GEDAGTES OP GOUE VLEUELS

Van links: Die uwe, Johan de Wet, Paul Marais, Jonathan Crowther, Ainsdley Moos, Johanna van Eeden en Gertt Coetzee (huidige redakteur).


SEWE REDAKTEURS. Van links: Die uwe, Johan de Wet, Paul Marais, Jonathan Crowther, Ainsley Moos, Johanna van Eeden en Coetzee (huidige redakteur).

As oudste lewende oud-redakteur van Volksblad (in chronologiese sin) was dit my voorreg om Saterdag by die veterane-saamtrek in Bloemfontein ‘n woordjie te spreek. Met “gedagtes op goue vleuels” het ek hulde gebring aan ONS koerant en ONS kollegas – waarop ons albei onverbloemd trots durf wees. Hier is n uittreksel uit my toesprakie.

Ek vertel graag  hoe ek in 1958 as vakansiewerker op Wiets Beukes se draaitafel in ons gemeenskaplike losieshuis – in Sewende laan nogal, meen ek – met Antonin Dvořák se Nuwe Wêreldsimfonie kennis gemaak het.. Die simboliek het my later getref:  dat my eerste wankelende treë in die joernalistiek ook vir my ‘n gans nuwe wêreld ontsluit het:  ‘n dinamiese, stimulerende, verrykende wêreld. Op pad na Bloem luister ek Woensdag na Guiseppe Verdi se magtige koorwerk, Va Pensiero – Gedagtes op goue vleuels.  Die simboliek in daardie titel is ewe treffend.

Vele herinneringe aan my eie Volksbladjare gee my gedagtes goue vleuels. Ek bly daaroor skryf en skryf en skryf. Dit is soos die ou M-net-klingel:  “The magic continues”. Elkeen beleef vandag opnuut die Volksblad-“magic”, glo ek.     Twee kern-elemente van daardie “macic” is (i) ons koerant en (ii) ons kollegas. Op albei kan ons onverbloemd trots wees.

Vir my bors uitstoot oor ons koerant ploeg ek met anderman se kalwers. Ek haak graag aan by drie aanhalings.

Nommer een is op die agterflap van die eeufeesboek, ‘n Lewe van sy eie: dat Volksblad (Die Volksblad, soos die meeste van ons hom geken het) vir derduisende mense ons koerant is, “want oor tien eeue (nou al 11) het Volksblad saam met sy lesers vir sy lesers en namens sy lesers gejuig, gehuil, gelag, gestry, gekasty, gewonder, gebid, getwyfel, gefouteer, rigting aangedui – geleef.”  Min koerante verdien so ‘n getuigskrif.

Nommer twee is die woorde van prof. Peter de Lange, oud-rektor van die RAU en voorsitter van ‘n organisasie wat sommige die horries gee. Sy woorde: “Ek ken geen ander koerant wat so na aan sy lesers leef nie.”  Ja, tot in daardie verhewe (klandestiene!) kringe is ons koerant se unieke karakter raakgesien.

Nommer drie is ‘n versie deur Philip de Vos op die spykaart by die  Kaapse viering van die Volksblad-eeufees: Maar – Volksblad/ Klim die hoogtes /Deur storms en deur droogtes /Deur oorloë, griep en Runderpes,/bied hy ‘n les vir al die res/en so gaan hy steeds aan en aan/ en hoop om lank nog te bestaan!  ‘n Lang, vrugbare en voorspoedige voortbestaan word ons liewe Volksblad seker deur elkeen van ons toegewens.

As ‘n oud-nuusredakteur besef ek “names make news”.  Wanneer ek oor kollegas iets sê, gaan ek egter vermy om roem en prestasies by name uit te sonder – selfs van die beroemdstes; en ons het nogal ‘n paar beroemdes in ons geledere. Maar waar trek jy die streep?

Gaan ry maar rond in Langenhovenpark en kyk die straatname, stap deur biblioteke of boekwinkels,  gaan lees Hansard – talryke mense wat voorheen op DV se betaalstaat was, is gesiene burgers.  Pryswennende skrywers tel jy in dosyne.

