ry in.

Neem jy die “leier” weg, verwar jy die arme drommels heeltemal. Die nuwe leier konsertina homself so lank as moontlik uit en soek in die lug langs wanhopig na die “pad”. Die hele treintjie kom daar en dan tot stilstand

Hul onstuitbare drang om doodsveragtend paaie oor te steek, is die oorsprong van ‘n ander, informele, naam: selfmoordwurms of ‘n hara-kiriwurms.

Baie Bosvelders praat eenvoudig van gat-neus-wurms. Dit is ’n raakvat-naam.

A NEE A, ASHWIN!

Van dwelm- en bendebetrokkenheid rot rugbyglorie. Rugby was goed vir Ashwin Willemse, en voorheen was hy nie skaam om aan die spel en medespelers lof toe te swaai vir sy merkwaardige opgang nie. Ek lees o.m. die volgende in ‘n bemarkingstukkie (hy is beskikbaar as spreker en seremoniemeester):

 

“Ashwin Willemse’s remarkable life story has been an inspiration to all people from all walks of life. Suffering as a youth with drug addiction, gang involvement, depression and poverty he made a choice to leave all that behind, and embark on a new journey in search of a better life.Rugby was the medium, which gave him the freedom to accomplish this. Through perseverance and determination he has overcome enormous personal and professional challenges.

 

“Faced with extreme adversity he has managed to make the best of his life and turned his obstacles into opportunities. He has a passion for helping people better their own lives and creating limitless beliefs within themselves.”

 

Het sy geheue hom Saterdag in die steek gelaat toe hy so onbeskaamd die rassekaart speel?