Uit 80 se penne het glo al 950 boeke gevloei. Van die boeke is topverkopers; vind jy prominent uitgestal op internasionale lughawens; word vertaal in dosyne tale; lê in haas elke kinderkamer. Ons skrywers se bydrae tot Afrikaans is ontsaglik. Een (amper paradoksaal, dalk die mees beskeie onder ons) het pas die gesogte en prestigeryke Jan H. Maraisprys verower vir ’n uitstaande bydrae tot Afrikaans as wetenskapstaal.  

 Party kollegas het ver paaie gaan loop – ver-ver buite die Vrystaat, en selfs SA.  Gaan soek in Amerika, Kanada, Australië, Nieu-Seeland, België, Afrika – jy sal iemand raakloop wat in Voortrekkkerstraat 79 gewerk het.

‘n Stewige gerf het hul vleuels buite die joernalistiek gesprei. Herman le Roux het vir my ‘n “moerse” lys (sy woord) gemaak van doktore, professore en ander kokkedore. Daar is parlementslede, prokureurs, boere, offisiere, uitsaaibase, sakelui en bedryfsleiers, skoolhoofde, sielkundiges, kommunikasieghoeroes, spyseniers, ‘n predikant, ‘n narkotiseur, ‘n sepie-akteur, ‘n “Bybelsmokkelaar” (soos hy homself noem), ‘n landdros, een wat die sokker-wêreldbeker help reël het, ‘n “toekomskundige” ….

Het enige joernaliste oorgebly? Inderdaad. In die perswese is Volksbladders se bydrae amper onmeetbaar.  Vier Phil Weberwenners, 13 dagbladredakteurs, 15 ander redakteurs, verskeie sportredakteurs, voorste rubriekskrywers en hope sleutelmense kom uit Bloemfontein. Ook vele bekroondes met Veertjies en wat nog.

Vir ontstellend baie van ons kollegas het die finale deadline reeds aangebreek.  Saam met die teleks, die Speed-Graphics, die Remingtons, die Corona-Smiths en die kollekteeroproepe uit afgeleefde telefoonhokkies is hulle heen. Ons dink aan hulle met hartseer en dankbaarheid vir vrugbare lewens.

(Die sewe redakteurs van die koerant sedert 1980 was die Vrydag byeen – ‘n geskiedkundige oomblik in die koerante-annale.  )  

 

GELUK, PROF. CHRIS!

Prof. Chris Barnard sou vandag 95 jaar oud gewees het. Oor minder as ‘n maand word  sy eerste hartoorplanting 50 jaar gelede gedenk – op 3 Desember 1967 in die Groote Schuurhospitaal in Kaapstad. So amper was dit ‘n 45ste verjaardaggeskenk aan homself.  Oor die hartoorplanting skryf ek in “Laatoes – Kykweer van ‘n kanniedood-koerantman”. Hier is ‘n uittreksel.

WEDEROM, PROF. CHRIS!

By ‘n besoek aan die Hartmuseum sowat 50 jaar ná die eerste hartoorplanting op 3 Desember 1967.

*

Suid-Afrika moet deesdae koes, sy ekonomie is “rommel”, en op die rugbyveld word die Groen en Goud opgefrommel.  Amper oral gaan dit bra broekskeur.  Dreigende donker wolke pak saam.

Ten minste op een belangrike gebied staan sake verfrissend anders, want geen Standard & Poor, Fitch of Moody’s kan die land se mediese “status” afgradeer nie;  geen Nieu-Seelandse (of Japanse!) rugbystewel kan hierdie stukkie nasionale trots vertrap nie.

‘n Verbluffende deurbraak vir die ganse mediese wetenskap – dit was prof. Chris Barnard se historiese eerste hartoorplanting ter wêreld amper 50 jaar gelede op 3 Desember 1967.    Prof. Barnard is wêreldwyd toegejuig en met vererings oorval.  Sy roem leef voort;  onder meer in die sierlike ou Groote Schuur-hospitaal se “Hart-van-Kaapstad”-museum.

‘n Besoek aan die museum in die indrukwekkende hospitaal met sy deftige koloniale ontwerp, swaar houtdeure en dik vensterrame, laat die hoogdrama van daardie mirakel in die nag van 2 tot 3 Desember 1967 in die naasliggende “Charles Saint”-teaters dinamies herleef.

Die boeiende toer van twee uur begin in die kamer waarheen die skenker, Denise Darvall (25) van Milnerton, op 2 Desember gebring is nadat sy op ‘n gesinsuitstappie saam met haar moeder, Myrtle, net ‘n entjie van die hospitaal in Hoofweg, Observatory, omgery is.  ‘n Jaagduiwel het in die twee vroue ingeploeg toe hulle die straat oorsteek om by ‘n geliefkoosde bakkery ‘n koek te koop terwyl pa, Edward, en jonger broer, Keith, in hul geparkeerde Ford Anglia niksvermoedend oorkant die straat sit en wag.

Myrtle, die moeder, is op slag gedood.  Denise se lewe was aan ‘n draadjie.  Sy is weens die slag 40 meter ver geslinger en haar kop het met ‘n geweldige slag die voorwiel van ‘n motor getref.  Haar kop- en borsbeserings was ernstig.  ‘n Ambulans met loeiende sirenes het met haar na Groote Schuur gejaag.

Enkele ure later, om 21:00 die aand van 2 Desember, het twee onafhanklike dokters haar breindood verklaar.  Haar hartverskeurde vader het toestemming gegee dat haar organe vir oorplantings gebruik kon word.

Die laaste besoekpunt van die toer is twee buurteaters:  die een waar dr. Marius Barnard, jonger broer van prof. Chris, kort ná middernag haar  hart met haarfyn sinchronisasie verwyder en versigtig in ‘n ysbak geplaas het (ook ‘n nier vir ‘n 10-jarige bruin seun, Jonathan van Wyk);  die tweede waar die beroemde hartdokter self met pionier-chirurgie die swak, siek hart van die ontvanger, dr. Louis Washkansky (54), uit sy borskas verwyder en met die sterk, gesonde hart van die jong vrou vervang het.

Die middernagtelike operasie – waarmee haas ondenkbare mediese grense oorgesteek is – het vier en ‘n driekwart uur geduur.

Die dosyn of wat besoekers op die toer, sowel Suid-Afrikaners as buitelanders, gaan sit op die klein “paviljoentjies” wat in die oorspronklike teaters A en B vir mediese studente ingeruim is.  Om die outentieke operasietafels staan die lewensgetroue beelde van die teaterspanne in hul uniforms om die pasiënt, of gebukkend voor delikate toerusting soos daardie tyd se hartlongmasjien.

Die masjien was ‘n afskeidsgeskenk van die Universiteit van Minnesota waar Chris Barnard in die jare 50 onder leiding van twee pioniers in die hartsnykunde, Richard Varco en C. Walton Lillehei, die amper onmoontlike vermag het.  Hy het sy Ph.D in twee jaar verwerf pleks van die gewone ses.

Alles lyk spookagtig werklik.  Jy verbeel jou jy is ‘n toeskouer by die grootse gebeurtenis en jy hoor daardie eerste hartklop.

Almal was momenteel stomgeslaan toe dit gebeur, vertel die uithaler-gids, Trace Adamo.  Toe verbreek Christiaan Neethling Barnard se fyn, hoë stem die gespanne stilte:  “God, dit gaan werk!”  Met daardie woorde het die sendelingseun van Beaufort-Wes die verwondering van al die spanlede verwoord.

Die geleide toer sluit verskeie ander besoekpunte in. Daar word o.m. by “prof. Barnard se kantoor” aangedoen.  Die beroemde man in ‘n snyerspak sit agter die lessenaar, telefoon in die hand;  só lewensgetrou hy dat jy jou moet keer om nie hoflik vir hom “goeie dag” te sê nie.

Die 54-jarige Washkansky het 18 dae geleef het voordat hy aan longontstekening gesterf het.  Die skenkerhart in sy borskas het tot op die laaste oomblik sterk bly klop.  In dieselfde hospitaalkamer waar die Kaapse kruidenier aangesterk het, kom ‘n beeld van die pasiënt half orent in die hospitaalbedjie.  Sy regtervoet loer onder die laken uit.  ‘n Slapbandkopie van Louis L’Amour lê oop op die beddeken in wat ‘n tipiese hospitaaltoneeltjie is.

Die museum se mure is nie net versier met honderde foto’s en geraamde koerantvoorblaaie wat die groot nuus onder banieropskrifte uitdawer (Die Burger, die Argus en die Cape Times) nie, maar ook met briewe van lof en kritiek;  selfs van kinders.  Een kind eggo sy pa se woorde dat hy “bokkerol” van prof. Barnard sou dink as hy na Amerika sou padgee.

 

Trace, die gids, praat ingelig en gesaghebbend oor die morele en etiese aspekte waaroor destyds vuurwarm gedebatteer was;  oor die flambojante wêreldfiguur Chris Barnard wat hom so laat meesleur het deur die onversadigbare genot van sy nuwe roem;  oor sy liefde vir mooi vroue, oor sy drie egskeidings (Louwtjie, Barbara en Karin), asook sy eensame dood weens ‘n akute asma-aanval op 2 September 2001 in die ouderdom van 78 jaar, in Ciprus, Griekeland.  Die geprese arts het heeltemal agtelosig sy asmapompie in sy hotelkamer gelos toe hy swembad toe gaan.

Aan die epiese stuk mediese geskiedenis het ek ‘n persoonlike herinnering.  Op Maandag 4 Desember 1967 was ek in die hoofsubredakteurstoel van Die Volksblad* in Bloemfontein toe stories oor die eerste hartoorplanting per teleks van ons Kaapse susterskoerant, Die Burger, bly instroom.  In ‘n meesleurende kopie uit die tikmasjien van Die Burger se hoofverslaggewer, Harry Shaw, het die ongelooflike storie voor my op die hoofsublessenaar ontvou.

Daardie oggend se se voorblad van Die Burger was skitterend.  Ek dink ons in die verre Bloemfontein het self ‘n treffende voorblad gehad.  Trouens, ek sou dit sonder skroom vir die museum wou aangebied het.  Wat ek liewer nie sal aanbied nie, is ‘n kort grafskriffie vir prof. Barnard in my boekie met hekelversies, Polisie, polisie, ons reënboog is geroof, wat in 2003 verskyn het.

Die vrypostige versie lui soos volg:

Ook maar mens, ook maar lus,

Met dié kort grafskrif,

Sê ons: tot siens, dr. Chris!

 

STORIE WAT DIE TERT VAT

IMGWanneer Volksblad-veterane van vorige dekades die naweek in Bloemfontein saamtrek, gaan sekerlik goed nostalgies geraak word. ‘n Traantjie of twee sal dalk op ‘n wang verskyn. Die klomp gaan ook lekker lag – dis gewis.

As ek moet raai, sou ek reken van die luimigste anekdotes in tafelgesprekke in die Santa Fe-restaurant by die Oorlogmuseum waarskynlik sal handel oor al die kleurryke karakters wat deur die jare op die koerant se betaalstaat was: salaries eccentrics, het Lord Thomson of Fleet joernaliste mos so ietwat neerbuigend genoem.

Een van die “salaried eccentrics” in my dae was fotograaf Willem van der Walt.  Mooi Willem, het sommige hom genoem; Lelike Willem ander. Hoe ookal, Willem (Mooi of Lelik) of  sou jy nooit kon beskuldig dat hy die toonbeeld van afgerondheid was nie.

Ek en hy was op ‘n keer op ‘n sending na Sasol.  Verveeld deur my  gesprek met ‘n paar Sasol-hoës, onderbreek hy uit die bloute met: “Haai, lyk hy nie vir julle ook nes ou sir De Villiers Graaff nie? ” Hy was nie die eerste wat ‘n beweerde ooreenkoms in voorkoms raakgesien het nie.  In die parlementêre krieketspan in 1965 was sir Div bekend as Big Div en ek as Small Div.

‘n Asder keer het ons die Kovssie-tamboernnooientjies gaan afneem.  Die voorste ry sit kruisbene. Dan sien jy tot doer. Willem waarsku: “Pas op, ons sien julle almal se broeke.”

Die Willem-storie vat die koek vat, is ‘n storie oor terte.

Hy en ‘n kollega is in die Suid-Vrystaat en die kollega voer ‘n onderhoud met die plaaslike leraar oor die een of ander fondsinsameling.  Weer boei die gesprek Willem hoegenaamd nie.

“Dominee,” val hy sommer met die deur in die huis, “waar’s die terte?”

Die leraar was momenteel uit die veld geslaan. Toe antwoord hy, terwyl hy bloedrooi begin bloos: “Ag broertjie, hier is ‘n paar onderwyseressies maar hulle is nou met vakansie!

(Uit: Scoops en Skandes, Tafelberg 1993)

KOLLEGAS: SO ONTHOU EK

Ons subtafel in die vroeë sestigs. Hoofsub is Jaap Steyn. By hom staan Wiets Beukes. Dan sit ek en Willie Kühn.

Ons subtafel in die vroeë sestigs. Hoofsub is Jaap Steyn. By hom staan Wiets Beukes. Dan sit ek en Willie Kühn.

UIT VOLKSBLAD VAN VRYDAG 3 NOVEMBER:

Oud-­Volksbladders van die afgelope dekades trek op 10 en 11 November in Bloemfontein vir ’ n reünie saam. Die koerant, sy sy mense en hul dinge word ook in herinnering geroep in ’ n nuwe boek deur oud-redakteur HENNIE VAN DEVENTER (1980 1992). Uittreksels verskyn hierby.

Bart Zaaiman, redakteur:

In die kantoor van die respektabele Oom Bart Zaaiman, oud-redakteur, is selde indien ooit sterk taal gebruik.

Op Vrydagaand 22 November 1963 het het uit Dallas, Texas, die skokstorie via Associated Press se kantore begin rol oor die sluipmoord op pres. J.F. Kennedy.   Ek was op kantoor, en gelukkig het die jongeling die teenwoordigheid van gees gehad om Oom Bart, toe senior assistent-redakteur, te bel.  “O, gatta, ou Hendrik,” is al wat hy gesê het,  en die wiele aan die rol gesit vir ‘n spesiale poging die Saterdagoggend.

Die uwe het AP-kopie vertaal:  Jackie Kennedy was “met bloed bespat”.  Die konserwatiewe Oom Bart het egter  afkeurend gefrons.  Met bloed bekoek,” was sy voorstel.  Dit is soos dit in die koerant gestaan het.

Wiets Beukes, assistent-redakteur en later redakteur van Die Burger: 

Op ‘n nippertjie na 60 jaar gelede het ek, kartonkoffertjie in die hand, in die somervakansie van 1958 van Klerksdorp na Bloemfontein geryloop om my eerste van vele skofte vakansiewerk te verrig.  Op Wiets Beukes, assistent-redakteur, se draaitafel in ons gemeenskaplike losieshuis het ek met Antonin Dvořák se Nuwe Wêreldsimfonie kennis gemaak.

Die simboliek het my later getref: dat met daardie eerste wankelende treë in die joernalistiek vir my ‘n gans nuwe wêreld ontsluit is:  ‘n borrelende, dinamiese, stimulerende, verrykende wêreld.

Die minsame vrygesel uit Brandfort was die eerste Volksblad-gesig wat ek gesien het. Hy het my in sy silwer Borgward Isabella die redaksiekantoor gaan wys.  Veral die teleksmasjiene, die kloppende hart van die koerant soos berigte vanoor die wêreld instroom, was betowerend.  Vir my het die koerantman Wiets ‘n lewenslange rolmodel gebly

Johan van Wyk, skrywer van Stop van Myne:

Johan van Wyk het ‘n kwarteeu lank elke dag Stop van Myne geskryf;  ‘n asemrowende 6 000 rubrieke of vier miljoen woorde.  Die “Oom” het hy homself genoem.  “Hoekom dan “Oom”?  Van Wyk het ‘n aand met Anneline Kriel (19), vars gekroon as Mej. Wêreld, gedans.  Agterna sê sy toe:  “Dankie, oom. Dit was lekker.”

Johan van Wyk se rubrieke was deurspek met tussenwerpsels soos “hef ‘n siegret” of “hef a ding-dong day”.  ‘n Keer het hy ‘n vername arts en politikus van die Konserwatiewe Party (KP) aangeraai:  “Hef ‘n bedpan”.  Dié het dit letterlik vertolk, sterk aanstoot geneem en diep beswaard by die Persraad gekla.  My onbenydenswaardige taak was dit om die Engelssprekende regter O. Galgut te oortuig daar word nie ‘n liggaamsfunksie bedoel nie;  dis sommer ‘n niksseggende tussenwerpsel.  Aikôna.  Daaraan wou sy edele nie byt nie.

Jan Scholtz, lid van die hoofredaksie:

In ons bostuiste in Sabiepark en op Melkbos is die balatenskap van die vakman-filosoof Jan Scholtz –  – ‘n man met ‘n hartstog vir hout – ver van gering.

Op sy eerste besoek aan Sabiepark het jan vir my ‘n kierie uit sy werkwinkel saamgebring:  ‘n meesterstuk uit Transvaalse kiaat.  Die handvatsel is ‘n ‘n gladde, skitterwit vlakvarktand.  Van toe af is ek en my kierie in Sabiepark ‘n onskeibare tweemanskap.  In my boshuis is ook  ‘n sekelboslampie wat van sy  vernuf getuig.  Jan het vir die lampie sommer ‘n onopvallende weggooistompie uit my stapel braaihout herwin.

Sy skeppings sluit in ‘n koper-naamplaat van Die Volksblad se ou Albert-rolpers in ‘n ronde houtraam (soos ‘n outydse kollektebordjie) gemonteer, ‘n swaar houtknuppel en ‘n netjiese voorsittershamer.

Ek kon nie sy begrafnis bywoon weens Sabiepark se jaarvergadering.  Die kierie is egter saam met my. Dit was my persoonlike klein huldebetuiging. Elke tree wat ek daardie naweek gegee het met die kierie was ‘n herinnering aan Jan en sy onsterflike liefde vir hout.

 Piet Theron, lid van die hoofredaksie :

Piet Theron, ‘n studentemaat, was in Kollegetehuis op Tukkies bekend as “Piet Pyne” weens ‘n rits rugbybeserings.  In 1999 het sy derde seun, Pieta, op skool ‘n knap rugbyspeler, ‘n ernstige epilepsielyer geword weens ‘n verbroude blindedermoperasie. Dit  het aan Piet en Petro ‘n nuwe, veel dieper, betekenis aan daardie bynaam opgedwing. ‘n  Pad van pyn het op hulle gewag.

My kollega het uit sy aftrede tot ekonomiese aktiwiteit teruggekeer deur, sonder enige ervaring, Pieta se sweisonderneming volledig oor te neem.  Vir die oud-joernalis – self ‘n hartlyer – was die gee van kwotasies en geklouter op steiers met ‘n sweismasjien in sy hande ‘n wildvreemde uitdaging.  Maar nood leer bid.  Piet het op sy bulhond-manier vasgebyt en ‘n sukses daarvan gemaak.

Ben van Rensburg, bekroonde motorskrywer:

In die skitterende span subredakteurs by Volksblad in die 1960’s was Ben van Rensburg die beneukste lid.  Verslaggewers se broeke het gebewe as hy hul naam bulder.  Van die ander het met die jare minder rigied geword oor die voorskrifte wat by ons ingedril is.  Nie Ben nie.  Hy het onversetlik ‘n taalpuris gebly.

Een bynaam “Bennie Driepond”, het uit sy studentedae op Maties gekom.  Tydgenote het hom so uniek soos ‘n driepondnoot geag. ‘n Ander was “Ben Wieletjies”.  Dit verklap sy versotheid op motors.  Hy het ‘n versameling speelmotortjies besit wat ‘n klein fortuin werd moet wees.  In die 1960’s al  het jy nie saam met Ben gery sonder dat jy vasgegordel is nie.

Fred Schnetler,  bekroonde motorskrywer en lid van die hoofredaksie:

Klein Fred Schnetler het verslaaf geraak aan motors nadat sy ouers hom vir sy vyfde verjaardag in 1939 ‘n stel van 12 Tootsietoy-modelkarretjies gegee het.  Sy obsessie is gevoed deur ‘n onblusbare leeslus. Hy het ‘n ekspert oor veteraanmotors geword en onder meer ‘n deftige swart 1971 Packard met witwalwiele, sy gunstelingkar, gerestoureer.

Die oorsprong van Fred se liefde vir musiek is moeiliker naspeurbaar.  y Hy het  tydgenote gedurig verstom het met alles wat hy weet, van Beethoven tot Presley. Vriende het tot kort voor sy dood elk nog van hom op spesiale verjaardae ‘n uitsonderlike geskenk gekry:  ‘n CD met musiek van sy of haar geboortejaar.  Ek het vir my 70ste verjaarsdag in 2011 ene gekry met 1941 se onvergeetlike musiek wat te midde van al die troostelose ellende in die Tweede Wêreldoorlog geskep is.  Dit is ‘n kleinood.

Pirow Bekker, hoofsubredakteur:

Pirow Bekker, oud-hoofsubredakteur,  is in my oë die outeur van die beste koerantegedig in Afrikaans. Die tema van “Peins oor ‘n plakkaat  is die daaglikse plakkaatskrywery in die kantoor van die senior assistent-redakteur (destyds Oom Bart Zaaiman wat later lank redakteur was).  Jy sien die rysige gestalte van Oom Bart sommer weer voor jou oë as jy Bekker se gedig lees.

Oom Bart is nie maklik tevrede gestel nie.  Hy had allerlei voorwaardes oor wat mag en nie mag nie, hoewel hy tog ‘n slag wou waag met die korter woord “dienders” vir polisiemanne.  Hy is daaroor deur sy ondergeskiktes geveto.

Oor fatsoenlikheid was hy die hoofwagter op die mure.  ‘n Reël waaroor Oom Bart onverbiddelik was maar wat nie juis meer geld nie, veral nie by die wilder ponies nie:  “Bly asseblief net bo die nael / op ons bladsy een …”  Íets soos “kaalgat dominee” (op ‘n Son-plakkaat) sou hom stuipe gee.

Alf Ries, politieke beriggewer:

Vir Volksblad – waar sy loopbaan in 1953 begin het – het Alf Ries in my tyd veral vir een gedenkwaardige scoop gesorg.  Die onverwagte verkiesing van ‘n nuwe NP-leier in die plek van PW Botha het in groot geheimhouding plaasgevind.

Ries het snuf in die neus gekry dat iets betekenisvols aan die gang is.  Hy het die berig van FW de Klerk se troonbestyging losgewikkel en daardie middag was dit die voorblad vol.  Toe die Vrystaatse LV Piet Steyn ‘n Bloemfonteinse vriend, prof. Kallie Strydom, bel om hom “vertroulik” in te lig, kon hy op sy rug val toe hy hoor:  “Hier staan dit alles in Die Volksblad!”

Wynand Mouton, koerantverkoper:  

Aan Wynand Mouton, rekor van die UV,  dink ek graag as semi-“kollega” omdat sy eerste inkomste by Die Volksblad verdien is.  Hy was een van die kranigste koerantverkopers.  “Nantie se hoek” voor Cuthberts in Bloemfontein se Maitlandstraat was by almal bekend.  Geen indringer sou dit daar waag nie.

Miskien is dit weens ‘n band wat in sy era koerantverkopertjie gesmee is, dat hy ‘n vriend van die koerant gebly het toe hy in die top-pos was.  Dit kon nie altyd maklik gewees het nie, want die onbesonne streep in elke generasie se studente sorg soms vir sappige nuus.  Miskien is dit ook as koerantverkopertjie dat hierdie onpretensieuse mens sy nederigheid geleer het.

As ek oor myself ietsie sou bysit, sou dit die volgende wees:

In die wêreld van die koerant leer ‘n mens allerlei fyn kunsies.  Een is vernuftige voetwerk.  Só vernuftig dat ek ná 35 jaar met genoeg spanning, konfrontasie en stryd kon sê:  Hennie van Deventer het verdien om gedonner te word, maar is nooit gedonner nie – hoekom nie is ‘n raaisel.  Nie dat daar nie ʼn paar near misses was nie!

ʼn Moerige setteryvoorman het ʼn moersleutel teen ‘n veeleisende jong subredakteur by Die Volksblad gelig.  By Beeld moes wyle Johan Parreira, ‘n bokser, een nag lyfwag speel:  teen ʼn bladplakker met ʼn skerp mes in sy hand en moord in sy hart.

Later, in my redakteursdae, glo ek dat PW Botha my ná ‘n verbale aanslag graag fisiek te lyf sou wou gaan oor ‘n verwaanderige ope brief op die voorblad.  My ongewaardeerde raad aan hom was dat ‘n afgetredene sy mond oor die politiek moet hou.  Gelukkig het 800 km se telefoondraad Bloemfontein en George geskei!